SONDER ‘N DRAAD

Middag uit Melkbos

My blog-argief was nog nooit nuttiger nie as toe Elna Smit, voorsitter van Melkbos-gemeente se Silwerkragvereniging, my Woensdagmiddag hande in die hare kontak.

Weens Eskom-aktiwiteite kan die orkes wat sou musiek maak, nie meer Donderdagoggend hul klankstelsel koppel nie. Kan ek asseblief kom help red? Wel, ek kan nie musiek maak of sing nie (wens ek kon), maar ek voel dit my ridderlike plig en het darem oor die 900 blogs in my argief. Kan seker gou ‘n paar storietjies opdiep.

‘n Storie wat Tokkie dadelik uit die kombuis aanbeveel, is in my blog van 23 Januarie 2013, Boudjies in die bos. Dis die storie van ‘n dame (?) se penarie op die S4 in die Krugerwildtuin toe ons haar met haar G-string op haar enkels betrap. Ek is dadelik entoesiasties. Ek en Elna besluit saam op die tema: DIE NAAKTE WAARHEID. Dan kan ek by die boudjiestorie ook enkele ander anekdotes oor ongemaklike oomblikke sonder klere vir dese en gene aanhaak – die uwe helaas ingesluit.

Van padstorie spring ek na twee badstories. Een keer het die Buurtwag uit pligsgevoel sy intense lig aanhoudend op my en Tokkie, weerloos kaal, in ons hoekbad laat skyn(16/2/2012). ‘n Pragtige jong besoekertjie is weer deur Ceres se aardbewing uit haar gasheer se bad gejaag met net ‘n waslappie as enigste bedekking (Uit Praat-Praat in Tamatiestraat, maar ook iewers in ‘n blog vermeld).

Daarna kom kaalbas-kirpatse in die swembad aan die beurt. Ek kan die Silwerkraggers inlig oor ‘n gesiene egpaar se nagtelike avontuur in ‘n onderdak-swembad in Zell-am-see, Oostenryk (Oos, Wes – Reismoles en ook iewers in ‘n blog). Ook oor ‘n vriendin, Alet van Dyk, se verleentheid op Aliwal-Noord. Toe sy vroeg in die huwelikslewe met ‘n Indiaanse kreet sonder ‘n draad by die deur uitstorm vir ‘n roetinekuiertjie in die koel water, sit haar man en ‘n kuiergas op die stoep grootoog die petalje en aanstaar (27 November 2008).

Langs die swembad kan dinge ook erg skeef loop, soos die bruid wat op die wittebroodsdae van haar tweede huwelik in Quebec, Kanada die bostukkie van haar Playboy-bikini al huppelende op ‘n trampolien verloor (17 April 2008).

Vir moleste by die see gaps ek uit Sakkie Perold se Glimlag of Grinnik die storie oor die ou wat by Waenhuiskrans deur die branders uit sy broek geskud word, en toe moes ontdek die reddende jêmblik is ‘n blikkie sonder boom (12 Novemer 2012).

Toe’s ‘n halfuur verby – nog net tyd vir twee kort storietjies wat oor ooms se vindingryke planne vir ‘n bietjie loerplesier. Een het meisies uit ‘n plaasdam laat spaander met ‘n witleuentjie oor ‘n “krokodil”. Die ander het sy mooi buurvrou haar handdoek laat afwerp vir die R500 wat hy hy buitendien vir hulle skuld (27 Februarie 2008).

‘n Vraag kan wees of dit nie perdalks ‘n skurwerige onderwerp vir ‘n byeenkoms van ‘n gemeentes se oues van dae is nie? Verneem graag as iemand so dink, maar naaktheid is mos darem van die sondeval af ‘n Bybelse onderwerp en ‘n aanvaarde (?) tema vir grapjastery. Tog ‘n bekende storie daardie ene van die Engelse predikant wat sy preek oor die sondeval onderaan bladsy twee skielik onderbeek. “And Adam said to Eve ….,” lees hy. Blaai om, blaai terug en blaai weer om. “And Adam said to Eve… “Toe bra moedeloos: “There seems to be a leaf missing!”

