Jan 4, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vir my is iets simbolies daarin te lese dat die nuus van radioman Edwill van Aarde se dood my bereik terwyl ek op TV die krieket-treurmare op Nuweland moet sit en aanskou. As Afrikaanse krieketkommentator was hy by uitstek in ‘n klas van sy eie, ‘n pionier en ‘n meester van sy vak.
Edwill (85) se nalatenskap is natuurlik veel wyer as krieket: op radio en TV. Elders is reeds en sal nog heelwat uitgewei word oor deurlugtige programme wat hy aangebied het, soos “Flinkdink” op TV en “Afrikaanse Treffers “op RSG, as dit toe al die naam was. Daarmee het hy diep spore getrap, soos FAK- en ATKV-eerbewyse getuig.
Maar krieket in Afrikaans: daarmee was hierdie tydgenoot – ons was albei in 1957 in matriek – vir my soos vinkel en koljander. Wie getel het, weet ek nie, maar dat hy nagenoeg 517 krieketwedstryde uitgesaai het, soos ek elders lees, glo ek goed. (Hy het glo ook 134 rugbywedstryde, 12 Comrades-marathons en vyf Wimbledon-eindrondes uitgesaai).
Van sy spesiale krieketuitsendings bly my by, soos sy eerste van Lords af, wat ook ‘n eerste in Afrikaans was, Wat ek veral onthou, was sy gedurige speurtog na die beste Afrikaanse terme vir veldwerkposisies, houe van ‘n kolwer en balle van ‘n bouler. ‘n Keer was ek en hy in korrespondensie oor ‘n voorstel van my wat in my oë nogal meriete gehad het. By hom het dit egter nie byval gevind nie. Het ongelukkig vergeet wat dit was.
Keer op keer het hy en sy gretige medewerkers aan hierdie verruiming in Afrikaans met netjiese nuutskeppings vorendag gekom . Ek dink vinnig aan die kieliehou, die slagysterposisie vlakvoor die kolwer en die onspeelbare goëlbal. Hoe’s daai vir jou – dis mos Afrikaans!
Kommentators werk deesdae in spanne en wissel mekaar gedurig af. In die ou dae was dit egter ‘n solovlug. Soos ‘n marathon-hardloper eenvoudig net kon aanhou en aanhou draf, kon Edwill net aanhou en aanhou praat – keurig en korrek.
Vir die krieketplesier wat daardie pefeksionis hierdie lewenslange entoesias besorg het, sal ek hom ewig dankbaar bly.
Naskrif: Op ‘n ander noot kan ek nie help om te wonder nie of Worsie Visser-aanhangers Edwill ooit vergewe het vir sy onwrikbare standpunt dat “Boesmanland, vat my hand” nie vir insluiting in sy program “Afrikaanse treffers” kwalifiseer nie. Dit was vir hom net nie goed genoeg nie en basta.
Jan 4, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Iemand, veel jonger, vra my gister op my 83ste na ‘n lewensles. Sonder nadenke kom my antwoord: waak teen te lank.
Waarskynlik kan die antwoord, en die snelheid waarmee dit afgevuur is, verbind word met ‘n geleentheid wat onlangs bygewoon is. Daardie een is werklik ver by sy natuurlik einde verby.
Ek begin toe ‘n lysie maak: feeste, konserte, kerkdienste, preke, toesprake, prysuitdelings, dinees, partytjies, kuiers, telefoongesprekke … In my lewe was daar hope waar ek wanhopig op my horlosie begin loer het.
Laat my gerus ook maar introspeksie doen. Natuurlik was ekself in my lewe nie onskuldig nie. Meermale het ek voortgedreun as ek lankal moes gaan sit het. Of aanhou skryf as my sê al lankal gesê was.
‘n Kollektiewe verskoning is aangewese aan almal wat onder my hand onder die ongelukkige verskynsel van sogenaamde “woord-skittery” gely het. Al was my beweegrede dalk ook rein en onbesproke, was dit onvergeeflik. Vergewe my, asseblief.
Maar hoekom word grense so maklik oorgesteek? In ‘n sekere sin het dit met voorbereiding te make. Ek onthou ‘n storie van iemand wat iets sou gesê het soos: ‘n uur se toespraak kan ek in 10 minute voorberei; vir een van tien minute verg dit ‘n uur.
