PLESIER VAN PADKOS

‘n Kostelike stukkie humor in die Bybel is hoe die Israeliete op hul Groot Trek na die “land van melk en heuning” holderstebolder met hul onklaar “padkos” uit die land van die farao vort is.

In Eksodus 12 lees ons hulle het in die pad geval met hul brooddeeeg, sonder suurdeeg, in skottels wat in klere toegedraai is, op hul skouers. Daarmee het hulle langs die pad ongesuurde roosterkoeke gebak.

Ek noem dit humor, nie omdat ek nie ‘n padkos-man is nie – ek is dit inderdaad! – maar oor die ontnugtering wat ek my in my geestesoog kan verbeel oor die reis wat eenvoudig aanhou en aanhou en aanhou… veertig jaar lank. Hoe ‘n erbarmlike kort stukkie van die reis kon hul padkos gehou het?

As selfverklaarde padkos-verslaafde moet ek dalk nie lag nie, maar trane stort. Watter ramp as ‘n ou se padkos opraak terwyl die bestemming nog ver, ver voor jou lê!

Padkos-storie kom na vore toe ek die meegaande foto (onbekende mense, onbekende bron) op Facebook raakloop.

My eerste ervaring van padkos was toe ek en my weduweema. Baby, in die jare 40 per trein van Kimberley vir Oom Danie en Tant Susie op hul plaas in die distrik Paul Roux gaan kuier het. Ons het dan tot op Kaallaagte trein gery, waar Oom Danie ons met sy treppie kom haal het.

Deel van ons bagasie was ‘n kosmandjie en opgerolde beddegoed. Ons kon nie die treinkos in die eetsaal met al sy sliwerware en die netjiese, silwerskoon treinbeddegoed bekostig nie. Ons kos was baie basies – broodjies en frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir my was dit koningskos.

Trouens, elke vakansie by Oom Danie-hulle had twee hoogtepunte: die padkos en die spogperde wat hul koppe so gooi in die tuig voor die treppie.

Die mandjies van ryker mense – so het ek gehoor – het o.m. ook ingesluit: koue hoender, skaapboud en heel biltong wat met die knipmes gekerf word. Ek was nie eens jaloers nie.

In n stadium – toe ek student was en daarna – is met “padkos” bedoel die paar biere wat saamgery is om langs die pad die dors in toom te hou. Ek het niks teen bier nie – maar met die wyser insig wat later gekom het, besef ek nou om bier padkos te noem, is ‘n belediging vir laasgenoemde!

Gelukkig trou ek toe met Tokkie. Sy is ‘n padkos-kampioen. Ons eerste reise is aangepak met eierbroodjies, botterbroodjies, biltongbroodjies, frikkadelle, worsies, pruime in spek toegedraai en minstens een lekker soetdingetjie soos ‘n ystervarkie of konfyttertjie saam met die koffiekan in ‘n mandjie aan haar voete.

Later het die koffiekan een van die moderne flesse geword wat jy net bo kon druk om die koffie te laat uitspuit.

Tokkie se padkos het my so bederf dat ek nie kan wag om my tande daarin te slaan nie. Ons is nog nie n blok weg van die huis af nie, dan verneem ek al: “Wat van ‘n eierbroodjie” ? Daarna is my kake vir die res van die reis omtrent nooit stil nie.

Met die koms van die kleinkinders het die padkos se karakter nie juis verander nie, net die volume. Nuwe elemente het darem ook bygekom, soos vrugtesappies en jogurt. Die tweeling, Jacob en Thomas  Claassens, was klein so versot op padkos soos hul Oupa. Daar was amper in kompetisie in die motor oor wie eerste die groot vraag gaan opper.

Vir “groot etes” is by Ultra-Cities en daardie klas geriewe stilgehou. Ons soek dan ‘n tafeltjie onder ‘n koelteboom op. Die kos kom uit ons eie mandjie aan Tokkie se voete – nie uit die kitskoskombuise nie. Vir versnaperinge wat ry-ry geniet word, word lappies en plastiekbakkies ingepak. My vrou hou nie van krummels in ‘n kar nie!

Ek verwonder my nou nog oor wat alles iemand soos Tokkie in die beperkte voetspasie aan die passasierskant van die motor kan huisves. Tot die kindertjies se strandemmers is soms daar ingedruk.

By geleentheid, jare der jare gelede,  het die omvang van die uitdyende “voet-bagasie” ‘n ligte irritasie by haar veroorsaak. Ek onthou ‘n keer toe ons ons met n motor wat kreun onder al ons vakansie-bagasie by ‘n rylopende weermag-outjie in uniform verby is.

“Stop en laai hom op,” gebied mev. Van D.

“Waar moet hy sit?”

“Sommer ook nog hier by my voete!”

‘n Padkos-kultuur wat ek in my later jare eers leer ken het, behels dat jy by jou bestemming moet aankom met ‘n voldoende voorraad om jou gashere te laat verstaan jy is nie sommer ‘n elkedagse hierjy nie.

Lydia, ‘n Sotho wat in lewe by ons gewerk het, was ook van Paul Roux, soos Tokkie se ma, Marietjie, en my Oom Danie-hulle. Elke tuisbesoek per “Shosoloza Meyl” was ‘n uittog waarvoor dae voor die tyd hoenders gaargemaak is: twee vir die reis en twee vir die uitklim.

Lydia se padkos het vir my heerlik gelyk. Ek is net bevrees: as ek sou saamry, sou vir die uitklim niks oorgebly het nie!

 

SCOOP VAN NIGGIEMOORDE: PAD NA DIE VOORBLAD


Aan een ontslape kollega het ek toenemend gedink terwyl die promosie van die nuwe Kyktnet-TV-reeks oor die raaiselagtige niggiemoorde van 1966 op Odendaalsrus stoom opgetel het.

Chris (Molie) Moolman (foto), destyds Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad, sou beslis die reeks met ‘n arendsoog gevolg het. Die storie oor die moorde was destyds sy scoop.

Wanneer die reeks “Niggies” vanaand afskop, sal die kranige oud-redakteur van Rapport en Oosterlig, oud-assistent-redakteur van Die Volksblad en Die Burger en Londense verteenwoordiger van die koerante van die Nasionale Pers in die 70’s egter nie een van die kykers wees nie. Hy is reeds in Oktober 2020 op 79-jarige leeftyd heen.

Ek was hoofsubredakteur van Die Volksblad toe die 12-jarige Petro Nel en Issy Fourie se lykies destyds in ‘n verlate gebou op Odendaalsrus gekry is. Hulle het spoorloos verdwyn nadat hulle by die munisipale swembad gaan lyf natmaak het. Albei was verkrag en wreed vermoor.

Molie het die storie op sy gewone oggendrondes by die speurhoof in Welkom opgetel, Binne ‘n uur was ‘n deeglike verslag op die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche, se lessenaar. Ek was gewaarsku om op die voorblad voorsiening te maak.

Soos die grusame moorde oor die weerlose meisies skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het, was dit ook by koerant iets groots. Die Goudveldse oplaag is verdubbel. Bestuurder-redakteur Hugo Dreyer het in een van sy seldsame besoeke skielik langs my lessenaar opgedoem om  ‘n onnodige opdrag in een woord oor te dra: Baniertjie. ‘n Banier sou die storie inderdaad wees – dws onder ‘n opskrif wat oor die hele blad strek.

Die etiket “niggie-moorde” is daardie dag aan ons subtafel gebore. By geleentheid is dit ook die “murasiemoorde”genoem, Die gebou waar hul lykies gekry is, was maar bouvallig.

Hope berigte het oor die moorde verskyn. Vir 18 jaar is egter geen leidraad gevind nie. Uiteindelik, in 1984 – 19 jaar later – het een van die die verkragters ‘n selmaat in die tronk in sy vertroue geneem. Johan Theron en Diederick Steenkamp verskyn toe op 27 Maart 1984 op aanklagte van moord en verkragting in die hof op Odendaalsrus.

Weer was ek by die hantering betrokke. Ek was toe redakteur. Die opdrag oor aanbieding onder ‘n banier het die keer van my na hoofsubredakteur Nols Nieman gekom.

Theron het skuld beken op die verkragting van een van die niggies, maar het gesê dat hy hulle nie vermoor het nie. Steenkamp het ‘n alibi gehad en is later vrygespreek.

Theron se ouer broer, Barend, was die eintlike belhamel agter die treurspel. Hy was ‘n man met ‘n reuse- selfbeeldprobleem. Sy een hand was gebreklik en hy het dit altyd met ‘n kous bedek. Almal was bang vir dié gewelddadige bullebak wat drank en dagga misbruik het.

Hy was egter reeds oorlede. In 1976 het hy uit die derde verdieping van die Cecil Hotel in Bloemfontein gespring, kop eerste. Hy het seker gedink hy vat sy geheim saam graf toe. Toe nie. 

