Jan 28, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Die bos-Honda – muisneste onder sy “dash”
More in Melkbos
Iewers in ‘n versie vermeld ek my vrees vir “Mpumanlange se slange”. Mpumalanga se “mekennieks” verdien gewis ook ‘n waarskuwende kwatryn, ‘n sonnet of dalk ‘n slim limeriek.
As ek nou nie ‘n foto weggesmyt het wat ek onlangs per e-pos ontvang het nie, sou dit my woorde uitstekend kon illustreer. Dis van ‘n netjiese donkerblou Merecedes (A-klas of B-klas) wat iewers in daardie wonderlike provinsie op sy sy omgekeer is om die knaldemper by te kom.
In die idioom eie aan daardie bedryf vermaan die afsender: “As jy ooit jou kar neem na n silincer workshop, maak seker dat hulle die regte equipment het soos n kar lift/jack ‘- anders word daar soos hieronder te gewerk gegaan. Ek dink nie jy sal daarmee gelukkig wees nie. Ek dink as Merc hierdie moet sien, brand hulle die plek af.”
Dit bring my by my eie ervaring met die “Panic Mechanic” op Hazyview.
In die bloedige somerhitte van Desember 2012 kalf my Bos-Honda (‘n ’99-model CR-V) se lugversorging. Dis ‘n lang storie hoe, maar die kern van die saak: ek kom met my nood half per ongeluk by die “Panic Mechanic” te lande. Dis ‘n plekkie ingedruk in ‘n benoude smal ruimtetjie langs ‘n begrafnisondernemer.
Die uwe kan, ondanks sy kloeke stryd teen sy oortollige massa, kwalik sy lyf tussen die semi-afgetakelde modelle verbyskuur om by die eienaar, Richard, in sy ghries-besmeerde Bloubul-hemp uit te kom. Maar Richard se oom het net so ‘n kar gehad. Hy ken Hondas. Hy pluk hier, druk daar en diagnoseer vinnig.
Tokkie begin bedenkinge kry oor die relevansie van sommige plukke, maar kiepie laat hom oortuig. Hy is, soos afgespreek, om 08:00 terug vir die “vinnige fieks”. Richard daag eers teen 08:20 met die nodige ekskuse op. Maar “raak rustig, my oom”, hy bel oor ‘n halfuur met sy kwotasie. Daardie halfuur word ‘n uur en ‘n half.
Só begin ‘n lang dag van wag in die uiters bedrywige Twin City-sakesentrum met sy sterk inheemse karakter, om, dit sag te stel. Dit word ‘n dag van baie oproepe, min vordering, al korter wordende lonte aan weerskante en uiteindelik die nuus, meegedeel met die tradisionele fluit van erbarming, dat muise in die CR-V se drade was. Onder die “dash” is dit die ene muisnes … of ses (die eerste paar woorde van ‘n sonnet?).
Intussen doen ons wat ons op Tukkies destyds “pub crawling” genoem het en die Hollanders “stap” noem. Ons skuif van kafee tot kafee; hier vir ‘n “float”, daar vir ‘n “double thick”, my eerste in jare, en later, vir middagete, na ‘n derde plek vir ‘n taai, louerige pizza. Die skares verdring ons en later gaan soek ek in die koel (uiters besige) domein van Absa tydelike asiel. Ek swaai my kredietkaart en verduidelik: In Kaapstad is ek ‘n kliënt, demmit.”
Die Honda kom nie klaar nie. Laatmiddag leen Richard die Van Deventers sy swart Land Rovertjie wat beter dae geken het. Ek kom amper te laat agter die brandstof-liggie brand gevaarlik, maar ons kan darem Perry’s Bridge thaal vir ‘n “coke zero” met BAIE ys onder die salige koeltebome. Die kelnerin doen navraag oor ons klaarblyklike ontheemding. Toe sy van die Honda verneem, raak haar oë soos pierings. “Hoop net nie dis Richard nie. My vriendin se BMW is amper ‘n jaar al daar. Sy kry dit nie uit hom nie.”
