Oct 14, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Vyande van die Boere , pas op! … Catharina van Rees
“Kent gij dat volk vol heldemoed …?” Heldemoed, ja, maar ook ‘n volk met ‘n paar goggatjies in die kas se houtwerk indien dan nie jakkalsies in die wingerd nie – soos elke ander volk op die aardbol seker ook maar.
Die laaste ruk het goggatjies/jakkalsies soos dié oor Racheltjie de Beer, Piet Retief, Sarie Marais en ander Afrikaanse volksliedjies sensitiewe volksgenote omgekrap. Hulle meen hulle bespeur ‘n moedswilligheid iewers om rofies af te krap met die een of ander sinistere doel. Dis die onheilige werk van ‘n nare klomp “post-moderne joernaliste”, meen ‘n briefskrywer in By.
Die uwe moet dadelik deklareer: Geen sinistere doel hier in Penguin Place, Melkbos, nie. As die soeke na inligting oor die jare her rosyntjies oplewer, is vanD egter ook nie een om daarvoor sy nuusneus op te trek nie. Vreeslik jammer dus as ek op tone trap, maar moet tog maar laat glip: ook oor die liewe ou Transvaalse volkslied hang vrae.
Wie was nou eintlik die skepper van “Kent gij dat volk “? Volgens sommige persepsies is dit van onbekende Duitse herkoms. Volgens die FAK en die meeste bronne is die komponis Cath F. van Rees soos ek in my blog van 11 Oktober, Bring my trug na ou Tennessee, geskryf het.
Cataharina (Cato) van Rees is inderdaad in 1875 deur ‘n vorige studentemaat en mede-orkeslid, die latere president Thomas F. Burgers (wat terloops op sy beurt van die predikantsamp onthef is weens sy “duiwelse liberalisme”) versoek om ‘n volkslied vir die Transvaalse republiek te skryf en te toonset, lees ek.
Sy was ‘n bedrewe komponis en veelsydige musikant. ‘n Maand nadat sy Burgers se versoek ontvang het, het sy op 14 Oktober (vandag presies 137 jaar gelede) twee komposisies aan die president voorgelê. Hy het “Kent gij dat volk” verkies. Tuis het die Volksraad dit as volkslied aanvaar en die Transvalers het dit met oorgawe gesing. Naas die Vierkleur het dit ‘n spesiale status in die lewe van die Boerevolk verwerf.
Ook in Europa het die lied gou bekend geword as die Boere se vryheidslied. Die melodie is oral gehoor. Dit is selfs in verskeie tale vertaal. In die Duitse mars Buren-Marsch is ’n volledige weergawe inkorporeer, tesame met ’n Duitse vertaling van die oorspronklike Nederlandse teks sowel as ’n vryer weergawe daarvan. Dit is moontlik waar die persepsie van Duitse konneksie sy ontstaan het.
Oor die melodie van “Kent gij dat volk” het intussen in ons stamland ‘n al hoe groter wolkie van omstredenheid opgebou. Sekere Nederlandse literêre kritici het gemeen die liewe Catharina het dit by die komponis Richard Holl (of Richard Hol) gegaps. In sekere bronne word sy en Holl (of Hol) saam as komponiste aangedui. Van haar verdedigers het gemeen sy word sommer vals beskuldig. Dis haar militante feminisme wat ook weerstand teen haar as komponis uitgelok het.
(Dit lyk of die heer Holl (Hol) ook ‘n ander melodie of twee vir Transvaal gekomponeer het: Een ieder nasie heeft sijn land / Di vierkleur van ons dierbaar land.)
Catharina was verstaanbaar diep gegrief en bitter oor die Nederlandse polemiek. Sy het gevoel dat haar integriteit aangetas is. As sy inderdaad vals beskuldig is, is ‘n mens se simpatie natuurlik by haar. Hoe sal ons egter 137 jaar later weet!