Sien minder

 

OP STERFBED OP VOETE GESIT

Die raaiselagtige buit van drie lyke uit ‘n begrafnisondernemer se besigheid op Kuruman herinner aan ‘n kaping lank gelede in Bloemfontein waarvan omstandighede ook taamlik bisar was.
Vir die slagoffer bewaar ek ’n dubbele dosis deernis in my hart.
Dié drommel se huwelik was aan’t wankel en sy geldsake beroerd. Die lewe het in die algemeen genadeloos gedruk. In sy broosheid word hy toe boonop deur sy bankbestuurder ontbied om onder vier oë oor sy oortrokke rekening te praat, deur sy vrou oor sy verwaarlosing van huwelikspligte geroskam, en deur die balju besoek oor ’n lang-termynverpligting wat stil-stil op die langebaan geskuif is.
Die stres van die driedubbele aanslag word uiteindelik te veel vir mens en bloed. Selfmoord skyn al uitweg te wees. Dalk huil iemand dan tog oor sy dood. Soete wraak!
Hy loop dae en tob oor die voortreflikste manier om ’n einde aan alles te maak. Uiteindelik val sy keuse op ’n beproefde metode: dié van die tuinslang. Hy gaan koop by ’n afslagwinkel met ’n seisoen-uitverkoping (op sy vrou se rekening) ’n netjiese nuwe stuk om aan sy geliefde ou Volkswagen kombi (’n Transporter) se uitlaatpyp te verbind.
Die tweede groot besluit is: waar? Vir selfmoord bied Bloemfontein nie baie eksotiese bestemmings nie. Voorgangers het sommer al op die Bultfonteinpad of die Jagersfonteinpad tot die daad oorgegaan, maar dit is darem só verbeeldingloos.
Maselspoort is dalk ’n opsie – ander het dié gewilde kuierplek met sy reuse-swembad en groot bome al met welslae vir daardie doel benut – maar dis ver uit die stad en ’n mens wil nie onnodig petrol uitry nie, al is dit dan ook vir so ’n kritieke taak.
Naval Hill bied nogal ’n aantreklike alternatief. Voordele is die sentrale ligging en die gedurige kom en gaan van besoekers. Hy besluit Naval Hill is die plek. Dit is ietwat afgesonder, maar darem nooit verlate nie.
Op ’n donker aand, met feitlik geen maan teen die swart lug nie, ry hy stadig Naval Hill op, soek vir hom ’n verlate parkeerplekkie onder ’n alleen-boom en spring aan die werk. Toe alles gereed is, en hy vir oulaas ’n sigaretjie aansteek, spoel ’n vredige rustigheid deur sy onstuimige gemoed.
Nadat hy die sterre bo hom en die stadsliggies onder hom ’n ruk in stilte betrag het, skakel hy die enjin aan en laat die geduldige masjien wat hom al op soveel ver paaie geneem het, egalig voortluier. Stadig, stadig sink hy in ’n diep slaap weg. Dieper en dieper.
’n Onaangename gewaarwording wag: snerpende koue wat deur murg en been sny; ook ’n seer lyf, soos een wat geruime tyd ongemaklik gelê het, boonop op harde klip. Herinneringe aan sy verskriklike bedruktheid, sy groot besluit en sy laaste paar uur in die kombi maal deur sy benewelde kop.
Sy oë fladder oop. Doer in die ooste breek die dag. Om hom is vaal winterveld, ’n ent verder ’n kameelperd wat met ’n lui tong ’n paar blaartjies van ’n boom stroop, sy oë nuuskierig op die vreemde, witgerypte figuur hier skuins voor hom.
Wat het van sy Transporter geword? Die ding kon tog nie net in die dun lug verdwyn het asof ’n bedrewe towenaar sy stokkie geswaai het nie. Dit dring tot hom deur dat misdaad waarskynlik vermoed moet word. Hy strompel Bayswater se polisie toe, verdwaal nog eers, maar bereik eventueel sy bestemming
Stamelend deel hy met ’n vaak konstabel die verhaal van sy abortiewe selfmoord en die daaropvolgende verdwyning van die voertuig wat in die voorgenome daad ’n kritieke rol sou moes vervul. Dié luister met die gewone “uhms” en “aahs”. Toe tref dit hom dat hy hier met ‘n nogal ongewone misdaadsituasie gekonfronteer word.
Hy staan half op uit sy stoel en roep geskok uit: “Jis, oom, toe sit die bliksems jou wragtig op jou sterfbed op jou voete.” Daarop slaan hy deernisvol sy arms om die mislukte selfmoordenaar en sê uit die diepte van sy hart: “Siestog, nou het oom nog meer worries!”

AFRIKANER SE “HELE LEWE” HIER OPGESLUIT

 

 

 

In beroerder tye toe die dompas nog die lewens van swartmense gereguleer het, het ons tuinwerker in Bloemfontein in die 80’s syne verloor.  Soos dinge soms ‘n vreemde verloop neem, tel juis gade Tokkie die verweerde boekie in die straat op.  Daniel was uit sy vel van blydskap.  Hy het gevoel of hy sy lewe verloor het; nou het hy dit terug, het hy stralend verkondig.

So ‘n gevoel van “lewe verloor” wil-wil my pak as ek lees van die geldnood en gebrekkige dienslewering wat die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting klaarblyk ernstig knel.  Om woorde soos “steier”en  “by die kruispad” oor die hoeksteen-instellings van die Afikaner raak te lees, maak my droog in die mond.

Die monument ken almal – hoop ek. Oor die Erfenisstigting is kennis waarskynlik minder algemeen. Die stigting is ‘n maatskappy sonder winsmotief met die visie om onder meer die behoud, bewaring en volhoubare benutting van bedreigde erfenishulpbronne te skep.

Sulke erfenishulpbronne sluit onder meer historiese geboue en strukture, monumente en erfenisterreine, kulturele praktyke, kunswerke, argiewe, begraafplase en grafte in. Bedreigings wissel van natuurlike verval, toevallige skade en vandalisme, tot gebrek aan befondsing en kapasiteit.

Met die Erfenisstigting se argief (foto) het ek ‘n persoonlike band. Iewers in sy gange is daar ’n versameling PV 39 – JH van Deventer. Dit voel vir my my “lewe” is – om nou vir tuinman Daniel aan te haal – in PV 39 opgesluit. My beroepsloopbaan as joernalis en vele ander fasette is in boeke, artikels, briewe, ander dokumente, foto’s en wat nog na te speur. (‘n Deel is ook by die Vrystaatse Universiteit by die ou Ineg. Toe Ineg in ‘n nuwe bedeling minder toeganklik word, het ek my tot die Erfenisstigting gewend.)

My persoonlike dankbaarheid oor daardie bestemming vir my “goeters”is enorm.  Dit is ’n kosbare voorreg en gerusstellende wete dat dit op hierdie waardige manier die stortingstrerrein vryspring – die wrede lot van sovel ander.

Maar as dinge daar moet skeefloop, wat dan?

Die vraag geld nie net ‘n geringe individu soos die uwe en ander persoonlike versamelings soos syne nie, maar ook kosbare bronne van die hoogste orde vir navorsers oor alle fasette van Suid-Afrikaanse geskiedenis en kultuurgeskiedenis.

Vername temas van die versameling is die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog en die geskiedenis van die Voortrekkermonument. Verdere materiaal sluit argiewe van Afrikaanse kultuurorganisasies in, soos die Afrikaner-Broederbond, en  van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika.

Die blik wat in die argief gebied word op die kultuur en geskiedenis van die Afrikaanssprekende samelewing in Suid-Afrika is weergaloos en onvervangbaar. Dit is laat in de dag as begrippe soos “steier” en “kruispad” opduik wanneer ons oor sulke bestaansake dink en praat.

‘n SPROKIE VIR TOKKIE


Ken jy die sprokie van die kleure van die reënboog wat mekaar in ‘n epiese wedloop die stryd aansê?
Oor berge en deur dale jaag hulle mekaar: rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en pers, Dan is die een voor, dan die ander. Met die wenpaal in sig breek rooi weg.
“Rooi! Rooi!” bulder die skare. Rooi breek die lint. Hy kry die wennersmedalje om die nek.
Ken jy die sprokie nie? Moenie sleg voel nie. Al plek waar dit bestaan, is in die ou man se verbeelding.
Al van eergister af is hy egter begeesterd met rooi. Eers het die “bloedmaan:”gekom en gegaan. Toe breek 15 Maart aan: Tokkie se verjaardag. My vrou betree haar laaste jaar as 70-plusser. In 2026 rol die sewe om en word ‘n agt.
Rooi is natuurlik haar kleur. Vir haar het ek ‘n keer ‘n versie geskryf:

Tooi jou in rooi,
my rooibloedvrou,
om my vir altyd
aan jou voete te hou.

En tooi sy haar nie graag in rooi nie. (Onthou die rooi baadjie!) Hoe groter die okkasie, des te rooier trek sy aan. Die oorheersende prentjie van haar in my kop is as bruidsmoeder met die dieprooi vollengte-tabberd – veel rooier as die rooi van ‘n “bloedmaan”. Later skop sy hom uit. Dis nou langbroektyd – ewe rooi, ewe mooi.
Toe Tokkie 60 geword – ook al 19 jaar gelede – het wyle kollega Ollie Olwagen vir my ‘n stylvolle webblad ontwerp om daardie mylpaal te vier. Rooier kan ‘n webblad nie.
Nadat ek gewik en geweeg het, het die besluit maklik gekom: dis die regte illustrasie vir vandag. Dan dien dit sommer ook as hulde aan daardie uiters kreatiewe kollega wat enkele weke gelede ter ruste is.