Jan 30, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Oor studentekoshuise en hul tradisies, gewoontes en geite voel ek as oud-_Kollegeman van Tukkies sterk. Toe die Wilgenhof-bom bars, was in die Kollegehart dadelik ‘n spontane opwelling van simpatie – al lyk aspekte van die Wilgenhof-kultuur ietwat rof, veral in die nuwe tydvak van menseregte en ander sensitiwiteite.
Die gevolg was vanoggend se brief in Die Burger (hier onder ) – een waarmee die ou man maar moes fyntrap. Met een kleinseun in Eendrag en ‘n ander in Helshoogte wil jy nie op tone trap nie.
Ek glo darem my pleidooi vir respek vir andersheid, behoud van identiteiteit en weerstand teen die nastrewing van ‘n kleurlose kampus waar elke koshuis maar net ‘n bloudruk van al die ander is, sal niemand aanstoot gee nie, buiten dalk die “owerheid”.
Terloops, terwyl ander hul locus standi’s nou so aanhaal, meld ek in die verbygaan graag dat my skrywe kom van die oudste lewende voorsitter van Kollegetehuis (1962). Hoop dit gee my standpunt meer relevansie en gesag.
Hennie van Deventer, Melkbosstrand
Wilgenhof is ongetwyfeld mans genoeg om sy sy eie stryde te stry. ‘n Tikkie solidariteit uit Tukkiegeledere sal hopelik tog nie deur Wilgenhoffers “onwelvoeglik” geag word nie.
Ligsinnigheid kan immers net tot op ‘n punt geduld word. Wat darem hemeltergend te erg is, is om in alle erns die gedagte uit te spreek dat hierdie Matie-ikoon gesluit of ‘n vrouekoshuis moet word. Dit is heiligskennis verby.
Ek was ‘n lojale Kollegeman – inwoner van die U.P. se Kollege-tehuis – so ses dekades gelede. ‘n Geurtjie van berugtheid het ook om die koshuis gehang. Nagligte was gevrees . Modderbaddens, duiwelsdrek-pille, “gatpaarties” en “p-paarties” was ‘n eerstejaar se voorland. Motorfietse het by geleentheid in sy gange gebrul.
Soos Wilgenhof het Kollege nogtans voortgegaan om mense aan die samelewing te lewer wat weens hul agtergrond, karakter en waardes eerbiedwaardige burgers geword het.
Van die foto’s uit Wilgenhof se geheime binnekamers lyk vreemd, om dit sag te stel. Dalk is dinge te ver gedryf en is dit nodig om in die nuwe tydvak hokaai te sê. Maak dan reg wat verkeerd is, goed en wel, stel perke, handhaaf ‘n sekere orde, maar wees asseblief tog ook maar versigtig wees om nie onnodig op hol te gaan, allerhande spoke op te jaag en voor die voet te wil “regruk” nie.
Om alle andersheid op ‘n kampus as uit die bose te sien en blindelings ‘n identiteitlose kleurloosheid na te jaag, is werklik ‘n klassieke geval van om die baba saam met die badwater uit te gooi.
Jan 28, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Debbie Reynolds – op haar was ek verlief.
”Die blonde matroos”; “Bolandse nooientjie”; “Bootjie na kammaland”; “Daar doer in die Bosveld”; “Tahiti verre land”. Met die Jurie Ferreira-liedjies het ek in die 40’s grootgeword.
‘n Musiekbaken daardie dekade was ‘n konsert in Kimberley se stadsaal: Hendrik Susan en sy boereorkes. Watter onvergeetlike orkesleier was die sjarmante gryskop met sy singende viool nie. Sy viool was sommer ook sy strykstok a la André Rieu (of eintlik andersom).
Jurie was die aand op die verhoog as sanger. Ek is ook seker oor die teenwoordigheid van ‘n bloedjong Nico Carstens (trekklavier) en Erns van Rooyen (basviool). Oor van ander Hendrik Susan-staatmakers soos Taffy Kikillus, Jimmy Boonzaaier, Flippie van Vuuren, Tienie Coetzer en Freddie Luyt moet ek ‘n vaagheid bely. Maar Jimmy se ”Outa in die Langpad” was op die program. So glo ek.
