HEEL LINKS: TANNIE MET DIE ROOI ROK

“Haai jy, tannie met die rooi rok, staan ‘n bietjie diekant toe.” Die “tannie” het gedwee gehoorsaam.

‘n Sosiale foto by ‘n Kaapse tedoe.

‘n Sosiale foto moes by die een of ander tedoe in die Bloemfonteinse stadsaal geneem word en die jong koerantfotograaf, ene Mordegai, het ongeduldig begin raak met die uitgelese spannetjie wat verseg om koppe bymekaar te staan, soos die resep vir sulke foto’s was.

Die “tannie” was nie sommer ‘n tannie nie. Sy was niemand minder nie as mev. Lettie Fouché, Suid-Afrika se presidentsvrou.  Gelukkig was sy nie kop in die wolke soos party ëerste vroue” wat n  haar gekom het nie; eintlik ’n liewe, plat-op-die-aarde-mens nes haar man, Jim.

Dit was die era van sosiale foto’s in koerante, ‘n tydperk van minstens drie dekades: so plus-minus die 50’s, 60’s en 70’s. Na elke ontbyt, tee, noenmaal, skemerkelkie, dinee, dansparty en anderlike opskop het uitnodigings op die nuusredakteur gereën. Elke geleentheid is stiptelik in die dagboek by die gegewe datum aangeteken, ook plek en tyd.

Elke dag, veral elke aand, was ‘n verslaggewer en fotograaf, gewapen met ‘n lys opdragte, van een okkasie na ‘n ander.  Die verslaggewer moes die fotokandidate uitsoek en hul name noukeurig neerpen. Die fotograaf het gesorg vir die choreografie en die druk van die knoppie.

Vir hul moeite was daar die beloning van ‘n paar eetgoedjies en ‘n glasie wyn of twee. Veral laasgenoemde was nogal vir party ‘n trekpleister. Vir diegene was die sosiale ronde minder van sleurwerk as vir ander.

Uitdagings was legio. Een was ‘n gebrek aan dissipline en  samewerking by vername gaste.  ‘n Ander was dat sekeres verskyning op ‘n sosiale foto in die koerant as ‘n statussimbool beskou en die kuns bemeester het om in elke liewe foto op te duik.

Een so ‘n Bloemfonteiner was prof. Benedictus Kok van die Vrystaatse Universiteit. Later is opdrag gegee: laat hom op die punt staan. Maklik om hom dan af te sny.  Maar Benedictus was nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie.  Gou het hy die strategie agtergekom.  Daarna sou jy hom nie met stok en swaard sover kry om ‘n afsnybare posisie in te neem nie.

Altyd was daar ook die teleurgesteldes wat met sterre in hul oë nadergestaan en dan oor die hoof gesien is.  Die sterre het plek gemaak vir ‘n verwytende blik. Vir die agtergeblewenes het ‘n mens soms jammer gekry, veral as dit oor en oor gebeur.

Nog ‘n uitdaging was rokke wat deurskyn. Hoe beduie jy vir ‘n belangrike vrou dat die omvang van haar borsmaat ‘n komplikasie gaan meebring as die flits afgaan?

Vir die verslaggewer was die uitdaging om die name reg te kry wanneer die uitgesoektes ná die druk van die knoppie soos klokslag uitmekaarspat.  Onthou daar is Smiths en Smitte, Marais’s en Marees, Lombaards en Lombards. ‘n Kollega, Rina Koen, se beleid was om doodseker te maak. As een sê sy is Anna, wou Rina weet: Anna met twee n’e of Ana met een n.

Die era van die sosiale foto was ook die era van die tamaaie koerant. Mededingers om die advertensiepot was daar nog nie juis nie.  Koerante van 64 bladsye was veral op Donderdae by Die Volksblad algemeen.  Vir die bladsye en bladsye wat reeds die vorige dag opgemaak moes word, is die mandjie met sosiale foto’s  van die week nader getrek.  Dan is gemeet en gepas, gesny en weggesmyt.

Soms moes uitnodigings onvermydelik geweier word. Te veel geleenthede op een dag was ‘n rede. Daar was ook ander, soos die geringe potensiaal van mense wat ‘n foto sal versier by sekere byeenkomste, om dit sag te stel.  Dit kon nogal grimmige reaksies ontlok.  ‘n Amperse buurman het ‘n keer weke nie met my gepraat nie omdat ‘n uitnodiging in laasgenoemde kategorie beleefd van die hand gewys is.  Bande is later herstel nadat hy weer die koerant nodig gekry en sy trots in die sak gesteek het.