Naskrif: Die foto hierbo en heelwat van die inligting kry ek by my vriend Ollie Olwagen, ‘n eersteklas-krapper na koringkorrels tussen al die kaf. Hy beskryf haar oulik as die “g’n-nonsies-Catharina van Rees wat lyk of sy self op aandag staan om die vyande van die Boerevolk te bevlieg.
Oct 12, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

103 jaar oud maar nog nie koud!
More uit Melkbos
Meesal verstaan ek nie mooi wat presies hul ontdekkings behels wat nuwe kennis tot die mensdom bygedra het nie, maar ek lees tog die berigte oor die Nobelpryswenners met ‘n fynkam.
Elkeen wat ‘n paar dae gelede se blog “My liewe jong vriend …” gelees het, behoort te kan raai wat my so boei. Laat my maar bely: Dis die mense se ouderdomme. Bepaald nie kuikens wat met hierdie groot eer wegstap nie; wel mense van 79, 69, 68 jaar. Die “gistermense”, volgens sommige.
Nes wetenskaplikes kan regters ook nie warkoppe wees nie. Hulle koppe moet as ‘t ware REG opgeskroef wess. In daardie blog het ek genoem van die Amerikaanse regter Wesley E. Brown, wat tot die ouderdom 103 jaar steeds sake verhoor het (net nie sake wat lank sloer nie!).
Sy werketiek het hom boonop genoop om nog die trappies na sy kantoor op die vierde verdieping van die hofgebou in Wichita, Kansas, te klim toe hy al oor 100 was – ook ‘n voorbeeld vir vele veel gemaksugtige jongeres.
In Amerika was ook ‘n regter, John Paul Stevens, wat tot op sy 90ste jaar ‘n uiters senior pos op die regbank beklee het.
In Suid-Afrika het wyle Oscar Galgut op 70 afgetree as ‘n appèlregter en daarna totdat hy 80 geword het nog pal as ‘n waarnemende appèlregter in Bloemfontein gesit. Henry Preiss en Frank Kirk-Cohen het in die Noord Gautengse Hof gesit totdat hulle 75 jaar oud geword het. My vriend, Ferdinand Preller van Pretoria, is flink op pad om “op die bank” by 75 verby te skuif.
Vroeër is fikse regters wat bereid was om nog te werk, toegelaat om voort te gaan ná 70. Sedert omtrent 2005 het die beleid verander. Indien ‘n regter op 70 reeds 15 jaar diens voltooi het, moet hy plek maak vir ‘n jongere. Dis mos maar hoe dinge vandag oral gaan.
Die regbank is in hierdie opsig tog nog goeie uitsondering. Nie oral word gryses – of hul verstandige menings – nog tot die rype ouderdom van 70 waardeer – selfs geduld – nie. Maar ek is nie vandag in die luim vir swaarde kruis nie. Noem dus liewer nie wie en wat ek hier in die visier het nie. Wou maar net gesê het. Nou het ek.
Oct 11, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Ons eie Transvaalse Sarie en haar graf. Haar Amerikaanse sussie is Ellie Rhee van Tennessee.
More uit Melkbos
Die buitelandse onderrok hang selfs kwaaier uit as wat jy gevrees het wanneer `n mens deur die ou FAK-sangbundel blaai. Jy kry, helaas, ruime Duitse, Sweede, Skotse, Russiese, Franse, Spaanse … en natuurlik Amerikaanse invloede op ons “Afrikaanse liedereskat”.
Jammer dat die uwe nou weer op hierdie ramkietjie van hom met net een snaar tokkel, maar die waarheid is, soos iemand dit een keer diplomaties gestel het, dat Afrikaanse musiek nogal ’n geskiedenis van geleende melodieë en vertaalde lirieke het. Kom ons vat die Amerikaanse konneksie as aanknopingspunt.