Ander herinneringe uit die era is rolprent- en radio-verwant. Hendrik Susan en sy orkes het hul filmdebuut gemaak in die musiekrolprent “Kom saam vanaand”. Onder andere Betsie de la Porte se bekende sopraanstem het in die rolprent ‘n gesig gekry.
Al Debbo (“Hasie”) en Frederik Burgers het as komediantepaar na vore begin kom. In Cowboy-flieks was daar mense soos Gene Autrey met sy hartseer-kitaar. Hy kon skiet en sing.
Nelson Eddy en Jeanette McDonald se “Indian love call” was ‘n radiotreffer.
Plate het ek nog nie geken nie. Die eerste plate wat in ons huis gekom het, was in Durban saam met Pa Tonie Malan met wie my weduweema in 1950 getroud is: “Mona Lisa” van Nat King Cole, asook “The Tennessee Waltz” en “Mockingbird Hill”, Patti Page se groot treffers.
Skielik begin in my kop me. Page se soet stemmetjie maal:
“Tra-la-la, tweedlee dee dee it gives me a thrill / To wake up in the morning to the mockin’ bird’s trill / Tra-la-la, tweedlee dee dee / There’s peace and goodwill ……”
In 1952 is ons gesin Potchefstroom toe. Konserte van o.a. die Weense Seunskoor en die Duitse sopraan Erna Sach in die imposante stadsaal het in die nuwe omgewing vir gedenkwaardige musiek-ervarings gesorg.
Musiek het in ons generasie se lewens gevestig geraak met die periodieke plate-aande in skoolsale. By my skool, Volkies, was dit nie die gewildste aktiwiteit nie, want die skoolsaal se ligte het dwarsdeur bly brand, en selfs ’n handjies-vashouery was uit.
Van die snitte wat gereeld gehoor is, is egter tot vandag toe gunstelinge en word ook gereeld op Afrikaanse Radio (nou RSG) se “U eie keuse” gehoor: “O sole mio”, “La Paloma”, “When you come to the end of a perfect day”, “Beautiful isle of somewhere” en, ietwat ernstiger, Rachmaninoff se 18de variasie uit sy “Rapsodie op ’n Tema van Paganini” (ook bekend as die “Soetmelksvlei-serenade” na aanleiding van Jan Schutte se radiovervolgverhaal oor die Du Plooys waarvan dit die temalied was).
Op die stoep van Jack Pauw-koshuis se Blok C is Glenn Miller se ”In the mood” deur ‘n versotte klasmaat in standerd agt oor en oor gespeel.
Indien hoegenaamd moontlik, is Sondagaande op LM Radio se “Hit Parade” ingeskakel. Die vordering van liedjies soos Doris Day se “Que sera sera”, Perry Como se “More” en Nat King Cole se “When I fall in Love” op die trefferlys is intens gevolg.
Daarna het gekom (en ek noem met enkeles): Elvis Presley se “All shook up” en “Jailhouse rock; Billy Vaughn se “Sail along, silvery moon”; Bing Crosby en Grace Kelly se “True love”; Harry Belafonte se “Banana boat song”; Pat Boone se “Love letters in the sand” en “April Love” en die oulike Debbie Reynolds se “Tammy”. Op haar was ek smoorverlief.
Europese treffers waarmee ek op die een of ander manier kennis gemaak het. was: Georges Guetary se “Caballero”; Edith Piaf se “Hymne de l’amour” en Carlo Buti se “Bella ragazza”.
In 1958 is ek Tukkies toe. Saam met my op die agtersitplek van die Chev is pa en ma se groot ou staanradio. Op daardie radio het ek met “U eie keuse” kennis gemaak. Operakomponis Verdi het my held geword. Sy aangrypende “Va, pensiero (koor van die Hebreeuse slawe)” uit “Nabucco” vind ek nou nog verheffend,
Op alleen-Saterdagaande was ook die Drinklied uit “La Traviata”, die Kwartet uit ”Rigoletto” en die Groot Mars uit “Aida” altyd ’n troos. Gigli en De Stefano was betowerende tenore, maar moenie vir Richard Tauber en Jussi Bjoerling weggooi nie.
Op die program, die oudste op RSG, leer ek ook van Tsjaikoski en Rachmaninoff. Ek luister nou al 65 jaar. Elke keer as die temalied, die “Baltoneel” van Joseph Hellmesberger, opklink, bou steeds afwagting op.
In die Aula, nuwe konsertsaal van die universiteit, was Mimi Coertse een van die eerste kunstenaars. Sy het opera-arias gesing maar o.m. ook die besielende “O Boereplaas” en die guitige Duitse “Schatzi” (Schatsli/Skatjie) as toegif.
Van die Aula het ek persoonlik allerlei herinneringe. Was in ‘n stadium ‘n gewillige plekaanwyser in ruil vir ‘n gratis kaartjie. Een aand is ek en my vriend Cas Jacobs met twee bekoorlike “asters” na ‘n Aulakonsert. Ons was in ons kispakke en hulle in die fraaiste rokkies. Lieflike geure het om hulle gehang.
Toe ons hulle wil huis toe vat, Asterhof toe, haal die “Santa Maria” (my Peugeot 203) sy ou nuk uit. Hy verseg om te vat. Enjinkap is oop. Ek en Cas vat hier en druk daar. Uiteindelik stoot ons almal – ook die fraai asters in hul spoguitrustings. Geen gelukkige einde vir ons grênd aand nie.

Studenteprins: Mario Lanza
‘n Rolprent wat groot studentegehore gelok het, was Mario Lanza se “Student Prince”. Die sorgelose studentelewe in ou Heidelberg het sterk aanklank gevind.
’n Trefferliedjie waarvan ons in Kollegetehuis se geselligheidskamer nie genoeg kon kry nie, was “Tom Dooley” van die Kingston Trio.
Met die oorgang van die studentelewe tot ‘n vervullende lewe as koerantman het ek in Bloemfontein op die draaitafel van “Volksblad”-kollega Wiets Beukes, latere redakteur van “Die Burger”, met Antonin Dvořák se ”Nuwe Wêreldsimfonie” kennis gemaak. Die simboliek het my later getref: dat met daardie eerste wankelende treë in die joernalistiek vir my ‘n gans nuwe wêreld ontsluit is. Ook ‘n verruimende wêreld in elke opsig.
Een van my eerste stokperdjies toe ek my eie geld begin verdien het, was om aan ‘n versameling langspeelplate te begin bou: ou gunstelinge, maar ook vele nuwes. Die versameling het dekades later neerslag gevind in eie geskepte CD’s wat ek en Tokkie, my vrou, tien jaar lank vir vriende vir Kersfees geskenk het met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens. Ek en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.
Ek kan dit om die dood toe nie oor my hart kry om van die hoop ouderwetse viniel in my studeerkamer ontslae te raak nie. Die herinneringe is net te kosbaar.
Jan 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Langs die koffers op die bed in die spaarkamer word twee hopies klere stadigaan groter. In die een vang buitengewone items vir die uwe die oog: strikdassies, mansjetknopies, swart skoene….. In die ander hopie is vroueklere. Een stuk oorheers: ‘n waterdigte bloedrooi baadjie. Dis die liewe Tokkie s’n.
Die koffers word gepak, want oor ‘n week bestyg die Van Deventers die Queen Mary 2 vir ‘n herontmoeting. Die kennismaking was tien jaar gelede. Ons is in 2014 via Durban. Mauritius, Perth, en Melbourne na Sydney . Die keer klim ons ná ‘n 8-nag-vaart in Mauritius af. Sien nie meer kans om so ver terug te vlieg nie. Dit net terloops.
