Mar 4, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Waar het jy al ooit gehoor van ‘n teater met twee identiese ingange soos hierdie?
Middag uit Melkbos
Die verdwaalpotensiaal is legio op ‘n skip so lank as 41 dubbeldekker-busse snoet aan snoet en met 16 kilometer (10 myl) onder mat, van Melkbos verby Blouberg op pad Kaap toe.
Die afstande het soms by my die gevoel laat ontstaan dat ek elke liewe een van daardie 16 km met my ietwat knap “Grashoppers” of verslete “Green Cross”-sandale in ‘n dag bewandel het. Maar dit net terloops. My storie handel oor iets anders – noem dit die Van D’s se Groot Verdwaal. Minstens hul Groot Geografiese Misverstand.
Die drama speel hom af op dag sewe toe ons die ou skippie se vele hoekies en draaitjies darem al redelik onder die knie behoort te gehad het. Ons sou in die planetaraium – die enigste ter see – in die imposante “Illuminations”-teater (sitplek vir 483) na die ruimteskouspel “Cosmic Collisions” op die reuse-koepelskerm in die dak gaan kyk.

Nogal komplikasies as daar twee identiese gangetjies soos hierdie is!
Tokkie gaan luister eers na ‘n aanbieding oor die komponis Gershwin, en ek na raad vir voete wat jou opkeil. Ons spreek af om mekaar in die gangetjie voor “Illuminations” te ontmoet. Maar ek sit en ek sit. Later, toe dit te laat vir die vertoning is, stap ek kajuit toe. Geen teken van mev. Van D. nie. Ek gaan vra vir die “Purser”: “Enige vars mediese opnames?” Sy bel kajuit 6005 en ek hoor die bekende Tokkiestem aan die ander kant.
Ek stoom terug, pluk die deur oop en begin raas. “Waar was jy?” “Waar was jy?” dring sy ewe onbehaag aan. Dis die een woord op die ander. Sy besluit om te gaan wys. “Kyk, op hierdie stoel het ek gesit.”
Ek: “Onmoontlik. Hier was ek ‘n hele halfuur en daar was geen teken van jou nie.”
Sulke oversoenbaarhede is klaarblyklik geen resep vir boetvaardigheid en vrede nie. Steeds bewend oor die wederkerige onbetroubaarheid keer ons in ons kajuit terug. Die gesprek woed voort. Uiteindelik besluit ons huweliksharmonie is belangrik. Laat ons nie verder die onverklaarbaarheid probeer verklaar nie. Party dinge gaan immers die menslike verstand te bowe. Dit weet ons tog almal. Kom ons lag liewer, waag ek floutjies.
Ons besluit om as vredesgebaar by die middagvertoning te probeer inkom. “Waar sal ons mekaar kry?” Logiese antwoord: “In die gangetjie. Daar waar ons nou was.”
Niemand sal die verdere verloop glo nie. Dis egter evangelie. Glo dit gerus maar ongekwalifiseerd. Ek sit weer in die gangtjie en rondkyk. Geen teken van Tokkie. Sy sit in die gangetjie en rondkyk. Geen teken van Hennie.
“Cosmic Collisions” begin weer draai met die Van D’s se sitplekke leeg. Albei keer onverrigter sake terug na die kajuit. Die herontmoeting is nie jubelend nie. Trouens, die situasie raak lelik. Die desibels styg tot gevaarlike vlakke.
Al opsie is om weer terug te keer na die toneel van die misverstand om mekaar van elk se onskuld te probeer oortuig. Maar dit sukkel maar Die een prober die ander doodpraat.
Uit ‘n half-oop deur kom skielik ‘n vrolike stem: “Lekker om Afrikaans op die skip te hoor!”
Se voet, antwoord ek. “Druk jou ore toe. Hierdie gesprek is privaat.”
Die vrolike stem behoort aan ‘n Joubert van Pretoria, blyk dit. Hy is ‘n lid van die bemanning. En hy, die liewe jong Bloubul met die kuiltjie in die wang, ontrafel daar en dan ons probleem.
“Elementary, Mr. Watson.” Die teater staan oor die breedte van die skip. Links, aan die stuurboord, is ‘n gang. Regs, aan die bakboord, is ‘n identiese een. Ingang van die teater lyk uit albei gange eenders. Selle beelde. Selle stoele. Selle als. Hang net af van watter kant jy af kom.
‘n Onmiddellike ondersoek ter plaatse bevestig die jonge heer se mededeling.
Dis inderdaad hierdie spieëlbeeld wat ons verwar het. Soos die duiwel dit wou hê, het die Van D’s nie net een keer nie, maar twee, verskillende roetes na die teater gevolg en gevolglik by verskillende bestemmings opgedaag – elkeen salig onder die indruk dis die regte plek.
“Cosmic Collisions” het ons toe nooit gesien nie. Het sommer ons eie, persoonlike “cosmic collision” beleef … en genadiglik oorleef. Die huwelik van 46 jaar gaan voort.
Mar 3, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Kaptein Kevin Oprey agter die “preekstoel” in sy skip se grootste teater, die “Royal Court” by die Sondagdiens.
More uit Melkbos
’n Geliefkoosde beeld van ‘n koerantredakteur in die ou tradisie was dat hy kaptein van die skip is. Sy vinger was op die pols. Hy het die besluite geneem, die praatwerk gedoen en na binne en buite die verantwoordelikheid gevat.
Kaptein Kevin Oprey van die Queen Mary 2 is so ‘n kaptein. Iemand wat dadelik vertroue inboesem. Geen gevaar dat die skimmelgrys Engelsman soos ‘n berugte Italiaanse eweknie in ‘n krisis ter see (“per ongeluk”) halsoorkop tot in ‘n reddingsboot sou “struikel” nie!.
Die vaart het pas begin toe ‘n tegniese probleempie opduik. Die reuseskip was skielik pikdonker. Hysbakke het tot stilstand geknars. TV-skerms was swart. ‘n Situasie wat senuagtige passasiers nogal kon onstel. Hierdie kaptein het ons nie lank laat wonder nie. Oombliklik het die rustige stem van die brug af oor die dertien dekke gespoel: “Net ‘n klein probleempie. Bly kalm. Ons ingenieurs vat dit gou vas.” Hulle het. Sommer gou-gou.
Daardie rustige stem het jy elke dag gehoor. Minstens een keer. Presies om 12:00 het die kaptein van dek 12 af van die gesofistikeerde brug (amper 50 meter breed) kortliks verslag gedoen. Wat is die presiese posisie van die skip? Hoe vinnig vaar ons? Hoe lyk die weer? As jy hoor “dis die kaptein wat praat”, het jy alles net so gelos en respekvol geluister. Selfs die energieke tafeltennisspelers by die Pavillionswembad op dek sewe! Dis die gesag wat die man uitstraal.

Kaptein Kevin Oprey
Net ná Mauritius is besluit om vinniger aan te stoot Fremantle toe vir “noodsaaklike instandhoudingswerk”. Ons sou ‘n dag vroeër by Perh aankom, waarskynlik om die kinkel in die kragnetwerk te laat uitstryk. So het ons geraai. Kaptein Oprey het die verwikkeling en die implikasies oor die uitstekende klankstelsel breedvoerig verduidelik – helder en volledig. Die aand was ‘n brief oor die onderwerp op elke kopkussing. Die trant was gesellig en positief. Passasiers kon dadelik na die ekstra dag aan land as ‘n bonus begin uitsien. Bykomende ekskursies sal dadelik gereël word, is belowe.
’n Model van voortreflike kommunikasie.
Kaptein Oprey is verreweg nie net ‘n prater nie. Hy bring ure deur op die reusebrug, die skip se elektroniese hart, wat 24 per dag deur minstens twee waaksame offisiere beman word. Maar hy word ook op die regte tye op die regte plekke gesien. By elke noodoefening vir die bemanning is die kaptein die hoogs sigbare gesagsfiguur; dan op dié dek, dan daardie een. Sy passasiers se veiligheid en die voorbereidheid van sy bemanning weeg duidelik by hom swaar. Die oefeninge is nie vir hom sommer net ‘n formaliteit of selfs ‘n beslommernis nie.