Veral betreurenswaardig vir hierdie oud-burger van die “ou Transvaal” is dat “Sarie Marais” nie net die wysie van “Sweet Ellie Rhee” huitjie en muitjie oorgeneem het nie, maar dat ook die lirieke ‘n onplesierige ooreenkoms toon:
Sweet Ellie Rhee, so dear to me,
Is lost forever more;
Our home was down in Tennessee
Before dis cruel war.
Then carry me back to Tennessee,
Back where I long to be,
Among the fields of yellow corn,
To my darling Ellie Rhee.
KOOR: Then carry me back to Tennessee,
Back where I long to be,
Among de friends of yellow corn,
To my darling Ellie Rhee.
“Bolandse nooientjie” is natuurlik Stephen Foster se ” Beautiful Dreamer”, “Lief Annatjie” is “Sweet Genevieve” en so aan. Stephen Foster het ons liedjieskrywers enormlik geinspireer. Dis nie verrassend nie. Maar hy is ver van al. Selfs “Die padda wou gaan opsit” was eers “”Froggie went a courtin” met die ahum, Mej. Muis en al. Ahum is net in die oorspronklike uh-huh. “Padda” is glo al vier eeue met ons en kom darem oorspronklik uit Skotland.
Kollega Ollie Olwagen bied as troostertjie die volgende aan: “”Die Amerikaners het darem ook toe ons nog op skool was ‘Suikerbossie’ by ons oorgeneem. Of so is ons vertel en dit het ons vreeslik trots gemaak.”
Dan voeg hy versoberend by: “Maar vir al wat ons weet, het ons op ons beurt ‘Suikerbossie’ se melodie van die Duitsers geërf. ‘n Menigte van ons ou volksliedjies is van Duitse oorsprong. Ek dink die wysie van die Ou Transvaalse volkslied, “”Kent Gij dat Volk”, kom ook uit Duitsland.”
“Kent gij dat volk” se digter en komponis was, aldus die ou FAK, Cath F. van Rees? Klink bra suspisieus!
In sekere kringe word beweer dat die patriotiese “Afrikaners, landgenote” op die wysie van die Duitse volkslied gesing is. Weet nie of dit so is nie, maar Die Franse “La Marsellais” word wel in die FAK erken by “Burgers, ontwaak vir volk en vaderland”.
Uit Duits kom o.m. ook die marslied “Erika”, “O Boereplaas” (“Der Tannenbaum”) en “Hola-hi, Hola-ho” wat ons altyd in die sangklas op skool so uit volle bors aangehef het. (Volle borste, het my vriend Willem Hartzenberg ‘n keer opgemerk. Die meisies het blosend gegiggel.)
“Taraboemdery” is ‘n Sweedse volksliedjie “Ticke, tacke, tock”.
“Die swaeltjie” is die Spaanse “La golondrina”, deur Nana Mouskouri onvergeetlik gemaak. (Die DA se Diane Kohler-Barnard sal seker die oorspronklike Spaans verkies!)
En daardie onvergeetlike Leonora Veenemans-treffer “Liefste Madelein”?
Eintlik is dit ‘n lied wat die Russiese weermagkoor bekend gemaak het as “Eentonig lui die klokkie”. Dis ongetwyfeld die mooiste Russiese volksliedjie (vir my), en daar is baie mense wat glo dis die mooiste melodie van enige volkslied in enige taal. Die lirieke handel oor die wiele van ‘n perdekoets wat oor die eindelose Siberiese steppe voortrol; die koetsier het eers ‘n liedjie gesing, maar het stil geword en nou is dit net die klokkie wat lui, lui, lui.
“Oh, how lonely the coach bell is ringing
As it swings in the night to and fro….”
Ai, selfs die Engelse woorde is so meelsleurend mooi, hoe kan ‘n mens dan kwaad wees vir iemand wat die liedjie vir Afrikaans gaan gaps het?
(hvd)
Oct 10, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Nog ‘n koerant kom tot stand. Die Volksblad se subs in die 60’s hard aan die swoeg.