Bemoedigende nuus! En gedorie, toe spertyd aanbreek – 17:00 – hang die “dash” nog moedverlore halfpad vloer toe. Ek en die belangstellende tweeling Jacob en Thomas word vinnig uit die werkwinkel geboender. Tokkie sit op ‘n gemesselde muurtjie langs ‘n stegie waarin rondloperkatte klaarblyklik gedy. Jacob en Thomas jaag die katte rond en word terstond twee aangebied – ‘n kado’tjie wat ons vinnig van die hand wys.
Wonder bo wonder is die “dash” tog teen 17:30 terug op sy plek. Die lugversorger is nie reg nie, maar wel so “gefieks” dat dit koue lug inblaas as jy dit volstoom oopdraai. Beter as niks, maar dit kom met die waarskuwing om maar liewer gouer as later die ding te laat regmaak. Die rekening is desondanks meer as die maksimum wat in ‘n “swakste scenario” in die vooruitsig gestel is. “Maar oom, was jy al die hele dag onder ‘n ‘dash’?”
Om ’n lang storie kort te maak, toe dit begin donker word, is my worsie in Sabiepark op die kole, gekneusde gemoed en gatslag vir die beursie ten spyt. Troos is: Die beursie kan ek dalk aanvul deur “Panic Mechanic” se adres te verkwansel aan iemand wat ‘n komiese sepie in ‘n plattelandse werkwinkel beoog. (hvd)
Jan 25, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
UIt elke bosvakansie kom iets nuut, soos uit ons donker vastelandjie, Afrika. “Semper aliquid novi” was ook oor Nuwejaar vir Sabiepark ‘n toepaslike spreuk.
Nooit tevore het ek ‘n nuwe jaar in ‘n swembad ingelui nie. Wel, hier was ek, Tokkie en die 8-jarige tweeling Jacob en Thomas vrolik plassende en proesende in die bosbadjie terwyl die wekker skril aankondig dat ons 2013 betree.
Die jaarwending in die water was my vrou se idee. Dat ons van die een jaar tot die ander onder die Bosveldsterre sou swem, was vir haar ‘n begeesterende gedagte. Vir daardie verhewe doel het ons met ons swembroeke aan gaan slaap. ‘n Halfuur voor die historiese tewaterganery het die wekker die eerste keer gelui.
Tokkie het my en die tweeling met min seremonie uit die lakens gepluk vir ‘n middernagfees soos min. Op die trollie was o.m. sjokoladekoek, koesisters, vrugtepasteitjies, lekkers en skyfies. Op die koek was feestelike “sterretjies” – “sparkles”, man, “sparkles”. Oupa was grotendeels ‘n toeskouer en deelnemer. Al verpligting, so plus-minus, was om op ‘n gegewe oomblik uit die water te spring om die middernag-gelui stop te sit.
Eers om 1:00 op 1 Januarie 2013 is ons terug kooi toe – nadat die seuns eers weer moes tande borsel, soos hul mamma en pappa ná elke ete streng vereis. My vrou tref altyd voorsorg om potensiële dispute oor sulke vername sake diplomaties te vermy.
‘n Gawe Tarlehoet-nuwigheid was natuurlik ook die avonture met die bespiedkamera, waarvan in die blog van 20 Januarie vertel is. Maar die nuwe speelding was nie al nie.

Bespiedkamera, trollie vol lekkernye, turducken uit weber, naambord
Aan die koskant was nie net die middernagfees ongewoon nie. Die uwe het ‘n aand of twee later die eerste keer ‘n sogenaamde “turducken” in die gehawende Weber gaargemaak. Die stuk saamgeflansde pluimvee was brosbruin en sappig. Die kinders het ook die lekkernytjie “machonchans” (repies skaaprib met ‘n sterk kwota geurige speserye) op die kole ontdek. Kom uit Boet en Jan se Plaston-slaghuis op Witrivier. Aan te beveel – ook hul tjops, wors, skilpadjies, ens. Hulle bring dit boonop met ‘n koeltrok tot by Sabiepark se hek.
By Skukza se herderspaar, Carl en Sarah Louwrens, het ons die eerste keer GEEL waatlemoen geëet. Smaak nes die rooie. Lida Pressly het uit Skukuza vir ons die heerlikste tuisgemaakte gemmerbier gebring, met baie rosyntjies. Laasgenoemde het veral Thomas so geval dat gemmerbier vir brekfis dae lank sy begeerte was.