SON SAK VIR SAKDOEK

More uit Melkbos

Moet ons ‘n traan wegpik vir die nuttige sakdoek?

Ek hoor ontstellende dinge:

1. Kinders vat nie meer sakdoeke saam skool toe nie;
2. Pajamabaadjies kom nie meer met bosakke nie.

In my dae moes ons die skoon sakdoek op die skoolbank neersit met die hande netjies langs mekaar bo-op. Juffrou het dan kom inspekteer of die naels skoon is. Vandag staan in die klaskamer glo bokse snesies vir daardie opwellende lastigheid in die neus, ens.

Self slaap ek al jare met my sakdoek onder die kopkussing. Ek ken egter mense wat hul sakdoeke in die bosakke van hul nagkabaaie bêre. Hulle soek hulle kaduks vir modelle wat nog daardie gerief bied. Hulle is reddeloos, die arme drommels.

Hoekom sou dit so wees? Die gebruike van die nederige sakdoek is immers legio. Vir die manlike lyf (waarvan ek uit die aard van die saak meer kennis dra) bied dit o.m. uitkomste t.o.v. die oog (‘n lastige traan), die neus (die onaangenaamhede wat daar ontstaan) en onder die naeltjie (as mis gekorrel is).

Vir allerlei ander ongewensde plassies kan jy maar net in jou sak vroetel. Van sweet tot spuug. Die oplossing is byderhand.

Een van die toppunte van galante ridderlikheid is in my boekie om ‘n skoon sakdoek te kan uitpluk as ‘n tranerige fliek of iets in dier voege ‘n blinkheid in die mooi ogies van jou metgesel laat opwel.

Deesdae se hartseer-meisiekind moet seker dan maar in haar handsakkie vroetel vir ‘n snesie of hoe? So onromanties.

Wat prop jy in die bosak van jou beste pak klere as jy die dag so ‘n tikkie ekstra windmakerig wil wees?

En wat doen jy sonder sakdoek aan die oorlogsfront? Hoe uitgelewer is jy nie as die vyand die oorhand begin kry en ‘n regte-egte witvlag is nie byderhand nie? In die oorlogsannale lees ons immers dikwels van sakdoeke wat goedskiks as simbole van oorgawe moes dien. Nou sal iemand seker sy onderbroek moet uitpluk, maar dié is ook meesal gestreep of met kolletjies.

Hoop die uwe het hier die kat aan die verkeerde kant beet en dat alles net ‘n kwade gerug is. ‘n Lewe sonder die sakdoek, verbeel jou! Hoeveel armer, en in hoeveel onhanteerbare penaries, gaan ons nie wees nie?

(hvd)

BOOM MET BAIE VRUGTE

Naand uit Melkbos

n Man wat baie tot stand gebring het waarvan ander die vrugte pluk. So het ds. Johan Rossouw in die Paarl se historiese Strooidakkerk by sy gedenkdiens hulde gebring aan die baanbreker-nyweraar Jan de Necker wat op 93 oorlede is.

Wat Jan de Necker tot stand gebring het, of as medestigter tot stand help bring het, sluit in Toyota SA, Veka, die Rand-Aksepbank, Bankfin en die Wêreldwye Natuurlewefonds. Daarby was hy voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstuut, jarelange steunpilaar in die Raad van die Universiteit van Stellenbosch, burgemeester van die Paarl en nog wat.

Van vrugte gepraat: wonder hoeveel honderdduisende Toyotas vandag in Suid-Afrika op die paaie is. Sommer heelwat getel in die straat voor die kerk! Die klerereus Veka is spesifiek gestig om vir vroue en kinders ‘n lewenstog te skep. Vir hoeveel honderde Afrikanergesinne het Veka nie in taai jare brood op die tafel gesit nie.? Hoeveel mense is nie op die been gehelp met banklenings waarvoor Jan de Necker bedank moet word nie? Hoe pluk die natuur- en wildlewe nie die vrugte van die Natuurlewefonds nie?

My eie hulde beperk ek tot die heerlike vrugte wat ek al 15 jaar lank pluk van sy versiendheid, saam met o.a. Werner Ackerman, Albert Wessels en Daantjie du Preez, om ons bosparadys Sabiepark by die Krugerhek van die Wildtuin te skep en help vestig.

Die storie van Sabiepark het hierdie fiere man – ‘n man soos ’n formidabele bosveld-boom – my een aand op die stoep van sy en Dalene de Necker se ruim huis op die oewer van die Sabierivier in Sabiepark oor die beste KWV-wyne vertel (Die huis behoort nou aan die De Neckers se dogter, Suné Greeff.). My gasheer het vertel omdat ek hom uitgevra het daaroor; nie omdat hy sy eie beuel wou blaas nie. By al sy ander deugde was Jan de Necker ‘n beskeie plat-op-die-aarde-mens.

Hy het Werner Ackerman die eer gegee. Dié het lank gedroom van so ‘n toevlug ver van die stad se gewoel en rumoer; ‘n plek waar die diere- en planteryk so ongeskonde moontlik behoue bly, en vermoeides in vrede hul batterye kan herlaai.

Die ideaal het begin werklikheid raak toe die nou verwaarloosde sitrusplaas Lisbon aan die Sabierivier (eienaar: David Graaff Foods Ltd) in 1973 onder die hamer kom. Deel daarvan was ‘n lappie ongerepte Bosveldgrond aan die Sabierivier, bekend as sir David Graaff, ouer broer van sir De Villiers Graaff, se persoonlike “sanctuary”.

Ackerman het dadelik die moontlikhede raakgesien. Hy nooi De Necker, Wessels, Du Preez en ‘n landmeter, Phil Jooste, toe om hul gewig in te gooi. Hulle stig ‘n konsortium en dié word die nuwe eienaars van Lisbon (wat hulle na ‘n paar jaar weer verkoop het) – en van Graaff’s Sanctuary.

Kort daarna word die nuwe teerpad van Hazyview na die Krugerhek voltooi en word die “sanctuary” as’ t ware geamputeer van die Sabi-Sand-wildtuin waarmee dit ‘n eenheid gevorm het. Daardie “afvalgrondjie”, feitlik omring deur die Krugerpark en die Sabi-Sand, was nie juis vir landbou geskik nie. Dit was egter ideaal vir die vestiging van ‘n natuur- en wildbewaringseenheid — die toekomstige Sabiepark.

Omvangryke navorsing en lang onderhandelinge met die destydse provinsie Transvaal het gevolg. Daarna laat die vyf stigters nie gras onder hul voete groei nie. Jooste – hy was tot onlangs nog ‘n eienaar – was stadsbeplanner van Klerksdorp. Hy het die gebied opgesny in erwe van rondom een hektaar elk, dienste is aangelê en ‘n skilderagtige piekniekterrein ontwikkel. Sir David se “sanctuary” sou nou vir al hoe meer mense ‘n persoonlike heiligdom word.

Aan kopers het dit nie ontbreek nie, aanvanklik net uit Suid-Afrika, maar later ook al hoe meer uit die buiteland, uit Amerika, Brittanje, Kanada, Nederland, die Emirate — almal gebind deur een nasionalisme: hul liefde vir die natuur.

Vir baie eienaars – tot vandag toe – is hul hektaar in Sabiepark veel meer as net ‘n wintervakansie-bestemming. Dit is ‘n “eie Bosveldplasie”, die vervulling van ‘n tradisionele hartsverlange na ‘n stukkie erfgrond wat van geslag tot geslag oorgedra sal kan word. Vir daardie wonderlike nalatenskap, ‘n bos Sabieparkse tarentaalvere vir Jan de Necker! (hvd)

LEKKERBEKKE EN LIEGBEKKE

More uit Melkbos

Die flambojante Louis Luyt en die ewe flambojante koerantman Jack Viviers was maatjies, wat in die jare 70 gereeld ‘n voortreflike skaapsaaltjie (“saddle of lamb”) saam geniet het in Luyt se deftige kantoorsuite in Aucklandpark, Johannesburg.

Een keer het Jack my saamgenooi. Ek was toe nuusredakteur by Beeld en Jack die tweede-in-bevel. Hierdie Vrystater se oë was soos pierings oor al die weelde, elegansie en styl – onder meer die voorste landgoedwyntjie in die duurste kristal en ‘n kelner uitgevat in witter as wit, wat vooraf kom verneem presies hoe gaar of ongaar elkeen graag sy vleisie op die bord sal wil hê.