More uit Melkbos
As ou Nottie (Danny Nothnagel) maar kon weet hoe sy dood die herinneringe oor die era van die teleks sou laat vloei! Volksblad-kollegas herinner my o.m. aan ons eie tweemanskap, Bennie Lean en Smittie, wat jare lank in Voortrekkerstraat 79, (nou Mandelarylaan), Bloemfontein, vir die ontvangs en versending van telekskopie verantwoordelik was.
Nie dat ek hulle vergeet het nie. Die ernstige Bennie (met die swak sig) en die lewensblye Smittie (met die permanente glimlag) was sleutelmense en twee van die karakters van hul era. Sal ek ooit Bennie se gesig vergeet toe hy op 6 September 1966 net na saktyd sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantor steek met die flitsberig in sy bewende hand: “Verwoerd killed by knife (sic) in Assembly.”
Die “by knife” kan seker verklaar word as ‘n verskoonbare taalglipsie in ‘n warboel-oomblik deur een van Sapa se Afrikaanse mense. In daardie span was o.a. ‘n Classen, ‘n Postma en ‘n Van der Merwe!
Ek was daardie tyd hoofsub van Die Volksblad en het net behaaglik agteroorgesit met die salige saktyd-gedagte van: “Nog ‘n slag is gelewer.” Die flitsberig (“snap”) in Bennie se hand het my egter soos ‘n snaar laat orent spring. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.
Onmiddellik het die redaksie in volle versnelling oorgeskakel. Die voorblad is, in koeranttaal, “skoongemaak”. Dit beteken alle voorbladberigte is na binne geskuif. ‘n Nuwe voorblad het tot stand gekom met ‘n hoofartikel deur wyle Bart Zaaiman, toe nog assistent-redakteur (Hugo Dreyer was redakteur-bestuurder), en met die groot banier in houtletters (gewoonlik net vir die uitbreek van ‘n oorlog gehou): Dr. Verwoerd vermoor.
Ons Parlementere span, onder aanvoering van wyle Alf Ries, het vinnig berigte begin lewer. Wyle J.J.J. Scholtz het ‘n aangrypende indrukke-storie bygedra.
Die uwe het seker ‘n halwe pakkie Rembrandt Van Rijns opgerook en nooit weer daardie middag gaan sit nie. Die koerant en ‘n daaropvolgende spesiale uitgawe (banier: Land is diep geskok) is staan-staan uitgegee. Toe ek die aand by Tokkie se kamertjie in die VSA-gebou instrompel, was ek gedaan.
Nog ‘n onvergeetlikheid was die skare wat verslae in Voortrekkerstraat begin saamdrom het, gretig vir die varsste nuus. Koerante was toe nog part en deel van die vesel van hul gemeenskappe. En natuurlik, Bennie Lean wat toegewyd die instromende berigte bladsy vir bladsy van die teleks skeur en sekuur in die hoofsub se mandjie laat beland – selfs met wenkies soos: “Hierdie lyk na ‘n goeie inlei vir die hoofstorie”!
Dankie aan al die kollegas wat na Nottie se dood, my blog daaroor en my brief in vanoggend se Burger herinneringe kom deel het. Dankie, vriend Herman le Roux, wat met jou kenmerkende reikwydte jou net oor ‘n hele span telekskollegas gesprei het – en daarmee opnuut beklemtoon het hoeveel karakters ons in ons lewens daar agter die kletterende teleksmasjiene aangetref het:
Hennie,
Dankie vir jou blog oor Nottie.
Ja, teleksmanne is ‘n uitgestorwe spesie. Maar daar was teleksmanne en daar was teleksmanne.