Op TvD se Blackberry het ons ons die eerste keer vir “Kruger sightings” laat registreer. Elke paar minute pieng die foontjie. Dan is leeus gewaar by Orpen of ‘n luiperd by Krokodilbrig. “Hoe ver is dit?” was telkens die seuntjies se vraag. Die ontnugterende antwoorde kon nie anders as teleurstelling wek nie.
Dis ook my bedenking wat ek oor die sisteem het. Min van die hoop mededelings oor waarnemings is werklik vir ‘n mens relevant as jy, uit die aard van die saak, tot ‘n kleinerige stuk Wildtuin-aarde beperk is. Tog laat al die nuus van groot oomblikke jou deel voel van die Wildtuin-dinamiek. Jy sien ook op die skermpie mooi foto’tjies wat die mond laat water.
Bedink die algemene plesier toe “ons luiperd” (in ‘n boom naby die Krugherhek) ook op die skerm uitslaan.
Iets nuut waaroor hierie ou redelik suur is, is die onvermydelike nuwe yskas in die kombuis. Die oue wat ons in 1997 saam met die huis gekry het, het nare nukke begin kry. Dit het ons eenvoudig uitgerook en uitgestink. Die nuwe is dringend uit Witrivier ontbied. Sommer ‘n telefoniese transaksie, want die nood was hoog. Maar, eish, ‘n nuwe gas-yskas vat ‘n hap uit ‘n man se begroting, dis nou maar wors.
Nog ietwat suurder is ek oor die Honda se lugversorger wat kapoet geraak het. Maar dit bring my by die “panic mechanic”. Dis ‘n storie vir ‘n ander dag. (hvd)
Jan 23, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Die oes van kordate jong rooibokkies, vol hupppelende lewenslus, is altyd ‘n somervreugde in die Wildtuin. Die besoek oor Nuwejaar het ook die Vyf Grotes opgelewer, in verskillende formate.
Die “dag van die olifante” (blog van 18 Januarie) was ‘n treffende ervaring. Op die S3 moes die liewe Tokkie ‘n ander keer die Honda in trurat gooi en ‘n kilometer ver padgee vir ‘n Meneer wat – niks dreigend nie, maar tog – slurpswaaiende in ons rigting bly aanstap het.
Renosters (met horings!) was vreemd volop. Die drie op die Skukuzapad (dieselfde blog) was amper so naby dat jy aan hulle kan vat. Sou gedink het die nuus het al lankal die ou stiksienige lot versprei dat hulle moet ver wegbly van die paaie waar stropers met swaarkaliber-gewere en byle rondsluip.
Buffels was hier, daar en oweral: in groot troppe of een-een. Regte ou staatmakers.
Leeus het ons net een keer gekry: drie lummels uitgestrek aan’t snork naby die Olifantdrinkgat op die pad tussen Tshokwane en Skukuza.

Vir ‘n luiperd moes ons wag tot die heel laaste dag. Toe bel Gert-Jan Pols: daar was ‘n vangs naby die Krugerhek. Die luiperd en sy prooi, ‘n rooibokkie, is in ‘n boom langs die pad. Ons was op pad kerk toe. Was binne minute op die toneel – voordat die grootste verdringing kon begin.
Dan was daar 17 wildehonde langs die Onder-Sabiepad, twee keer jagluiperds en vele ander toneeltjies wat in die bultende foto-albums in Sabiepark se boekrak plek sal kry.

Maar een toneel staan uit. Daarvan het ek ongelukkig net ‘n geheueflits.
Ons ry vroeg die Phabenihek toe. Op die S4, net voordat dit by Doispaneweg aansluit, sien ons op ‘n stil oggend van ver ‘n motor staan.
“Wat sien hulle?” wil die tweeling, Jacob en Thomas, opgewonde weet. Hulle vra dit altyd.
Vir my lyk dit of daar teenspoed met die motor kan wees. ‘n Gedaante buk by die voorwiel.
Toe ons nader kom, sien ek die boude. Poedelkaal en baie wit. ‘n Dame (?) spring een-beentjie en prober haar G-string van haar enkels af opruk. In die oomblik van paniek pluk sy egter ‘n verkeerde pluk en die spulletjie haak vas. Net so ‘n entjie bokant die swart langbroek wat haar skoene bedek.
