Jun 14, 2024 | Vars Blog
By Vergenoegd in die Paarl het twee Volksblad-veterane vandag lang stories gesels. Ek en Tokkie het vir Johan van Wyk gaan kuier waar hy nou ná die mooie Zandra se dood alleen moet klaarkom. Nadat ons saam ‘n broodjie gebreek het, het ons ‘n bankie gevind vir ‘n foto.
Daar sit ons twee oues toe in amperse bewoënheid oor die saamloop vir 60 jaar, en Tokkie neem ‘n foto van ons, arm om die skouer: amper 170 jaar se lewenservaring tesame. (Op 170 jaar se gesamentlike wysheid sal ek liefs nie aanspraak maak nie.)
Die sakke sout wat kollegas in uitdagende omstandighede saam opeet, dryf hulle in later jare weg van mekaar of kweek ‘n hegter verhouding. . MIn twyfel dat dit in die geval van my en Johan van Wyk laasgenoemde is. Daarom was vandag se kuier so kosbaar met sy eie onuitwisbaarhede, ook met die tekens van ouer word wat – so moet ons maar erken – by albei al hoe sigbaarder word.
Skryf jy nie meer nie, nie eens met ‘n potlood op ‘n stukkie papier nie? vra ek. Nee, skud hy die kop. Niks. Die outeur van tienduisende woorde wat lesers bekoor het, se pen het onomkeerbaar stil geword. Dis nogal swaar om te sluk. Want watter kranige skrywer was Johan nie en hoe goud werd was sy bydrae nie tot Die Volksblad nie.
Hoe ‘n vername wapen so ‘n lesersvriendelike rubriek soos Johan se Stop in die arsenaal van ‘n koerant is, kan kwalik oordryf word. Ek glo vas dat ons geliefde Volksblad in die 70’s en 80’s was wat hy was weens veral twee pilare: sy gebondenheid met sy gemeenskap (waarvoor ek nie omgee om gedeeltelike eer op te eis) en, tweedens, die liefde wat mense vir die rubriek Stop gehad het. Laasgenoemde borrel steeds uit waar Vrystaters gesels.
Die kollega het my daardie tyd persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het dikwels hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my soms ook maar op my tande laat kners.
Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag kan ons oor sulke insidente lag.
Kollegas weet dat ek die woorde “legende” en ”ikoon” bitter spaarsaam gebruik. Dis gewigtige etikette wat ‘n mens nie ligtelik moet uitdeel nie. Maar ek wil vandag hier herhaal wat ek al vantevore geskryf het: Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon.
Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom gehsd, die “Oom”. Hy het dit steeds.
Oor hom het Die Volksblad doerie jare in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk. Ek staan bankvas by elke woord.
Op pad huis toe deur ’n Swartland waar die groen koring begin opkom, kom ‘n vogtigheid in my oog as ek aan daardie heuglike dae dink.
Jun 13, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sommige reise is nie vir sissies nie. Konfrontasies met allerlei hardekwas gesagsfigure; vreesaanjaende vlugte op flentervliegtuie; senutergende busritte saam met hoenders en bokke; slapelose nagte in agtertangse hotels; ure se toustaan vir slegte kos van suspisieuse oorsprong dit, en baie meer, staan ewe onuitwisbaar in die geheue van elke avontuurlike reisiger ingegrif.
Teëspoed kan oral tref — ook op die gesofistikeerdste toeristeweë van die beskaafde wêreld. Sonder om sonde te soek, kan die arme toeris in allerlei penaries beland wat hom om die beurt wanhopig, gefrustreerd, verleë of die swernoot in maak.
In (naam van boek) het (naam van skrywer) die soet en suur van 25 jaar se eie reise en versamelde reisstories uit allerlei bronne opgeteken. Die leser word saamgenooi op dosyne vakansies en toere met ‘n koffer vol insidente om saam oor te lag of huil — maar beslis meer te lag as te huil.

As bogenoemde vir jou klink klink soos ‘n promosie vir die nuwe reisbundel van Quellerie, Draaie, swaaie en afdwaalpaaie, wag op jou ‘n verrassing. Dis die stukkie op die agterplat van my Oos-Wes-Reismoles! wat in 1998 – 26 jaar gelede – deur Human & Rousseau gepubliseer is. Die ontbrekende name is my boek s’n en my eie.
Ek kla nie, reismoleste is immers ‘n storiebron wat nooit uitgeput kan raak nie. Ek gaan self graag lees wat die span topskrywers opdis; gun hulle net die grootste welslae. Oos, Wes- Reismoles is in elk geval nie meer op die rak sodat ek kompetisie hoef nie te vrees nie Meld dit dus bloot net vir die interessantheid.
Jun 11, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
En die klomp handtekeninge? Almal Springbok-rugbyspelers s’n. Dis op ‘n geraamde spyskaart wat teen my kroegtoonbank in die woonkamer hang. Die oorsprong is die sogenaamde “Aand van die kapteins” in Kaapstad se Mount Nelsonhotel op Woensdag 24 Mei 1995, die vooraand van die Rubywêreldbekerroernooi van daardie jaar wat Joel Stransky later op Ellispark vir die Springbokke met ‘n roemryke skepskop beklink het.
Op daardie spyskaart is die handtekenminge van digby veertig oud-Springbokke wat die dinee bygewoon het. Kapteins wat geteken het, is Johan Claassen (my oud-onderwyser op Volkies, Potchefstroom), Avril Malan, Abè Malan, Roy Dryburgh, Tommy Bedford, Jannie Breedt, Tiaan Strauss, Mornè du Plessis, Nelie Smith, Dawie de Villiers, Basie Viviers, Naas Botha, Wynand Claassen, Stephen Fry, Piet Greyling, Hannes Marais, Theuns Stofberg, Des van Jaarsveldt en Divan Serfontein.
Die lys is nie naastenby chronologies nie en dalk onvolledig; party ouens se handtekeninge ontsyfer jy maar moeilik, veral namate ‘n kuieraand vorder! Maar dis ‘n gedugte lys, hoor! Dan spog my spyskaart boonop met die handtekeninge van rugbylegendes soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, H.O. de Villiers, Ryk van Schoor, Tom van Vollenhoven, Okey Geffin en andere. Seker die oudste Springbok wat geteken het, is Flappie Lochner.
Die handtekeninge is versamel deur my vriend Herman le Roux wat op sy dag sportredakteur van Beeld en Die Volksblad was. Ons was tafelgenote. Hy het met ons spyskaarte van tafel tot tafel geloop en met sy kenmerkende deeglikheid niemand oorgeslaan nie. Net twee sulke volledig getekende spyskaarte bestaan, so ver ek weet: Herman syne en myne.
(Een Bok het net betyds geteken voordat die geselligheid van die saamkuier voor die ete hom ingehaal het en hy na sy kamer gehelp moes word. Ons noem maar nie die arme ou se naam nie.)
Oor die program: die seremoniemeester was die SAUK se Pat Tebbut, die tafelgebed is gedoen deur Dawie de Villiers en die sprekers was die Ierse losskakel Jackie Kyle, Jannie Engelbrecht, Dougie Dyers en Kepler Wessels. Op die spyskaart was gerookte salm, lamsboud en mokka-sjokolade. Die wyne was van Craighall.
Wat ‘n aand!
Jun 2, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Links is hy in sy wit erebaadjie van St. Andrews en regs is ons twee saam op ‘n spanfoto van Colin se Kallers
As brugbouer tussen gemeenskappe en vertroetelaar van gesonde verhoudinge het Colin Hickling nie sy gelyke gehad nie. Die eienskap het die opperste jintelman ’n uiters gewilde burgemeester van Bloemfontein in die 80’s gemaak en hom die eer besorg om as een van die eerste Bloemfonteiners van die Jaar gekroon te word.
Niemand was ook ‘n lojaler alumnus van die St. Andrews-skool nie en niemand ‘n lekkerder maat vir sy uitgebreide vriendekring nie as Colin Kenneth Hickling wat die naweek op 86 aan kanker oorlede is.
Ek eer hom as kaptein van die sosiale krieketspan Colin se Kallers wat epiese wedstryde teen Bill se bulle van Welkom gespeel het met die doel om gemoedelikheid tussen die twee stede te bevorder. In my studeerkamer op Melkbos is ‘n blokkie donker hout (embuiarig) waarop ‘n klein krieketkolfie van ‘n gelerige hout gemonteer is. Op ‘n koperplaatjie is gegraveer: Hennie van Deventer – Stigterslid – ‘Colin se Kallers’ – Met beste wense van jou spanmaats – 23 – 2 -92 (die datum toe ek Kaap toe is). Dit is iets waaraan ek waarde heg.
Ek eer hom ook as ‘n hegte vriend van Die Volksblad wat my kort na aanvaarding van die redakteurskap in 1980 gewerf het as eerste Volksblad-redakteur wat lid van die Bloemfonteinklub geword het. Hy was die vader van die gedagte om na sluiting van die koerant The Friend in 1987 die Engelse blokkiesraaisel na Die Volksblad te skuif.
Hy was die hart en siel van die Friday Club, ‘n gesellige saameet-broederskap van ‘n uiteenlopende leierskorps in die stad. Hy het ‘n Londense taxi besit waarmee lede van die Club in die 80’s allerlei avonture beleef het, o.m. ‘n ordentlike “pub crawl”.
Hy was Engelssprekend maar het Afrikaans so goed gepraat dat iemand eendag tydens ‘n Engelse toespraak verras verklaar het: “Ek het nie geweet Colin kan so goed Engels praat nie!”
Hy het ‘n kwarteeu of langer gelede ‘n agterkwart-amputasie ondergaan. Sy vrou, Barbara, het ‘n dokter hoor sê: “Why are they putting poor Colin through all this? Why don’t they allow him to die in peace?” Wat ‘n goeie, vrugbare kwarteeu het dit nie geword nie.
Ek salueer die wonderlike maat en treur saam oor die sagte stem, spitsvondige geselskap en ondeunde glimlag wat vir altyd weg is.