‘n Interessante gevolg van die kultuur van sosiale foto’s was die spesiale band wat tussen sekere hoogeerwaardes en fotograwe ontstaan het. Wedersydse welwillendheid is so opgebou. Tussen die imposante Oom Sand du Plessis, Administrateur – hy met die ruie wenkbroue – en Lappies Labuschagne, hooffotograaf, was so ‘n spesiale verhouding.

Ek was een aand by met die opening van die Brandwagkamp in Golden Gate toe Oom Sand vir Lappies ná die fotonemery vra: “Wat sal jy drink, Lappies?” Lappies vra toe vir ‘n brandewyn en Coke.  Net daar stap die Administrateur kroeg toe, wag sy beurt af  en kom terug met ‘n dubbel Oude Meester.

Goeie tye.

 

(In “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is ‘n afdeling oor persfotograwe en hul foto’s. Die boek is nou uit.  Bestel dit regstreeks by Tertia Swart – 078 648 8616 / tertia@naledi.co.za of naledi.co.za (Naledi se webtuiste). Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos die boek net R260 (by jou voordeur afgelewer.)

 

 

 

REDAKTEURS GEGRYP OOR FOTO’S

Twee uiters onwaarskynlike bedmaats wie se gesigte geen mens langs mekaar in enige galery sou verwag nie, is die Boererebel Jopie Fourie wat in 1915 tereggestel is deur Louis Botha se regering (links) en Dimitri Tsafendas wat dr. HF Verwoerd in 1966 met ‘n dolk in die Volksraad vermoor het.
Wat op aarde kan die skakel tussen die twee teenpole wees – as enige skakel hoegenaamd bestaan ?
Wel, ‘n skakel bestaan wel. Dit is dat foto’s van die twee op presies dieselfde wyse namens twee niksvermoedende Afrikaanse koerantredakteurs landmyne afgetrap het, met ongemaklike gevolge veral vir die een.
Die foto’s van Fourie en Tsafendas is deur naweektydskrif By (doerie tyd ‘n gewilde byvoegsel in Die Burger, Beeld en Die Volksblad ) geplaas. By se redaksiekantoor was in Kaapstad gesetel. Ironies genoeg word toe nie hy nie, ook nie die redakteur van Die Burger nie, maar die redakteurs van Beeld (Johannesburg) en Die Volksblad (Bloemfontein) deur die gereg gegryp en hof toe gesleep.
Ingewikkelde wetgewing was in daardie era nogg in plek oor watter veroordeeldes se foto’s geplaas mag word en wwtter nie. Redakteurs moes hul storie ken om dag vir dag deur die wetlike mynveld te maneuvreer.
Die Tsafendasfoto is in 1983 in By geplaas. Dit mag ingevolge die Gevangeniswet nie gebeur het nie, omdat Tsafendas agter tralies was. Die redakteur van Die Volksblad – wat toe die uwe was -is met R100 beboet, al het hy geen regstreekse rol – inderdaad hoegenaamd geen rol – in die oortreding gespeel nie.
Oor my botsing met die gereg skryf ek in Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord wat vroeër die maand by Naledi verskyn het. Skaars was die ink van die boek droog, toe ek van Ton Vosloo, gewese grootbaas van Naspers, ‘n brokkie oor sy – veel erger – penarie met die Jopie Fouriefoto verneem.
Circa 1977 is Vosloo – toe redakteur van Beeld – naamlik- in die Johannesburgse landdroshof met ‘n stewige R1 000 beboet omdat Beeld die foto van ‘n tereggestelde gedra het.
Vosloo het nie R1 000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem en vingerafdrukke geneem. Hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese, bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.
Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou Vosloo ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kwaai kon benadeel het!
Beter bewys kan daar kwalik wees van hoe party NP-ministers, soos veral Jimmy Kruger, minister van justisie van 1974 tot 1979, hul mes ingehad het vir koerante
Dave Dalling, Prog-LV vir Sandton, het ’n keer in die Volksraad beweer agt redakteurs het vonnisse of aanklagte teen hulle. “Die moeras van wetgewing wat die publikasie van koerante aan bande lê, maak misdadigers van Suid-Afrika se redakteurs!” Ook daarvan bied die twee gevalle bewys, sou ek reken.
Hoe spyt is ek nie dat die Voslobrokkie nie in my boek verskyn nie!
As jy hom – ondanks sulke gebreke! – tog wil aanskaf, klik net op https://naledi.co.za/ of skakel Tertia Swart (078 648 8616). . Kry dit by jou voordeur afgelewer sonder enige ekstra koste.

SKILDER EN SY SKILDERY KRY METEENS LEWE

Ek en Danie met die boek. 

Verbeel jou dat die Mona Lisa vir jou knipoog. So ‘n halleluja-oomblik het ek beleef toe die skilder Danie Marais van Langebaan Sondag oor my drumpel op Melkbos stap.

Ter sprake is nou nie Leonardo da Vinci se meesterwerk wat in die grootsaal van die Louvre’s in Parys, die Salle des États, uitgestal word nie, maar Danie se skildery van koerantleser wat op ‘n prominente plek in die voorportaal van die koerant Volksblad in Westdene, Bloemfontein, hang.
In 2004 was Volksblad, die oudste Afrikaanse koerant, se eeufees. Die koerant se jubileumgeskenk van sy eienaar, Naspers (voorheen die Nasionale Pers), was Danie se treffende doek. Dié koerantleser het ook die inspirasie vir die voorblad van my nuwe koeranteboek, Elke dag ’n mooi nooi en ’n moord, verskaf. Die ontwerp daarvan is deur Karen Cronje.
Sondag het Danie kom inloer om sy geskenkboek te ontvang en ‘n paar boeke vir my te teken. Meteens ontmoet ek toe die skilder EN die leser van die koerant in die skildery. Dit was toe altyd ‘n selfportret. Die ooreenkoms is omiskenbaar. Dit tref jou dadelik.
Oor die skildery vertel Danie – leerling van die Hoërskool Duineveld op Upington wat na Bloemfontein gekom het om Beeldende Kuns te bestudeer –  ‘n fassinerende storie.

Danie teken sy naam by ‘n foto van sy skildery.

Aan die einde van sy tweede jaar as B. Tech-student aan die destydse Technikon Vrystaat – nou die Sentrale Universiteit van Tegnologie – was die werkopdrag vir die eksamen ‘n selfportret wat iets van die kunstenaar verklap. Vir Danie het ‘n koerant altyd visuele trefkrag gehad. Dit bied ook ‘n skans waaragter ‘n mens kan skuil as jy oogkontak wil vermy, byvoorbeeld op Londen se moltreine waar die pendelaars ingery sit en koerant lees. Hy het nie twee keer oor ‘n simbool nie.
Hy skilder hom toe agter ‘n Volksbladwaarin hy oor homself lees. Die opskrif, “DM vat hande teen rassisme”, slaan byvoorbeeld op ‘n gemeentelike inisiatief om rasseskanse af te breek. Hy het hom ten volle met die strewe vereenselwig. Ja, die DM in die opskrif staan vir Danie Marais!
Danie omring homself op sy skildery met mense van verskillende generasies, ook sy moeder en haar boesemvriendin. Dit dui op die tydloosheid van die koerant as draer van nuus.
Die voorbladfoto op sy verbeelde koerant is van ‘n werklike gebeurtenis in New York waarvan die koerantfoto’s hom aangegryp het. Dit is van ‘n valskerm wat sambreel maak oor die Vryheidstandbeeld (Statute of Liberty) by New York nadat die toue van ‘n Franse valskerm-swewer se tuig aan die fakkel verstrik geraak het in Augustus 2001. Danie loop met die video op sy selfoon. Die YouTube-skakel is https://www.youtube.com/watch?v=FbR94tIJSco

Ou koerantberigte.

Danie, Marie (met aksent op e), Karlo (6) en Luka (5) op ons stoep.

Wyle Andy Galloway, ‘n redaksielid van Volksblad,wat ook ‘n skilder was, het van Danie se koerantskildery te hore gekom en die wenk is Kaap toe aangegee dat dit nogal ‘n netjiese jubileumgeskenk kan wees. Daaroor het almal saamgestem. Die Nasionale Pers het dit vir R7 500 – ‘n klomp sakgeld vir ‘n student! – by Danie gekoop. Op ‘n swierige dinee in Oliewenhuis ter viering van Volksblad se eeufees is die skildery deur mnr. Ton Vosloo, voorsitter van die direksie, aan die koerant oorhandig.

