LIGTE MISTYKIES

More uit Melkbos

Ons almal struikel dikwels, sê die Groot Boek. “As iemand nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man.” Nie almal erken egter ewe maklik as hulle gestruikel het nie – of, nog erger, deur hul struikeling ook ander tot struikeling gebring het nie.

Supermarkte stel nogal hul foute reg. Gee die duiwel wat hom toekom. Party gee vir jou ‘n produk absoluut verniet as dit verkeerd gemerk op die rak staan. Ook die vermaledyde koerante is nie onwillig om foute te erken nie, amper op ‘n daaglikse grondslag. Oor simpele foutjies soos ‘n van wat met ‘n “d” gespel is eerder as met ‘n “t, word soms korreksies geëis, en gegee (soms seker ietwat tandeknersend, maar darem).

‘n Mens sou die lysie van boetvaardiges sekerlik kon rek as jy wou. Aan die ander kant is die onboetvaardiges: diegene wat allerlei jakkalsdraaie sal gooi om ten enemale nie op ‘n fout vasgepen te word nie. Hoe ander se intelligensie in die proses gruwelik onderskat word, is soms om die hande van saam te slaan.

Ek weet van ‘n mediese fonds waarvan die lede op die oomblik tussen twee opsies moet stem. Op een plek in die amptelike dokumentasie oor die referendum staan uitdruklik: “Indien u nie stem nie, sal aanvaar word dat u in die huidige mediese skema wil bly.” Op ‘n ander plek word ‘n stemprosedure verduidelik wat ‘n wegblystem tot van nul en gener waarde reduseer.

Sekere mense met sterk gevoelens oor die saak het daardie onderstreepte sinnetjie gelees en nie verder gebodder nie. Hulle was doodgelukkig dat hulle hul doel met ‘n wegblystem kon bereik.

Daardie “ligte mistykie” en die verwarringspotensiaal daarvan is dadelik onder die aandag van die betrokke magte en owerhede gebring. ‘n Lys van misleides is op skrif verskaf. So ‘n slordigheid t.o.v. ‘n sleutelkwessie kan natuurlik die geldigheid van enige stemproses ernstig in die gedrang bring, is aan hulle uitgewys. ‘n Mens sou ‘n onmiddellike regstelling en verskoning verwag.

Maar nee, eers ‘n week later word kennis gegee dat die sperdatum van die referendum met twee weke uitgestel word om lede meer kans te gee om te besin. In die verbygaan word na “skynbare verwarring” verwys. Die aankondiging bevat geen verklaring vir die onaanvaarbare teenstrydigheid in die oorspronklike dokumentasie nie.

Besorgde lede het vergeefs na aanvaarding van aanspreeklikheid of boetedoening vir die misleiding met twee lynreg-teenstrydige mededelings gesoek. Aikona.

So ‘n ontwyking van verantwoordelikheid vind hierdie skepsel hoogs betreurenswaardig. Party mense is “skynbaar” eenvoudig nie in staat om hul onvolmaaktheid in hierdie opsig (volgens die Bybelse woord) ruiterlik te erken nie. Raar maar waar.
(hvd)

SLANG VIR BREKFIS

More uit Melkbos

‘n Luiperd wat ‘n luislang vang? Een van Sanparke se top-wetenskaplikes vertel vanoggend in Die Burger (seker ook in Beeld en Volksblad) dat hy nou die eerste keer in die wildtuin daarvan gehoor het. Twee gelukkige Somerset-Wessers het wonderlike foto’s van juis so ‘n insident naby Skukuza geneem.

Wel, as die wetenspalike gelyk het, was ons kinders Johan en Mariza van Deventer (nou van George) jare gelede in Sabiepark getuies (of amper-getuies) van selfs ‘n sonderlinger insident as wat hulle (of ek) tot op datum besef het.

Een oggend het hulle op ons motorpad uit Wildevylaan ‘n lang sleepspoor gesien. Hulle het bespiegel dat dit ‘n luislang kan wees. Hulle was nie verkeerd nie.