Net ons sal besef hoe ‘n belangrike rol hulle by die koerant gespeel het. Die eerste siele wat besef dis ‘n moerse (een van HleR se geliefkoosde uitdrukkings – HvD) storie en haastig ‘n stuk papier afskeur en reguit na die nuusredakteur of hoofsub hardloop – soos met die moord op Hendrik Verwoerd of ‘n Boeing wat neergestort het.
By Volksblad was Bennie Lean en Smittie goud werd. By Oosterlig het Ina van Rensburg, jonger suster van Connie Kellermann, Alex se vrou, die rol vervul.
Met rugbytoere het Fingers van der Merwe die oorsese rugbyskrywers se kopie in ‘n japtrap weggestuur.
Met my besoeke aan die Kaap is my kopie versend deur Nottie en Blom (kan nie sy voornaam onthou nie, maar ek onthou hy het onder die skuilnaam Katrol ‘n hengelrubriek vir Die Burger geskryf). Sonder om te kla of onwillig te lyk, het hulle die bladsye ontvang en tussen al die ander werk na Volksblad en Oosterlig gestuur.
In die Randse kantoor van Naspers het Willem Tenner (voorheen van Sapa) reuse-werk verrig. Hy woon in Edenvale en ek weet dat hy en die Theunissens, Roelf en Rina, huisvriende geword het. Toe ek en Rina jare gelede by Rina gekuier het, het sy ook die Tenners vir middagete genooi.
By Beeld was die groot karakter Whitey Odendaal die siel van die telekskantoor. Oor hom kan kollegas boeke skryf. Ek en George Boshoff het hom op sy sterfbed in ‘n hospitaal besoek en dit was tragies om daardie op-en-wakker-kêrel so in ‘n bondeltjie te sien lê.
Sy kollega in die telekskantoor, die veel jonger Johan Reitz, onthou ek as die grootste Blou Bul-ondersteuner naas Quintus van Rooyen.
Wou sommer net met jou oor hierdie manne en meisie gesels..
Groete,
Herman
Die son sak inderdaad op ‘n era. Die Ewige Verandering duur voort.
(HvD)
Oct 9, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Nottie van Die Burger is dood. Het van 1963 met hom saamgewerk maar moes vanoggend in die koerant lees sy voornaam was Dannny.
Danny Nothnagel – hoeveel enorme nuus is nie in sy amper 40 jaar in die telekskantoor deur hierdie vermaarde (versigtig nou met die spelling!) teleksman se vlytige vingers nie.
Die moord op dr. H.F. Verwoerd in sy bank in die Volksraad op 6 September 1966, Chris Barnard se eerste hartoorplanting op Louis Washkansky op 3 Desember 1967, die vrylating van Nelson Mandela uit die Victor Verster-gevangenis op 11 Februariue 1999, die geboorte van die Nuwe Suid-Afrika in die voetspoor van daardie gewigtige oomblik …
Vir my eerste 25 jaar by die pers het die gekletter van die teleksmasjiene en die onophoudelike stroom inkomende berigte wat in rolle vuurwarm nuus op die vloer neerplons, in die ware sin van die woord die hartklop van die koerant versinnebeeld.
Ou Nottie en sy onbesonge kollegas in hul afgesonderde werkruimtes – ver van die openbare aandag – was onafskeidbaar deel van daardie hartklop. In die donkerste ure vir die land en in sy jubilasies.
Soos die meule maal, het die nuwe tegnologie die teleksmasjien se stem laat stil word. Rekenaars werk amper geruisloos. Nou is die generasie koerantmense wat daardie dae beleef het en dit steeds helder in herinnering roep, ook aan die wegkwyn.
Die son sak oor ‘n era. Die skemerte breek aan. Die Ewige Vernuwing duur voort.
(hvd)
Oct 7, 2012 | Hennie van Deventer se Blog

Britse telegrafiste en telefoniste stuur oorlogsnuus huis toe uit die slagveld in die verre Boererepublieke. (Uit: “The War Correspondents, The Boer War”).
