HERINNERINGE AAN WYLE NIËL BARNARD

Niël Barnard, hoof van nasionale inteligensie in die kritieke dekade 80, was nie lief vir die pers nie. Lees maar sy boek!
Tog het hy Die Volksblad ‘n wonderlike wereldscoop besorg, en in die algemeen met persmense ‘n hartlike persoonlike verhouding gehandhaaf.
Die 75-jarige Barnard is pas op Gansbaai aan kanker oorlede.
Die scoop waarna ek verwys, is met die foto’s van die eerste ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela in Tuynhuis.
Die foto’s is deur PW se private sekretaris, Ters Ehlers met ‘n gewone mik-en-drukkie geneem. Dit het lank in ‘n laai stof vergaar. Toe vertel Niel my van die bestaan daarvan. Natuurlik kon die koerantman geen rus of duurte kry nie. Ten einde laaste oortuig ek vir Botha en via Kobie Coetsee ook vir Mandela in die gevangenis.
Die res van die land se koerante was maar afgehaal toe die Vrystaatse dagblad in die kleine Bloemfontein hulle scoop dat hulle stilstaan.
Barnard was altyd openhartig met ons redakteurs van die Nasionale Pers. Ek onthou spesifiek ‘n middagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg met die naam Spy Glass Hill. Onder ander Ebbe Dommisse en Alf Ries was ook teenwoordig. Barnard het ons ingelig dat hy bekommerd is oor Mandela se gesondheid. Die man se enkels swel kwaai. Dit was twee dekades voor sy dood!
Ek onthou ook ‘n onderhoud met Barnard in sy kantoor in Pretoria waarin hy my waardevolle agtergrond-materiaal oor Mandela verskaf het. Op grond daarvan het ek ‘n ingeligte Willem-rubriek kon skryf en ook ‘n hoofartikel waarin geskimp is dat dit tyd is om Mandela vry te laat. Dit was nog voor Willem Wepener se oproep in Beeld wat oor die aardbol weerklink het.
Barnard en politieke beriggewer Alf Ries was as’t ware boesemvriende. Hulle het op dieselfde dag verjaar en het dit meermale saamgevier. ‘n Keer het Barnard Ries vir middagete na sy kantoor genooi. Kelners dra toe op skinkborde bedek met ronde blink deksels die gereg in: kreefsterte. Ries was allergies vir kreef. Eers weifel hy, maar toe besluit hy tog om Barnard in te lig.
Geen probleem nie, antwoord Barnard. Hy tel die telefoon op. Na ‘n lang ruk kom die plaasvervangende maal: hamburgers!
‘n Laaste persoonlike herinnering is van pogings om my in die jare 90 vir ‘n pos by die Departement van Inligting te werf. Die laaste gesprek hieroor was in Barnard se kantoor in Pretoria saam met Roelf Meyer. Gelukkig het Ton Vosloo ‘n stokkie daarvoor gesteek. So ‘n loopbaansprong sou nie vir die kanniedood-koerantman gedeug het nie. Barnard was egter vieserig.
Met sy dood betuig ek graag my persoonlike respek en waardering vir die man Niel Barnard wat as jong hoogleraar in staatkunde by die Vrystaatse Universiteit deur Botha raakgesien is en met die groot verantwoordelikheid van die land se veiligheid beklee is. In die uitvering van sy gedugte taak het hy ook internasionale respek verwerf.
Al het Niel nie van die pers gehou nie, was hy ‘n gewaardeerde vriend.
Foto: Die scoopfoto. Barnard staan in die middel.

+GENERAAL JEAN LE ROUX – ROTS VAN DIE BURGER

Bekerwenners in 1996.  Die koerantesektor en Die Burger maak skoonskip.  Ek, Jean le Roux en Ebbe Dommisse spog met ons trofees.

Jean le Roux se kinderlike opgewondenheid in die goue jaar 1996 toe Die Burger die Cape Argus  se sirkulasie verbysteek om die markleierskap van die Wes-Kaap te verower, is een van vele herinneringe aan die uiters bekwame, toegewyde en innemende kollega wat met sy heengaan by my opkom.

Jean, oud-hoofbestuurder van Die Burger, is gisteraand in die Durbanville Medi-Kliniek oorlede ná kolon-chirurgie weens kanker – presies 425 dae ná die dood van sy sprankelende skryfstervrou en reismaat, Mariël, wat vir hom ‘n enorme slag was.

