VERKEERDE KANT

sneeu

Naand uit Melkbos

Die arendsoog van oud-kollega Johan de Wet het nie misgekyk dat op ‘n sneeufoto in 1976 op my Toyota Corona Merk II-stasiewa ‘n agterstevoor Amerikaanse nommerplaat pryk nie. Die foto (hierby) het rondom Kersfees hier verskyn.

Dit herinnerJohan dadelik van ‘n besoek aan Bloemfontein deur Moya Meaker, Mej Suid-Afrika van 1960. Sy het – soos die meeste skoonhede wat aan skoonheidskompetisies deelneem – te vertel gehad dat sy lief is vir die buitelewe, lief is vir diere en vir kinders. Sy het bygevoeg dat sy ‘n “regte plaasmeisie” is.

Op versoek van Die Byvoegsel (voorloper van die huidige By) is Johan deur Die Volksblad se nuusredakteur, Gert Terblanche, gestuur om ‘n onderhoud met haar te gaan voer. Johan was toe ‘n jong verslaggewer by Die Volksblad. Hy het my later as redakteur opgevolg en was ook redakteur van Beeld en Rapport – tot op datum ‘n unieke onderskeiding.

Die fotograaf het ‘n foto van die skone Moya by die Bloemfonteinse Skou gaan neem waar sy voorgee sy melk ‘n koei. Tobie Boshoff, wat toe redakteur van Die Byvoegsel was, het die foto op die voorblad geplaas, plus ‘n artikel oor hoe oulik sy is.

Maar toe volg die lesersbriewe: Dis sommer twak dat sy ‘n plaasmeisie is, want sy sit dan aan die verkeerde kant van die koei terwyl sy melk!

Tobie het die foto omgedraai sodat dit na die binnekant van die blad kyk, gevolglik het sy toe aan die “verkeerde kant” van die koei beland!

Johan het die vermoede uitgespreek die (jong) Tobie Boshoff en (vermoedelik ‘n ouer HvD) dus dieselfde joernalistieke sonde gepleeg het deur die foto om hul eie redes om te draai.

Hy het afgesluit: “Hoe dit sy, albei foto’s was die moeite werd…”

Dankie daarvoor, Johan. Die waarheid is egter dat dit nie HvD is wat die Toyota-in-die-sneeu-foto omgedraai het nie. Dit was oorspronklik ‘n skyfie. Die fotoplek wat ‘n afdruk moes maak, het dit omgedraai – waarskynlik omdat die stuurwiel aan die verkeerde kant nie vir hom sin gemaak het nie. (hvd)

AFSPRAAK VIR 9/1/2015

Desktop1

Middag uit Melkbos

In my denkbeeldige dagboek vir 2015 is 9 Januarie 2015 klaar uitgeblok.

Het gister ‘n uitnodiging na ‘n belangrike okkasie gekry. My Bloemfonteinse buurman van die dekade 80, Toy Vermeulen, word dan 91.

Die uitnodiging kom van sy jongste dogter, Elmien.

Haar vader – kan hom nie juis ‘n gryse vader noem nie want hy is veel minder wit as die uwe – het Vrydagaand sy 90ste op Melkbos gevier. Die Van Deventers was tot hul yslike spyt afwesig. Ons was in die Suid-Kaap. Elmien het op my versoek foto’s gestuur.

Ons gesels toe op Facebook soos volg:

Hennie Van Deventer: Vreugdevolle okkasie. Jammer ons het dit moes misloop weens ons Suid-Kaapse uitstappie.

Elmien Vermeulen: Ons glo daar sal volgende jaar weer een wees. Hennie en Tokkie Van Deventer is reeds genooi!

Hennie Van Deventer: Dankie,. Ons open solank ‘n dagboek vir 2015.

Sal sorg dat ek dan nie weer weg is nie.

Die ankerfoto in die samestelling hierby is van Toy en sy goeie vriend Kiepie Herholdt wat spesiaal van Bloemfontein gekom het. Die twee ou vriende was glo behoorlik aangedaan om mekaar na jare weer te sien.

