FRONT VAN OUD-REDAKTEURS

Ses van laaste sewe redakteurs van Die Volksblad/Volksblad het die brief onderteken.  Hulle is Hennie van Deventer, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan  Crowther, Jo van Eeden en Gert Coetzee.  Ainsley Moos (derde van regs) is reeds oorlede.

Veertien voormalige redakteurs van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport – onder andere Ton Vosloo, Meneer Naspers oor vier dekades –  spreek in ‘n brief hul sterk teenkanting uit oor Media24 se ingryende planne met koerante.

Hulle vra Media24 om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.

Die redakteurs spreek die wens uit dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.

Hulle vra dat redaksies met voldoende hulpbronne bemagtig word om, soos in die verlede, diens aan die Afrikaanse leefwêreld in sy verskeidenheid te lewer.

Die oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 tot nou. Almal nog in lewe en bereikbaar het hul gewig agter die brief ingegooi.

Die volledige brief hier onder  is op 27 Junie 2024 per e-pos gerig aan Prof Rachel Jafta, voorsitter: Media24-direksie. met ‘n afskrif aan mnr. Ishmet Davidson, uitvoerende hoof, Media24:

Geagte prof. Jafta

Re Media24 se besluit rakende die algehele sluiting van Beeld en Volksblad asook die gedrukte weergawe van Rapport met ingang 1 Oktober 2024:

Ons rig dié brief aan u in ons hoedanigheid as oud-redakteurs van die Naspers/Media24-publikasies Die Burger, Volksblad, Beeld en Rapport.

Ons boekstaaf hiermee ons teleurstelling en ernstige kommer oor die gevolge van dié besonder drastiese ingryping, nie net vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans nie, maar ook vir die breë Afrikaanse gemeenskap.

Ons verstaan die oorhoofse sakeredes. As oud-redakteurs weet ons maar te goed die kostes van druk- en verspreiding het onhoudbaar geraak. Ons besef ook die toekoms vir nuusmedia is digitaal en dat wêreldwyd die gedrukte media teen ‘n versnelde tempo digitaliseer. Elders ter wêreld oorleef sekere drukmedia steeds, ook in die VSA, hoewel Warren Buffet en Jeff Bezos onlangs nog daarin belê het. Dit ter syde.

Maar ons lewer ‘n ferm pleidooi vir die behoud van gehalte-joernalistiek in Afrikaans onder die vaandel van mashoofde wat oor dekades heen bekend en gerespekteer is in die Afrikaanse gemeenskap. Ons versoek ook dat al die geraakte titels op die Netwerk24-platform voortleef in PDF-formaat

Voorts vra ons dat Media24 se redaksionele spanne – wat mettertyd almal in die digitale sfeer sal werk – moet kan reken op dieselfde toewyding en hulpbronne as wat hul voorgangers in die druk-era van Naspers/Media24-direksies ontvang het.

Lede van die top-bestuur van Media24 gee nou in die openbaar te kenne dat geen verskraling sal gebeur wanneer die drukweergawes gesluit word. Maar hoe gaan dit moonlik wees as redaksionele poste afgeskaf word en begrotings gesny word op ‘n skaal wat nog nooit voorheen in Naspers/Media24 gesien is nie? Die waardeketting in die nuusbedryf – digitaal of gedruk – begin immers by bekwame redaksies wat met hulpbronne ondersteun word.

Sedert die stigting van Die Burger in 1915 was Naspers/Media24 se Afrikaanse koerante ‘n markplein vir idees, uitdagings, verkennende denke en om, in Ton Vosloo se woorde, “te publiseer vir ‘n voller samelewing”. Dis waar Afrikaanse mense met mekaaar stoei, stry, verskil en saamstem, waarná hulle meestal vorentoe beweeg. Tans is ons Afrikaanse titels een van die ruimtes waar wit en veral bruin Afrikaansspekendes bymekaar kom in een taalgemeenskap. Hierdie kultuurskat moet tot elke prys behoue bly. Daarby glo ons ‘n lewenskragtige, diverse Afrikaanse media, verbind tot die vooruitgang van die totale SA gemeenskap, is ‘n bate wat koestering verdien.

Ten slotte wil ons ons kommer betuig oor die verskraling van die Afrikaanse leefwêreld wat die beoogde planne sal meebring. In die grootste gedeelte van die land bestaan Afrikaans nie meer as ‘n regstaal nie. Afrikaans se status as ‘n volwaardige akademiese taal hang aan ‘n draadjie. Die Afrikaanse taal en kultuur verdien nie bywonerstatus in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie.

Ja, daar is steeds Afrikaanse skole, Afrikaanse kunstefeeste, ‘n gerespekteerde teaterbedryf, Afrikaanse rolprente, ‘n dinamiese letterkunde, enkele Afrikaanse tydskrifte en die TV-kanale kykNET en Via. Maar al dié instellings funksioneeer in ‘n ekosisteem waarvan lewenskragtige Afrikaanse nuusplatforms die suurstof én die bloedsomloop is. Die afskaling van ‘n behoorlike nuusaanbod in Afrikaans, dus die verwatering van eerstehandse verslaggewing, sal ‘n domino-effek op die hele taalgemeenskap hê.

Ons versoek dat die Media24-direksie die besluit ter sprake heroorweeg om geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning. Laat belanghebbendes toe om voorstelle te doen oor hoe die negatiewe impak van die besluit soos dit tans staan, teëgewerk of versag kan word. Oorweeg ook voorstelle van buite die maatskappy wat die lewe kan verleng van die gedrukte weergawes, al is dit tydelik. Dit sluit in gemeenskapskoerante.

Ons verneem graag u reaksie.

Met vriendelike groete

  1. Ton Vosloo Beeld 1977 – 1983
  2. Hennie van Deventer (Die Volksblad 1980 – 1992)
  3. Ebbe Dommisse (Die Burger 1990 – 2001)
  4. Johan de Wet (Volksblad 1992 – 1994; Beeld 1996 – 1999; Rapport 1999 -2001)
  5. Willie Kühn (Beeld 1993 – 1996)
  6. Paul Marais (Die Volksblad 1994 – 1999)
  7. Jonathan Crowther (Volksblad 1999 – 2009)
  8. Peet Kruger (Beeld 2001 – 2009; 2011 – 2013)
  9. Tim du Plessis (Rapport 2001 – 2008; Beeld 2009 – 2012)
  10. Bun Booyens (Die Burger 2010 – 2016)
  11. Bokkie Gerber (Rapport 2010 – 2012)
  12. Jo van Eeden (Volksblad (2012 -2015)
  13. Waldimar Pelser (Rapport 2013 – 2022)
  14. Gert Coetzee (Volksblad 2015 -2022)

Ton Vosloo, redakteur Beeld 1977-1983; besturende direkteur Naspers 1984- 1997; voorsitter Naspers 1997 tot 2015, ondersteun die brief met die volgende aparte verklaring:

As redakteur wat Beeld in 1983 geneem het tot die enigste Afrikaanse dagblad in die Noorde na die hewigste persstryd in die geskiedenis, het ek volle begrip vir die veranderende mediatoneel wereldwyd. SA loop ook deur en die leiers van Media 24 word daarmee gekonfronteer.

Ek het vertroue dat hulle in oorleg met Naspers se voorsitter Koos Bekker die uitweg sal vind wat Afrikaanse joernalistiek sal rig op die volgende fase van sy deurslaggewende bestaan.

VERBODE BOEK OOR NASPERS: TON VS KOOS

In die lig van die ingrypende verandering in die landskap van Media24 se  koerante wat aangekondig is, raak die vreemde lotgevalle van die jubileumboek Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld opnuut relevant, selfs insiggewend.

Die joernalis Dana Snyman het reeds in sy rubriek vanoggend in Die Burger en Beeld en in ‘n radiogesprek vlugtig na die boeksage verwys. Hier volg die konteks:

Kroniek was bedoel as ’n amptelike geskiedenis van Naspers om sy 100ste verjaardag in 2015 te vier, maar is weens interne botsings toe nooit gepubliseer nie.

Nege jaar lank vergaar die historiese boek  – breinkind van Ton Vosloo en pennevrug van prof. Lizette Rabe – nou al stof. Dit is agter stewige slot en grendel, en die sleutel is in die hand van Koos Bekker, die man in Naspers se voorsitterstoel. Dit is Bekker wat teen Vosloo se grein in publikasie geveto het – en in sy weerstand volhard. Jy kan die veto natuurlik ook sensuur noem, en dit sal nie verkeerd wees nie.

Vosloo, oud-voorsitter en dinamo agter die boek, en opvolger Bekker, wat onder sy voorganger se beskutting vir die maatskappy ongekende rykdomme ontsluit het, het jare as bondgenote in gelid saamgestap. Oor die boek bots die twee bulle egter kop teen kop.

So ongelukkig is Vosloo oor die boek se lot dat hy al die ongewone gedoen het om ’n openbare pleidooi om ’n hartsverandering tot sy protégé te rig. Dit was vrugteloos. Die status van Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld bly dus onveranderd; dit is ’n geslote boek en gaan klaarblyklik geslote bly solank dit Bekker behaag – of totdat iemand ’n plan prakseer om die huidige toerniket-wurggreep te omseil.

Maar die troefkaart is in Bekker se hande. Kopiereg berus by Naspers – in ’n klousule, ironies genoeg, op inisiatief van Vosloo in die kontrak ingeskryf.

Oor die vreemde verloop van die sage rondom die nie-publikasie van ’n troetelprojek op sy laaste skof skryf Vosloo self openhartig in sy memoires, Oor grense (Jonathan Ball, 2018). Die feesboek-turksvy word onder meer ook insiggewend in Ebbe Dommisse se Fortuine – Die Wel En Wee Van Afrikaner-magnate (Jonathan Ball, 2021) en TJ Strydom se Koos Bekker’s Billions (Penguin Random House, 2022) aangesny. Hulle sien sake redelik eenders.

Naspers se geskiedenis oor 100 jaar se intieme saamleef met die Suid-Afrikaanae hartklop moet fassinerende inligting ontsluit. In die stadium weet egter net Rabe, Vosloo en Bekker – en dalk ’n paar ander – wat in die feesboek staan. Nie een praat uit oor die inhoud nie.

Bekker maak egter geen geheim van sy mening nie: dat die boek se aanpak, na sy mening, te eng is. Aan Dommisse het hy dit so gestel: “Ek meen die gebeure word geskets bloot uit ’n Afrikaner-perspektief, terwyl daar later verskeie strome by die Naspers-rivier aangesluit het wat nie uit die Afrikaner-bron van 1915 ontspring het nie.”

Die woorde bevestig wat die kardinale geskilpunt klaarblyklik is: die boek se openhartige terugblik op die koppeling van die maatskappy se koerante met Afrikaner-nasionalisme van sy stigting af. Die Burger en Die Volksblad het albei ’n lang geskiedenis as amptelike mondstukke en bondgenote van die Nasionale Party. Die Beeld, Rapport en Beeld se bande was losser, maar was tog in mindere of meerdere mate in dieselfde dampkring.

Die eerste spitwerk vir die boek is vier jaar voor die eeufees in 2015 gedoen. Vosloo, toe uitvoerende voorsitter en ’n man met ’n hart vir dié soort sake, is in 2011 met ’n voorstel na die direksie dat prof. Rabe, hoogleraar en hoof van die departement joernalistiek van die Universiteit van Stellenbosch (ook ’n oud-redakteur van die tydskrif Sarie), die ambisieuse projek aanpak. Die direksie het ingestem. Vosloo se idee was ’n gesaghebbende historiese werk in Afrikaans en Engels.

Die deeglike Rabe het vier jaar lank per kontrak met Naspers die geskiedenis omvattend nagevors en te boek gestel. Vosloo, self ’n oud-joernalis wat meer as 40 jaar se geskiedenis persoonlik meegemaak het (en heelwat van die geskiedenis self geskep het) was haar klankbord. Geen ander span as Vosloo en Rabe kon daardie rolle beter vertolk het nie.

Bekker was aanvanklik nie ongeneë vir ’n jubileumboek nie. Maar in 2014, op ’n sabbatsjaar aan die vooraand van sy aanvaarding van die nie-uitvoerende voorsitterskap (sy tweede sabbatsjaar by Naspers), het bedenkinge klaarblyklik by hom posgevat. Drie afgesante – almal “inkommers” in die Bekker-era van ná 1998 – is na Vosloo gestuur om hom te probeer swaai om weg te stap van die boek-idee: Cobus Stofberg, ’n studentemaat van Bekker, later ’n vertroueling en mededirekteur van Naspers; Steve Pacak, finansiële direkteur, en Gillian Kisbey-Green, maatskappysekretaris.