Toe ons verbyry, vorm haar monde een woord: “Sorry”. Ek het nie gewaag ondertoe kyk nie – kan dus nie rapporteer hoe ver suid die skamele onderkleertjie toe nog was nie. Ook geen ander detail nie. jammer.
Op die passasiersitplek sien ek ‘n prostrate man, kop in die hande. Slaap hy? Bedek hy net sy kop in skaamte en verleentheid?
Vrae, vrae, vrae.
Weet nou nog nie hoe om die scenario vir myself te verklaar nie. My raaiskoot was die twee is vroeg by die Phabenihek in en ‘n groot piepie het toe die vrou agter die stuurwiel oorval.
‘n Ander raaiskoot was dat hulle dalk onwettig langs die pad oornag het. Sy kon dus besig gewees het met ‘n omvattende oggend-ablusie.
‘n Romantiese siel in my vriendekring wonder of dit nie passie was wat hom daar tussen die doringbome uitgewoed het nie. Die posisie van langbroek en G-string is in die opsig dalk rigtinggewend.
In elk geval: ‘n vreemde meisie se kaal boude in die floue oggendsonnetjie was ongetwyfeld hierdie 72-jarige veteraan van vele besoeke se vreemdste Wildtuin-ervaring tot op datum.
“Nou het ek alles gesien,” het ek vir Tokkie gefluister toe ek my asem terugkry. Sy het net gelag.
Naskrif: In Tukkiedae is ‘n groepie vriende ná die eksamen Wildtuin toe. Baie bier het gevloei. Ene moet toe ook dringend sy neus poeier. Hy bespied die omgewing en spring gou uit die motor … net om Koning Leeu rustig agter ‘n graspol te sien lê. Hierdie ou vriend (ook al saliger) is blitsvinnig by die motordeur in. Gulp wawyd oop. Het al gehoor van mense wie se melk weggeskrik is. Ek weet van een wie se piepie ook skoon daarmee heen was…
(hvd)
Jan 20, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Diere kyk terwyl jy slaap. Dit is die raak beskrywing van skoondogter, Mariza, van ons nuwe Sabiepark-plesiertjie met die bespiedkamera wat aan ‘n haak-en-steek by ons Sabieparkse watergatjie gemonteer is.
Ons Hollandse vriende Gert en Caroline Pols wat ons op die spoor hiervan gebring het – hulle s’n het nou in hul afwesigheid raaiselagtig van hul muur verdwyn – noem dit ‘n “trapcam”. Op die boksie van die ingevoerde LtL Acorn-5210a sien ek dat dit ook as “game camera” bekend is.
Hoe ook al, die stewige buks neem outomaties beweging af, en is veral snags ‘n aanwins. Jy sien ten minste wat op jou werf aangaan terwyl jy salig in droomland verkeer. Onder meer ‘n luiperd, hiënas en ‘n muskeljaatkat het al voor die Polse (van Gwarrieboslaan) en die Australiese trefferskrywer Tony Park (van Maroelalaan) se kameras verbygestap.
Die eerste twee aande kon hierdie tegnologies-ongeletterde nie kop of stert van die nuwe speelding se geheime ontsyfer nie. Die frustrasievlak het gevaarlik hoog in my gemoed opgestu. Maar met e-pos-raad van die kenners, die avontuurlike betrokkenheid van die agtjarige tweeling Jacob en Thomas en verskeie doelgerigte probeer-en-tref-slae van die uwe se kant kry ons die kamera se oog aan’t flonker.
Die eerste aand met die kamera in posisie neem ons net die swaaiende arms van die proefkonyne (dis nou Jacob en Thomas) af. Verder lewer die nag se oes ‘n paar mooi stillewes van die watergat.

Die nag van 3 Januarie, my 72ste, sluip ‘n haastige hiëna om 22.08 verby. Die volgende aand om 22:26 kom ‘n spannetjies sebras water drink. Dit ontdek ons teen 06:00 in Oupa en Ouma se kooi toe die tweeling ingestorm kom, hoogs mededingend oor wie se beurt dit is om die foto’s terug te speel.
Die sebras se besoek val plus-minus saam met steune en kreune uit die kinderkamer. Jacob kry nagmerries. Hy’s ‘n seun met humorsin – lekker gelag toe sy oupa hom inlig sy nagmerries was sebramerries.