OP die foto waar Toy aan die woord is – hy het die tafelgebed gedoen en die gaste verwelkom – sit sy vrou, Joha. Op die derde foto is hy en Elmien.

Naskrif: Ek gee maar vroegtydig kennis. Moet my nie vir 9 Januarie 2015 nooi nie – het reeds ‘n afspraak. (hvd)

DAAR’S WATER!

Suid-Kaap5

More uit Melkbos

Waters waar rus is en vir die oog ‘n lus is – dit beteken die uitgestrekte Suid-Kaapse kuslyn, spieëlgladde mere, riviere, damme en plasse vir baie mense. Waters wat net bly neerstort uit ‘n loodgrys hemel. Dit het ons vanjaar daar beleef. Vyf dae en nagte lank gereën, vyf dae en nagte agtereen …

Ons wou een middag Botelierskop toe, maar bruisende vloedwater het die paaie verspoel en laagwaterbrûe onbegaanbaar gemaak. Die plek was afgesny, soos so vele ander. Toe ry ons maar rond by Groot Brak, Klein Brak, Tergniet, Reebock, Fraai Uitsig en sulke plekke; en verwonder ons aan die geswolle riviere asook die nuwe damme in elke denkbare leegte, terwyl die motor se ruitveërs op volspoed oortyd bly werk.

Ons wou een aand by die Nasionale Wildernisplek ‘n vleisie op die kole sit, maar toe die rokie opwaarts begin krul, donder, blits en giet dit skielik soos in ‘n mini-wolkbreukie in Sabiepark. Koddige Kaapse weer vir die uwe wat darem al in 1992 oor die Hexrivierberge getrek en aan baie klimaatskommelinge gewoond geraak het.

Tot en met die GROOT REENS van Januarie 2014 was die wêreld van Mosselbaai tot George glo maar droog en het die vakansiegangers van die beste strandweer in baie jare gehad. Soos ons self op my verjaardag (nommer 73) op ons geliefde Buffelsbaai beleef het. Maar siestog, Hartenbos se plate kampeerders was teen die derde grys dag al soos natgereënde hoenders en die strande dolleeg.

Was maar dankbaar ons was nie die avontuurlike bosslapers in ‘n mankoliekige blou tentjie op die wal van die Hartenbosrivier oorkant my broer Cules (Malan) se huis nie! Die arme mense het oornag verdwyn – waarheen wonder ek. Want ‘n droë kolletjie sou jy nêrens in daardie wêreld kry nie.

Iets wat ek nog nooit gedoen het nie, was om die Sewepassepad te ry – die eerste pad van 75 km wat tussen 1862 en 1883 deur Thomas Bain tussen George en Knysna gebou is. Die tog is vir vanjaar geskeduleer. Toe ons nog droogvoets daar deur is – via die Kaaimanspas, die Silwerrivierpas, die Touwsrivierpas, die Hoogkraalpas, die Karatarapas, die Homtinipas en die Phantompas – was die bome en die varings langs die gewilde bergfietsroete vaal van die stof en die riviere net onskuldige stroompies. Sou dit graag ‘n dag of drie later wou sien!

Reën of te nie, kuier HET ons gekuier. So deeglik dat die badkamerskaal die gees bedroef.
Dankie, Johan en Mariza (kinders), Cules en Dalene (broer en skoonsuster), Pierre en Esther (studentemaats), Theuns en Marian (Randburg-vriende), Paul en Cora (Volksbladvriende), Piérre en Erika (Bloemfontein-vriende), en Dawie en en Annatjie (Sabieparkvriende).

Soos ons onthaal is met T-been op die kole, ‘n verskeidenheid van verbeeldingryke Van Rensburg-worse, tuisgemaakte pizza, smaaklike visgeregte, lekker ontbyte (o die roereier en tuisgebakte croissants op 3 Januarie!), Kersfeeskoek, hamburgers, vleispasteitjies en ander happies – natuurlik ook wyn sonder bodem (onder meer) – was iets uit ‘n ander wêreld.