Geeneen van die drie kon aanspraak maak op ’n diepgaande kennis van die “ou” Naspers nie. Soos te wagte kon wees, kon hulle nie by die gedugte Vosloo hond haaraf maak nie.

Bekker het egter nie die stryd gewonne gegee nie. Toe hy in 2015 met ’n nuwe hoed en die nodige gesag die tuig weer opneem, het hy sy voet dadelik dwars gesit. Hy stuit publikasie, het hy Vosloo luiters ingelig. Een rede vir die drastiese stap, volgens Vosloo, was Naspers se duisende swart werknemers. As die maatskappy se verlede van Afrikaner-nasionalisme opnuut oopgekrap sou word, sou hulle dit, na Bekker se oordeel, negatief beleef.

Dit sou ook die aandag van die ANC-regering onvriendelik op die maatskappy kon vestig. Gereguleerde besighede, soos die Multichoice-groep se geldkraan in sub-Sahara-Afrika, DSTV, en digitale ondernemings, kon in die gedrang kom, het Bekker, aldus Vosloo, gevrees. Vosloo het vasgeskop. Bekker se standpunt is verkeerd en sy vrese oordrewe, het hy betoog. Naspers se herkoms is algemene kennis. Maar so ook die hervormings wat die maatskappy van 1984 af in eie geledere teweeg gebring het, asook sy “gewillige en hoopvolle inskakeling” by die nuwe, demokratiese Suid-Afrika. Niks kon Bekker egter oortuig nie, en Vosloo se hande was afgekap.

In Februarie 2016, ’n jaar ná die eeufees, het Vosloo Naspers ná ’n uitmuntende loopbaan as redakteur, besturende direkteur en uitvoerende voorsitter gegroet. Sy afskeid was ’n glansryke dinee in die koloniale Mount Nelson-hotel aan die voet van Tafelberg. Met die gaste se aankoms is deftige dasse, strikdasse en serpe met afbeeldings van spesiale koerantvoorblaaie aan hulle uitgedeel – ’n ironiese weerspieëling van juis daardie historiese bagasie wat Bekker so ongemaklik maak. Van die mans het, aandpak ofte nie, daar en dan hul formele dasse met die nuwes vervang. Of Bekker die voorbeeld gevolg het, het ek ongelukkig nie opgelet nie.

In sy gemoedelike afskeidstoespraak het Vosloo die slepende warm patat versigtig geopper. Sy beroep op sy opvolger om sy teenkanting te laat vaar, het geen kik uitgelok nie. Ná die toespraak het Vosloo na Bekker oorgestap en ’n geselsie aangeknoop. Het hy hom in die verleentheid gestel met die beroep om ’n groen lig, wou Vosloo hoflik weet. Nee, het die enigmatiese Bekker geantwoord – en net geglimlag.

“Ek respekteer sowel Ton as Lizette en werk al jare lekker met albei. Oor die boek wat Lizette as ’n ‘amptelike geskiedenis’ van die maatskappy wou publiseer, verskil ons egter beleefd,” het hy in 2019 aan Dommisse gesê. Hy noem dat Naspers besighede (groot en klein) in 120 lande het.

Kan die boek wel nog gepubliseer word?  Bestaan so ’n kans? Strydom is in sy boek hieroor nie positief nie. Hy stapel trouens die getuienis op oor hoe die “ou” geskiedenis van die Nasionale Pers vir Bekker maar altyd ’n lastige albatros was wat hy graag in sakebelang volledig sou wou afwerp.

Selfs van die naam Nasionale Pers sou hy in sy geheel weggestap het as die vorige direksie nie ’n stokkie daarvoor gesteek het en die huidige kompromie, Naspers, nie bereik is nie, meen Strydom.

My sienswyse stem ooreen met Strydom s’n. ‘n Mens kan wel tog wonder of die kruispad wat die koerantwese nou bereik het, Bekker nie dalk tot ander insigte oor die historiese waarde kan bring nie. Die tafel is immers gedek vir so ‘n soort boek, nou amper meer as met die eeufees.

As hy gaan volhard dat die boek tot elke prys onder die hoed gehou gaan word, wil ‘n mens die hoop uitspreek dat ’n slim gaping gevind word om die Rabeboek – al is dit ten minste vir ’n beperkte gehoor – verby die enigmatiese Bekker te smokkel.