Louis en Jack se nostalgiese stories oor verre lande – en veral die top-restaurante van verre lande –het my ietwat ontuis in daardie geselskap laat voel. My buitelandse ervaring was in daardie stadium beperk tot ‘n vlugtige besoek aan Duitsland op uitnodiging van Lufthansa en ‘n Europesese toer, georganiseer deur die Bloemfonteinse reisonderneming Rontoer in samewerking met Die Volksblad. Kulinêre belewenisse in die orde van die Luyt-Viviers-klas was ver buite my ervaringsveld.

Nietemin, met smaak word oor die geurige skaapvleis toe ‘n spesiale kos-ekspedisie van my kollega en ons wellewende gasheer in herinnering geroep – ene wat begin het met ‘n goedige verskil van mening oor waar die beste “steak” ter wêreld geniet kan word.

Jack se kandidaat, as ek reg onthou, was ‘n eetplek iewers in Buenos Aires. Louis Luyt was adamant dat die lekkerste “steak” wat hy in sy dag des lewens geproe het, in ‘n restaurant in Sydney was.

Jack was nie een wat maklik toegegee het as hy glo aan sy saak nie.

Moeg van Jack se gekarring, speel Luyt toe sy troefkaart. “Kom ek gaan wys jou.”

Die twee is in Luyt se private straler vinnig oor Australië toe, en direk na die restaurant in Sydney waar die forse Suid-Afrikaanse miljardêr nie eens die spyskaart hoef te raadpleeg nie. Hy weet presies wat hy soek en wat hy sy joernalis-gas wil laat proe.

“Erken nou,” het Luyt aangedring toe hulle mes en vurk neersit. “Moet erken,” het Jack toegegee terwyl hy sy servet toevou.

Toe’s hulle lughawe toe waar die straler gereed gestaan het vir die lang vlug terug Johannesburg toe.

Ware storie? Ek twyfel nie. Jy kon baie dinge van Louis Luyt en Jack Viviers se. Jy kon nie sê daardie twee lekkerbekke is liegbekke nie.
(hvd)

LUIPERD-VRESE

Middag uit Melkbos

Toe ons Sabiepark binnery, was die prominente kennisgewing op die swartbord by die hek: Leopard in the park! Mooi skets van ‘n luiperd daarby. Ek het dadelik die tweeling voor die bord afgeneem (foto hierbo). Die kunstenaar is Abey, vriendelike nuwe hekwag. Toe ons ry, was Abey se skets, en die waarskuwing steeds op die bord.

Die luiperd(-s) was oor Nuwejaar hier, daar en oweral. Verskeie Sabieparkers het op verskillende tye een teëgekom – ‘n verbaasde eienaar glo op sy stoep. Dié gevaarlike roofdier het ‘n middagslapie kom vang. ‘n Middag was een lank in Wildevylaan rond, naby die driffie ten ooste van Tarlehoet, en een oggend by bure, Rob en Beth Meyers van 152, net om die draai in Apiesdoringlaan. Elvis van Sabiepark het ‘n groot mannetjie doodluiters om 14:45 op die piekniekplek se parkeerterrein sien ronddwaal.

Met dié Meneer/Menere/Dames se aptyt skort niks. ‘n Wildebeeskalfie is ‘n middag om 16:00 uitgehaal en twee dae later ‘n volwasse wildebees. Intussen is ‘n rooibok platgetrek. Ook die park se kwynende vlakvarkbevolking raak vinnig uitgedun. Die dankbare hiënas tjank aaneen oor die vele karmenaadjies.

Tarlehoet se mense het in 18 dae geen teken van ‘n luiperd gewaar nie. Ironies, was dié pragdier in sy afwesigheid tog, ook vir ons, ‘n oorheersende teenwoordigheid. Die tweeling-kleinkinders Jacob en Thomas is lief vir die veld en versot op stap. Hulle geniet die bome, spore en mis. Oupa het egter nie kans gesien om hulle aan die risiko van ‘n dwalende luiperd bloot te stel nie.

Om te skrikkerig te wees om te stap, is vir die VanD’s ‘n hartseer-saak. Ongelukkig weet ek nie of ek ooit weer gerus genoeg sal raak nie. Dalk is ons heerlike wandelinge maar iets vir “memory lane” en die foto-albums.

Sommige meen my vrese is oordrewe. “Hy raak oud, die ou kêrel.” ‘n Vriend het kom praat. Luiperds was nog altyd deel van Sabiepark, is sy standpunt. Almiskie, het ek geantwoord. In die verlede is gevaarlike diere verdoof en verwyder – of selfs doodgeskiet – as hulle Sabieparkers se veiligheid bedreig. Enkele jare gelede het een ewe astrant oor die swembad se heining gespring. Daar is vinnig op hom toegeslaan.

Verskeie sulke insidente is opgeteken. Luiperds was in elk geval nog nooit so onbelemmerd tuis in park soos die afgelope jaar of twee nie.

Terug op Melkbos, kry ek ‘n brief van ‘n vriendin: “Ons gaan Sondag vir ‘n week na Sabiepark en ek het gewonder wat jy bedoel met die ‘luiperdbedrywighede’. Kan ek regtig nie met my kleindogter gaan stap nie, en is dit veilig as sy daar in die binnehof by ons huis speel? ”

My antwoord was doodeerlik: “Ekself sien nie kans om met my kleinkinders te stap nie, al het ons dit as yslike beperking ervaar. Jul binnehof is bepaald veiliger. Maar waar is jy 100% gewaarborg? ‘n Luiperd het al op die parkhoof se stoep ‘n hondjie kom vat. Soos dinge ontwikkel, flikker die gevaarligte al hoe meer vir my dat ‘n ramp hom kan afspeel: hetsy werker/besoeker”.

Ek kon bygevoeg het dat selfs ‘n buitengewoon groot koedoekoei al in Sabiepark ‘n slagoffer was. Wanneer word dit ‘n mens se beurt? Al sê wie ook wat: Dat ‘n luiperd in Sabiepark ‘n mens kan aanval – soos in Skukuza se personeeldorp in ‘n kort rukkie twee aangeval is, die laaste ‘n skoolkind met sy boeksakkie op sy rug – is in die lig van al die rooi ligte wat flikker, vir my werklik ‘n diepe bekommernis.

Een ding weet ek: as mensebloed gevloei het, sal ons hartsplekkie nooit weer dieselfde kan wees nie.

In die jongste Nuusbrief is inligting oor die regskoste wat enkele hardekwas-eienaars vir Sabiepark op die hals haal met hul uitdaging van algemene reëls. Dit kan heffings opjaag, word gewaarsku. Die harde werklikheid is natuurlik dat die huidige regskoste ‘n vulletjie sal wees teen die enorme prys wat dit van almal gaan verg as ‘n honger of siek luiperd, ná al die waarskuwings, ‘n niksvermoedende stapper, braaier of werksmens sou vat.

Hoop maar ek is sommer net Bangjan, en sien werklik net spoke, soos my vriend beweer.

Naskrif: Sebras was, aan die positiewe kant, ‘n gedurige plesier vir die Tarlehoeters, soos hierdie foto en vorige nagfoto’s by ons watergatjie aantoon. Die kordate klein kameelperdjie het meer as een keer sy opwagting op ons werf gemaak. Dan het ons jou werklik weer ‘n inwonende veldlikkewaan wat gereeld in die skadu van die dak se oorhang ontvlugting van die somerson kom soek. Bosnagape het elke aand kom piesang haal. Maar die nagapies was nog nooit so skaars nie. Seker oorgenoeg smulkos in die welige veld.

(hvd)

MPUMALANGA-STYL

Middag uit Melkbos

So vervang jy ‘n knaldemper Mpumalanga-styl. ‘n A-klas-Mercedes minus sy waardigheid voor ‘n kafee/motorhawe iewers in daardie anderster provinsie. Eric Wiese het die foto’s opgespoor en aangestuur. Kyk my blog, Panic Mechanik, hieronder. (hvd)