‘n Wêreld van wonderskone see-, meer- en bergtonele, raaswaters, eindelose branders, riviere, reën, reën reën, ryke herinneringe en vreemde registrasienommers, asook die ewe enorme bate van ‘n gulle permanente en vakansiegemeenskap bestaande uit gasvrye, ruimhartige, wellewende mense met oop deure en oop harte. (hvd)

FOTO BO: Sewe passe, hier kom die Van D’s. ONDER: TvD by die Touwrivierbrug op die ou pad.

‘N STYWE DOP, “KOMPATERTJIE”!

toy en joha

‘n Ruk gelede was die Vermeulens en die Van Deventers saam in die VanD-motor. ‘n Versamelde lewenservaring van oor die 310 jaar. Amper ‘n jaar per kilogram! Die grootste bydrae (in jare) is gelewer deur oud-politikus Toy Vermeulen, spesiale vriend en buurman saam met wie ek oor vele jare vele sakke sout verslind (en ook ‘n hele paar bottels van die beste KWV geledig het).

Toy was op Vrydag 9 Januarie 90. Daardie mylpaal is min beskore. Dit moet in hierdie ruimte vermeld word, nie net omdat Toy in Bloemfontein so ‘n uitnemende buurman was wat in droogtes selfs sy boorgat “uitgeleen” het (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan) en boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie nie.

Hy is op vele terreine ‘n man van stoffasie. In die dekades 70′s en 80′s was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar, later as benoemde LV en senator. Hy KON kollekteer. Ek wonder hoeveel derduisende rande Bloemfontein se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

In hoeveel rade en komitees hy in sy 90 jaar gedien het – kerk, skole, kultuur, plaaslike bestuur en wat nog – kan ek nie raai nie. Waar sy foto’s oral hang, sal hy dalk self nie weet nie. Een onverwagse plek vir my was die klubhuis van die Koeberg-rolbalklub op Melkbos. Daarvan was ‘n jonger, fikser en ratser Toy op sy dag president.

Sy versameldrif – die woordeboek praat ook van versamelwoede – ken geen weerga nie. Elkeen wat al ‘n voet in Toy se studeerkamer gesit – in Bloemfontein, Blouberg en selfs nou nog in sy herfsjare in die gholflandgoed AtlanticBeach op Melkbos – kan dadelik sien: Soos bye heuning vergaar, vergaar die man dinge van waarde.

Sy studeerkamer is ‘n kulturele skatkamer. Hierdie bibliofiel se boekrakke kreun onder sy monumentale ABO-versameling en ander Africana. Sy unieke seëlversameling was op sy dag legendaries. Sy kwaliteitswyne het getuig van liefde en kennis. Al hierdie waardevolle eiendom is geberg in kaste van glimmende dolfhout. Ook mooi hout is vir Toy onweerstaanbaar. Op sy lys van liefhebberye sou ‘n mens munte en vetplante kon voeg. Dan is dit nog ver van volledig.

Ek het oorweeg om Toy ‘n “koorsagtige” versamelaar te noem. Dit sou nie deug nie. “Koorsagtig” beskryf nie die stiptelikheid waarmee hy sy goeters orden nie. Hy weet waar om elke ding raak te vat.

Die heer J.A.J. Vermeulen (Toy se formele gedaante) versamel egter nie net objekte nie. Hy teken sy eie gedagtes in sy netjiese handskrif op. Hy versamel koerantknipsels . Hy versamel vriende soos Jacques Kallis lopies geakkumuleer het. In Bloemfontein is gespot die ruimhartige Toy ry altyd met ‘n kis goeie rooi in sy kattebak. Waar hy ‘n vriend teëkom, delf hy gou ‘n geskenkie uit. Dat gee vir hom ‘n lekkerte is, is nou nog duidelik. Jy stap nie uit sy huis sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie.

Kenmerkend van Toy is dat hy nie hier vat en daar los nie. As hy sy lojaliteit gegee het, is dit vir altyd. Soos aan volkspele. Dekades nadat hy en die sprankelende Joha in Europa gaan tiekiedraai het, het hy van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly. Al kan hy nie meer tiekiedraai nie (Joha sou wel kon!), klop sy hart steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet”.

