Jan 19, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Verskeie skeepvaarte moes in die afgelope,paar dae gekanselleer word weens toenemende gevare vir skeepvaart op die Rooisee. Een wat in die slag gebly het, is die die terugtog van die MSC Splendida na sy tuiswaters by Genoa.
Die veiliheidsituasie in die Midde-Ooste herinner aan die verrassingsaanval deur seerowers op die MSC Melody in 2009. Die rowers het blindelings met hul handgranate en AK 47’s op die skip losgebrand
Die gesagvoerder. kaptein Ciro Pinto, het laataand – toevallig juis oor die onwaarskynlikheid van seerowery in die geweste – met Suid- Afrikaners by ’n kroeg sit en ginnegaap. Twee verskrikte passasiers kom toe aangehardloop met die skoknuus: “Ons word deur seerowers aangeval!”
Hulle het hortend vertel van ’n snelboot by die boeg, en van dapper passasiers se stryd om die vasberade aanvallers af te weer.
Kaptein Pinto is vinnig brug toe om alarm te maak. Hy het dadelik die kluis oopgesluit en pistole aan die Israelse veiligheidsmanne aan boord oorhandig. ‘n Skietery oor en weer het ontstaan.
Dit het soos “oorlog gevoel”, het kaptein Pinto later vertel. ’n “Honderd koeëls” het om die koppe van die veiligheidsmanne gefluit. ’n Veiligheidsman het ’n ligte kopwond opgedoen en ’n passasier is in die been getref.
’n Reddingsboot asook talle patryspoorte is stukkend geskiet. Die kort, hewige skermutseling is deur die veiligheidsmanne en passasiers gewen. Die aanvallers is verdryf en later aangekeer.
Een van die passasiers op die MSC Melody tydens die aanval was mev. Ria Schutte van Danabaai, by Mosselbaai. Haar vertelling laat ‘n mens se hare rys. Die tumult het losgebars terwyl die meeste passasiers op ’n binnedek na operasangers sit en luister het, het sy vertel. Eensklaps het geweerskote met die applous gemeng.
Die gehoor het net vuurvonke gesien soos die aanvallers met handgranate en AK 47’s op die skip lostrek. Haar man, Koos, het dadelik gesnap wat aan die gang is. Hy skree toe vir die gehoor: “Val plat, down, down.”
Passasiers moes dringend na hul kajuite terugkeer en is beveel om geen ligte aan te sit nie. Hulle trek toe maar sweetpakke en hul oranje reddingsbaadjies aan en wag … Sy gryp net haar pêrels, ID-boekie, ’n bottel water en jamaikagemmer vir naarheid as vlug in die reddingsbote hul voorland sou wees.
Die nag het verder rustig verloop. Die oggend loer Koos versigtig by die deur uit. “Meneer kan maar gaan ontbyt eet,” stel een van die kajuitpersoneel hom toe gerus.
Die volgende middag het ’n Spaanse oorlogskip en ’n helikopter hulle verder tot by die Suez kom begelei. Daarna is saam met ’n vliegdekskip gevaar. Die ervaring was nogal “skrikwekkend”. Sy sal nietemin graag weer daarheen gaan.
- Uit my boek “Na verre hawens” (Naledi, 2019)
Jan 17, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die Slag van Blaauwberg in 1806 was ‘n week of wat gelede ter sprake met die herdenking daarvan – en ‘n omvangryke algemene onkunde oor die belangrike skakel in die SA geskiedenis het daarmee aan die lig gekom. Wie, wat, waar? So wou mense op Facebook weet.
Elke moontlike vraag oor die slag net buite Melkbos (wat die Britte in beheer geplaas het van die Kaap) word beantwoord in ‘n formidabele boek Battle for the Cape 1778 – 1806 deur Ian van Oordt en sy vrou, Barbara, van Pinelands. Ek was so bevoorreg om iemand se kopie te lene te kry.
Die boek van 548 A4-bladsye (ja, dit weeg 2,3 kg!) het 15 jaar se intensiewe navorsing geverg. Die Slag van Blaauwberg op 8 Januarie 1806 en die impak van die Britse oorwinning oor die Hollanders word in besonderhede beskryf.
Eerstehandse ooggetuieverslae is in argiewe oor die wêreld heen opgespoor Die skrywer het uiteindelik nie minder nie as 8 000 foto’s van oorspronlike dokumente gehad.
Die skildery op die voorblad is ‘n opdragwerk deur Estelle Laubscher.
Die boek kos R1 500. Dis egter nie asof ek dit hier probeer bemark nie, want dit is op die oomblik uit druk.
Jan 7, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Spotprentjie deur Fred Mouton met sy aftrede: hy oorhandig die “pakkie”aan Wiets Beukes.
As spreker – dikwels impromptu by konferensies en etes – en as storieverteller met ’n unieke styl, ’n monumentale humorsin en ’n skatkis vol kwinkslae, anekdotes en slimstories het Piet Cillié, redakteur van Die Burger en later voorsitter van die Nasionale Pers, nie sy gelyke gehad nie. Waar hy aan die woord was, is aanhoudend gedawer.
Ek het in die Piet Cillie-skatkis gaan delf na aanleiding van die tamaaie reaksie op een van sy stories wat ek pas as kommentaar by ‘n Facebook-plasing opgesit het. Dit is die storie van die Boer wat gebid het: “Ons weet die Engelse is ook U kinders. Hulle bid nes ons vanaand. Nou vra ons: Bly U tog maar more uit die geveg. Dan skiet ons hulle fyn en flenters. “
Die laaste keer dat ek gesien het, was die duime in die lug by die kommentaar op pad 100 toe en was daar reaksies soos “uitstekende storie” en “wat ‘n praktiese en nugtere gesprek was dit nie met God!”
‘n Cilliéstorie wat hom skynbaar nooit ophou plesier gee het nie, is van ’n pa wat ’n onwillige jong man gaan aantree het om met sy dogter te trou. “Maar sy is swanger, meneer!” “Ag, darem net so ’n bietjie.” Dan lag hy snorkend uit sy maag.
’n Grappie wat ook dikwels afgestof is, is van ’n lekeprediker wat almal iewers individueel konfronteer met die dringende vraag: “Are you saved?” ’n Koerantman antwoord: “I’m from the press.” “Sorry, sir,” sê die lekeprediker, en skuif aan: “Are you saved? Are you saved?”
Hy het graag vertel van die plattelandse redakteur wat sy tikmasjien so hamer. “Wat skryf jy so woes?” vra iemand. “Ek gee Choesjtsjof (destydse Russiese leier hel!” (Terloops, dis hoe ons Chroesjtsjof in my dae gespel het.)
Toe hy met sy aftrede op Stellenbosch professor word, was sy kwinkslag: ‘n Professor is iemand wat al hoe meer weet van al hoe minder; ‘n koerantman weer iemand wat al hoe minder weet van al hoe meer.
Cillié had ‘n rits anekdotes, nommerpas vir elke okkasie. ’n Gunsteling was oor die reaksie van ’n Amerikaanse redakteur nadat dr. Eric Louw, veglustige minister van buitelandse sake in die 50’s, die New York Times in die parlement afgeransel het. Cillié het die redakteur, ene Archimbeaud, gevra: “Wat dink u van die aanval?” Sy antwoord: “The New York Times is an institution. Mr Louw is just a passing phase.”
In 1984 met die afskeid van adv. Lang David de Villiers het hy die Pers se destydse kultuur om nie te hard oor eie prestasies te kraai nie, soos volg verduidelik: “Wanneer die Pers se resultate byna ongelooflik uitstekend is, dan sê ons dit was in geheel nogal bevredigend. Wanneer ons wil bars van sukses, dan sê ons saam met Harold McMillan ná ’n verpletterende sege by die stembus: ’I think we did rather well’.”
Onlangs het ek hier gewys op die verwarring tussen Betlehem van die Bybel (sonder die h) en Bethlehem in die Vrystaat (met die h). Volgens Cilliése insigte behoort daar geen verwarring te wees nie. Wat die Vrystaatse Bethlehem in sy oë gediskwalifiseer het vir die Kersverhaal was dat daar nie drie wyse manne was nie.
Hy was lief vir Bybelstories, maar geen engeltjie in elke opsig nie. Toe iemand opmerk ‘Piet, ek het jou lanklaas in die kerk gesien,’ was hy klaar met ’n antwoord: ‘Ja, maar op my ouderdom moet jy nie die aandag van die Here te veel op jou vestig nie!’
Jan 6, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Elke keer as spotprenttekenaar Charl Marais stiptelik om 11:00 by my kantoor by Die Volksblad inwals vir die spotprentkonferensie, het ek half verwag dat hy ’n bamboeskierie en paar-nommers-te-klein hardebolhoedjie sou uitpluk en ’n paar danspassies uitvoer. Nes sy genant Charlie Chaplin.