Wat Christen-passasiers geweldig waardeer het, is kaptein Oprey (of sy adjunk) se leiding by die interdenominasionale kerkdiens elke Sondag in die “Royal Court”-teater. In sy melkwit uniform was die gesagvoerder ‘n imposante figuur op die podium. Die diens was kort, kragtig en inspirerend. Aan die einde is die tradisionele seemanslied, lied 25, gesing, met begeleiding deur een van die skip se drie pianiste om die beurt:
”Eternal Father, strong to save/Whose arm has bound the restless wave/Who bidd’t the mighty ocean deep/Its own appointed limits keep/O hear us when we cry to thee/For those in peril on the sea…”
”For those in peril on the sea.” Jy het daardie woorde uit volle bors saamgesing. Jou hart was aangeraak.
’n Finale indruk is dat kaptein Oprey ‘n gemoedelike mens is, maar ook kan ferm wees. Hy is duidelik nie ‘n man wat doekies omdraai nie. Toe die Suid-Afrikaanse doeanespan in Durban laat opdaag en die passasiers verontrief, is die roede nie gespaar nie.
Waarvan hy niks hou nie, is dat mense hul vaart op die Queen Mary beskou as ‘n “cruise”. Nee, sê kaptein Oprey, die QM2 is geen “cruise ship” nie, dis ‘n “ocean liner”, gebou vir die diepsee. ‘n Vaart op sy skip is g’n “cruise” nie, dis ‘n “voyage”. Onthou, asseblief!
’n Besonderse man. Maar ek oordryf darem. Geen mens – selfs geen redakteur of skeepskaptein – kan immers vir absoluut alles verantwoordlikheid vat nie.
Een middag loop ons kaptein Oprey by die hysbak op dek ses raak. Hy groet vriendelik en vra uit: “Geniet julle die vaart?” Ja baie, antwoord ek. Maar kan hy nie darem iets aan die weer doen nie? Dit is nou al ‘n paar dae grys en grou.
’n Skewe glimlag verskyn op sy gesig. “No, I drive the ship, the guests provide the weather!”
* Kaptein Oprey is in die omgewing van Southampton gebore en is van kleins af deur skeepvaart gefassineer. Sy loopbaan tot heelbo lees soos ‘n storieboek: van jong navigasiekadet tot aanvoerder van Cunard se kampioenskip, Hy en sy vrou, Cheryl, woon in Warsash aan die suidkus van Engeland. Hulle het twee (mooi) dogters, Karen en Danielle. Hy speel ‘n potjie gholf. As hy ‘n kansie kry, vat hy graag sy eie seilboot uit op die water. As dit in jou bloed is, is dit in jou bloed. (hvd)
Mar 1, 2014 | Hennie van Deventer se Blog



HEELBO: Tokkie word bedien met ‘n skont’tjie en room. BO: Majesteitlike ligte in ‘n majesteitlike “Queens Room”
Middag uit Melkbos
GEE die Britte die eer. Net hulle ken die kuns om ‘n middagtee om te tower tot ‘n plegtigheid soos die “changing of the guards” en die mense van oral oor die wêreld daarvoor te laat toustaan asof hulle wag op ‘n koninklike oudiënsie in Buckinghampaleis self.
Nou moet ek versigtig trap met uitsprake wat as kritiek bejeën kan word. Dalk het ‘n leser van hierdie blog die gryse skrywer voor in die tou opgemerk by sommer al die eerste “afternoon tea” na die Queen Mary se vertrek uit Kaapstad op pad na Durban, Mauritius, Fremantle/Perth, Melbourne en Sydney.
Ek wil nie as skynheilig bestempel word nie. Laat my dus maar erken:
Toe die ry kelners met hul wit tuxedo-baadjies en wit handskoene uit die kombuis te voorskyn kom met die swaar silwer teepotte in die hand, was Van Deventer met die Canon op sy voete. Toe die eerste straaltjie Twinings my Wedgewood-koppie tref, was ek so grootoog begogeld soos elke ander nuwe deelnemer aan die ritueel.
Die “afternoon tea” is ‘n Britse tradisie wat glo deur die Hertogin van Bedford in 1840 gevestig is. Die Cunard-skeepsmaatskappy, eienaars van die Queen Mary 2, volg al meer as ‘n eeu en ‘n half in die Hertogin se elegante voetstappe.