Hierdie “kompatertjie” buig graag hier vir dié 90-jarige kameraad sy ”stywe dop” – met ‘n “stywe dop” Boplaas op die koop toe!

(FOTO: Toy en Joha in September 2013 by die Kangogrotte kort nadat hy uit die hospitaal ontslaan is na ‘n operasie.)

MELK (BOS) EN HEUNING

melkbos1-001

More uit Melkbos

Dis die lang somervakansie en onse dorpie bars uit sy nate. Op die strand, by winkels en in die kerk is dit nuwe strandsambrele, vreemde registrasienommers en onbekende gesigte. Toe ds. Marius Falck by die Kersdiens besoekers vra om hande op te steek, skrik ek effens. Sal nie verbaas wees nie as die “vreemdelinge aan ons poorte” in die meerderheid was.

Hoop die besoekers geniet die lang strandwandelinge, die goue skemers, die skilderkwas-sonsondergange, Tafelberg doer voor in sy vele stemminge, en die lekker seekos by Orca in Kusweg – as hulle plek kan kry by die onopgesmukte eetplek wat vir baie Kapenaars sinoniem met Melkbos is. Die porsies is gul soos Melkbossers se gasvryheid.

Hoop hulle ontdek ook die lekker geplaveide wandelpaadjie langs die see doer van Land’s End af verby die ou Kliphuis-restaurant (nou Castella Amare) en die NSRI. Ook lekker rotspoeletjies daar waar kinders vir ure kan speel en klouter.

Hoop hulle ry die kuspad Blouberg toe en verken die bekoorlike baaitjies een vir een: Holbaai, Kreefbaai, Eerstesteen …. Plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol.

Hoop hulle ry ook ‘n bietjie noordwaarts, loer by Ganzekraal in (in vakansietye ongelukkig ietwat oorbevolk) en die karaktervolle vakansiedorp Yzerfontein. Langebaan is sowat 100 km ver – ‘n moeitewerd-mekka met sy reuse-strandmeer. Voor Langebaan lê die Weskuspark met sy gesellige braaiplekke, amper onherbergsame kustonele en groot troppe bokke. As die elande in die fynbos verbykom, is dit ‘n treffende gesig, hoor.

Hopelik sal Melkbos-besoekers ontdek hoe op hul drumpel die eersteklas-wyne en wonderlike kelders van Durbanville-wynroete wag om ontdek te word. Meerendal op die Vissershokpad is ‘n persoonlike gunsteling. Nitida se restaurant lok smulpape. Die moderne Durbanville Hills se uitsigte is voortreflik.

Vir uitsigte: Probeer gerus ook Grootbaai se Spur en Cape Fish Market. Lyk of Tafelberg oor die baai al hoe nader skuif terwyl jy jou geelbek of T-been geniet. Haal sommer die MyCitibus daarheen – jy kry die panoramas van berg en see op die koop toe. By die Moyarestaurant op die voorstrand by Eden On The Bay kan jy voete in die water ‘n melkskommel wegsit. Aan die fraaie Kleinbaai, ‘n klein entjie aan, kry jy die immer gewilde Ons Huisie. Peusel sy beroemde calamari terwyl jy onder ‘n strandsambreel ‘n koue sauvignon blanc van hierdie kontrei op die tong neem …

Vir ‘n smaaklike, outydse ontbyt is Philadelphia se Pepper Tree ‘n prima-keuse. Die dorpie, net 17 km van Melkbos op die pad na Malmesbury (N7), raak ‘n regte toeristetrekpleister met sy knusse winkeltjies en allerlei. Die historiese ou kerk is ‘n besienswaardigheid (soos Mamre se orrel, vir diegene wat in sulke dinge behae het).

Nog nader is die Padstal by die Total-dienssstasie op die Weskuspad (R27). Vele verrassings op jou voorstoep – onder meer die varsste plaasbrood warm uit die oond.

