Feb 27, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

25 jaar afgetree, 25 jaar op Melkbos, 25 jaar in Sabiepark. Die eerste twee bakens is reeds bereik en paslik gevier. Op 15 Maart kom baken drie. Ons vertrek reeds op 6 Maart Mpumalanga toe om dinge te gaan regkry vir ‘n feestelikheid waarvan ek later meer gaan verklap.
In 2011 het ek ‘n boek geskryf: Duisend dae langs die Sabie. In 2023 sou dit seker al Tweeduisend Dae langs die Sabie wees. Waarskynlik meer. Dit is dae wat ek in welbehae in herinnering roep. Hoe lief het ek en Tokkie nie die plek nie!
Hoekom dan? Omdat mens en natuur kwalik intiemer skouer kan skuur as hier in ons bostoevlug aan die Sabie op die drumpel van die Krugerwildtuin – waar diere onbelemmerd tussen woonhuise rondloop en ‘n luiperd op jou stoep selfs nie vergesog is nie. Hier is die mense so vry soos die diere. Ons stap houtgerus (nie altyd só houtgerus nie!) in die strate met hul inheemse boomname. Saans sit ons om ons kampvuurtjies as’t ware in die oop veld.
Sabiepark se wildrykdom behels rofweg 17 groot soogdierspeseis, 25 kleiner spesies, sowat 320 soorte voëls en 34 soorte reptiele. Die mense-element bestaan uit 388 eienaars plus hul mede-eienaars en naastes. Die personeel-komplement is 45. Eienaars kom en gaan vir korter of langer vakansies en naweke. Wanneer die park regtig vol is, sit sowat 500 siele saans om hul vuurtjies.
Die private piekniekplek (net vir eienaars en hul gaste saam met hulle) is die hart van die park. Dit spog met ‘n onbelemmerde 180-grade-uitsig vir kilometers lank op wildtuingebied aan die S3-rivierpad. ‘n Mens kan maklik leeu, olifant en buffel een dag sien; luiperd en renoster die volgende. Al die “Vyf Grotes” – meesal darem op die oorkantste oewer. Soms van naderby aan die “verkeerde kant”, veral nuuskierige olifante. Van so ‘n saamwonery kom “insidente” – van konfrontasie tot koestering.
As ek die herinneringe van 25 jaar begin opstapel, is dit veels te veel vir een skrywe. Daar is die nagapies wat elke aand kom pret maak op die stoep, Witnek die duiker met wie ons lank in ‘n verhouding was, die olifante wat in troppe teen die grensdraad opduik, die hiënas in ons watergat, kameelperde by die swembad, sebras, vlakvarke, likkewane, stoute bobbejane … die lys is lank.
In die volgende dae gaan ek allerlei herinneringe deel. Maar kom ek begin met die luiperds. Op hierdie sierlike roofdiere drink ek graag vandag ‘n heildronk van Wild Africalikeur vir al die vreugdes van onverwagte ontmoetings wat ons al in Sabiepark met hulle had.
Van een hang ‘n groot foto agter dowwe glas prominent op ons stoep. Dis nie een van my eie foto’s nie. Wel ‘n foto deur ‘n mede-Sabieparker, Caroline Pols-Dijkstra van Heerhugowaarden in Nederland, geneem op 19 Maart 2015 terwyl ons 2 000 km ver op Melkbos sit. ‘n Foto soos geen ander in my albums nie: ons eie luiperd op ons eie stoep!
Caroline en haar man, wyle Gert, het soos die gebruik by vriende is, gaan kyk of alles pluis is by die Van Deventers se huis. Net toe sy by hul voertuig wil uitklim, sien hy die stertjie by die voordeur piets. Die volgende oomblik kom die luiperd orent. Sy staan voor die Polse in haar volle glorie, netjies geraam tussen die ingeboude braai en ‘n hoekpilaar van die grasdak.
“Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter,” het ek in antwoord op haar foto’s vir Caroline ge-e-pos. Vandag dink ek steeds dis dalk die Sabiepark-moment wat ten beste ons 25 jaar se verbintenis defniëer. Ek plaas dit graag weer.
Feb 14, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Afskeid van Wiets Beukes, maar ook afskeid aan sulke afskeide.
Soos ‘n mens ouer word, word onder al hoe meer aktiwiteite ‘n streep getrek. Óf jy trek dit self óf dit word vir jou getrek. So is dit nou een maal.
Omdat ek van mense hou en lief is om goeie eienskappe in ander raak te sien en uit te lig, was ‘n aktiwiteit wat tot my oudag vir my ‘n vreugde gebly het, om huldeblyke te lewer by die laaste groet van mense na aan my.
Tien dae gelede was dit my voorreg om by die huldigingsdiens van ‘n dierbare kollega en vriend, Wiets Beukes, oud-redakteur van Die Burger, oor hom te praat. Eers daarna het die besef deurgedring dat die tyd om nog ‘n streep te trek, vir my aangebreek het. Op 82 raak die staan ‘n probleem. Gelukkig kan my vingers darem nog tik.
Wiets was die eerste Volksblad-mens wat ek teengekom het toe ek in 1958 in Bloemfontein aankom vir my eerste vakansiewerk as beurshouer. Om 65 jaar later so van die mentor afskeid te kon neem, en ook van ‘n taak wat vir my nog altyd vervullend was, was ‘n voorreg.
By die trek van die streep het ek ‘n lysie gemaak van mense oor wie ek by hul dood in die geleentheid gestel is en bevooreg was om herinneringe te deel.
Dit sluit in naaste familie soos my ma, Baby, wat haar man, Seun, verloor het toe sy 26 en ek vyf jaar oud was. Sy wou nooit motor bestuur nie. Ons blou Hillman Minxie, ‘n 1942-model, is dadelik verkoop, en van my vroegste herinneringe van haar is op haar fiets Kimberley se sentrale toe waar sy danksy haar bekwaamheid gou ‘n “soeperwaaiser” geword het.

Pa Seun is dood. Klein Hennie en ma Baby wat in die sentrale moes gaan werk.
Ook joviale Pa Malan wat op 10 in my lewe gekom het en by wie se dood ek soos oor my eie trane gestort het, en my lewensblye swaer Fanie van Wyk, Tokkie se ouer broer, op sy dag SA kampioen in die 440 vir onder 19’s. Op Harrismith waar hy skoolhoof was, was Fanie baie geliefd. Trouens, waar was hy nie?
Ander kollegas, buiten Wiets, was nog twee Vrystaters, Piet Gouws wat van Verkeerdevlei gekom het en die “klein generaaltjie” Nancy Oosthuysen van Hoopstad: twee kranige Volksbladders. Piet – die liewe ou Piet – het ook by Beeld diep spore getrap.
Studentemaats was IB Badenhorst en Nic Boje, ‘n ware jintelman en puik losskakel met ‘n giftige skopskoen wat vir Noord-Transvaal en die Vrystaat ‘n wedstrydwenner was. IB se dood in ‘n motorongeluk was in my jaar as voorsitter van Kollegetehuis. Sy begrafnis was my vuurdoop.
Bure was Toy Vermeulen, benoemde LV en verbete ABO-versamelaar, wat in Bloemfontein in ‘n droogte vir my sy boorgat “geleen” het (danksy ‘n tuinslang oor die straat in die nagtelike ure) en Stokkies Stockenstrom van Welgemoed wat my bas moes red toe ek een oggend vroeg op ‘n vliegtuig Bloemfontein toe klim met my besproeiing volstoom aan – en dit in ‘n tyd van waterbeperkings.
Toy was een van twee politici op die lys. Die ander was dr. WD Kotze, LV vir Odendaalsrus en later ambassadeur in Bophuthatswana. Hy was ook die skrywer van ‘n rits boeke oor die Kalahari, onder andere Kalaharikind. Ná aftrede het hy ‘n bekende in Seepunt geword waar hy op die promenade gratis Bybels uitgedeel het.
