In beroerder tye toe die dompas nog die lewens van swartmense gereguleer het, het ons tuinwerker in Bloemfontein in die 80’s syne verloor.  Soos dinge soms ‘n vreemde verloop neem, tel juis gade Tokkie die verweerde boekie in die straat op.  Daniel was uit sy vel van blydskap.  Hy het gevoel of hy sy lewe verloor het; nou het hy dit terug, het hy stralend verkondig.

So ‘n gevoel van “lewe verloor” wil-wil my pak as ek lees van die geldnood en gebrekkige dienslewering wat die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting klaarblyk ernstig knel.  Om woorde soos “steier”en  “by die kruispad” oor die hoeksteen-instellings van die Afikaner raak te lees, maak my droog in die mond.

Die monument ken almal – hoop ek. Oor die Erfenisstigting is kennis waarskynlik minder algemeen. Die stigting is ‘n maatskappy sonder winsmotief met die visie om onder meer die behoud, bewaring en volhoubare benutting van bedreigde erfenishulpbronne te skep.

Sulke erfenishulpbronne sluit onder meer historiese geboue en strukture, monumente en erfenisterreine, kulturele praktyke, kunswerke, argiewe, begraafplase en grafte in. Bedreigings wissel van natuurlike verval, toevallige skade en vandalisme, tot gebrek aan befondsing en kapasiteit.

Met die Erfenisstigting se argief (foto) het ek ‘n persoonlike band. Iewers in sy gange is daar ’n versameling PV 39 – JH van Deventer. Dit voel vir my my “lewe” is – om nou vir tuinman Daniel aan te haal – in PV 39 opgesluit. My beroepsloopbaan as joernalis en vele ander fasette is in boeke, artikels, briewe, ander dokumente, foto’s en wat nog na te speur. (‘n Deel is ook by die Vrystaatse Universiteit by die ou Ineg. Toe Ineg in ‘n nuwe bedeling minder toeganklik word, het ek my tot die Erfenisstigting gewend.)

My persoonlike dankbaarheid oor daardie bestemming vir my “goeters”is enorm.  Dit is ’n kosbare voorreg en gerusstellende wete dat dit op hierdie waardige manier die stortingstrerrein vryspring – die wrede lot van sovel ander.

Maar as dinge daar moet skeefloop, wat dan?

Die vraag geld nie net ‘n geringe individu soos die uwe en ander persoonlike versamelings soos syne nie, maar ook kosbare bronne van die hoogste orde vir navorsers oor alle fasette van Suid-Afrikaanse geskiedenis en kultuurgeskiedenis.

Vername temas van die versameling is die Groot Trek, die Anglo-Boereoorlog en die geskiedenis van die Voortrekkermonument. Verdere materiaal sluit argiewe van Afrikaanse kultuurorganisasies in, soos die Afrikaner-Broederbond, en  van die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika.

Die blik wat in die argief gebied word op die kultuur en geskiedenis van die Afrikaanssprekende samelewing in Suid-Afrika is weergaloos en onvervangbaar. Dit is laat in de dag as begrippe soos “steier” en “kruispad” opduik wanneer ons oor sulke bestaansake dink en praat.

Deel dit: