Vir my is iets simbolies daarin te lese dat die nuus van radioman Edwill van Aarde se dood my bereik terwyl ek op TV die krieket-treurmare op Nuweland moet sit en aanskou. As Afrikaanse krieketkommentator was hy by uitstek in ‘n klas van sy eie, ‘n pionier en ‘n meester van sy vak.
Edwill (85) se nalatenskap is natuurlik veel wyer as krieket: op radio en TV. Elders is reeds en sal nog heelwat uitgewei word oor deurlugtige programme wat hy aangebied het, soos “Flinkdink” op TV en “Afrikaanse Treffers “op RSG, as dit toe al die naam was. Daarmee het hy diep spore getrap, soos FAK- en ATKV-eerbewyse getuig.
Maar krieket in Afrikaans: daarmee was hierdie tydgenoot – ons was albei in 1957 in matriek – vir my soos vinkel en koljander. Wie getel het, weet ek nie, maar dat hy nagenoeg 517 krieketwedstryde uitgesaai het, soos ek elders lees, glo ek goed. (Hy het glo ook 134 rugbywedstryde, 12 Comrades-marathons en vyf Wimbledon-eindrondes uitgesaai).
Van sy spesiale krieketuitsendings bly my by, soos sy eerste van Lords af, wat ook ‘n eerste in Afrikaans was, Wat ek veral onthou, was sy gedurige speurtog na die beste Afrikaanse terme vir veldwerkposisies, houe van ‘n kolwer en balle van ‘n bouler. ‘n Keer was ek en hy in korrespondensie oor ‘n voorstel van my wat in my oë nogal meriete gehad het. By hom het dit egter nie byval gevind nie. Het ongelukkig vergeet wat dit was.
Keer op keer het hy en sy gretige medewerkers aan hierdie verruiming in Afrikaans met netjiese nuutskeppings vorendag gekom . Ek dink vinnig aan die kieliehou, die slagysterposisie vlakvoor die kolwer en die onspeelbare goëlbal. Hoe’s daai vir jou – dis mos Afrikaans!
Kommentators werk deesdae in spanne en wissel mekaar gedurig af. In die ou dae was dit egter ‘n solovlug. Soos ‘n marathon-hardloper eenvoudig net kon aanhou en aanhou draf, kon Edwill net aanhou en aanhou praat – keurig en korrek.
Vir die krieketplesier wat daardie pefeksionis hierdie lewenslange entoesias besorg het, sal ek hom ewig dankbaar bly.
Naskrif: Op ‘n ander noot kan ek nie help om te wonder nie of Worsie Visser-aanhangers Edwill ooit vergewe het vir sy onwrikbare standpunt dat “Boesmanland, vat my hand” nie vir insluiting in sy program “Afrikaanse treffers” kwalifiseer nie. Dit was vir hom net nie goed genoeg nie en basta.
Deel dit: