STEMDAG MET ROSETTE EN PANNEKOEK
Toe ek vanoggend my kruisie trek, kom die gedagte onwillekeurig op: Is dit dalk my laaste?
Miskien is die gedagte gestimuleer deur die wete van my vriend Pièrre Theron wat in die waakeenheid op Mosselbaai is en so graag “vir oulaas” wou stem. Ek en hy is ewe oud: 83.
Vanoggend was ons by die Melkbosse biblioteek ‘n handjie vol seniors wat vir spesiale stemme geregistreer is. Van net een party was daar buite ’n teenwoordigheid. Die DA het ‘n blou tentjie opgeslaan, beman deur twee jong vroue van Atlantis. In ‘n bottel op hul tafel was ‘n hoop blou lekkertjies. Daar was ook ‘n blou ballon of twee.
Woensdag sal dit ongetwyfeld anders lyk, maar voor my siel weet ek ‘n gedoente soos my eerste verkiesing 63 jaar gelede sal dit nie naastenby wees nie. Kulture het te veel verander.
Daardie verkesing was op 18 Oktober. Dit was die eerste ná Republiekwording.
Omdat ‘n mens brandstofkoepons (en iets te ete) verwerf het, het ek die dag klasse afgegee en met my Peugeot 203 (1953-model) vir die Nasionale Party gaan kiesers aanry. Van my passasiers was duidelik verras met die toestand van hul rytuig.
Watter miernes was dit nie nie by die stembus nie. Die NP, Verenigde Party, die Progressiewe Party en die Nasionale Unieparty van Japie Basson en oud-regter Henry Fagan het elk ‘n goed bemande tent gehad. Oral het mense met groot party-rosette op die bors geparadeer.
Vroue het lustig pannekoek gebak, en dalk ook worsbroodjies gemaak, maar oor laagenoemde is my geheue vaag.
Die NP onder dr. HF Verwoerd het ‘n groot sege behaal. Van die Japie Basson-party was dit net hyself wat verkies is. ‘n Betekenisvolle ontwikkeling in die opposisiepolitiek was die verrysenis van Helen Suzman wat tot 1974 die enigste Prog-LV sou wees.
Die Nasionale Party het ‘n borsbeeld van CR Swart, eerste staatspresident, uitgeloof aan die Tukkie-koshuis wat hom die beste ondersteun het. Kollegetehuis het gewen.
Dr, Nic Diederichs, minister van finansies, het die beeld die aand met die huisdinee kom onthul, Magtie, maar die man kon nie ophou praat nie. Die keelvol Kollegemanne het later uit frustrasie met hul vingers op die glasies se rande begin vryf. Al hoe luider het die glasiemusiek opgeklink, maar dr. D laat hom nie van koers bring nie.
Van Deventer neem die aand oor as huisvoorsitter by Vos Grey. Die gedrag van my mede-Kollegemanne ontstem die nuwe voorsitter. Hy is op en af tussen die tafels en pleit om stilte.
Dr, D kry uiteindelik tog die boodskap en gaan sit vies. Mev. Marga D – altyd maar “high” en “mighty” – lyk of sy wil moord pleeg. Die Kollegemanne skink dat dit klap en drink hul heildronke op al wat roer.
Wat my Sapvriende van die hele besigheid gedink het, het ek hulle nie gevra nie. Nou leef net een van wie ek nog weet.
Foto: Die aand van die woelige huisdinee. My meisie is Donelle du Toit. Voor is Daan van der Merwe, SR-voorsitter, en Oom Chris en Tannie Rina de Wet, huisouers. Daan het mettertyd politikus geword, eers LV van die NP en later LV van die KP.
FLIEK BY MY VOORSTOEP
Soos ‘n hond met twee sterte was ekke oor die helikopter-aksie vandeesweek hier by my voorstoep terwyl die internasionale rolprent Huntington op Melkbos geskiet is.
Nogal ‘n kawalt van ‘n ander wêreld as die internasionale fliekmakers op jou stukkie aarde toesak om ‘n aksierolprent te vervaardig. Op my drumpel as’t ware.
Die parkeerterrein hier neffens ons onder in Strandstraat was van vroeg – nog donker gewees – al die ene bedrywigheid met groot vragmotors en ander voertuie – plus twee helikopters wat rukke in die lug hang en dan weer wegwoer, en ‘n hommeltuig.
Selfs Strandstraat se onderpunt is gesluit. Ons arme Melkbossers kon nie naby kom nie. Die eintlike rolprentaksie was by Flamingostraat 13, twee strate suid van ons.
Een van die tonele behels dat ‘n hoofkarakter in die prent in ‘n helikopter van die see se kant na daardie huis vlieg. Hy spring uit die helikopter in die swembad. Hy hardloop daarna deur die huis tot op die strand, spring op ‘n waterponie (jet ski) en verdwyn oor die oseaan.
Die hoofrolspeler (Glen Powell) spring vervolgens selwers op ‘n waterponie en sit hom agterna. Pure James Bond. (Die ander sterre is Margaret Qualley.en Ed Harris.)
Waarom al die vragmotors nodig is, moet hierdie leek maar net raai. Een is gemerk “media”, Dalk moes ek rondom ‘n etebreek myself gaan presenteer het in twee hoedanighede: oud-mediaman en belanghebbende, naasliggende huiseienaar.
Solank ek net nie in die rol van ekstra gedwing sou word wat ook sulke waaghals-toertjies moes uitvoer nie. HvD op ‘n waterponie wat oor die Atlantiese oseaan skeer – watse kamee sou dit nie wees nie!
Die huis op die foto’s is buurman Dale Schreuder s’n. Die gras, vetplante en tuinmuurtjie behoort aan die Van Deventers. (Geen grondeise nie, asseblief.)
HAAL AF, HAAL AF!
V
erkiesingsplakkate met slim en minder slim slagspreuke is tiekie die bos voor a.s. Woensdag se verkiesing. Elke party wil elke ander party se boodskap oortroef of verdwerg. Rusies vlam op oor kwessies soos pariodiëring van plakkate, verwydering van plakkate weens munisipale regulasies, ens.
‘n Bloemfonteinse onderonsie oor plakkate wat, soos in ander gevalle, ook Engelse Sondagkoerante gretig laat meedoen het, was voor die verkiesing van 6 Mei 1987.
Die KP-kandidaat vir Bloemfontein-Oos, dr. Herholdt Pauw, ‘n internis, het op Donderdag 30 April KP-plakkate reg voor Die Volksblad se hoofingang in Voortrekkerstraat laat opsit. Ek (redakteur van die koerant) het dit summier deur die sekuriteitsafdeling laat verwyder. Opdrag is gegee dat vervangende plakkate ook dadelik moet af.
Een rede was dat dit, volgens my, moedswillige uittarting was. Nêrens anders in Voortrekkerstraat, so ver die oog van Die Volksblad af kon sien, was KP-plakkate nie. Ten tweede was dit onesteties voor ‘n gebou waarop die landsvlag en ‘n Naspersvlag daagliks wapper, en die koerant se eie plakkaat in ‘n netjiese, argitekontwerpte houer met ‘n glasdeksel vertoon word.
Vroeg die Vrydagoggend was die polisie in my kantoor; ‘n sers. Schoeman van die uniformtak, vergesel deur ‘n jong kollega. Ek het ‘n beëdigde verklaring afgelê oor my beweegredes. Schoeman is ook meegedeel dat die plakkate onbeskadig by Die Volksblad vir hul eienaars beskikbaar is.
Die Vrydagnag probeer die KP’s toe weer hul plakkate opsit. Ons sekuriteitsmense het dit vinnig verwyder. ‘n KP-gesinde polisieman, speurder-sersant John Redman, ”ontdek” daarna die “vermiste plakkate” kamma dramaties in ons gebou – en Pauw laat geen gras onder sy voete groei nie om al wat ‘n Sondagkoerant is (en die SAUK) die wenk te gee dat ‘n klag van diefstal van KP-plakkate ondersoek word.