Middag uit Melkbos
Ek kruis nie graag swaarde met Leon Rousseau oor Racheltjie de Beer nie, want ek deel sy deernis vir dié stukkie dierbare volksbesit (By, 6 Oktober). Dat hierdie voorste gesaghebbende oor Eugène Marais instinktief beskermend van Marais reageer, is goed te verstane. Hy openbaar in “Die Groot Verlange” immers ‘n diepe gevoel vir daardie komplekse genie.
Rousseau se reaksie op G. Olwagen en Leo Kritzinger se boeiende teorie onderskat die sofistikasie van interkontinentale kommunikasie in die sogenaamde “Roaring Twenties” egter op verrassende skaal. Nuus is allermins in 1921 nog met rookseine, posduiwe, poskoetse, tjoek-tjoek-treine of selfs ouderwetse stoombote versprei!
Trouens, die dinamiese jare ’20 – deur die Franse ook kleurryk “années folles” of “Gekke Jare” genoem – was ‘n era van ontwaking. Die lewe het woema gekry. Snelle vordering op die gebied van o.m. die outomobiel, telefone, telegrafie, rolprente, elektrisiteit, die perswese en, les bes, jazz het die lewenstyl gekenmerk.
Dat dit ‘n tydskrif uit Noord-Dakota dalk toe nog weke of maande kon vat om Suid-Afrikaanse bodem fisiek ter see te bereik, is goed en wel. Maar nuus het vars geword. Dié is al geruime tyd oornag of vinniger deur nuusdienste soos Amerika se Associated Press en Engeland se Reuters kletterend tussen hoofstede geblits. En die Minerstorie was, volgens elke definisie van nuus, ‘n treffende berig wat waarskynlik nie lank in ‘n enkele streekblad versteke sou bly voordat ‘n nuusdiens dit opraap nie.
‘n Mens sou selfs kon beweer dat die wêreld in 1921 al met rasseskrede op pad was om ‘n “global village” te word. Samuel Morse het 80 jaar tevore, in 1835, al almal verstom met sy tegniek om seine telegrafies oor groot areas te versprei. In die 1840’s is die eerste eksperimentele telegraaflyn van Washington na Baltimore gebou. Die Associated Press dateer uit 1846, weliswaar aanvanklik as ‘n “snelroete” met ponies deur Alabama om nuus van die Meksikaanse Oorlog vinnig in New York te besorg; weldra ‘n veel doeltreffender nuusdiens. Reuters is in 1851 in Engeland gestig.
Ponies is gou deur die tegnologie ingehaal. Telegrafiese oorlogsberiggewing van die front af is net agt jaar na die stigting van AP die eerste keer in die Krimoorlog (1854-56) ingespan. In die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) was dit hoegenaamd nie meer ‘n nuutjie nie. Die outeur Raymond Sibbald gee in sy boek “The War Correspondents, The Boer War” (Jonathan Ball, 1993) ‘n insiggewende beeld hoe oorlogskorrespondente (onder wie Kipling en Churchill) lesers uit die verre Boererepublieke ingelig gehou het, as’t ware met hul woorde in die reuk van rook en kruit gedoop.
Selfs die “moderne” landlyn (versending van foto’s per telegraaf) is nie so modern nie. Dit is ‘n produk van 1935 – ‘n skrale 15 jaar nadat die aangrypende Hazel Miner-storie, volgens Olwagen en Kritzinger, net dalkies in ‘n verwerkte gedaante in “Die Boerevrou” opgeduik het. Die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 45) kon koerantlesers ook op foto’s grafies uitgebeeld sien.
Hierdie historiese gegewe bewys natuurlik nie daardie twee ondersoekende geeste se teorie nie. Wat dit onteenseglik bewys, is dat Rousseau liefs nie die moontlike konneksie tussen Hazel Miner en Racheltjie de Beer op grond van ‘n wankelplank-argument soos stadige skeepsverkeer moet bevraagteken nie. (hvd)