Op soek na ‘n voorblad vir Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord het ek, wat die aand as ‘n oud-redakteur by die dinee ‘n gas was, gelukkig van die mooi skildery onthou. Danie is genader en hy was dadelik vuur en vlam.
(Die boek kan direk bestel,word by naledi.co.za of by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za. Danksy ‘n ruim subsidie van die Hiemstratrust kos dit net R260, aflewering ingesluit.)

AMPER VERGETE SKRYFKAMPIOEN

Sy het ‘n generasie jong Afrikaanse vroue leer lees; meer as 40 boeke geskryf; tot vier boeke per jaar neergepen (lank voor rekenaars); onder ‘n rits skuilname (ook mansname) geskryf; vir die tydskrif Sarie Marais se eerste vervolgverhaal gesorg en in ’n stadium vervolgverhale in twee tydskrifte gelyktydig behartig.

Tog lyk dit of E.J.M. Fraser in ons herinneringe aan vroeëre Afrikaanse skrywers nie die plek beklee wat sy ongetwyfeld verdien nie. Haar dogter Carol Smit (90), weduwee van die bekende onkoloog prof. Ben Smit, woon op Melkbosstrand. Sy kan boeiend en met verstaanbare bewondering oor haar ma se skryfwerk praat.

Eleanor Fraser, ‘n nooi van McGregor, by Robertson, het haar hoofsaaklik toegespits op liefdesverhale, soms gemeng met ’n goeie skeut spanning, aksie en intrige.  Daarmee wou sy jong Afrikaanse meisies aan die lees kry. Sy was bekommerd dat hulle ná die depressie as ‘n generasie nie-lesers grootword.

In die twee dekades tussen 1940 en 1960 het sy meer as 40 boeke die lig laat sien, meesal onder haar eie naam, maar ook onder verskeie skuilname waaronder die mans- of neutrale name Okkert Bosman en P.J. Rademeyer.   Haar getroude van was Rautenbach (haar man was John William Rautenbach) en sy het die naam ook ‘n keer of wat in haar skryfwerk gebruik.

Met titels soos Die liefde van Karolien Wiese en Die huwelik van Elsa Martyn  hoef ‘n mens nie te raai oor die aard van die betrokke verhale nie. In van haar boeke het spanning egter romanse as hooftema verdring. Vir die doel het sy die skuilname Okkert Bosman en PJ Rademeyer ingespan.  As ek so na Carol luister, klink dit of veral  “Bosman” se Tamboer van die dood die skryfster nogal na aan die hart gelê het.

Sy het ook kinder- en jeugverhale geskryf. Die jeugverhaal Kinders van die grens is ook in Engels uitgegee as Children of the border. Waarskynlik was sy self vir die Engelse weergawe verantwoordelik, want oor haar ma se voortreflike tweetaligheid kan Carol, wat Engels geörienteer is, liries raak.

In besonder vrugbare jare in die middel 50’s het tot vier boeke van haar per jaar verskyn.

Sy was ook ‘n kampioen van vervolgverhaalskrywers in tydskrifte, en word onthou as die skrywer van die heel eerste vervolgverhaal in Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949, meer as 70 jaar gelede, verskyn het. Die titel was Die liefde bedek alles, hoop alles… (Ek het, terloops, op besoek aan Bloemfontein saam met my oom-hulle in Maitlandstaat vir ‘n sikspens (5c) een van die eerste Saries vir my ma gekoop. Daarin  was ook verhale uit die penne van bekendes soos Tryna du Toit, Marie Linde, Louise Behrens en G. Sutherland, asook artikels  deur Elsa Joubert en M.E.R.)  Fraser het ook vir latere politikus Blaar Coetzee se tydskrif  Fyn Goud ‘n vervolgverhaal geskryf.

Eleanor Johanna Moir Fraser is in 1902 op McGregor gebore. Haar pa, Walter Moir Fraser, was die skoolhoof. Haar moeder was Aletta Catharina Rousseau. Haar susters S.E. Fraser en A.C. Sparks het ook skryfsters geword.

Reeds in haar kinderjare het sy uitgeblink met stories vertel. Op skool in McGregor het sy as redakteur saam met ’n paar skoolmaats ’n skoolweekblad uitgegee.  Vreemd genoeg is sy nie joernalistiek toe nie, maar het sy haar as onderwyseres bekwaam. Terwyl sy skoolhou, het sy geskryf en geskryf.

Sy is op 11 September 1971 op 69 op Uitenhage oorlede.

(Carol is self lief om jeugherinneringe op te teken. Dalk verras sy nog en loop op 90 of daarna in haar ma se voetspore. Dit sal wel in Engels wees.)