Jean was die laaste paar jaar van sy loopbaan hoofbestuurder van die suidelike koerante en later van die noordelike koerante wat Beeld ingesluit het. Dit is egter as generaal van Die Burger se voortreflike “offisierspan” in die 90’s dat hy in my oë veral uitgemunt het.

In 1996 het die koerantsektor wat my verantwoordelikheid was, die Nasionale Pers se DP de Villiers-trofee gewen  – ’n gesogte huishoudelike prys vir die beste presteerder in die Pers. Dit is weens blink vertonings oor die spektrum, veral die wins wat snel opgeskiet  het.  Aan die begin van die ’90’s was die wins R6 miljoen. Gou was dit R20 miljoen. Toe word dit R40 miljoen. Daarna klim dit in 10 miljoene tot oor die R70 miljoen, nogal ’n aardige profyt daardie tyd.

In koerantgange is gejubel. Die Burger, ‘n pryswenner uit eie reg,  was een van die hoekstene in hierdie era en Jean le Roux was ‘n rots van Gibraltar aan ons ander se sy.

In hierdie goue jaar vir koerante verwerf Die Burger voorts die markleierskap in die Wes-Kaap – ’n ideaal wat in ’n stadium amper onbereikbaar gelyk het. Sy weekdagsyfer styg tot 76 000 en sy Saterdagsyfer tot oor die 100 000. Om dié doel te bereik, is ’n tamaaie voorsprong van die Cape Argus stelselmatig weggevreet. ’n Jaar tevore was Die Burger nog 16 000 agter, twee jaar vroeër 28 000, en drie jaar vroeër 34 000.

Jean was ekstaties. In my studeerkamer pryk nou nog ‘n koffiebeker waarmee Die Burger die nuus uitgegalm het.  Fred Mouton het vir die illustrasies gesorg.

Klink ‘n koffie: Die Burger word die markleier in die Wes-Kaap.

Vir nog ‘n Burger-prestasie in daardie tyd was Jean die dryfkrag.  Die Burger (Oos), Afrikaanse spreekbuis vir die Oos-Kaap ná sluiting van Oosterlig in 1993, het naamlik sy sirkulasie in drie jaar verdubbel ‒ ’n unieke groeilyn in die geledere van alle Suid-Afrikaanse koerante.

Net ’n jaar later het  Die Burger en Beeld hul Engelse mededingers nog ’n opstopper gegee. Hulle word die markleiers in die primêre fokusgroep vir adverteerders, die wit, bruin en Asiër-lesers, volgens Amps. Hul ontnugterde mededingers kon net in ongeloof hul wonde lek.

Jean se persoonlike rol om aan verskeie fronte so skouspelagtig deur te breek, was groot, soos sy gestalte. Hy het ‘n slag gehad met syfers en met mense.  Hy kon die gordel styf trek as dit moet, maar was nie skaam om doelgerig te belê in ‘n saak waarin hy glo nie.  En hy kon sy span as ‘n gedugte eenheid saam met hom neem.

Dat hy en sleutelmense in daardie span al die jare steeds elke drie maande saam gaan eet het, illustreer die gehegtheid wat daardie tyd geheers het.

Jean se eerste koerantspore was op Worcester met die Worcester Standard. In die 80’s het die Nasionale Pers die Standard gekoop.  Jean het by Die Burger ingeval en dadelik sy merk gemaak.  Ton Vosloo, oud-Persbaas, bestempel hom nie om dowe neute nie as ”een van die beste van die Persfamilie”.

Van die ink in sy are getuig die kritiese oog waarmee hy tot die einde sy koerant gelees het.  Oor elke foutjie was hy gepynig nes toe hy die mantel gedra het.  Op my selfoon lees ek met ‘n glimlag verskeie wrang kommentare as ‘n berig herhaal is – soos helaas soms gebeur – of iets anders skeefgeloop het.

As mens was hy joviaal, rustig en altyd vriendelik; ook geseënd met ‘n besonderse humorsin, meermale ten koste van homself.  Hy kon met smaak die storie vertel van ‘n “kollegiale  kenmekaar” op die stasie van Koeala  Loempoer waar hy op ‘n trein na Bangkok staan en wag het.

‘n Medepassasier het vir hom alte bekend gelyk. Toe die man ook aaneen in sy rigting loer, staan hy nader.