Die okkasie vind plaas in die majesteitlike “Queen’s Room”, na aanspraak die grootste balsaal ter see met ‘n dramatiese hoë plafon (meer as sewe meter hoog), kristalkandelare, wydse uitsigte op die deinende oseaan aan bakboord en stuurboord, kunswerke, feestelike baniere in die dak en ‘n yslike dansbaan waar die passasiers tot laatnag in hul aandpakke en swierige lang tabberds hul passies uithaal.
Vir die tee sit rondom 500 mense elke middag op goue brokaatstoele aan. Vars broodjies word bedien (komkommer, ja, maar nie net komkommer nie), ‘n koekieverskeidenheid en, natuurlik, varsgebakte skons en room. Sowat 700 skons kom elke dag vir “afternoon tea” spesiaal uit die oond.
Hoe lief die Britte (en ander nuut bekeerdes) vir hul tee is, blyk uit die verbluffende statistiek dat sowat 6 000 koppies tee per dag op die QM2 geskink word. Toegegee, dis darem ook die tee by ontbyt en so aan. Maar soveel mense laat hulle in die “Queens Room” ‘n tweede “cuppa” welgeval dat ek met vrymoedigheid dieselfde vir my veroorloof het. Tokkie, glo ek, was in daardie stadium by haar derde koppie. Sy sal dit ontken.
Die tee, “Traditional Afternoon”, is spesiaal vir Cunard uitgesoek, moet jy weet. Die smaak is glo “klassiek” en “tradisioneel” en die allerbeste tees van Assam, Kenia en Ceylon is daarin vermeng. Die kleur is buitengewoon helder. Die smaak is nogal verfrissend.
Jy mag ook vra vir “Earl Grey” uit China of “Darjeeling” van die voet van die Himalajas af. Toe ek beleefd verneem na die beskikbaarheid van “Vyf Rose” is ek onbegrypend aangekyk.
By die eerste tee was Hannah Ruiters, ‘n blonde Amerikaanse meisie, en haar harp vir die strelende agtergrondmusiek verantwoordelik. Sy ken haar harp en laat engelemusiek uit die snare vloei. Me. Ruiters ken ook haar sit en die spleet in haar blou aandrok vertoon net die regte hoeveelheid elegante been.
By latere tees is die musiek verskaf deur onder meer ‘n jong strykkwartet uit die verskeurde Kiëv in die Oekraïne, mooi skoongesig-kinders wat mooi musiek maak, en drie pianiste om die beurt. Het nogal gedink ons eie Johan Fick, voorheen van George, sou ook aan hierdie front ‘n stewige bydrae kon lewer.
In elk geval, tee, skons, mooi mense, mooi musiek, mooi omgewing om drie-uur in die middag – dis mos selfbederf in ‘n gevorderde graad. (hvd)
Feb 28, 2014 | Hennie van Deventer se Blog


In die Brittania. Tokkie en Michael; hvd en sy oogappel Marzena.
Voor my op die skerm is 1 500 foto’s van ons 22 dae in kajuit 6005 van die Queen Mary 2. In die oorweldigende fotomateriaal is die storie vasgevang van ‘n droomvaart en ‘n droomskip waaroor hierdie trotse nuwe lid van die Cunard World Club net in die oortreffende trap kan skryf.
Die manjifieke QM2 is onteenseglik die grootste, mooiste, hoogste, swaarste, duurste, weelderigste, stylvolste, indrukwekkendste skip wat nog die oseane van onse aarde bevaar het. Die statistieke is verstommend. Ek sal my daarvan weerhou om opgewarmde kos op te dis. Net dat die QM2 die legendariese QE2 twee keer sou kon insluk, sê genoeg.
Wat hierdie Queen laat uittroon, is buitendien ‘n dimensie wat nie in syferterme gemeet kan word nie. Sy impak is nie die asemrowende (en verrassend stabiele) struktuur nie, maar veel meer die versamelde vreugdes van die passasier se ervaring; al die ontdekkings, die ryke herinneringe wat, soos in my eie geval, in 1 500 foto’s saamgesnoer is.
Toe ons in Kaapstad by die smaakvolle kajuit instap – ‘n “stateroom” noem die Cunard-mense die skip se knusse nessies tereg – wag ‘n botteltjie Franse sjampanje (Pol Acker se Blanc de blanc brut) op ys en ‘n hartlike welkomkaartjie van kaptein Kevin Oprey op ons.
Die kaartjie deel mee dat jy ná die vaart vir lidmaatskap van die “World Club” en allerlei gepaardgaande voordele kwalifiseer. Kaptein Oprey sluit af: “We look forward to providing you with happy memories that wil last a lifetime.”
’n Duisend dankies, kaptein Oprey – “thanks for the memories”, soos julle Engelse sou sê. Hoe lank die “lifetime” nog gaan wees, weet hierdie 73-jarige nie. Dat die herinneringe sal voortleef – daaroor bestaan geen twyfel nie.
Nie ‘n vakansie nie maar ‘n lewenservaring, noem Tokkie ons vaart. ‘n Lewenservaring was dit inderdaad vir die twee Van Deventers in hul herfsjare.
Ons was in vele opsigte gelukkig. Kajuit 6005 is een van die mees beskeie op die weeldeskip. Die gangetjie waarin dit geleë is, is een van die kortstes, met net 30 kajuite. Baie “eksklusief” voel dit. In die gange van ander slaapkwartiere strek tot 250 ingerygde deure eindeloos voor ‘n mens uit.
’n Paar trappies vat jou op na dek sewe met sy oop ruimtes en ‘n verskeidenheid eet-, speel- en kuierplekke wat net tusen 02:00 (middernaghappie) en 04:00 (kontinentale ontbyt) tot rus kom. Die sogenaamde “Winter Garden” met sy tjirpende voeltjies was een van ons gunstelinge vir ‘n rustige wyntjie.
Drie hysbakke bring jou in ‘n japtrap na die gewilde binneshuise Pavillion-swembad, die reuse-biblioteek met sy glimmende houtrakke, die deftige Commodore-sitkamer waar jy ver oor die see kan tuur terwyl jy aan jou skemerdrankie teug, die Churchill-sigaarkamer met sy ryk Havanas-reuk en die moderne gimnasium met elke denkbare oefenmasjien. Ongelukkig net een keer vinnig by laasgenoemde ingeloer om op die skaal te klim en ’n foto te neem!
Van dek sewe af vat ‘n sogenaamde “scenic elevator” jou vinnig tot by die observasiedek langs die brug op dek elf. Die Van Deventers noem dit “ons” hysbak. Ons is telkens in die glaskas alleen op en af. Min van die ander 2 600 passasiers het die panoramiese uitsig van daar af skynbaar ontdek of daaraan erg gehad.
Enkele dekke na benede is die Royal Court-teater met sy 1094 sitplekke waar sangers, musikante, dansers, akrobate, towenaars, komediante en wat nog saans glansprogramme aanbied wat met Broadway en Londen se Westend kan meeding. Ook die Illuminations-teater (483 sitplekke) wat die enigste drywende planetarium huisves. Hier kan jy in sagte stoele op jou rug na sterre en planete teen die koepeldak tuur, of uit die daaglikse keur van flieks en wetenswaardige lesings deur top-sprekers jou dagprogram verryk. In dieselfde omgewing is die rekenaarsentrum waar jy per satelliet op die hoogte van jou e-posse kan bly – teen ‘n prys!
Nog ‘n bonus van dek ses: die wellewende Fillipyn Philip wat gedurig kraakvars handdoeke en waslappies (eksklusief vir Cunard vervaardig uit Egiptiese katoen) aandra, en die badkamertjie netjies hou. Elke aand vou hy die koningsgrote bed se lakens sorgsaam oop. Slaaptyd-sjokoladetjies word saam met die daaglikse skeepskoerantjie op die sagte kussings neergesit. Toe die uwe se sinuskanale in ‘n stadium dreig om verstop te raak, had ‘n besorgde Philip vaderlike raad om die olikheid te verdryf: Gaan eet ‘n stewige ontbyt. Dit gee krag. Ek het sy raad met goeie gevolge ter harte geneem.