VAN PLAASPONIE TOT SPOGKAR

Vir Johannes Moses het ek goed leer ken in my laaste vyf jaar by die Nasionale Pers in Kaapstad. Hy was om die beurt kelner en motorbestuurder en was in albei rolle die toonbeeld van ‘n netjiese, vriendelike, pligsgetroue en bekwame amptenaar.

Enkele dae gelede het ek Johannes weer gesien. Hy was op ‘n sending na Melkbosstrand.  Vir my lyk hy nes die Johannes wat ek 25 jaar gelede gegroet het. Hy dra sy jare goed. Dat hy al 41 jaar by Naspers is, sal jy nie sê nie.

Vreemd soos dit klink – en ietwat van ‘n verleentheid vir my – is dat ek nou, in Mei 2023, in een lekker gesels met hom meer oor die gewaardeerde kollega te wete gekom het as in die vyf jaar (van 1992 tot 1997) dat ons saam op die 18de verdieping van die Nasperssentrum werksaam was.

Ek het geweet hy is ‘n gebore Vrystater.   Nou weet ek eers dat hy van Gumtree  kom, ‘n gehuggie  tussen Ficksburg en Clocolan in die Oos-Vrystaat; dat hy op ‘n plaas grootgeword het en kleintyd koeie gemelk het, asook ‘n knap perderuiters en ‘n jokkie was.

Nou eers weet ek dat op 14 saam met ‘n oom Kaap toe gekom het wat hom opsluit in ‘n loopbaan in die boubedryf wou dwing.  Pleks van skool gaan, moes hy in sy oom se agterplaas bakstene rondgooi.

Nou eers weet ek dat hy by ‘n Moslemgesin in Somerset-Wes ‘n heenkome gevind en in hul winkel uitgehelp het, dat hy op ‘n eerste grootoog-besoek aan Seepunt by die ou Arthur Seat-hotel ingestap het om vir enige werk aansoek te doen; dat hy hom opgewerk het tot ‘n gewilde sjef vir die personeel  en dat hy later by die luukse-hotel Heerengracht ‘n kelner geword het.

Nou eers het ek gehoor hoe hy agter ‘n vriend aan na Die Burger is om aan  die veeleisende nag- en naweek-skofwerkery van ‘n kelner te ontsnap en ‘n bode vir bekendes geword het, soos vir Sakkie van Zyl van die advertensie-afdeling.

Met die trek van  Keeromstraat 30 na die huidige gebou in die Heerengracht – rondom 1980 as ek reg onthou – het die Nasionale Pers ‘n deftige eetkamer vir onthale gekry. Johannes se talente en ervaring  is vir Andrew Marais, nuwe skakelhoof, in die oor gefluister.

Aanvanklik het Johannes op leengrondslag kom uithelp.   Almal was verras oor sy kundigheid, tot met die dek van tafels en die skink van wyn.  Gou wou Marais hom afrokkel. Van Zyl het egter vasgeskop: “As julle hom vat, sal ek twee mense in sy plek moet aanstel”.

Maraais het die toutrekkery gewen, en Johannes het nooit weer omgekyk nie. Hy was oornag in ‘n pos met ‘n beter salaris en met pensioenvoordele. Hy het boonop sy werk geniet.  Net aanvanklik was daar ‘n klein komplikasie. Wanneer hy die aand laat moes werk, moes ‘n motorbestuurder ook laat aanbly om hom huis toe te vat.  Hy is aangesê om te leer bestuur. ‘n Persmotor is tot sy beskikking gestel.

So gou was hy tuis agter die stuurwiel dat hy tussen sy kelnerpligte deur senior amptenare begin rondkarwei het.  Vandag is dit sy nering. Hy ry die base rond in ‘n elektriese model Volvo – die eerste van die aard wat ek met my eie oë sien.

Wat ‘n ver pad het die kaalvoet-outjie van Gumtree nie gekom nie: van trippelpassies maak op ‘n plaasponie in die Oos-Vrystaat tot  woerts-warts in die Moederstad met ‘n ultra-moderne spogkar.  Al waaroor ek spyt is, is dat ek Johannes nie gevra het om my net een keer om die blok te vat nie.  Nou sal hierdie mede-Vrystater daardie kringloop waarskynlik nooit self ook voltooi nie.

FOTO:  Ek en  Johannes poseer op Melkbos vir Tokkie