Een van die vroue aan wie ek hulde kon betuig, was mev. Dalene Mouton, eggenote van prof. Wynand Mouton, wat rektor van die Vrystaatse Universiteit en voorsitter van die SAUK-raad was. Watter Afrikaner-adel was die twee nie. Met die dood van prof. Mouton enkele maande later was ek ongelukkig in Sabiepark. Anders sou hulle die eerste egpaar op my lysie gewees het.
‘n Egpaar het wel later gevolg: Hennie Jonker, afgetrede mynbestuurder, en sy vrou, Magriet. Ons paaie het op Melkbos gekruis. Hennie was die eerste voorsitter van die Probusklub – ‘n kameraadskaplike sosiale klub vir afgetredenes – waarvan ek nou al meer as 20 jaar lid is. Magriet was ‘n gasvrou soos min.
Ander Probuslede by wie se afskeid ek die rede kon voer, was die wellewende Sakkie Bruwer, op sy dag braaikoning van Melkbos en rugbyliefhebber soos ek nie voorheen raakgeloop het nie, en Johan Rossouw, veteraan-veiligheidspolisieman in verskeie ambassades, ‘n man so solied soos ’n klipmuur.
‘n Tweede eggenote van ‘n Probuslid, naas Magriet Jonker, was Esbé Krynauw, vrou van Danie en oud-skoolhoof. Hulle was lank burgemeesterspaar van Milnerton voordat hulle op Melkbos kom aftree het. Sy was oor taal so gesteld soos ekself.
‘n Melkbosser van faam was Jan Dreyer, broer van my eerste baas by Die Volksblad, Hugo Dreyer, en lid van die Dreyerdinastie waarvan jy oral in onder meer straatname spore op Melkbos aantref. Hy het op 90 nog tennis gespeel – het ‘n raket verkies bo ‘n kierie.
Vir ds. Ockie Raubenheimer, ‘n sieraad van ‘n mens, het ek in die kerk op Melkbos leer ken. Hy was elke Sondag op sy pos, al het hy in Parklands gewoon. Hy was veral bekend en geliefd as oud-leraar van die Londense gemeente van die NG kerk. By sy troosdiens – en ook in ‘n huldigingsartikel in Rapport – het ek hom die eretitel van Afrikaanse Paulus gegee op grond van sy baanbrekersreise in dosyne lande om die Woord te verkondig.
Al hierdie mense het tot my lewe waarde toegevoeg. Ek is dankbaar en eer hul almal se nalatenskap. Dit kry ek graag van die hart.
Feb 7, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
My wrewel oor die onbekookte borgskap-projek van SA Toerisme stort ek vanoggend in ‘n brief in Die Burger en Volksblad uit. Ek skryf:
Veronderstel vir een vlietende oomblik Temba Khumalo van SA Toerisme se beoogde borgskap van Tottenham Hotspur is nie ‘n lugkasteel nie.
Alles werk aanvanklik uit. Suid-Afrika se naam beland op die lippe van sokkerliefhebbers wêreldwyd. Die poorte gaan oop en oorsese toeriste stroom in hul derduisende na die nuut ontdekte mekka.
Nou kom hulle hier. Hulle kan hul oë nie glo oor al die verval wat hulle in die mooi land waarneem nie: strande gesluit weens die gereelde storting van rou riool, berge ontsierende rommel oral, besige paaie gepokmerk met gevaarlike slaggate, waterkrisisse, ens.
Hulle maak kennis met beurtkrag. Hul voorland: verkeersopdammings by af verkeersligte , donker restaurante met toe deure, allerlei bedrywighede wat op die mees ongeleë tye tot stilstand knars.
Hulle kyk rond vir openbare vervoer. Al wat op hul pad kom, is wisselvallige busdienste en oorlaaide taxi’s wat met fluitende bande verbysnel.
Van die nuwe generasie toeriste word slagoffers van die tierende geweld. Huurmotors word helderoordag in stedelike gebiede gekaap. Gastehuise word snags aangeval. By die Numbihek van die Krugerwildtuin word ongelukkiges voorgekeer en beroof. Koeëls fluit om party se koppe. Die ongelukkigstes word gewond, of erger.
