KOLLEGA MET ‘N KOP VIR KOPPE

Ollie op dreef op ‘n afskeid vir joernalis Aat Kaptein (regs). Kyk uit vir ‘n jong Bart Zaaiman.

‘n Keer is prima ballerina Margot Fonteyn ná ‘n opvoering in die Bloemfonteinse stadsaal onder blomme toegegooi. ‘n Kort eenreëlkop (opskrif) is vir ‘n voorblad-stoepberig vereis. Ollie se skepping: “‘n Blom-Fonteyn”.(‘n Stoep was die storie onderaan die blad.)

Niemand het ‘n beter kop gehad as die woordsmid sonder weerga as dit kom by die die skryf van kort, kernagtige en gevatte koppe nie … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het,  sonder veel kopkrap kon hy skitterende koppe skryf.

Ollie was ook die koerant se eie “kabaretster”, die siel van afskeide en diverse okkasies met gevatte rympies en liedjies wat hy spontaan kon optower.  Sy “Die siel van die mier is nou hier” het ‘n soort legendestatus by tydgenote verwerf. Toe hy Kaap toe is het hy almal verstom deur sy hele afskeidstoespraak van ‘n rol telekspapier af te sing.

Subkantoor; ek en Ollie op ons poste.

Van die verre herinneringe wat opgediep is by ‘n Volksblad-fees op Melkbos in Desember was van liedjies wat in die aanbreekjare van die 60’s in die subkantoor gebore is. Een waarvoor ek na al die dekades steeds ‘n besonderse affiniteit het, is die Siek-liedjie van Ollie en Paul Marais op die meesleurende wysie van ”Somewhere in France with You” – beginnende by “Her two blue eyes, two blue eyes. keep smiling at me …”

Dis ‘n muishond met ‘n vleiswond / En psigosikose

Dis ‘n bloedhond met ‘n bloedklont / En koronere trombose

Dis ‘n mank skisofreen – met ‘n versteende been / En die oom in die boom het tragoom.

Selfs hierdie toondoof, onmusieklike ou man word beweeg om sy heupe ritmies te swaai. Sing saam – in die stort of waar ookal. Dis net lekker.

Die geboorte van een Ollieliedjie onthou ek of dit gister was. Ek was hoofsubredakteur en was nog op soek na een lekker storie om dit daardie dag ‘n goeie voorblad te maak. Volgende oomblik: hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.

Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.

As subs plesierig raak: ek, Paul en Ollie.

Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.

Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.

Nog dieselfde middag het Ollie oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: ”Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot ….” In plesierige  oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos dié aangehef.

Ollie se skeppende talente het geen einde of ophou geken nie.

Ollie se webblad vir Tokkie60

Hy het hom as ondersoekende joernalis onderskei en het ’n deurslaggewende rol gespeel om die storie van Racheltjie de Beer as ‘n Suid-Afrikaanse variasie van ’n ware Amerikaanse insident te ontmasker.

In sy aftrede het hy ook begin om uitstekende politieke briewe aan koerante te skryf –  soms in “immaculate English”.

Toe gade Tokkie 60 geword – ook al amper 20 jaar gelede – het Ollie vir my ‘n stylvolle webblad ontwerp om die mylpaal te vier.

Daar was waarlik net een Ollie – duplisering van sulke enorme  kreatiwiteit in een mens is eenvoudig nie moontlik nie.

 

 

 

 

 

O SOETSTE TAAL

Op Moedertaaldag onthou ek ver-ver terug die eerste aand, iewers in 1959, toe ek ‘n nog jong Mimi Coertse in die Aula op die Tukkiekampus O boereplaas hoor sing het:
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
Al dwaal ek heel die wêreld rond,
waar so gelukkig, so gesond?
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
Die wêreld, rykdom, prag en praal
kan jou verlies my nooit betaal.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.

TOE NASPERS VRYE WEEKBLAD WOU RED

Max du Preez se Vrye Weekblad groet vandag ‘n derde keer. Hierdie keer is dalk finaal. Sy geldsake is eenvoudig te beroerd.
Of ‘n mens nou met die blad se sienswyses saamgegaan het nie, moet jy benadruk: die verlies van elke publikasie laat ‘n leemte en moet betreur word. Vir Afrikaanse lesers is dit skok op skok nadat ook Rapport en Beeld in resente tye pad gevat het.
Ek deel graag ‘n minder bekende stukkie geskiedenis oor die eerste ondergang van die blad wat in 1988, drie jaar nadat die Rand Daily Mail daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad gemaak het.
Sy ondersoekende joernaliste – moet Max du Preez nie onderskat nie! – doen toe plek-plek uitstekende werk met deurvorsende joernalistiek, soos die onthulling van die Vlakplaas-skandaal (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om op trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe, disrespekvolle politieke aanslag verower nie die mark nie.
In 1993, ná net vyf stormagtige jare, loop dinge vir hom sleg skeef – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie aard se dag nou aangebreek het.
Wat doen die Nasionle Pers toe? Hy skink nie vonkelwyn en verlustig hom in Vrye Weekblad se penarie nie, maar loods vanuit die Perssentrum in die Heerengracht ‘n klandestiene reddingspoging.
‘n Senior oud-amptenaar, Jan Prins, word dadelik na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt te gaan ondersteun. Die Pers het al die koste gedra en Jan boonop ‘n salaris betaal.
Selfs dié pogings kon ongelukkig die ondergang nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad vroeg in 1994 sy deure sluit – die eerste keer.
‘n Naskrif op ‘n ligter noot oor Du Preez se eie metodes van geldwerwing vir sy publikasie . Dit was soms bra onortodoks. In sy biografiese ontboeseming, Pale Native: Memories of a Renegade Reporter (Zebra Press, 2011) vertel hy byvoorbeeld sonder skroom van ‘n kuiertjie met ‘n kinkel by ‘n eensame, ryk weduwee. Hy moes as’t ware “sing for his supper” maar hy is nie onbeloond met leë hande huis toe nie.

SPESIALE COMRADES VIR ‘N SPESIALE SKOOL

Louis Massyn tussen Legacy se kinders.

Die legendariese langasem Louis Massyn durf vanjaar sy 50ste Comrades-marathon aan – die eerste atleet in die geskiedenis wat die prestasie vermag.

‘n Vreugde in die Van Deventerkring is dat die 74-jarige Massyn sy drafskoene op Sondag 8 Junie vanjaar aantrek ten bate van die NPO Binah en Legacy Centre op George – ’n skool vir kinders met outisme wat deur skoondogter, Mariza van Deventer, gestig is. Kleinseun Migael is ‘n alumnus.
‘n Groot mediabekendstelling vind vanoggend by die skool in Denneoord, George, plaas. Koerante, sosiale media, TV en radio is verteenwoordig. Massyn is self teenwoordig om sy storie te deel.
En wat ‘n storie is dit nie. Net in die Comrades het hy al iets soos 4 300 kilometer afgele – van Melkbosstrand tot Sabiepark en terug. Hy spog met ‘n beste tyd van 6:25:00 in 1981.
Wat die Twee Oseane betref, vat-vat hy ook aan die 50-tal. In die wedloop het hy al oor die 2 500 km afgedraf.
Dan spog hy met n hand vol ínternasionale medaljes vir deelname aan van die bekendste marathons ter wêreld in Amerika, Japan en elders. Die woord “legende” word maklik oordryf. Hy kwalifiseer werklik om so genoem te word.
En nou koppel hy sy naam aan Mariza se skool waarin Tokkie ook ‘n aandeel het. Die Van Deventers is opgewonde. Ons vra mooi: basuin die boodskap so wyd as moontlik uit, asseblief: Louis Massyn is ons held.

WIE IS NOU DIE OUDSTE?

Alta Geldenhuys

Wie is nou die oudste lewende Nasperser? Met die heengaan van André Cloete was dit onder veterane van die maatskappy dadelik die vraag.

Die (waarskynlike) antwoord kan vir party ‘n verrassing wees: dis na my wete Alta Geldenhuys (94), weduwee van die minsame Kootjie Geldenhuys, oud-hoofbestuurder van Die Burger, wat die onderskeiding gehad het dat hy by drie koerante die bestuurshoof was, eers Oosterlig, toe Die Volksblad, toe Die Burger.

Alta was voor hul troue ná matriek vyf jaar lank, van 1947 tot 1952, self ‘n snelskrif-tikster by Oosterlig. Sy woon nou in die aftree-oord La Provence in Welgelegen, en is nog heel op en wakker.

Kootjie was bemind oor sy mensliewendheid. Sy voorslagvrou is van dieselfde stoffasie. Oor haar ingesteldheid vertel ‘n oud-Burgerman ‘n mooi storie. Hy het ’n Saterdagmiddag na ’n ander huis getrek. Die baas kom toe in die reën met ’n kommetjie sop, toebroodjies en ’n paar trossies druiwe by die nuwe adres aan. “Alta stuur dit, want dis maar altyd deurmekaar met ’n trekkery.” Hy het nie eens geweet sy ken hom nie.

André Cloete is gister op George oorlede. Die wellewende en wyd gerespekteerde André het in 1991 afgetree as hoofbestuurder van die reuse-tydskriftefabriek in Paardeneiland. Voor my tyd was hy  Die Volksblad se fabrieksbestuurder in Bloemfontein.

Op die foto wat verlede jaar geneem is, is Alta saam met Andre Cloete in Plattekloof. Die gesinne Cloete en Geldenhuys was lewenslange vriende.

Hy was ook die oudste lewende wenner van die Phil Webermedalje, hoogste eerbewys van Naspers ter bekroning van ‘n voortreflike loopbaan; waarlik ‘n man uit een stuk.

Hy en sy twee voorgangers op die ouderdomsleer, Gert Terblanche en Wiets Beukes, was al drie Volksbladders.  .Interessant dat Alta ook via Kootjie so ‘n konneksie het.  Wie naasoudste is? Ek weet nie. Aubrey Smith, oud-fabrieksbestuurder van Die Burger en Die Volksblad, kan ‘n kandidaat wees.

Iets in Bloemfontein se water dalk?

Herman le Roux hou ‘n Volksbladlys op datum. Daarop is André (Slang) du Plessis (92) bo en Herman (89) self tweede  Daan Rossouw (89), Pirow Bekker (89) en Paul Marais(88) blaas in hul nekke.