Ek (wat natuurlik bevooroordeeld is) glo jy kan op Melkbos en omgewing so lekker kuier dat die Kaap self maar aan sy eie hordes oorgelaat kan word. Maar as jy opsluit wil soontoe, luister na hierdie ou en trakteer jouself op ‘n kanaalvaart van KIKS (die Kaapse Konferensiesentrum) af na Sol se One & Only-hotel aan die Waterfront (teenaan die Akwarium). Dis ‘n onontdekte heerlikheid tussen duur waterfront-woonstelle verby. Hou dop vir die super-seiljagte as jy by jou bestemming kom.

By die Waterfront is die nuwe in-plek die Grand Café met sy tafels, stoele en selfs sagte rusbanke op die wit seesand. As jy nie LANK vooruit bespreek het nie, kan jy maar net gaan loer hoe die mense met die dik beursies kuier …. En dan dankbaar terugkeer na Melkbos se rustigheid.

Vir die herlaai van geestelike batterye staan die NGK Melkbos se deure oop. In vakansietye is Sondag net een erediens, om 09:30. Die Oujaarsaand-diens is om 19:00. As jy ons dr. Marius een keer hoor sing het, vergeet jy nie sy stem nie.

Te veel vir een vakansie? Nou-ja. Kom dan maar weer! (hvd)

ONS “KERSBOOMPIE”

2013-12-25

More uit Melkbos

Onthou jy ‘n Kersgeskenk wat vandag presies tien jaar oud is? Min mense sal onthou, wil ek waag. Waarskynlik nog minder kan dadelik na so ‘n geskenk stap. Nog minder kan sweerlik daarop aanspraak dat hy of sy steeds die geskenk elke dag sien.

Dalk die heel minste sal, soos ek en Tokkie, kan sê: Ons geskenk het in die tien jaar net groter en groter geword. Dit is op Kersdag 2013 tienvoudig – nee meer as tienvoudig – keer groter as op Kersdag 2003.

Die foto’s hierbo gee natuurlik die geheim weg. Ek praat van ‘n boom: ‘n “Melkhout” (“umqwashu” in Xhosa). Johan, ons seun, en Mariza, nou van George, het die piepklein melkhoutjie, ‘n opslagboompie in hul tuin, tien jaar gelede voor ons eetkamervenster kom plant. Hulle was toe nog Melkbossers; hul huis was in Seagullstraat. In die hoek van hul erf was ons boompie se moederboom – ‘n indrukwekkende gooier van ‘n enorme skaduwee.
Dit was waarskynlik ‘n “onwettige” geskenk. Die melkhout is ‘n beskermde boom. Jy mag dit nie sommer skuif of selfs daaraan snoei nie!

‘n Kenmerk van die geharde, immergroen melkhout is natuurlik die krom stamme en heerlike lae blaredak wat dit vorm. In die suidelike Overberg is talle braaiplekke onder melkhoute gebou. Dit kan maar reën, jy braai rustig voort onder jou melkhout-sambreel. Dit het ek self by vriende soos Wiets Beukes en Alf Ries op Franskraal ervaar. Voor moderne koelkaste hul verskyning gemaak het, was Overbergers glo lief om hul vleis in die skadu van hul melkhoute te hou.

Seker die bekendste melkhout is seker Mosselbaai se poskantoorboom, waaraan Portugese matrose ‘n brief met die nuus van die verdrinking van Bartholomeus Diaz in 1500 in ‘n ou skoen vasgemaak het. Op die plaas Rhenosterfontein, naby Bredasdorp, is ‘n melkhout nasionale-monument-status gegee oor sy grootte en ouderdom. Die stam is dikker as drie meter en die kroon sprei oor meer as 20 meter. Die reuse-boom is glo ouer as 1 000 jaar.

Ons eie boom kan nie saamgesels oor geskiedenis, ouderdom of grootte nie, maar is vir ons baie spesiaal. Dit is nie net op die boeke ‘n beskermde boom nie, maar ook in ons harte!

(Links plant Johan die boompie op Kersdag 2003. By hom is sy staffie Intwa, ook nie meer met ons nie. Regs staan Tokkie by die boom op Kersdag 2013.) (hvd)