Tafel 114 in die magistrale tweevlakkige Brittania-eetkamer (1 200 sitplekke) is op die onderste vlak teenaan ‘n groot patryspoort. Dwarsdeur jou viergang-maal (eerste sessie) is jy intens bewus van die namiddag-see se deinings hier vlak by jou. Die kelner is die ervare Michael Vitug, ook ‘n Fillipyn. As die Queen Mary ‘n knapper kelner het, sou ek graag wou kennis maak. Soos Michael hierdie “monsieur” en “mademoiselle Vên Dievender” bederf het (altyd ‘n dubbele porsie vleis of vis, ‘n bakkie roomys saam met die nagereg en ‘n ekstra porsie aarbeie) is om oor huis toe te skryf. Een aand wou ons oorversadig uitglip sonder ons “petit fours”. Michael het vinnig agternagedraf … A nee a!
Michael word ter syde gestaan deur die liewe Poolse nooi Marzena Wojtowicz van Krakow – dromerig, vol verlange na haar romantiese tuisdorp met sy heerlike koolfrikkadelle en gretig om ‘n paar Afrikaanse woordjies te leer. Meer om die halsbandjie as die hondjie, soos ek later sou agterkom. Maar dankie”, Marzena; jy het ons etes in die Brittania met vroulike fynheid afgerond.
Ons was gelukkig om Valentynsdag aan boord te vier – met derduisende vars rooi rose uit Perth se kontrei; en ook die hartseer-skoonheid te geniet van ‘n jong strykkwartet uit Kiëf wat moedig die musiek van Mozart, Pucinni en Lehar in die sitkamerrs laat opklink terwyl hul gewonde stad smeul.
Ons was gelukkig om juis Jackie Stewart, Formule Een-kampioen, as een van ‘n hand vol glanspersoonlikhede aand boord te hê. Die Royal Court-teater (1 094 sitplekke) raak gou propvol as die klein Skotse meester jou agter die skerms neem dat die reuk van resiesbande eintlik in die lug hang!
Hoe spesiaal was alles nie vir die twee Melkbossers nie! Waar om te begin en waar om op te hou, weet hierdie blogskrywer in hierdie stadium nie. Kom ons kyk maar hoe die gees ons die volgende weke lei.
Jan 20, 2014 | Hennie van Deventer se Blog
Deftig en formeel uitgevat vir ‘n swierige bal later, geniet Queen Mary 2-passasiers aandete in die manjifieke tweeverdieping-restaurant die Brittania.
Middag uit Melkbos
Natuurlik gaan ek en Tokkie ook ‘n walsie waag – indien nie vroeër nie, gewis die aand van die Valentynsbal wanneer elkeen ‘n ietsie rooi moet dra en die Weense walsmusiek (asook die rumba, die dans van die liefde) oor die dek van die Queen Mary 2 gaan weerklink.
Dit sal die uwe se eerste wals wees sedert Marisa se huwelik op 31 Desember 2000. Pa en dogter het op die maat van Eddie Calvert se O mein pappa “grasieus” oor die vloer gegly by Oude Libertas op Stellenbosch. Eers later het ek gehoor O mein pappa is geen wals nie!
Die Valentynsbal is een van die sewe formele aande van ons 22 ter see; party met temas soos die swart-en-wit-bal, die Afrikabal en die “roaring twenties”-bal. Vir formele aande bestaan uitvoerige klerevooorskrifte.
Vir mans word tuxedo’s aanbeveel, vir vroue aanddrag. Mans kan selfs aanddrag op die skip huur om hulle behoorlik uit te vat. ‘n Swart tuxedo jaag jou ‘n koele $90 aand uit die sak – amper R1 000 teen die huidige wisselkoers,. Elke kledingstukkie het sy prys. Die goedkoopste is ‘n sakdoek teen $5 en ‘n strikdas teen $6,95. Ek sal die huuropsie liefs laat verbygaan.
My ou swart dubbelbors-pak en fluweelstrikdas uit ‘n vorige era is voldoende, meen ek.
Saam met die voorskrifte vir die swart-en-wit-bal kom ‘n waarskuwing: Jy kan ‘n rooi rok aantrek as jy wil, maar jy gaan uit voel!