Die storie het later ontvou: daardie slang was besig om ‘n pasgebore duikertjie in te sluk. Die luiperd was seker baie honger. Toe val hy uit die bloute die luislang met sy brekfis in sy bek aan.

Al wat die slang kon doen, was om sy prooi op te bring ten einde te ontsnap of terug te veg. Johan en Mariza het die sleepspoor en die kadawertjie afgeneem.

Die luislang was te laat. In ‘n japtrap was hy die luiperd se brekfis.

Maar honger luiperds doen vreemde dinge. Ons het op ‘n keer op die Doispanepad tussen Skukuza en die Phabenihek gesien hoe ‘n luiperd ‘n leeumannetjie se rooibok by hom gryp en woerts daarmee in ‘n maroelaboom verdwyn. Die dikbek leeu was duidelik nie geamuseerd nie.
(hvd)

SPIOENE EN ANDER GEHEIME

More uit Melkbos

In Januarie 1983 verskyn die nuwe besturende direkteur van Naspers, Ton Vosloo, sy vier koeranteredakteurs en die politieke redakteur van die groep een oggend geheimsinnig op Uilenskraalmond se strand by Franskraal. Die redakteurs is Wiets Beukes (Die Burger), Willem Wepener (Beeld), Hennie van Deventer (Die Volksblad) en Chris Moolman (Oosterlig). Die politieke redakteur is Alf Ries, alombekend as doyen van die persgalery van die Volksraad.

Die meeste van die manne stroop hul hemde, duik in die branders, plas en jil. ‘n Ander gedaante kom meteens met water wat uit sy hare drup uit die branders te voorskyn. Dit groet oor en weer. Later stap die Naspersmanne en die onbekende nuweling gesels-gesels uit die branders. Op die strand gryp elkeen sy handdoek om af te droog, maar die gesels duur voort. Lyk soos ‘n lang agenda …

Het ek gepraat van ‘n “onbekende”? Wel, dis nie heeltemal waar nie. Onbekend was Niel Barnard, Suid-Afrika se jong spioenbaas allesbehalwe. Al was die skemerwêreld van die Groter Politiek sy werkterrein, is sy aanstelling wyd uitgebasuin – hoogleraar in staatsleer (meen ek) wat deur P.W. Botha met die hand uitgesoek en by Kovsies gaan haal is om die Nasionale Intelligensiediens te lei – iets wat hy lank en met onderskeiding gedoen het.

Daardie oggend het Alf Ries foto’s geneem soos die een hierbo: Moolman, Wepener, Vosloo, Van Deventer, Beukes in hul baaiklere. Hoekom Niel nie saam met ons afgeneem is nie, kan ek nie onthou nie. Dalk wou hy nie. So ‘n foto sou verleentheid kon wek, het hy dalk geredeneer: NI se topman met die leiergroep van die Afrikaanse koerante op ‘n verlate strand op ‘n Saterdagoggend!

Daardie verleentheidspotensiaal is ook deur ons persmanne later besef. Ons het oor ‘n bier of twee om die vleisbraaivuur by Wiets en Alf se vakansiehuis (waar ons sommer die naweek na die Parlementsopening kom lekker kuier het) daaroor saamgelag, en in ons verbeelding die foto plus prominente berig oor ons “secret meeting” op die “Sunday Times” se voorblad gesien.

Die ontmoeting met Niel was inderdaad absoluut ongeskeduleer. Die Barnards het in daardie stadium ‘n vakansiehuis naby Gansbaai gehad – het dit dalk nog. Ons het bloot op dieselfde tyd op dieselfde dag op dieselfde strand behoefte aan son en seewater op ons lywe gehad.

Geen geheim aan daardie ontmoeting nie, ongelukkig.vir diegene wat my kom vra het n.a.v my Ton-en-FW-blog: “Vertel ons nog ‘n paar geheimpies toe!”