Dis nie al rede nie. Party mense is eenvoudig verlief op hul eie stemme of oorskat die waarde van hul eie insigte en spitsvondigheid. Al was Hamlet hul voorgeskrewe Shakespeare in matriek het hulle skoon vergeet van Polonius se wyse woorde: “Brevity is the soul of wit” (”and wisdom”, wil ‘n mens byvoeg).
Sommige het die skewe opvatting dat van hulle verwag word om eindeloos voort te borduur ten einde reg aan ‘n geleentheid te laat geskied. Ek ken mense wat die kuns ken om selfs ‘n dankwoord so woordryk uit te rek dat dit later dreig om die hoofrede na die kroon te steek.
Die etiket “te lank” geld natuurlik nie net interaksies met mense soos hierbo genoem nie. Mense klou soms te lank aan ‘n posisie vas en sportmanne hou verby hul rakleeftyd speel uit die dwase opvatting dat hulle onvervangbaar is.
Die waarheid oor die waan van onvervangbaarheid is immers opgesluit in ‘n ander storie wat ek ken. Druk jou hand in ‘n emmer water. Die gat wat oorbly as jy dit uithaal, so onvervangbaar is jy.
In party gevalle het jy natuurlik kwalik ‘n keuse. Jou base hou jou amper lewenslank in jou pos en gee jou nooit die kans om iets anders te doen nie. As jy te lank bly leef, is die reg, die mediese wetenskap en die waardes van die gemeenskap weer struikelblokke wat jou eie ingryping verhinder.
Meesal is die keuse egter jou eie. Kies dan reg, beveel die 83-jarige oom jou ernstig aan. Moenie afskeep nie, maar pas tog maar op vir die versoeking om net aan te hou, en aan te hou en aan te hou. Laat “brevitas” jou leuse wees.
Om ‘n langasem te wees, wek gewoonlik meer weersin as bewondering en rig aan jou beeld oneindig groter skade aan as wat dit vir jou statuur gee. Glo my maar. Ek praat uit ondervinding.
Jan 1, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In Joan Kruger se boek ”Wieg” laat sy o.m. die lig val op ‘n kranige dr. Hendrik van Deventer, een van Nederland se voorste geneeshere in die 17de eeu. Verloskunde is een van sy vele kundighede, en hy skryf in 1701 ‘n lywige werk waarin hy “een nieuwe ligt” vir aspirant-moeders en vroedvroue laat opgaan oor regte en verkeerde maniere van doen by kraamgevalle.
Dr. Van Deventer stel ‘n lys met allerlei vereistes vir vroedvroue saam. Van sy insigte is byvoorbeeld dat hulle nie “ligsinnig, driftig of praatsiek”moet wees nie.
Van sy ander vereistes (soos die uiterste higiëne) sal ongetwyfeld vir vroue relevant of ten minste interessant kan wees, maar synde ‘n leek grawe ek nou nie te diep aan my genant se skrywes nie. Lees daarvoor liefs Joan Kruger se boek of sy magnum opus self, as jy dit iewers kan vind.
My belang in die saak is n boodskap wat ek óor die onderwerp van wakker oud-kollega Tobie Wiese ontvang het
Ek lei af hy lees op die oomblik “Wieg”. Met prysenswaardige bedagsaamheid lig hy hierdie HvD oor die bestaan van daardie onbekende een in. In die skryfstyl bemerk hy selfs ‘n (vleiende) ooreenkoms wat hom laat dink dat laasgenoemde ‘n voorsaat moet wees.
My eerste reaksie was dat ek met toenemende bewondering van die genant lees. Sy terrein van kundigheid laat my egter twyfel oor enige gemeenskaplikheid, al sal ek my nie teen die suggestie verset nie. Dit is wat ek vir Tobie terug laat weet.
By besinning is dit egter juis die goeie arts se terrein van kundigheid wat by my kom spook en selfs ‘n onderlangse glimlag (geen bybedoeling met die gebruik van die woord “onderlangs” nie) uitlok. Daartoe dra die woorde van die Duitse skrywer Karl Gutzkow by. Joernaliste is die vroedvroue en grafgrawers van hulle tyd, het hy gemeen. Dit is woorde wat ek in my “Flaters en kraters” uit die 90’s goedkeurend aanhaal. Ek behoort dit te onthou het.