Ontnugterdes se stories kom in oorsese koerante of word van mond tot mond oorgedra. Die boodskap gaan uit: Pas op vir Suid-Afrika – daar gaan dit woes.
SA toerisme sit met ‘n hand vol vere. Die borgskap verkry berugtheid as ‘n peperduur misoes. Meer nog: die mislukking word die teen-produktiefste reklameveldtog wat nog aangepak is.
Kom laat ons lang trane huil oor sulke roekelose drome.
Feb 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Jaco Marais van Die Burger se foto toe ek Wiets vir oulaas groet. Vir my is dit ‘n treffende foto. Dankie, Jaco.
Dat sy alma mater, die Vrystaatse Universiteit, hom nie raakgesien het vir ‘n eredoktorsgraad nie, was ‘n oorsig. So het ek vandag by my kollega en vriend sedert 1958, Wiets Beukes, se huldigingsdiens op Franskraal betoog. Wiets, oud-redakteur van Die Burger, is op 16 Januarie op 95 oorlede.
Oor die kranige koerantman het ek o.m. ook die volgende van die hart gekry:
Vir ‘n groot gros waarderende kollegas in Bloemfontein en Kaapstad was hy ‘n waardige rolmodel; ‘n klassieke voorbeeld van die volledige joernalis wat as verslaggewer, redigeerder, nuushanteerder en kommentator uitgeblink het. Sy joernalistieke waardes en sy swaargewig-bydraes tot die koerantwese was vir ons jongeres altyd bewonderenswaardig; ‘n ideaal om na te strewe.
Wiets was ryklik geseën met die eienskappe en talente wat die uitblinker-joernalis onderskei: hy was skrander, skerpsinnig en skeppend; hy kon kalm bly onder die kwaaiste druk, en sy oordeel was oorwoë en kerngesond. Hy was nie een wat blindelings met sy horings in ‘n braambos ingestorm het nie, maar het hom deur nugter besinning laat lei.
As jong verslaggewer het hy keurberigte geskep; nooit oordrewe woordryk nie, maar treffend en beeldryk. Sy beskrywings van derduisende Basoeto’s wat in kleurryke komberse uit die berge peul vir ’n volksfees of Londense pendelaars wat by ‘n brandende moltreinstasie deur die roltrappe as’t ware in die vlamme uitgespoeg word, was soos prentjies.
Geregtigheid was ‘n rigsnoer in sy hoofartikels by Die Burger en Dawierubrieke uit sy pen. Dat sy skrywes ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het in die soeke na ‘n politieke bedeling is onbetwisbaar.
In ‘n omgewing waar konflik gedy, het die flegmatiese Wiets konflik merkwaardig vermy. Sy menseverhoudinge was hoflik, warm en wellewend. Kollegas koester hul herinneringe aan die beskeie plat-op-die-aarde senior kollega wat ook saam jolig kon raak. By almal was hy gerespekteer. By almal was hy ook geliefd: die ”liewe Wiets”. Met vroue was hy die ware jintelman, altyd hiper-galant. Hy was lief om blomme te gee. Sommige gades van Persmanne wens dalk soms hul van was liewer Beukes.
Om vandag hier op sy geliefde Franskraal te kon staan en Wiets Daniel Beukes vir laas te groet, was ‘n eer en voorreg wat ‘n ou man se hart met dankbaarheid vervul en ‘n vogtigheid in die oë bring.
Feb 2, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

+
My terugdink aan die Tukkiejool kan ek seker nệrens anders begin nie as by die dag in Mart 1962 toe Van Deventer vyf glorieryke minute lank Fanus Rautenbach sou wees.