Op die vorige vaart is Tokkie met die nimlike rooi baadjie oral op die dek afgeneem: by elke tweede reddingsboei en elke moontlike uitkykpunt (Foto regs). Toe al was die baadjie ver van nuut. Trouens, in die 80’s al het sy hom by ons seun, Johan, afgevry.
Van daardie dag af is sy en die rooi baadjie soos ‘n Siamese tweeling. As betroubare reisgenoot lê die staatmaker se spore wyd op hierdie aardbol en sy oseane. Agter hom is nie minder nie as 12 vaarte.
En waar was die baadjie nie al oral nie? Van New York tot Los Angeles in die VSA; van Kobe in Japan tot China se Hong Kong; van Londen tot Jerusalem: van die Oostenrykse Alpe tot Amsterdam … Die lys is lank.
Die baadjie is deur Johan aangeskaf om hom teen wind en weer te beskerm toe hy in die 80’s Die Volksblad” in Bloemfontein afgelewer het. My vrou het ‘n wyd bekende voorkeur vir rooi. Johan se baadjie het uit die staanspoor haar oog gevang. Die stomme kind het later voor sy ma se flikvlooiery geswig.
Daardie dae moes ons dikwels uit Bloemfontein Kaap toe weens werkverpligtinge. Aprilmaande het ons op Buffelsbaai vakansie gehou. Elke keer is die rooi baadjie saam.
In die 90’s het werks- en vakansiereise ons na o.m. Amerika, Europa, Japan en Australië gebring. Weer was die baadjie altyd van die eerste kledingstukke wat ingepak is.
Ná aftrede het reis ‘n voorkeur-tydverdryf beword. Na elke verre hawe is die baadjie saam – ook op ons jongste vaart enkele maande gelede na Walvisbaai (foto links).
Toe ons begin inpak vir die QM 2 waag ek versigtig die vraag of die baadjie die reis meemaak. Simpel vraag. Hoe simpel, kon ek aflei uit die vuil kyk my kant toe. Tokkie het haar baadjie sonder verwyl uit die kas gaan haal en langs die koffer neergesit.
Natuurlik gaan hy saam op sy 13de vaart. En laat net een donder sy neus optrek
Jan 23, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dit moet hier in 1968 rond gewees het toe die aankondiging kom dat die Vrystaatse Universiteit ‘n mediese fakulteit gaan kry.
Vir die universiteit en die provinsie is ‘n droom bewaarheid: iets waarvoor lank en met mening agter die skerms gespook is. Vir Die Volksblad was dit vanselfsprekend belangrike nuus. Boonop eksklusief aan ons besorg in die veronderstellingv dat ons daaraan reg sal laat geskied.
In die eerste uitgawe was dit die hoofberig op die voorblad en op die plakkaat. Tereg.
Tussen die twee uitgawes steek die teleksman Bennie Lean, soos sy gewoonte met belangrike nuus was, sy gesig deur die luik wat die subkantoor en die telekskantoor skei. Hy oorhandig ‘n flitsberig van Sapa – ‘n “snap” is dit genoem – met die tipe storie wat ‘n koerantman se adrenalien terstond laat pomp.
Die uwe was hoofsubredakteur en dus eerste ontvanger van die boodskap uit Bennie se hand. Dit het iets soos volg gelui: “Daughter of South Africa’s ambassador in Vienna abducted.”
Sjoe! Ek druk my half gerookte Rembrandt van Rijn in die asbakkie dood en storm met die stukkie vuurwarm telekskopie na die assistent-redakteur, Oom Bart Zaaiman. (Hy het later redakteur geword en ek het hom opgevolg, maar dit net terloops.)
Die gedistingeerde Oom Bart was nie ‘n man vir verbale demonstrasie van emosie nie. Jittetjie, Hendrik, roep hy uit. Albei besef egter die implikasie dadelik. Die UV se mediese fakulteit is sy staanplek as hoofberig op die voorblad kwyt.