Charl Marais met sy tandeborsel-snorretjie en eenderse liggaamsbou (skraal van lyf en self niks langer as Chaplin se 1,65 m nie) was ‘n amperse ewebeeld. Onse Charl het selwers blymoedigheid uitgestraal, al was hy soms melancholies. Hy was op 70 nog kreatief (party dae meer as ander). Hy het, les bes, ook 11 kinders verwek: sewe seuns en vier dogters, nes die nimlike Hollywoodster; maar in sy geval almal by een vrou, Hester, anders as sy beroemde genant.
Lekker gewees om vanoggend uit die pen van oud-redakteur Gert Coetzee in Die Burger se naweekblaaie, “By”, van die oud-kollega te lees, en ook van die bokse met ou spotprente wat in ‘n kluis ontdek is. Ek dink vir al Charl se oud-kollegas en vir sy uitgebreide groep nasate sou dit heuglike leesstof gewees het.
Van nasate gepraat: Sy kroos van elf was pa Charl se trots. Die sewe broers Marais het almal – de leste een – provinsiale kleure in stoei verwerf en almal in pa Charl se voetspore as geheelonthouers gevolg. Sy seuns se prestasies op die mat het hom so begeester dat hy met die stoeibesigheid weer in hul voetspore gevolg het (darem net op klubvlak). Self het hy nooit sy mond aan selfs net ’n biertjie gesit nie. Die wegbly van drank en sy liefde vir grappies is “seker waarom ek in my hele loopbaan nie ’n enkele dag weens siekte by die huis gebly het nie.”
Heelparty van Charl se goedige grappies had die spannetjie van 11 kinders (en 18 kleinkinders) as onderwerp. Hy moet gereeld gaan tel of almal nog daar is, was een van sy kwinkslae. As iemand vra hoekom die egpaar nie 12 het nie, was sy antwoord gereed: “Die buurman het weggetrek.”
Aweregse humorsin ook aan hom gehad, die Charl.
Jan 5, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Om in ‘n betroubare mandjie herinneringe van 50 jaar gelede te gaan krap, is die daaglikse plesiertjie wat “Die Burger” se rubriek “50 jaar gelede” ouer lesers bied. Vandag is daar o.m. brokkies oor die te wagte geboorte van die Rosenkowitz-sesling en die tekort aan sluitbare petroldoppe weens ‘n vlaag van diefstal van die uiters skaars voggies daardie tyd.
Die heel laaste brokkie is oor ‘n advertensie vir ‘n Dodge SE vir R3 750. Dan is dit wat my spogkar gekos het waarvoor ek nie ‘n sent betaal het nie. Ek het al vergeet. Daardie R3 750 is vandag plus-minus R260 000 werd, verstaan ek. Die Dodge Super Edition sal jy egter nie vir 2 x R260 000 kan koop nie.
Die SE (Super Edition) – die super-duper-topmodel van die gewilde Valiantreeks – was die wenprys in ‘n kompetisie van die Nasionale Party. Deelnemers moes ‘n limeriek voltooi wat soos volg lui:
“Vir 25 jaar ‘n wakker party / wat gereeld die opposisie / met mening kasty/ Nasionaal is sy naam / hy kan baie hard slaan/ taradam, taradam, taradam.”
My slotreël (namens my vrou, Tokkie) is toe: “Soos die vuisvose Sappe met verdriet moet bely!” Tokkie wen toe die Dodge. Die foto is geneem toe ons hom die oggend by Human Motors gaan haal het.
Die beoordelaars was dosente aan die departement Afrikaans-Nederlands van die Vrystaatse Universiteit onder leiding van professor Carel van Heerden. Hulle het in hul motivering opgemerk die limeriek is eintlik ’n geestige vers wat ’n mate van spot behels en die laaste reël moet ’n kwinkslag wees. Alle ernstige slotreëls is daarom gediskwalifiseer.
“Die wenpoging toon die beste verband met belangrike elemente soos opposisie, kastyding en hard slaan, wat ’n deurlopende draad vorm. Ook uit ’n verstegniese oogpunt het dit meriete.”
Later het ek gehoor PLS Aucamp, hoofsekretaris van die NP, was briesend dat ‘n Volkbladman se vrou gewen het. Hy was bang vir die beskuldiging dat suurlemoensous geloop het. Tot hul eer het die beoordelaars vasgeskop: dis die wenner en kant en klaar.
Lank en lekker gery met die Dodge SE – so ‘n maroene met ‘n ligbruin vinieldak en witwalwiele. Gelukkig was petrol nie so duur nie, want so mooi soos my kar was, so dors was hy.