“Meneer,”sê hy op Engels, “ek ken jou.”

“Ek ken jou ook,” sê die man.

“Ek kom van Kaapstad.”

“Ek kom ook van Kaapstad.”

“Ek werk by die Nasionale Pers.”

“Ek ook.”

“Aangename kennis. Ek is Jean le Roux van Die Burger. “

“Aangenaam. Ek is Jürgen Fomm van Tafelberg-uitgewers. “

Die twee het mooitjies kort tevore by ‘n Pers-ete langs mekaar gesit.

Ten slotte:  ‘n waarderende woord oor ‘n kragtige sangstem.  ‘n Hoogtepunt by Pers-geleethede was wanneer Jean en wyle Louis Fourie van Tydskrifte  saamgespan het met die immer gewilde duet “Datte we toffe jongens zijn”.

“Toffe jongens” inderdaad.

 

KOERANTE: MOES (KON) ONS HARDER BAKLEI HET?

Knorrige oud-Rapport-lesers takel my gister oor ‘n “vreedsame” koppie Sondagkoffie oor hul verlies op Sondae. Oud-redakteurs, soos ekself, was te gedweë oor die ingrypende koerante-slagting wat tot die einde van Rapport en Beeld as papierkoerante, asook die einde van as Rapport, Beeld en Volksblad as PDF’s gelei het, verwyt hulle. (So asof ekself nie die verlies intens ervaar nie.)
In my verweer kon ek wys op die verklaring van veertien voormalige redakteurs oor vier dekades waarin hulle hul sterk teenkanting oor Media24 se ingryende planne met koerante uitspreek. Media24is gevra om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.
Die 14 – en dit ag ek as van kritieke belang – het ook onomwonde die wens uitgespreek dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.
Die omvang en betekenis van daardie eendragtige toetrede tot die debat is ongelukkig nie volledig raakgesien nie, glo ek.
Daardie 14 oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 af. Dit was die eerste en enigste keer in die bestaan van die Nasionale Pers (later Naspers) van langer as ‘n eeu dat oud-redakteurs so kollektief optree – dus ‘n gedenkwaardige en unieke gebeurtenis.
Ook agter die skerms is hard gewerk aan meer as een inisiatief. Ek dink nie om hulle (ons) kwalik te neem vir die beperkte welslae en die gevolglike pynlike toedrag van sake is korrek en billik nie.
Die gesprek het my genoop om tuis te kom bestek opneem oor my eie bydraes in artikels en briewe oor die sluiting van koerante en PDF’s. Die bestekopname lyk soos volg:
Artikels in Rapport- Weekliks:
Die scoop is (nie) dood nie – 22/12/24
Koebaai koerantplakkaat: ‘n Onbekende leegheid wag nou in strate – 15/12/24
Ag nee, Koos, te veel word verswyg – 3/8/24
Artikels op Litnet:
Koerante: sewe heildronke … en ‘n huildronk – 19/12/24
Hoekom my hart so bloei oor koerante – 4/12/24
Projek T en die verowering van die Noorde – 29/7/24
Artikels in Volksblad:
Herman le Roux se plakboeke vertel ‘Volksblad’ se storie – 22/11/24
Saluut aan loodsoldate van ‘Volksblad van weleer – 16/8/24
Briewe:
Volksblad: Dankie dat Volksblad kon wees – 20/12/24
Beeld: Koerant se lot is Pienaar gespaar – 20/12/24
Beeld: 2024 se reuseverliese vir Afrikaans – 28/11/24
Volksblad: Eer Volksblad met ‘n naam in Bfn – 16/9/24
Beeld: Verslind brieweblad eerste – 18/8/24
Volksblad – Samelewing sal armer wees sonder koerante – 26/7/24
Die Burger – Media24 moet Afrikaanse joernalistiek bly dien – 21/6/24
Volksblad – Netwerk24 moet Volksbladgemeenskap toegewyd dien – 20/6/24
Ook met die sluiting van Volksblad as papierkoerant vier jaar gelede het ek die pen in Rapport en die drie dagblaaie opgeneem. Verskoon my dat ek dit self sê, maar ek voel werklik nie dat ek ooit my gevoelens weggesteek het of my onbetuig gelaat het oor die treurige ontwikkeling nie. My vriende skuld my ‘n rustige koppie koffie en ‘n ekskuus. (Hoop hulle lees hier.)