ANDER OU SE PAJAMAS

Die spreekwoord praat van anderman se skoene waarin jy nie graag sou wou staan nie. Ek het my eie gepatenteerde weergawe. Skoene word met pajamas vervang. Elke dag / hoor / sien ek iets in die media wat my dankbaar stem dat ek nie in die of daardie se nagkabaai wakker geword het nie, maar in my eie geruite broek en groen hempie wat van die een of ander uitverkopingrak kom.
Nou anderdag was dit Kamala Harris se slaapkleertjies wat ek ongraag vir my eie sou wou verruil. Hoe elegant lookal, sou dit kwalik haar droefheid en die pyn kon verdryf van die Troefkaart wat die Amerikaanse kiesers haar so genadeloos gedeel het.
Vandag is dit ene Patrick Kruger, Protea-krieketspeler, se pajamas wat ek vir homself gun. Hy met die diamant-oorkrabbertjie in sy oor en al het hom gisteraand teen Indie (waarskynlik) in Suid-Afrikaanse krieket-annale ingespeel (en hopelik uit die pan uitgespeel).
Sy onderskeiding is dat hy die meeste lopies vir die teenstanders laat lek het (soos hulle nou praat) in die twee bisarre beurte wat hy geboul het – 17,5 per beurt – en die minste lopies vir sy span aangeteken het – een lopie in twee balle. Het iemand al tevore so ‘n mamparra-vertoning in die groen en goud gelewer?
In een van sy rampspoedige bouleurte het Kruger met sy diamantoorkrabbertjie en al daarin geslaag om twee foutballe en drie wydlopers af te stuur. Ek vermoed selfs vir Koekenaap se tweede span sou dit ‘n rekord wees.
Kruger met sy diamant-oorkrabbertjie en al kies nien homself nie. Vir daardie ligte mistykie moet afrigter Rob Walter pa staan. Ai, hoe verlang ek nie na die goeie ou dae nie toe die beste span vir elke wedstryd gekies is: van toetsspanne tot skoolspanne en van rugby tot hokkie.
Met die “bou van diepte” en die skep van “skwads” glip ouens darem deur die net op ‘n manier wat niemand anders weet hoe nie buiten die afrigter wat span kies (of wat voorgese word hoe om die span te kies).
En lojale, patriotiese toeskuers langs die veld of voor die skerm moet maar die skandes blymoedig verduur. Nee, wragtig, so kan dit nie aangaan nie.

LENTE, HERFS – EEN MOOIER AS ANDER

Die skoonheid van die Amerikaanse herfs – die “Fall” – word hierdie tyd van die jaar elke dag op Facebook besing en met skildergatige landskapfoto’s’ bevestig.

Herfs in New England

My eie ervaring van die skone seisoen kom uit die herfs van 1976 in New England aan die ooskus. Gister vang ‘n pragfoto uit die Shenadoah-park in Virginia egter my oog (hooffoto links). Dis ewe verruklik.

Die Shenandoahpark onthou ek vir sy lente. Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die blommeprag van die manjifieke dogwood (hooffoto regs) was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park.
Die sogenaamde Skyline Drive van 105 myl (nie kilometer nie) deur die park Washington toe was ‘n prentjie. Die snelheidsgrens is 35 m.p.u. Omring deur soveel natjuurskoon voel jy nooit om die versneller dieper in te trap nie.
Ek kon nie die versoeking weerstaan om elke af en toe te stop om my vrou saam met die bloeisels af gte neem nie: ‘n karnallie tussen die kornoelies.
Terloops, ek verstaan nie mooi of kornoelie die regte vertaling van dogwood is nie. Is dit ‘n spesifieke dogwoord of die versamelnaam vir alle dogwoods? Dalk kan ‘n plantkundige help.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in Maart ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Die fees vier, interessant genoeg, die geskenk van 3 000 Japanse kersiebome aan Amerika in 1912. Op sy beurt het Amerika toe in 1915 ‘n ewe getal Amerikaanse dogwoords aan Japan present gegee.
Moet erken, ek onderskei moeilik tussen die bloeisels, veral op ‘n afstand. Dis seker maar uit pure domheid.

NAAM IS FILEX, FILEX WHITE

Soos die ouderdom ‘n mens maar maal, besef ek en Tokkie ’n ruk gelede ‘n naam wat vir ons belangrik is, het ons albei ontgaan.
Dit is die naam van ‘n Bloemfonteinse pottebakker wie se sementbeeldjie van ’n knielende manlike figuur op ons stoep op Melkbos staan. Die rug is ‘n styfgetrekte bondel spiere.
Die beeld het in die 80’s in ons besit gekom toe die skepper sy huis aan ‘n Bloemfonteinse akademikus verkoop het …. Ene prof. Tienie. Tokkie was instrumenteel in die transaksie.
Oor prof. Tienie se van haak ons vas. Van Rensburg, dalk? Ook oor die straat is ons onseker: dis aan die onderpunt van Van Riebeeck naby Tempe, onthou ons. Dalk Van der Stel?
Toe maar die naam sal terugkom, troos ons onsself n.a.v. vorige ervarings. Maar die naam kom nie terug nie.
Dis ‘n saak vir die sosiale media, besluit ek. ‘n Blad met die naam Bloemfontein-herinneringe lyk die aangewese.
Dadelik gesels die Bloemfonteiners en oud-Bloemfonteiners saam.  Is die akademikus dalk Tienie Crous? Is die beeldhouer dalk Laura Rautenbach … of Daniella Geldenhuys … of Casper Steenkamp … of Pieter Lessing … of Jacques Fuller … of dalk ds. Dennis Oliphant (of sy vrou)?
Hoekom probeer ek nie die aktekantoor nie. Hier is die naam van ‘n gawe eiendomsagent wat dalk kan help. En so aan.
Uiteindelik tree Frans van der Hende, ‘n gewese buurman, toe tot die gesprek. Die straat is toe Drommedaris, nie Van der Stel nie. Die betrokke huis se nommer is 17a. Die akademikus was Tienie Barnard en die vorige eienaar was inderdaad ‘n beeldhouer. Prof. Barnard het by Klein-Brak of Groot-Brak afgetree, onthou hy.
Vername leidrade. Lig op die horison.
Ek bel vir prof. Piérre Theron van die UV wat hom in daardie geweste bevind. Hy en prof. Barnard was kollegas, maar sy kollega is ongelukkig reeds enkele jare gelede oorlede.
Piérre verwys my na ‘n ander kollega (studentemaat van my) wat nog in Bloemfontein woon, prof. Willie Paulsen. Willie en Tienie Barnard was vriende. Willie dink die dogter Riana dalk sal kan help. Was die vorige eienaar nie ‘n Hoffman nie, wonder hy.
Op die Bloemfontein-herinneringe-blad bly die mense saamgesels. Gift Labuschagne laat weet sy ken Riana. Sy sal haar vra.
Fetilik gelyktydig kom toe twee boodskappe:
Gift het Riana opgespoor. Sy bevestig die huis het oorheen aan ‘n pottebakker behoort. In die tuin was ‘n pottebakkersateljee. Die hele tuin was vol beeldjies en dinge, onthou sy.
Buurman Frans laat weet op sy beurt hy het by Pieter Joubert aangeklop, Dié ken toe die antwoord. Ons man se naam is Filex White. Sy kenteken was FX met ‘n klein x .
Toe ons die naam Filex White hoor, lui al die klokkies op Melkbos. Filex is inderdaad ons man. Ons gaan daardie beeldjie GROOT merk sodat ons nie weer kan vergeet nie.
Is ons nie dankbaar nie teenoor al die Bloemfonteiners vir al die raaiskote, al die wenke en al die heerlike brokkies. Dit bevestig net weer: dis ‘n gemeenskap soos min.
En hoe waardevol is daardie blad nie om waardevolle herinneringe op te diep, af te stof en te bewaar nie. Dankie, Victor Reitz.