“Geheime” ontmoetings met Niel Barnard was daar later tog wel. Ek onthou ene by Ton se destydse woning in Wynberg met die interessante naam “Spyglass Hill”. Ebbe Dommisse het toe al by Die Burger by Wiets Beukes oorgeneem, as ek reg onthou. Daardie dag het ons by ‘n vuurtjie groot dinge gesels, soos oor die gesukkel om Suid-Afrika op die pad van groter geregtigheid vir almal te kry. Niel het ons ingelig oor klandestiene inisiatiewe rondom Nelson Mandela, en nog die vrees uitgespreek dat die man se enkels so dik gewel is; hy vrees hy kan in die tronk iets oorkom! Dit was 20 jaar gelede.

Dalk tog wel ook ‘n “geheimpie” wat ek kan uitlap, is die doen en late een aand in die eerste “Beeld”-jare in Johannesburg waar Ton toe redakteur en ek nuusredakteur was. Ons het daardie tyd soms gevoel of ons dag en nag werk – maar het darem nie elke dag en nag net gewerk nie. Ons kon ook partytjie hou vir die eerste span.

Die moeder van alle partytjies van “Beeld” se eerste jare het in die raadsaal begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton sy sekretaresse, Gerda Pienaar, aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.

Feitlik die hele hoofredaksie — Ton, ek, Salie de Swardt en Twakkies Laubscher — asook senior redaksielede soos David Moolman en Piet Gouws, ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis) en die twee sekretaresses, Gerda Pienaar en Ina le Roux, het gaan aansit.

Daarna het ons gaan “koffie” drink by Ina se woonstel in Bedfordview, waar dit laat begin word het. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was na ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank voortgewoed..

Ai, goeie ou dae! Moet Ton tog aan sulke insidente herinner as ek hom Saterdag bel om vir hom op sy 75ste geluk te wens. (hvd)

GEHEIM VAN TON EN F.W.

GROOT DAG: Die Pers Beurs toe. Salie de Swardt, Ton en die uwe 18 jaar gelede.

Middag uit Melkbos

Vyftien jaar gelede, met sy uittrede as uitvoerende voorsitter (hy het toe nie-uitvoerende voorsitter geword en Koos Bekker besturende direkteur), is oor Ton Vosloo ‘n video gemaak waarin dese en gene oor sy leierskap uitsprake lewer. In my bydrae het Confucius aangehaal: moenie in een leier alle eienskappe soek nie. My kommentaar was: Confucius het Ton Vosloo nie geken nie.

My bewondering was eg. Hierdie briljante oud-joernalis, wat sy lewe lank in wese joernalis gebly het, ‘n deurdringer sonder weerga tot die kern van die saak, het waarlik op elke denkbare terrein sy kant gebring om die Pers monumentaal uit te bou.

Sprekende as oud-redakteur, kon ek die grootbaas net lof toeswaai vir sy onwankelbare respek vir en sorgsame beskerming van die ruimte wat ‘n redakteur nodig het om na eie lig oordele te vel.

As ‘n latere lid van sy bestuurspan, kon ek net verwondering oordra oor hoe hy, soos min ander, veranderinge geantisipeer het en gewoeker het om daarvoor voor te berei, onder meer deur die uitbouing van diversiteit en die klem op kwaliteit op elke terrein.

Op die vraag of geen kritiek dan teen dié man in te bring is nie, het ek vir my antwoord my teksvers geneem uit Jakobus 3 wat uitwei oor die beheersing van die tong. Ton het soms dalk net vrymoedig gedagtes met ander gedeel, het ek opgemerk. Ná ‘n rustelose nag het ek apologeties gaan mooi vra of ons dit nie maar kan laat uitbly nie. Dit het genadiglik uitgebly. Maar toe val my stukkie van Confucius ook van die redigeertafel!

In daardie tyd was daar ‘n inisiatief waarvan min weet. ‘n Groep Nasionale politici onder leiding van Johan (Kleppies) Heyns het Ton probeer werf as opvolger vir F.W. de Klerk aan die stuur van die NNP. Hulle het my as tussenganger gebruik, en verskeie klandestiene middagetes het by die Kaapse Seiljagklub plaasgevind. Ton was wys en wou nie byt nie.