Vir die Afrika-bal word flambojante Madibahemde en batik-rokke “ïn an African spirit” aanbeveel. Ek krap in my kas en kry ‘n rooi das met landsvlaggies oweral. Tokkie diep vir my ‘n kleurryke lapelwapen in die vorm van Afrika uit. Dit sal die ding moet doen.
Vir die “roaring twenties” word ‘n dubbelborspak met fyn strepies aanbeveel. Myne het nie strepies nie, maar toemaar. Vir vroue is die aanbeveling die beroemde “flapper-voorkoms” van die 20′s toe vroue die juk afgewerp en waarlik uitdagend na vore begin kom het, ook in hul manier van aantrek. Vere is deel van die “flapper”-voorkoms. Ha, TvD besit gelukkig ‘n rooi volstruisveer-boa wat moet koffer toe.
Van ons vriende frons oor die vreeslike ge-aantrekkery op vakansie. Op Cunard se webwerf lees ek egter dinge verloop deesdae minder formeel as tevore. Voorheen was daar meer formele aande per week. Die afskaling tot twee het nie oral goed afgegaan nie. Tradisionaliste het geglo dis ‘n toegewing aan wat Paula van der Leck van 7de Laan “banale voorstedelikheid” sal noem.
Moet sê: Vir my lyk dit deel van die kultuur en die sjarme van ‘n lewenservaring op ‘n skip met styl en tradisie. Ek onderwerp my gewilliglik – so ver my klerekas kan bykom. Tot siens vir eers, ons moet gaan inpak. Dinsdag vaar ons. Gesels weer einde Februarie. (hvd)
Jan 19, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Vir diegene wat dalk wil weet: Die VanD’s se skip, die RMS Queen Mary 2, is op die eerste skof van sy wêreldvaart van 119 dae. die skof van Southampton na Kaapstad, op die oomblik van skrywe tot op die komma presies 2 346.27 km van Walvisbaai af. Santa Cruz, Tenerife, lê 2,719.28 km agter.
Die weer lyk eersteklas te oordeel aan die webcam-foto hierbo.
Dis nog ‘n week voor die skip Kaapstad binnevaar en agt dae voordat ons met koffertjies en al in Tafelbaai gaan opdaag op soek na ons kajuit vir ons vaart na Sydney (Cunard noem dit ‘n stateroom, wat natuurlik deftiger klink as cabin).
Ons koffertjies: daar lê die knoop, Op hierdie Sabbat durf ons ons klerekaste met mening aan om te besluit wat moet saam en wat moet bly. Die jongste debat was oor Tokkie se rooi volstruisveer-boa. Instemming is bereik: Dit moet saam.
Die geheim van hoekom gaan ek later die week verklap as ek oor die sewe formele aand op ons vaart van 22 dae via Mauritius, Freemantle en Melborune na Sydney skryf.
Om die omvang van ons kopkrappery oor klere tuis te bring, net eers ‘n paar basiese riglyne wat duidelik die boodskap bevat: Julle moet ordentlik aantreklik, gehoor!
Askies, maar uit pure luiheid gee ek dit op syn Engels weer:
During the day casual shirts, shorts, trousers and beachwear are ideal. The main restaurants require a casual wear dress code for breakfast and lunch, however you may wear shorts in the Kings Court. Evenings will be split into 2 different dress codes. You will be notified of the evening’s dress code in your Daily Programme. As a guide, these will be:
Formal evening wear consists of an evening or cocktail dress or smart trouser suit for ladies, a tuxedo, dinner jacket or dark suit for men or you may wear formal national dress or military uniform. Military or Award decorations may be worn on formal nights. A range of gentleman’s formal wear is available to hire on board.
Informal evenings would consist of a required jacket and optional tie optional for gentlemen, whilst ladies should wear cocktail dresses, stylish separates or equivalent.
Please note that after 6pm, shorts and blue or worn denim (for men and women); sandals and sleeveless tops (for men) are not considered appropriate within the ship. On formal nights, any guests wishing to dress more casual may dine tn the Kings Court and relax in the Garden Lounge bar, but should not use other areas within the ship, including our Alternative Dining Restaurants, out of respect for their fellow guests.
Tokkie, lyk my ek moet maar nog ‘n baadjie en das inpak, en kom ons los liewer die denim! (hvd)