‘n Dag of wat later kom ‘n (insomniese) hiëna daarlangs (om 02:45). Die kamera tel hom mooi op. Ook die sebras maak weer ‘n draai, hierdie keer net ná sonsondergang (om 19:00). Die kamera neem ‘n halfuur lank lustig foto’s – heel sebras, halwe sebras, voorkwarte en agterkwarte.
Dalk klink die eerste proeftyd se oes nie so indrukwekkend nie. National Geographic, of selfs die SABC se 50/50, sal nie juis oor hul voete val om HvD se geheuekaart te bekom nie. Maar glo my , daardie Acorn dra ná 15 jaar in Sabiepark – ‘n Duisend Dae Langs die Sabie, soos in my voorlaaste boek se titel – ‘n nuwe element by met die potensiaal om nog baie vreugde tot Sabiepark-kuiers toe te voeg.
‘n Stukkie waardevolle advies: Moet net nie vergeet om die kamera aan te skakel voordat jy jou te ruste wend nie ….
(hvd)
Jan 18, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
In die opbou tot die groot waters wat nou weer deur nuwe vloede deur die Wildtuin se hoofare – soos die Sabie – gepomp word, het die kwik hemelhoog geklim.
Op 10 Januarie het Sabiepark-eienaar Belinda Gillies op Facebook laat weet om 08:00 was dit op haar termometer reeds 31 grade. Twaalf uur later, teen 20:00, was dit steeds 35 grade, aldus my nuwe skuilkamera teen die haak-en-steek by ons watergat.
Tot waar die kwik tussen 12:00 en 14:00 opgeskiet het, is ‘n saak vir diskoers. Dat dit 40-plus was, is redelik seker. Aanvoelbare temperatuur was volgens allerlei KNP-bronne iets soos 46 grade.
Nietemin: dit was bloedig warm. Dalk die warmste dag in Sabiepark in eie heugenis vir hierdie bejaarde ou lyf. Die withelmlaksmanne het met hygende oop bekkies op stoepe lafenis teen die versengende son kom soek. Troupante het op takke langs die pad sit en snak.
Ons is die oggend met die Claassens-tweeling, Jacob en Thomas, Onder-Sabie toe. Vir ons moeite sien ons toe meer olifante in een oggend as ooit te vore – die noorde van die Wildtuin kan gaan slaap. Op die “dag van die olifante” leer ons toe ook ‘n natuurles: hoe uiters hittesensitief die arme olifante met hul dik, skurwe velle is.
Oral in die benede-Sabie was blinknat olifante in troppe of een-een in die water, wadende, spuitende en plassende. By die Sunsetdam was vier. Op die Salitjepad was by haas elke watergat of suiping ‘n modderbad op volle dreef.
Iets nuut vir hierdie olifant-bewonderaar was die saambondeling van klein gesinsgroepies onder sambreel-doringbome. Hulle staan soos ‘n swart muur in die skaduwee, die ore driftig flappende om hulleself en hul kleintjies af te koel.
Een kleintjie op die Tshokwanepad was plat teen die grond in die selfgeskepte skaduwee tussen haar mamma se pote. Ons dag die klein diertjie het aan hitte-uitputting beswyk. Toe bemerk Tokkie ‘n sprankie lewe. Ons sien ook hoe ‘n boetie of sussie, self skaars ‘n klompie bakstene hoog, met die slurp om die neergevelde olifantjie vroetel – duidelik in grote deernis, ter opbeuring.
‘n Anderster soort “hygroman” speel hom voor ons af.
Om by Engels ‘n begrip te leen, dring dit op hierdie oggend, 10 Januarie, opnuut tot my deur waaraan die word “pagiderms” ontleen word: die uiterste dik velle van drie tot vier cm sonder sweetgaatjies maar met ontsettend baie senuwee-eindpunte.
Dis ‘n bloudruk vir hitte-belewenis op ‘n manier wat ons in ons lugversorgde motors nie kan snap nie. Dit is ook die rede waarom olifante baie lief vir water is – om te drink en te speel. Bulle kan tot 200 liter per dag drink.