 Naskrif: Die maatskappy – voorheen die Nasionale Pers Bpk. – is in 1915 uit die nood van Afrikaners ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) gebore. Aanvanklik was Die Burger, “kind van smart en hoop”, sy enigste koerant – soos hy nou weer gaan word as die andersoortige Son buite rekening gelaat word.

Later het Die Volksblad, Beeld, Rapport, City Press en andere, asook, tydskrifte en boeke gevolg. Op 12 September 1994 is die maatskappy as die Nasionale Pers op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer. In 1998 het die naam Naspers geword.

In 2000 is al Naspers se koerante, tydskrifte en uitgewerye – as’t ware die ganse ou Nasionale Pers – onder een sambreel geplaas: die nuwe entiteit Media24 wat nou in die beoogde herstrukturering afgetakel word. ’n Naelstring is behou na Naspers wat ’n globale reus met hope vertakkings geword het.

(Vir die artikel is sterk gesteun op ‘n hoofstuk uit my jongste boek “Elke dag ‘n mooi meisie en ‘n moord”, Naledi 2023.)

WAARDIGE TUISTE VIR ‘N GOUDMYN VAN DIE GEES

Een brokkie Volksblad wat geen onsimpatieke direksiebesluit in die verre Kaapstad tot niet kan maak nie, is die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) se sierlike sandsteengebou in Pres.  Brandstraat, Bloemfontein, waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.

Hoe onmeetlik bevoorreg is my geliefde koerant nie dat so ‘n heenkome vir hom bestaan: ‘n plek waar ‘n mens kan instap en alles om jou heen herinner jou aan die omgewing waar jy jare van jou loopbaan geslyt het, of waar die produk vervaardig is wat jy elke liewe dag (buiten Sondae) in jou huis verwelkom het; ‘n vaste deel van jou lewenservaring.

In 2023 was die voorreg van so ‘n besoek hierdie veteraan uit die vorige eeu beskore. In die die geselskap van gewaardeerde kollegas kon ek ‘n uur of wat doerie dae se goue tye by die koerant in die nimlike Volksbladkamer gaan herleef.

Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie om op my ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar ek 12 jaar lank gearbei het nie, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit my kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.

Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat het ‘n lang geskiedenis.  Dit was ook die lessenaar van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). Hy was aan die stuur toe ek as sesjarige in ‘n skakelhuisie in Kimberley aan my oupa se voete Die Volksblad begin “lees” het.  Min kon ek toe dink dat ek in sy spore sou volg. In my era as redakteur (1980 – 1992) is die lessenaar tot sy huidige glorie vernuwe. Dit is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.

Die ander meubels in die vertrek is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié is verkoop en lyk bra bedremmeld.

Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.

Die gashere daardie dag was Wyno Simes en Annelien Diedericks van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok wat die redakteur sal wees wat einde September de deure finaal toesluit. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.

Kameras het natuurlik aanhoudend geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Die foto’s hierby is van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan), die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en die deur.

‘n Lewenservaring van enorme betekenis was dit vir hierdie 83-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die herbesoek aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.

Ek is diep dankbaar teenoort NALN wat die historiese waarde van die koerant gesnap en vir hom die tuiste gegee het en vir kollegas Gert Coetzee en Constant Steyn wat met die afronding hande uit die mou gesteek het. Ek is ook dankbaar teenoor daardie gedugte boekeman prof, Petrus Nienaber vir sy versiendheid om ‘n museum soos NALN tot stand te help bring.

Van hom gepraat: by die toekenning van die Taalfeeskomitee se goue medalje aan Die Volksblad in 1974 het hy gesê: “Blaai jy deur Die Volksblad (soos sy naam toe was) se lêer oor die afgelope 70 jaar kan jy die Afrikaner se taal- en kultuurgeskiedenis hieruit opstel. Die Volksblad is ’n bron nie net vir die politieke geskiedenis nie, maar veral ook vir ons kultuurgeskiedenis. Dit is ’n goudmyn.”

’n Goudmyn –  hoe verstom sou Prof. Petrus nie gewees het noe as hy moes weet dat hierdie goudmyn van die gees, soos sovele gewone goudmyne in die Vrystaatse aarde, in die jaar van ons Heer 2024 – presies ‘n halfeeu later –  by die einde van sy pad sou kom en dat net die kamer by NALN sal oorbly?

VOLKSBLAD SE ROL IS ONUITWISBAAR IN ELKE SFEER

In vanoggend (20 Junie) se Volksblad kyk ek in ‘n lesersbrief terug en vorentoe:

Afskeid is nooit maklik nie. Om afskeid te neem van die handelsmerk (Die) Volksblad  -‘n eeu lank ingegrawe in die volksiel van die Vrystaat en die sentrale hartland – is buitengewoon pynlik.

Die verlies is so omvangryk dat die instinktiewe reaksie is om in diepe ontsteltenis daarteen in opstand te kom, sondebokke te soek, te verwyt en blameer. Dit sou egter wees om die versene teen die prikkels te slaan, om ‘n ou Afrikaanse idioom af te stof.

Wat nou gebeur, is die voltrekking van ‘n lot wat onvermydelik in die lug was ná die skokbesluit in 2020 om die geliefde papierkoerant te sluit en vir solank as moontik op die syspoor van ‘n eie digitale platform voort te beur.  Die skrif was by daardie voorlaaste kruispad al aan die muur.

Die uitdaging by die finale kruispad is  om die donker dag met waardigheid te benader, nie instinkte te kaat botvier nie en nie net in bewoëndheid terug te kyk nie, maar ook doelgerig vorentoe, meen ek ná grondige nadenke oor die pakket ingrypende besluite wat deur Media24 aangekondig is .

Terugkyk op sy meer as ‘n eeu van diens aan ‘n gemeenskap waarmee hy soos geen ander koerant met geen ander gemeenskap nie verstrengel was, kan ons koerant met onverbloemde trots.  In elke geskiedenis in elke sfeer is sy rol onuitwisbaar, van die kultuur tot sport. In sy verskillende formate het hy in opeenvolgende geslagte ‘n ingeligte  openbare mening in stand help hou, as waghond gedien vir behoud van waardes, by kruispaaie koers help soek, in triomfe saamgejuig en in hartseer saamgetreur. Hy was ook ‘n broodnodige bastion vir Afrikaans. Sy lesers – in ‘n stadium oor 30 000 per dag – eer hom daarvoor.

Oor my eie verbintenis met die koerant in twee skofte van 12 jaar elk is ek innig dankbaar. Die ervaring was vervullend en verrykend. So beleef almal dit wat kon deel in die voorreg om as Volksbladders oor sy drumpels te stap, glo ek.  Uit ons dankbaarheid kry ons versterking wanneer die tentakels van ‘n skouspelagtige nuwe tegnologie, die sweepklap van ekonomiese werklikhede en nuwe bestuursinsigte ons sanctum so revolusionêr binnedring soos nou.

Dankbaarheid moet ook betuig word dat Volksblad-lesers darem nie vir die wolwe gegooi word nie.  Netwerk24 is immers sterk ingegrawe en glad geolie om, ten minste wat harde nuus betref, die groter vakuum wat ontstaan, te vul. Alle oë is op Netwerk24 gerig om die aflosstok met mening vorentoe te dra en die Afrikaanse joernalistiek in sy volle omvang met toewyding en kundigheid te bly dien soos die Volksblad-gemeenskap  gewoond was om gedien te word.

 

BOETE OOR JOPIE

Op die voorblad van Albert Blake se afgewagte biografie oor Jopie Fourie pryk ‘n mooi foto van die jong Boererebel, let ek op. Ek wonder of Blake weet van die tyd toe dit onwettig sou wees en vir hom ‘n boete op die hals kon haal.
Ton Vosloo het in daardie slagyster getrap. Rondom 1980 is hy in die Johannesburgse landdroshof met R1 000 beboet omdat Beeld in die bylae BY ‘n foto geplaas het van Fourie wat in 1915 tereggestel is deur Louis Botha se regering.
Die foto is sonder Vosloo se medewete geplaas. Hy is egter as redakteur van Beeld gedagvaar – dalk was Jimmy Kruger nog minister van justisie wat sy mes ingehad het teen koerante !
Vosloo het nie R1000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem, vingerafdrukke geneem , maar hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.
Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou Vosloo ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kon benadeel het!
Ekself moes in die 80’s by Die Volksblad ;n boete van R100 opdok oor ‘n foto wat By, ook sonder my medewete, van Dmetrio Tsafendas, moordenaar van dr. HF Verwoerd, geplaas het.
Gelukkig het tye in die opsig verander. Blake hoef nie ‘n boete – of, erger, die tronk – te vrees nie!