Die Sunday Star en die Sunday Tribune het darem my kommentaar gevra; die Sunday Times het sommer net Pauw en Redman se stories gesluk en gepubliseer: dat ”a complaint of theft of Conservative Party election posters is being investigated against certain members of Die Volksblad newspaper in Bloemfontein”.
Die einde van die sage was pragtig. Die KP wou vir Die Volksblad ‘n wip stel. Toe kry hy ‘n bloedneus. Die senior aanklaer het geweier om te vervolg nadat ons aan hom kon uitwys dat ‘n munisipale regulasie die aanbring van enige plakkaat teen ‘n lamppaal verbied – ‘n vriendelike wenk van die Minister van Justisie, Kobie Coetsee.
Die ontnugtering vir Pauw en sy mense het heelwat vrolikheid in Bloemfontein veroorsaak. Vir die SAP was dit ‘n verleentheid dat van sy senior lede met die KP dwaaslik saamgespeel het om ‘n kwaadwillige klag te prakseer – duidelik uit politieke dienstigheid.
Woensdag gaan ons stembus toe sonder Die KP en, helaas, ook sonder Die Volksblad as gedrukte koerant. Als dus vergeefs gewees, maar adrenalien het gepomp.
IDEAAL VIR WEGKOM

Slinger-slinger deur die ruuste van ruwe rotse kies die klipperige grondpad koers van die sendingstasie Zoar se kant op die bekende R62-roete tot by Laingsburg op die N1. Die oggendson bak uit ‘n blouselblou lug op die asemrowende rotsformasies .
Dit is die indrukwekkende Seweweekspoort wat jou deur die Klein Swartberge vat van die Klein Karoo na die Groot Karoo op ongetwyfeld een van die skilderagtigste roetes in Suid-Afrika wat jy sonder ‘n 4 x 4 kan aandurf.
Die Swartbergpas in die Groot Swartberge is ‘n beroemder pas wat die toeriste in groot getalle lok. Hierdie kleinboet in die Klein Swartberge het nie daardie verstommende haarnaald-draaie nie, maar kan as ‘n stuk aangrypende natuurskoon amper in dieselfde asem genoem word. Hy verdien ‘n groter reputasie.
So glo hierdie berg-bewonderaar ná ‘n kennismaking met die Poort vandeesweek nadat ek voorheen telkens by daardie padbord op die R62 verby is Oudtshoorn toe sonder om af te draai. Hoe bly is ek nie dat ek op my oudag myself die ervaring gegun het nie.
Die Poort is 17 km lank en bereik op 1 018 meter sy hoogste punt. Dit is nie net ru, breed en bonkig nie, maar ook hemelhoog.
Die pad kruis die Seweweekspoort rivier (ook genoem Huisrivier), ‘n tak van die Gamkarivier, nie minder nie as 30 keer. Pas op om daar te gaan ry as dit reën of goed gereën het.

‘n Merkwaardige stukkie geskiedenis is dat in die 1850’s met behulp van gevangene-arbeid begin is om die pad langs die rivierloop te bou. Ná weinig vordering is die taak in 1860 aan AG de Smidt, swaer van Thomas Baine, opgedra. Die pad is in November 1862 voltooi en is ná ‘n eeu en ‘n half steeds in gebruik, veral deur toeriste.
aar kom die vreemde naam vandaan? Een teorie is dat dit genoem is na eerw. Louis Zerwick van die Berlynse Sendinggenootskap. In die volksmond het Zerwickspoort deur die jare heen Seweweekspoort geword, want die bevolking het die seweweeksvaring geken.
Blyplek is o.m. te vind in die Aristata-oord met drie selfsorghutte en ‘n selfgeboude swembad met helder bergwater. Die oord is in ‘n natuurskone kom met hoë bergwande. Die water sien nooit ‘n korrel chloor nie. Dis ‘n idelae plek om van alles weg te kom.
(Vir foto’s kan jy net mik en kiek. Hier is ‘n seleksie van myne. Dit sluit die ongewone swembad in)