Die ambassadeur se ontvoerde dogter is uit elke hoek beskou eenvoudig ‘n groter storie. Dis ‘n loeloe. Ons gooi dit groot.
Die “ontvoering” vervang ook die aankondiging van die mediese fakulteit op die tweede uitgawe se plakkaat. Daardie tyd had ons net een plakkaat en klaar.
Natuurlik is by ons Kovsievriende teleurstelling oor die verloop van sake, maar hulle verstaan. ‘n Koerant is immers ‘n koerant. Nuuswaarde, nie sentiment nie, bepaal die prominensie van ‘n berig.
Twee, drie dae oorheers die ontvoering in Wenen (ja, so spel ‘n mens Vienna in Afrikaans) die nuus. Toe kom ‘n lammerige beriggie: nee, die dogter is nie ontvoer nie. Sy het, soos tieners oral soms die nuk kry, eenvoudig uit die ambassadeurswoning weggeloop. Sy het ge-“abscond”; sy is nie ge-“abduct”nie.
Die wegloper is nou gevind en uit haar skuilplek aan haar verleë ouers terugbesorg. ‘n Diplomatieke insident van allemintige proporsies is afgeweer.
Maar die stouterd! Hoop haar boudjies het gebrand (by wyse van spreke) – met sommer ‘n ekstra raps of twee vir die skade wat sy Kosies en Die Volksblad aangedoen het.
Terugskouend: die aankondiging van die nuwe mediese fakulteit moes liewer maar as hoofberig bly staan het. Altyd makliker om spore dood te vee as ‘n spookopjaery nie te prominent gehanteer was nie.
Maar hoe moes ons nou geweet het?
(Dat die storie nie in “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is nie, is te betreur Ek het skandelik daarvan vergeet. Gister, eergister laat die naam “dr. Van der Spuy” my daaraan dink. Van der Spuy – dit was die naam van die ambassadeur in Oostenryk. Hy het later senator en minister geword.)
Jan 21, 2024 | Vars Blog

Kos vir Afrika. Grafiese voortelling in ‘n koerant van alles wat op die spyskaart was.
By sy 90ste verjaardag op 2 Februarie 2024 het die verrinneweerde Suid-Afrikaanse Lugdiens bloedmin om te vier. By sy 50ste in 1984, 40 jaar gelede, was, in skrille kontras, ‘n fees sonder weerga.
Van 2 Februarie, die lugdiens se stigtingsdag in 1934, tot 23 November 1984 is sy “50 goue vlugjare” swierig gedenk. ‘n Historiese gedenkvlug, tienduisende goud- en silwergedenkmunte en medaljes, eerstedagkoeverte, spesiale seëls, dokumentêre rolprente en glanspublikasies propvol foto’s het luister verleen.
Die fees is met ‘n manjifieke galabanket afgerond, Sowat 4 500 gaste is uit elke uithoek ingevlieg vir die partytjie van die dekade in ‘n dubbeldoor–Makroloods op die lughawe Jan Smuts (nou O.R. Tambo). Die Amerikaanse ruimteman Buzz Aldrin, vlieënier van die eerste maanlandingstuig tydens die Apollo 11-ruimtesending, was die eregas.
Vliegtuigentoesiaste was in die wolke oor nog ‘n uitskieter-element: die merkwaardige herskepping van ‘n Junkers-vliegtuig uit die pionierdae wat verlate op ‘n vliegveld in die Britse platteland opgespoor is. ‘n Uitgesoekte span tegnici het die boksvormige veteraan stukkie vir stukkie tot lugwaardigheid herbou.

In die wolke . Lugwaardinne in wasige wit uitrustings het by die banket wolkies uitgebeeld. By hulle is Gert van der Veer, bestuurshoof, en Marie-Hélène Maguire, ‘n senior bestuurder in die skakelafdeling. Foto: Verskaf.
