‘n KERSFEESDROOM

Pictures6

More uit Melkbos

Dreaming of a white Christmas. Dit was wat ons Kersfees 1976 gedoen het. Sommer halfpad deur November het ons immers daar in Cambridge, Massachusetts, ons eerste ligte voorsmakie gehad.

Maar Kersdag kom en Kersdag gaan sonder teken van sneeu.

Op 26 Desember – Boxing Day – is ons geskeduleer om vroeg in die pad te val, na die sonskynstaat Florida vir ‘n kort vakansiebreuk. Ek staan vroeg op en loer by ons kamervenster op die grondverdieping in Crimson Court uit. Die boompie dra swaar aan sy sneeukleed.

Oral wag ‘n wit wonderwêreld. In Harvard Street voor Crimson Court kom selfs ’n meisie op ski’s aan met ‘n inkopiesak aan die arm.

Florida en die lang pad daarheen eers vergete ry ons uitgelate in Cambridge se strate rond en neem net foto’s – eintlik skyfies, wat toe nog aan die orde was.

Ons ry in woonbuurte rond en later ook na die skilderagtige Mt. Auburn-begraafplaas waar die sneeutonele ons asems wegslaan. Eers laat die middag druk ek die swaar gelaaide Corona-stasiewa se neus suidwaarts.

Die groot foto is in Mt.Auburn geneem (die skyfie is agterstevoor afgedruk!). Regs bo is die meisie op ski’s in Harvard Street voor ons woonstelletjie. Regs onder is die kinders, Johan en Marisa, in hul sneeubaadjies teen ‘n spierwit agtergrond. Hulle het hul aan die vreemde taferele verwonder en ywerig help sneeuman bou langs die gevriesde Charlesrivier.

‘n Nieman-genoot uit Oregon het niks van sneeu gehou nie. Hy het telkens sneeuvlokkies onvergenoegd van hom afgeslaan terwyl hy deur dun lippe uitsis: White shit! Daardie winter was later in die media bekend as die Big Freeze. Ons het berge sneeu beleef. Maar ek het elke keer seergekry as John so lelik van die besonderse natuurbelewenis praat.

* Seënwense uit Melkbos. (hvd)

GOUE TYE

IMG_9643-002

More uit Melkbos

Goue vriendskap, goue bruilof, goue saamkuier. Ek en Tokkie klink Saterdagoggend ‘n vonkelglasie saam met ons vriende Cas en Nella Jacobs van Centurion op ‘n ontbytjie by Philadelphia se Peperboom.

Hul goue bruilof was op Saterdag 14 Desember. Ek en Cas was in 1958 saam eerstejaars in Kollegetehuis aan Tukkies. Ons vier het Saterdag saam die Kaap platgery – o.m. die vaart onderneem van die KIKS tot by Sol se One and Only-hotel. Soos altyd, genotvol gewees.

Ook gaan inloer by die nuwe Kaapse Waterfront-sensasie, die Grand Cafe, met sy banke, tafels en stoele op die sand. Vol bespreek tot 6 Januarie, kan jy glo!

(Naskrif: Reken, saam is ons vier so iets oor die 280 jaar op die ondermaanse!)

(Hvd)

LIED VIR JOU, LIEFSTE VROU

More uit Melkbos

Die vrou en die lied vorm ‘n treffende tweeluik. In elke taal, in elke land, in elke soort musiek – van die klassieke opera tot ligpopulêr.

Vroue word besing om hul skoonheid, bekoorlikheid, lieftalligheid, speelsheid, geheimsinnigheid, ondeundheid, moedswilligheid …

As jy begin kies, rol die name: Adeline, Elisabeth, Jeannie, Kathleen, Lara, Lilli Marleen, Macushla (‘n Ierse troetelnaam), Maggie, Madelein, Maria (baie Maria’s), Mona Lisa, Rosemarie, Theresa, Violetta, Vilia. Ikone, almal.

Na baie luister en debat het ek en Tokkie saam op 24 vroue-gunstelinge besluit. Dis vroue vir alle seisoene en van alle ouderdomme. Nooientjies word bemin; gryse dames word in innigheid onthou.

Lesers van die blog sal kan wonder: Waar is Mother McCree dan? By nadenke: Sy moes op ons lys gewees het. Lesers sou ook kon wonder: War is Belinda dan? Of Delilah, Lucille, Marianne, Rosamunde, of selfs Klaradyn?

Ons lysie raak-raak, helaas, net aan ‘n ryke tema. Verneem graag kommentaar daarop:

1. Ballade vir Adeline – Richard Clayderman

2. Annie’s Song – Ryan Watt

3. Sweet Caroline – Neil Diamond

4. Elisabeth Serenade – Günter Kallmankoor

5. Estrellita – Anna Maria Alberghetti

6. Giannina Mia – Mario Lanza

7. Jeannie with the light brown hair – Stephen Foster

8. I’ll take you home again, Kathleen – Bing Crosby

9. Lara se tema – Helmut Lotti

10. Lili Marleen – Lala Andersen

11. Lisa se klavier – Laurika Rauch

12. Macushla – John McCormack

13. Liefste Madelein – Leonore Veenemans

14. Maggie – Foster & Allen

15. Hush, hush Maria – Joe Dolan

16. Sweet Maria – Gert Potgieter

17. Marieke – Jacques Brel

18. Mona Lisa – Nat King Cole

19. Nikita – Elton John

20. Rose Marie – Nelson Eddy

21. Kom herab o Madonna Theresa – Joseph Schmidt

22. Vicki – Lance James

23. Vilia – Julia Migenes

24. Hoor my lied, Violetta – David Whitfield

(hvd)

OOP ARMS OF AF ARMS

More uit Melkbos

Daar staan Madiba nou in brons, 9 m hoog, arms uitgestrek en kyk uit oor die stad Pretoria, waar hy as president ingehuldig is en die laaste drie dae voor sy begrafnis in Qunu in staatsie gelê het.

In hierdie stad, met sy naam diep ingekerf in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en ’n baken op landkaarte oral in die wêreld, lê dus ook onuitwisbare spore van hierdie legendariese vryheidstryder en ver-soener.

Maar nie net Madiba se persoonlike spore nie.

Ook dié van die vryheidstryd self, soos van die opmars van 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 na die einste Uniegebou om teen die paswette te betoog.

’n Mens sou reken dat die naam Pretoria in die lig hiervan vir die ANC ’n gewigtige simboliese en emosionele betekenis sou hê: die groot vesting wat verower is en waar ’n ander mag nou setel as in 1910 toe die indrukwekkende Uniegebou opgerig is.

Sou die ANC werklik nie in sy hart der harte verkies dat Madiba sy arms uitstrek oor die historiese stad Pretoria nie?

Is die naam Tshwane met sy onsekere herkoms en geweldige verdelingspotensiaal werklik vir hom meer as net spierebult en afknouery – ’n ydele gryp na ’n suigstokkie om kortstondig oor te kraai?

As die ideaal van versoening voor magsvertoon moet swig, kan die oop arms van daardie beeld maar afgekap word.

(My briefie uit Melkbos wat vanoggend in die dagblad Beeld verskyn het)

(hvd)

VIVA, TUTU, VIVA (2)

Naand uit Melkbos

Na vanaand se E-nuus op TV voel ek des te meer om uit te roep: Viva, Desmond Tutu, Viva! Dankie Afrikaanse dagblaaie dat julle my brief na die Soweto-diens so prominent geplaas het – hierdie man is ons beste vriend.

(hvd)

DAG IN MAURITIUS

Middag uit Melkbos

Mauritius, hier kom ons – maar net vir ‘n paar uur.

Ek dink daaraan om van die hawe ‘n taxi te vat Grand Baie toe en ‘n bietjie daar rond te kuier. Daar is mos ook kort uitstappies per glasboot om na die koraalriwwe te kyk?

‘n Alternatief is Trou-aux-Biches, maar Mauritiusveterane waarsku dat die strand nie juis dagbesoeker-vriendelik is nie.

Hoeveel roepees (?) moet ‘n ou in kontant saamvat vir so ‘n dag se kuier: taxi’s, bootjie, broodjie en ietsie koels vir die keel (x2)? (hvd)