Olifante verloor in baie warm weer tot vyf liter per uur – voggies wat broodnodig is om die dik vel elasties te hou. Hoe meer water ‘n olifant verloor, des te meer moet hy of sy natuurlik inneem.
Diep teue drinkwater wat direk maag toe gaan, word dan aangevul deur stortwater met die slurp op te suig en behaaglik oor die lyf te spuit. So speel hulle onderling, hou hulle aangename en welwillende sosiale verkeer in stand en bly hulle in uitmergelende temperature aan’t lewe.
Die “dag van die olifante” was inderdaad ‘n dag in die natuur se klaskamer!

Naskrif: Renosters is natuurlik ook “pagiderms” . Tussen Skukuza en Onder-Sabie het ons drie op die teerpad gekry wat duidelik – weens die watermerke en modder op hul lywe – in die Sabierivier gaan baljaar het. Gelukkig was geen stroper in sig nie!
.
Jan 16, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Hartenbos in die Kersvakansie het my mond laat oophang: die woonwadorpe soos legkaarte; die gesellige kuiery in die strate van die tradisionele “Kardoodorp”; die geur van tjops en wors op die rooster; duisendes van alle ouderdomme wat in hul bonte stranddrag in die strate dwaal en op kraampies toesak; die see van lywe in die branders…
’n Boere-enklave, noem party hietrdie vakansiedorp aan die Tuinroete by Mosselbaai ietwat uit die hoogte. ‘n Heerlike, informele vakansiedorp waarin ontspanning hoogty vier in die somerseisoen – so lyk die lewendige dorp wat rondom die kern van ‘n rustige ATKV-oord opgeskiet het, eerder vir hierdie vlugtige besoeker.
In elk geval, Hartenbos besit klaarblyklik ‘n onoortreflike trekkrag wat Desember op Desember skouspelagtig ge-aktiveer word. Soos ‘n reuse-magneet trek hy uit elke hoek van die land die getroue Hartenbossers na die Suid-Kaap Sommer baie kom uit Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, ens. Hulle kom slaan tent op, haal die hortjies van vakansiehuise af, of keer terug na rondawels en woonstelle waarvoor hulle al jare die deposito uithaal nog voordat hulle huiswaarts keer vir hul gewone roetinebestaan die res van die jaar.
Hartenbossers, ek verstaan nogal julle passie vir julle plek, veral ná salige ure op die stoep van ‘n mooi vakansiehuis hoog teen Loerielaan met skilderagtige uitsigte op die riviermond. Die sonsonderganger en voëllewe is hemels. Dankie, Cules en Dalene Malan van Faerie Glen in Pretoria vir die Van Deventer-ontdekking.
Juis van Cules en Dalene se stoep doen ek en Tokkie een oggend ‘n spesiale Hartenbos-ontdekking. Wonder hoeveel van die geswore Hartenbos-tradisionaliste ken daardie geheim!
Die geheim van die flaminke.
Ek en Tokkie gewaar hulle skuins onderkant ons teenaan die eilandjie terwyl die ander huisgenote nog slaap. Die flaminke vlieg sierlik weg voordat enigiemand anders verrys. Ons deel Cules-hulle mee hoe prentjiemooi die vlug van die flaminke vir ons was … en bemerk dadelik ‘n vreemderige reaksie. Opgewondenheid? Bepaald. Ook teleurstelling en ‘n tikkie jaloesie. Maar voeg skeptisisme by.
Flaminke? Is julle sekert dit was flaminke?
Flaminke inderdaad. ‘n Mooi swerm.
Foto’s?
Nee, my kamera was in die slaapkamer.
O.
Gelukkig keer “ons”: flaminke die aand terug, en die volgende dag en die dag daarna. Cules-hulle sien die flaminke die eerste keer in die tien jaar dat hulle hier op Hartenos kom uitspan. Die bure kiek ewe geesdriftig van hul braaistoep af – vir hulle is dit ‘n eerste waarneming in 15 jaar.
Met hierdie kennis tot my beskikking begin ek toe ook links en regs foto’s neem. ‘n Mens moet darem bewapen wees as ‘n Hartenbosser perdalks die “dom inkommer” se waarnemings wil bevraagteken.
Maar waar daardie besoekers vandaan kom? Moet dit nie vir my vra nie. (hvd)