Met promosieplanne vir die jool is destyds groot gegaan. ‘n Klomp manne is bv. waaghalsig in die toring by die Uniegebou op. Toe die klokkespel begin waarmee die dag se uitsendings op die radio afskop, bulder hulle: “Jool. Jool, Tukkies jool.” In Kollege is toe die plan uitgebroei dat ons as reklame die “president van Flinkveria” in sy ateljee sou gaan kaap. Terwyl my makkers die gewilde uitsaaier uitboender, sou ek die mikrofoon opneem en dit landwyd uitdawer: “Tukkies jool …”
Die regte Fanus was entoesiasties. Ons sien al voor die geestesoog die koerantopskrifte en foto’s. Twee dae voor K-dag (kapingsdag) bel Fanus. Hy klink waarlik teleurgesteld. Dit was ‘n oulike plan en als, maar nou’s Pieter de Waal (die omroeper wat die Koffiehuiskonserte destyds op die “map” gesit het) skielik oorlede. ‘n Somberheid heers in die SAUK se gange. Vir sulke grappies sal in sulke omstandighede nie veel waardering wees nie. Ai, Flink uit die Vere het darem amper joolgeskiedenis gemaak … of dalk andersom.
Lentedag was ook ‘n verbame okkasie. Op een het ek Kollege in die afdeling blommerangskikking verteenwoordig. My poging was om twee rooi roosblaartjies op die vloer van die CH Rautenbachsaal op te tel en op die wit suiker in ‘n kafeteria-skuierpotjie te drapeer. “Druppels bloed op ys” het die tweede prys gekry vir oorpronklikheid.

Die Joolblad – volop pret en plesier vir 25c. Links is Sampie Golden, latere LV en ambassadeur. Regs is … Raai?
Dan was daar serenades (op syn goeie Ingels uitgespreek as serenyds). Een aand het ‘n serenade by Klaradyn ietwat te luidrugtig geraak met Pierre le Roux se luide ghongslae teen ‘n ysterpaaltjie in ‘n boom tussendeur. Die polisie het die hele Kollegekoor na die Brooklyn-polisiekantoor gemarsjeer. Ek sien nou nog hoe studentemaats die magtelose konstabel in die aanklagkantoor se pet soos ‘n rugbybal onder mekaar aangee.
Ja, Kollege was ‘n anderster koshuis. Haas by elke moles was hy in die episentrum. Die rektor (“gomlastiekgogga”) was nie geamuseer nie.
Kollegemanne kon vindingryk wees. Lank voordat kapings en ontvoerings alledaags geword het, is ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die destydse HF Verwoerd te gaan haal vir ‘n Fonteineparty. ‘n Groep maats het gaan kuier. Aan die einde van besoektyd stap hy luiters tussen hulle uit.
By die feestelikheid word hy die slagoffer van ‘n overwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery. Die pasiënt word ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp.
Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat hom uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!
En hoe het dit met die asters gegaan? Nie altyd ewe goed nie, dankie. Een grou Sondagmiddag het ek en Cas Jacobs my kar voor Asterhof gaan trek met ‘n yslike “Hoekie vir Eensames” op die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam!
Die akademie moenie vergeet word nie; vivat academia! Weens ‘n dors aan kennis het die skrywer hiervan een laataand by die Merenskybiblioteek gaan inbreek. Manie Steyn is saam. Ons het ons lywe klein gemaak en by ‘n klein luikvenster ingewurm. Toe is ons, gewapen met flitse, die donker gange in.
Dit was agter ‘n boek aan wat skielik kritiek dringend benodig is om ‘n taak in Afrikaans III te voltooi. Die volgende oggend was die spertyd.
Het ek die boek gekry en my taak betyds ingedien? Inderdaad. Gelukkig ook. In daardie stadium was ‘n goeie punt vir daardie taak onontbeerlik om vir die eksamen te kwalifiseer.
Na gebruik is die boek terugbesorg. Oop en bloot by die sierlike voordeur van die Merensky ingestap en hom op sy plek gaan sit. ‘n Mens ken mos jou verantwoordelikhede, selfs as jy ‘n student is. (Slot.)
FOTO’S: i. In 1962 kon Kollege die hoofsierwa bou vir die fraai joolkoningin en haar prinsesse. ii. Die Joolblad – 25c se pret en plesier. Links is Sampie Golden, latere LV en ambassadeur. Regs ….