Op 2 Februarie 2024 op sy 90ste bevind die lugdiens hom – of wat van hom oor is – in sakeredding en spartel hy om met ‘n afgetakelde vloot en ruime reddingsboeie van die staat terug in die lug te kom. Die Latynse spreuk sic gloria transit mundi is perfek van toepassing: die ou glorie is droewig daarmee heen.
Reeds in die 70’s het ‘n SAL-span begin prakseer kry om van sy halfeeufees ‘n gedenkwaardige okkasie te maak. Een ideaal was om sy kleurryke geskiedenis te romantiseer. ‘n Duitse Junkers Ju 52/3m – die eerste “moderne” vliegtuig in die SAL–vloot – was in die visier.
‘n Net is uitgegooi, maar ‘n herwinbare Ju 52/3m was ‘n naald in ‘n hooimied. Eindelik is ‘n vervalle CASA 252L, ‘n feitlik identiese weergawe wat op lisensie in Spanje gebou is, opgespoor. Hy is op ‘n skip gelaai Suid-Afrika toe en tegnici het aan die werk gespring om hom te herbou. Die 52/3m is die “Jan van Riebeeck” gedoop en as ZS – AFA geregistreer.

2 Februarie 1984. ‘n Herboude Junkers Ju 52/3m genaamd “Jan van Riebeeck” styg in ‘n rookwolk op vir ‘n simboliese vlug. Foto: Len Preskow.
‘n Simboliese vlug met die “Jan van Riebeeck” sou op 2 Februarie 1984 van Durban na die Randse lughawe by Germiston onderneem word – een van die eerste roetes wat in die 30’s met die Junkers en 17 passasiers aangedurf is. Die Tropiese storm “Demoina” het, helaas ‘n onstuimige stokkie voor die droom gesteek.
Jan Smuts is as alternatief ingespan. Blink gepoets en uitgevat in die kenmerkende oranje, blanje, blou van die ou SAL het die 52/3m op 2 Februarie van die hoofaanloopbaan opgestyg. Om 14:30, presies op skedule, het hy op die Randse lughawe neergestryk.
Van die ou staatmaker met sy drie kragtige Pratt & Whitney-motore het kaptein Flippie Vermeulen van die SAL die gevleuelde woorde kwytgeraak dat sy klank musiek is, sy reuk parfuum en sy beweging pure plesier. Vir die nostalgiese skares was die opstyging, brullend en in ‘n rookwolk, asook die seepgladde landing van ZS – AFA beslis die puurste plesier. “Tante Ju” soos die vliegtuig deernisvol in lugvaartkringe bekend was, is op albei lughawens geesdrigtig toegejuig.
Die gala-banket was op Vrydagaand 23 November – asemrowend in omvang en eksieperfeksie in uitvoering. Jan Smuts se grootste en nuutste loods, ‘n kolossale struktuur van derduisende vierkante meter wat staanplek vir twee Boeing 747’s en ‘n rits kleiner vliegtuie bied, is as onthaal-area ingeruim. ‘n Personeelkorps van 1 000 het gespring om alles te laat vlot.

Manjifieke massa-tablo by Makro.
Gert van der Veer, bestuurshoof wat die aand gasheer was, en Marié-Hélène Maguire, ‘n senior bestuurder in die skakelafdeling wat aan die spits van die reuse-organisasie was, raak nou nog meegevoer as hulle die groot aand in herinnering roep. Albei onthou die harde werk, maar die vreugde van ‘n taak wat met lekkerkry klaar gekry is.
‘n “Lavish bash”, het koerante die banket genoem. Die koste is konserwatief op R650 000 geraam. Vandag klink R650 000 na kleingeld. Omgesit in huidige waardes praat ons van R12 miljoen rand – die prys van ‘n herewoning in ‘n spogbuurt. Die leeue-aandeel het uit die diep sakke van internasionale verskaffers gekom. Boeing van Seattle en Airbus van Frankryk, asook die Amerikaanse enjinbouer Pratt & Whitney, het met graagte opgedok. Die SAL was immers ‘n gesogte voorkeur- kliënt.