Soos vroedvroue is joernaliste immers by die geboorte van nuwe geskiedenis betrokke, nes hulle soos grafgrawes by die einde van eras ‘n kritieke bydrae lewer.
Klaarblyklik het ek te onnadenkend en te gou die bestaan van “enige gemeenskaplikheid” tussen daardie HvD se terrein van kundigheid en my eie ontken. Dit was ‘n slordige en oppervlakkige redenasie.
‘n Tweede gemeenskaplikheid is in die proses van koerantmaak te bespeur: ‘n dinamiese akiwiteit wat met ‘n daaglikse konsepsie begin. Al hoe swangerder en swangerder raak dit deur die dag terwyl die volume van die baba groei en visuele waarnemings toenemend moontlik raak. In ‘n stadium raak die geslag (karakter van die dag se koerant) duidelik. Leemtes kan geïdentiseer raak en reddende ingrepe is soms moontlik.
Ook in die idioom van die joernalistieke vaktaal is ooreenkomste te vind. Veral in skeppende skryfwerk soos hoofartikels en rubrieke kom die kraam-begrip dikwels te berde. Dat iemand nog vinnig ‘n geskrif moet gaan “kraam” het ek dikwels gehoor, ook dat iemand aan ‘n bepaalde stuk werk swaar “gekraam” het.
Van moeilike “bevallings” word ook gepraat – veral as op nommer 99 iets onverwags gebeur wat die proses dramaties op sy kop keer.
By hoeveel sulke “bevallings” – heuglik en minder heuglik – was ek nie persoonlik die “vroedvrou” nie. Maar genoeg hiervan.
Ek sal tog vir Tobie ‘n vervangende boodskap moet stuur, lyk dit.
Jan 1, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In my jare as nuusredakteur in die 60’s en 70’s was een van die eerste inskrywings in die dik dagboek op my lessenaar elke jaar: Herinner oor tjeks. ‘n Roetineberig was om mense daaraan te herinner dat die jaartal aangeskuif het.
Vergeet jy dit op jou tjek, het jy vir jouself ‘n bose boel sonde gesoek. So ‘n tjek is summier afgekeur. Dit was nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.
Tjeks bestaan natuurlik lankal nie meer nie. Maar wie van die ouer garde het nie ‘n keer of wat – dalk meer keer – die sware ontnugtering beleef van ‘n tjek wat geweier word nie? “VNT” is daarop geskryf: “Verwys na trekker”. Ons het sommer gepraat van ‘n tjek wat gehop het.
En nie almal wat vir hul geld gewag het, was ewe geduldig met jou ekskuse en verduidelikings oor nou “ligte mistykie”nie.
Die keer toe ek dit self oorgekom het, onthou ek met ‘n brandpyn in my buikholte. Dit was jare na my nuusredakteurskap. Trouens, ek was al afgetree. Ludie de Jongh van Melkbos het aan my huis bouwerk verrig en is weekliks per tjek vir sy dienste vergoed.
Toe kom hy – in Januarie 1999, as ek reg onthou – een oggend skoorvoetend hier aan met die slegte nuus. Absa weier my tjek.
Ek was woedend. Wat my nog ‘n paar kerwe kwater gemaak het, is dat kollega Piet Theron van Die Volksblad en sy vrou, Petro, op besoek was. Hulle kon nie juis anders as om agter te kom hoe die wind waai nie. Bittere verleentheid!
My rekening was by die Heerengracht-tak in die stad. Die bestuurder was die bedaarde Jurie Blom. Ek skree bra onbeskof in sy oor dat ek dadelik my rekening sluit. Absa sien my nie weer nie.
Later dring dit deur die arme Jurie en sy tak is onskuldig. Tjeks word sentraal hanteer deur mense vir wie jy net ‘n rekeningnommer is, nie ‘n gesig nie.
Nog later word die rede vir die weiering bepaal. Die uwe het vergeet om die jaartal met die jaarwisseling aan te pas. Sy tjek is dus reeds ‘n jaar oud.
Jammer, Ludie. Jammer, Jurie. Jammer, Piet en Petro, dat ek my so sleg gedra het.
Jare later loop ek en Jurie mekaar op die dek van ‘n vakansieskip raak. Hy stel my aan mev. Blom voor en verneem na my gesondheid. Toe, met ‘n skewe glimlaggie: “Is mnr. Van Deventer nog so kwaai?”