VRUGBARE 24 UUR IN WILDTUIN  

‘n Skielike bevlieging neem ons op ‘n herinneringsrit via Olifants en Balule na Letaba (rondawel D58) en besorg ons ‘n onvergeetlike 24 uur. Het ons al ooit in 24 uur in die wildtuin meer gesien en beleef?

Die aksie begin met ‘n solovertoning deur ‘n leeu by die laagwaterbrug oor die Sandrivier.  Sy draf ligvoets oor sand en teer voor ons uit en laat haar nie aanjaag nie.

Net af van die teer by Olifants op pad na Balule sien ons ’n kameelperd-karnaval  soos nog nooit. Tokkie tel vinnig tot 15 nekke wat by ‘n lieflike klein watergat saambondel en in spanverband drink.

Op pad terug ry ons ons vas in ‘n indrukwekkende trop buffels wat van Timbavati se kant aantou – honderde der honderde. Dalk ‘n duisend of meer. Ongetwyfeld een van die wildtuin se grootste troppe, indien nie die grootste nie.

‘n Ent van Satara was ‘n leeuvangs. Ons sien net die mannetjie wat vlak langs die teer lê en eet  (baie lig van kleur, dalk ‘n witte van Timbavati?) maar wat ‘n parade van gulsige hiënas wat skrik vir niks. Hulle kom uit elke windrigting.

By Leeupan geniet ons ‘n olifant-skouspel.  Dertig of meer,

groot en klein, drink, rol in die modder, skop stof op, blaas stoom af, trompetter en treiter mekaar.

Van sebras en blouwildebeeste was daar troppe. Koedoes, waterbokke – en natuurlik rooibokkies – het gewemel. Steenbokkies was volop. Vlakvarke was hier, daar en oral.

Onder die groter gevleueldes was gompoue, boskorhane (baie) en volstruise.

Ook sierlike bome. Vir ‘n sambokpeul naby Letaba die goue medalje as wenner van die Laeveldse lentewedloop vir 2023. Reeds oortrek met sy briljante donkergeel bloeiselprag, kondig hy vroeg-vroeg al die koms van die naderende lente aan – sommer ‘n hele ent voor sy ritse mededingers van dieselfde spesie langs die hoofpad noorde toe. Wat ‘n pragtige boom in die blomtyd is die sambokboom nie. Ongelukkig is die duur van sy intense skoonheid maar kort – net vier fleurige weke of so.

Oor en oor die moeite werd, al vind ons amper R1 800 vir ‘n afgeleefde  rondawel bra styf.  Geen warm water om te stort. Die ysbakkies in ‘n yskas wat lyk of dit op ‘n rommelhoop opgetel is, is leeg. Op die stoep is ‘n kennisgewing met raad vir die hantering van ‘n gewapende roof, maar die sifdeur het geen skuifslot nie.  Die badkamer is Apachestyl geteël:  “patchies” wit tussen die groenes. So kan ek aanhou.

Lekker om dan by Skukuza tekens waar te neem van daadwerklike pogings om weer te begin tuin maak.

 

 

 

 

TY-KONNEKSIES

Skakels binne skakels binne skakels,

Drie van die mense op die boonste foto – een van hulle ‘n kollega – was in die afgelope dae saam met my en Tokkie op Tarlehoet se stoep in Sabiepark, ‘n vierde is ‘n matriekmaat, asook mede-Klerksdorper, en die vyfde ‘n mede-oud-Volkie van Potchefstroom.  Ek raai die foto is deur ‘n sesde bekende geneem.

Van links is Herman en Mariëtte Wilkens, eienaars van die Umkumbe River Lodge in die Sabi-Sand, Jas du Preez, afgetrede finansiële hoof van Koerante, dr. Van Aardt du Preez, ikoniese verfhandelaar van Potchefstroom, en Gerda, sy vrou. Ek neem aan Cheryl, vrou van Jas, het die foto geneem. Sy verskyn op foto 2 saam met haar man.

Kollega Jas, ’n staatmaker aan my regterkant toe die koerantesektor in die jare 90 uitgestyg het tot die groot presteerder in die destyds Nasionale Pers,  was in Sabiepark, op twee dae na, presies 15 jaar na Hennie Conradie  en Eric Wiese, vorige finansiële direkteure van die Pers met wie hy sy aan sy gewerk het. ‘n Driemanskap is so voltooi.

My voorreg gewees om saam met hom tot op datum 25 Perskollegas vir korter of langer in Sabieprk te ontvang.

Jas (ook bekend as Schoeman) en Cheryl het uit Welgemoed by Herman en Mariëtte, sy tweelingsuster, oorkant die pad gekuier.  Die twee het saam hul 79ste verjaardag gevier (foto 3).

Jas en Cheryl.

Hulle het voorheen naby ons kinders Brent en Marisa Claassens in Welgemoed gewoon.

Jas en Mariëtte se ouer broer is Van Aardt (84), uitblinker-sportman, wat ‘n tafelmaat was in die Jack Pauwkoshuis aan Volkies, Potch in die 50’s. Dis waar hy Gerda ontmoet het.

Die Du Preez’s kom oorspronklik uit Klerksdorp waar hul pa, Jock, ‘n prokureur was. Hy was ook ‘n kranige briefskrywer aan Die Transvaler.

Tweeling op hul 79ste verjaardag.

Op Klerksdorp het ons gesin in Neeltjiestraat gewoon.  Dit bied ‘n skakel na Herman. In die gedugte Wilkens-geledere van die Wes-Transvaal is Neeltjie ‘n familienaam.

Herman se neef is rugbyspeler Mannetjie Wilkens wat getroud was met ‘n Tukkie-vriendin Gretha Künnen, wat in Asterhof was.

Ek het die hooffoto gaan gaps op Mariëtte se Facebookblad. Vir my was sy in ons Klerksdorp dae “Naughty Marietta” n.a.v. ‘n rolprent van daardie dae waarin Jeanette McDonald die hoofrol gespeel het.  Sy verklap toe tydens die stoepkuier dat haar pa haar ook so genoem het.

Die kuiertjie was te kort om op al die verbindingspaaie te loop. Maar julle kan glo dat dit ‘n lekker kuiertjie met baie lag en gesels was.

(Naskrif:  My Klerksdorp-konneksie word  nou  nog weerspieël in my motor se registrasienommer: TY 24 WP.  My eerste motor was TY 24.  Eerste en laaste dus.)