Die laaste vyftien jaar was ek ver van die vuur. Ek kan my nie uitlaat oor Ton se rol in nuwe Pers-aksente wat vir hierdie ouderwetse waarnemer soms vreemd opval nie. Dit het wel nie ongemerk verbygegaan nie dat die voorsitter se nasionale statuur net duiselingwekkend bly groei het en dat die akkolades op hom bly neergiet het.

Daardie merkwaardige ander Pers-kolos, Piet Cillié – die man met ‘n raak storie vir elke geleentheid – het in 1984 met die afskeid van Lang David die Pers se kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik:

“Wanneer die pers se resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan na ‘n verpletterende sege by die stembus: “I think we did rather well.”

Oor Ton Vosloo sal my seker by die viering van hierdie bakenverjaardag op 29 September 2012 die toegewinkie gegun word om in daardie eufemistiese idioom ten slotte te deklameer: “I think he did rather well!”

(Ton vier op 29 September sy 75ste verjaardag. Hierdie huldeblyk is wesenlik gegrond op ‘n vorige een in die gedenkboek “Ton van ‘n man” wat by Ton se 70ste op 29 September 2007 in beperkte oplaag uitgereik is.) – (hvd)

TON RED ‘N HOND

Orin Scott se vrolike prentjie van ‘n nagtelike petalje in Northcliff

More uit Melkbos

Ton Vosloo is een van daardie mense wie se naam jy maar op ‘n koerantplakkaat kan sit. Noem selfs net die naam “Ton” en almal sal dadelik weet van wie jy praat (soos Mandela en ook, in vorige tye, Naas!).

Wat miskien nie so wyd bekend is oor Ton Vosloo nie, is dat hy op Saterdag 29 September sy 75ste verjaardag vier. “Ton al 75?” hoor ek in my verbeelding mense vra. Maar natuurlik hoef ‘n mens nie op 75 jou vonk te verloor het nie!

In elk geval ek weet dat vir die bakenverjaardag van my jarelange vriend, kollega en baas uit allerlei oorde verrassings beplan word. Ek sal nie geheimpies verklap nie. My eie hulde is vervat in die eerste hoofstuk van my blogboek “Lewensgroot en Groter”” onder die opskrif “Onverskrokke verspieder”.

Die hoofstuk is, op sy beurt, wesenlik gegrond op my huldeblyk in die gedenkboek “Ton van ‘n man” wat by Ton se 70ste op 29 September 2007 in beperkte oplaag uitgereik is. Ek plaas dit vervolgens graag op my blog, in twee opeenvolgende aflewerings:

ONVERSKROKKE VERSPIEDER

AMPER 35 jaar gelede het ek die eerste keer ‘n ietsie oor Ton Vosloo geskryf. Dit was vir “Beeld” se huisblad, ná ‘n nagtelike eskapade met die bure se brak.

Een nanag in Mei 1978 word ons jong redakteur – nou al lank voorsitter van Naspers en op die drumpel van 75 – gewek deur ‘n gedoef-doef wat knaend aanhou. Dit tref hom dat die geluide kom uit die rigting van sy Northcliff-bure se swembad – nogal agterdogwekkend in ‘n Transvaalse winternag.

Ton wikkel hom in sy kamerjas, spring oor die heining en kom af op die arme brak – al gedaan gespook om uit die greep van die Kreepy-Krauley se seekat-arms te kom. Onse held spring dadelik in die yskoue water in en red die dankbare hond.

Dié anekdote word nie opgerakel as kapstok vir ‘n ontleding van Ton se affiniteit of gebrek daaraan vir die ordinêrste variasie van die spesie canis, die gewone werfhond, nie (al sou ‘n mens dié persbaas se lewenslange vrugbare verhouding met die spesie nuushond dalk vindingryk met daardie heldedaad kon verbind!)

Nee. Ek glo daardie insidentjie is relevant omdat dit lig werp op eienskappe van die man wat deurslaggewend in sy latere verrysenis was. Ons leer Vosloo ken as die onverskrokke verspieder wat hom nie deur heinings sal laat stuit om te weet presies wat in sy wêreld aangaan nie, en as die energieke doener wat berekend sy doel najaag, kom wat wil.

Hierdie vreesloosheid het hy ook in sy kantoor in die lelike ou “Beeld”-gebou in Doornfontein geopenbaar. Hy het vinnig soveel energie, dinamiek en broodnodige dissiplines in daardie sukkelende nuwe dagblad van die Pers gepomp dat dié weldra op koers kon kom. Ton Vosloo het daarmee as’ t ware nog ‘n potensiële verdrinking in die Noorde gestuit!

Ek sal nie daarop roem dat ek die eerste of een van die eerstes was wat die besielende redakteur van “Beeld” as uitstekende opvolg-materiaal vir Lang David de Villiers geïdentifiseer het nie. By ‘n laataandbraai langs die Zambezirivier op ‘n weermaguitstappie in 1982 (gedenkwaardig gemaak deur Twakkies Laubscher van “Beeld” se nagtelike stormlopie rivier toe om sy Skotse watertjie met Zambezi-watertjies te verdun) het ek egter kollegas nogal met dié insig verras.

Kort daarna, op 1 Maart 1983, is Theunissen Vosloo as adjunk aangestel. Hy het nie weer teruggekyk nie.

* Vervolg in ‘n volgende blog in hierdie ruimte.

MAG MAAR DROOM …

More uit Melkbos

Toe ek in 199 my eerste Honda CR-V uitgetrek het, het hy nogal oë laat rek. Op ‘n eerste uitstappie Clanwilliam se kant toe het ons by ‘n oase langs die pad ingery vir ‘n koppie boeretroos. Die gesprek by die tafel langsaan het my laat bors uitstoot. Waarvoor sou daardie H op die rooster staan, wou ons bure by mekaar weet. Die era van die ligte sportnutsvoertuig was toe nog in sy kinderskoene.

Daardie Honda is nou my “bosbus” of “bosbussie”. Onvermydelik het ‘n paar slegte krappe al strepe in die silwer ingekeep. Maar ondanks sy 180 000 kilometer bly hy die betroubaarheid vanself. En as die vriendelike Patson hom in Sabiepark met kenmerkende deeglikheid gespuit en gepoets het, vertoon hy steeds die astrantheid en die adel wat my aanvanklik op hom verlief gemaak het. Hy was in ontwerp sy tyd vooruit.

Sedertdien het fabrikate en vorms van hierdie gewilde klas voertuie op ons paaie hand oor hand toegeneem. Die Koreane het tot die mark toegetree. Kontinentale menere het hulle tot die Suid-Afrikaanse toneel kom toevoeg. Uit Amerika kom ‘n hele verskeidenheid. Maar my nuwe silwer Honda (ook nie meer so “nuut”nie, want hy’s ‘n 2007-model) staan sy man in enige geselskap. Hy word met respek bejeën en veral die uitsonderlike neus verleen aan hom steeds ‘n treffende elegansie.

My buurman wat hom moes ry ter wille van die battery toe ek laas twee maande in die bos was, het ongelukkig in nat teer beland. Die besmeerde Honda was ‘n hartverskeuirende gesig. Maar na ‘n daglange was- en poetssessie moes julle hom sien. Jy kon sweer ek ry pas met ‘n splinternuwe ryding by ‘n toonkamer uit.

Interessant genoeg, is ek een van ‘n halfdosyn of meer Persmense van my generasie wat ‘n Honda CR-V ry. Of dit ons is wat so oulik is of die Honda, is iets waaroor ek my nie sal uitlaat nie. Dalk vul ons mekaar aan!

Maar nou’s ‘n splinternuwe ontwerp uit die Hondastal op pad – die eerste in ses jaar. Ek het gaan loer op buitelandse webblaaie. Hierbo is ‘n voorskou uit die Filippyne. My oorwoë kommentaar is dat mooi nog nooit lelik was nie. ‘n Mens mag mos maar droom….
(hvD)