Marie-Hélène Maguire – sy raak nou nog meegevoer.
Die gaste, uitgevat in formele aanddrag, kon uit die bladsye van die jongste “Who’s Who” gestap het: kabinetslede, regters, generaals, myn- en nywerheidsbase, top-sakelui, senior amptenare, glansmense reisagente, media …. Koerantredakteurs is gelukkig ook genooi. So het die uwe en sy gade by een van die keurige tafels met spierwit damask, die fynste kristal, silwer en porselein beland, en ‘n ete-ervaring beleef soos geen ander in sy 83 jaar op aarde nie.
‘n Blommeskouspel het gaste verwelkom. Emmersvol koningsproteas uit die Kaap het die onthaal-spelonk opgehelder. ‘n Span lugwaardinne in wasige wit uitrustings het wolkies uitgebeeld. Van ‘n orkesverhoog het die strelende klanke van Mozart en Rachmaninoff aangesweef gekom. ‘n Plaat kunstige beelde uit ys gehou: reuse-visse – vir my gelyk soos dolfyne of tornyne – seeperde en swane het rondgestaan. Gade Tokkie het 24 getel.
Dr. Anton Rupert was die hoofspreker. ‘n Dramatiese hoogtepunt was ‘n manjifieke massatablo van militêre orkeste en SAL-kapteins voor ‘n skitterblink Boeing 747 terwyl Mimi Coertse voorgaan met die sing van “Die Stem”.
Op die spyskaart was ‘n seleksie van seekosse, ‘n rojale vleisverskeidenheid – veral hope wildsvleis (elandfilet, springbok en volstruis) om buitelandse gaste gastronomies te oorrompel – groente en vars vrugte vjr Afrika, kraakvars broodjies uit die oond, en allerlei uitsoek-lekkernye soos ganslewer, eksklusiewe kase, koek, roomys en sjokolades.
Fynproewerwyn vir elke smaak – die beste uit die voorste kelders in die Boland – was volop, en ook vir elke tafel sy toegewysde kelners, ‘n hele garnisoen van weermagrekrute. Jy kon net vra: duur whiskey, brandewyn, jenewer, vodka en rietblits is binne enkele oomblikke rinkelend voor jou neergesit.
‘

Die goue proefmunt ter herdenking van die SAL se halfeeufees. Op die een sy vlieg ‘n Boeing 747 en ‘n de Havilland DH-60 “Gipsy Moth”-dubbelvlerk van links na regs. Op die keersy is die ou vlieënde springbok-embleem en ‘n groot 50. Onder die jaartal 1984 is die munt se inhoud: “FYNGOUD 1 oz. FINE GOLD”.
n Ondernemende koerant – die Sunday Times meen ek – het die skakelmense agterna oor hoeveelhede gaan uitvra – en antwoorde gekry wat die asem wegslaan. Om te begin met die wildsvleis: 1 800 kilogram eland, 1 500 kilogram springbok en 450 kilogram volstruis. Voeg by: 150 kilogram beesfilet, 325 kilogram gebraaide bees, 320 kilogram kalkoen, 120 kilogram skaap en 80 kilogram vark. ‘n Optelsommetjie laat die verstand duisel.
Ander verbluffende syfers: Broodrolletjies: 6 000; roomys en koek: 4 500 porsies. Wyn: 400 kiste; whiskey: 15 kiste; brandwyn, jenewer, vodka en rietblits: 10 kiste elk. Garnale: 150 kilogram; kingklip: 450 kilogram. Groente: 400 kilogram; vars vrugte: 1 200 kilogram. Souse: 50 kilogram; slaaie: 100 kilogram, paté: 175 kilogram, kaas: 150 kilogram. Truffels, paté de foie gras, pralines en sjokolade: 12 000 stukke.
Die lakonieke vraag van my spitsvondige swaer, wyle Fanie van Wyk, toe ons in Bloemfontein tuis kom: “Moes julle jul eie Rennies koop?” Hy kon wel vra.