HVD 2: STEM SAAM / KRY SKAAM

Die aflosstokie gaan oor van Zaaiman na Van Deventer.

Die papier is geelbruin en die oneweredige letters verklap dat dit uit ‘n primitiewe tikmasjien kom. As jy begin lees, stem jy saam of kry jy skaam – so om die beurt.

Met die dokumentjie ter sprake het kollega Tobie Wiese my enkele weke gelede uit die bloute kom verras. Hy moes destyds ‘n berig daaruit haal en het dit sowaar gebêre. Dat dit nog iewers bestaan, sou ek nie kon raai nie.

Bo-aan staan geen datum, onderwerp of aanduiding van die geleentheid nie.  Geen twyfel egter wat dit is nie: die uwe se “intreetrede” in Augustus 1980.  Dit is gelewer by die afskeid van my voorganger SF (Oom Bart) Zaaiman in die deftige Hotel President in Unielaan, Bloemfontein.  Die toesprakie behels 11 getike bladsytjies goedkoop papier soos vir berigte gebruik is  – seksies het ons dit genoem.

Ongelukkig was die ”intreerede” volgens huidige insigte hopeloos te langasem. Ook te wydlopend en woordryk. Te omslagtig en selfs hier en daar onbenullig.  Die garnering verdwerg plek-plek die essensie, soos die borde kos wat sommige sjiek restaurants vir jou voorsit. Waarskynlik is sekere mense daardie aand bang gepraat. Sonder twyfel het ek die meeste mense moeg gepraat: ‘n ongelukkige herhalende swakheidjie.

Gelukkig is plek-plek darem ook enkele dinge kwytgeraak waarmee ek vier dekades later nog min of meer instemming kan betuig. Een is die volgende verbintenis: “Dit sal Die Volksblad onder meer as sy taak sien: om almal wat vreedsame ontwikkeling voorstaan, van watter ras of kleur ook al, te monster om ‘n linie te vorm teen die magte wat die land wil omstoot.

“Hy sal sy voet dwars sit teen elke vorm van radikalisme, van links en van regs, en hy sal hom beywer om by sy mense steeds ontvanklikheid te laat groei vir die waarheid dat die enigste bestendige manier om seggenskap oor die eie te behou, is om dit in konsensus met ander te doen.  In die opsig wag daar harde werk. “

Vroeër betoog ek: “Doeltreffende weerstand teen gevare van binne en buite kan net kom as verhoudinge gesond is, so gesond dat al die mense van Suid-Afrika – al die volke en groepe – verenig teen die gemeenskaplike gevaar.

“En hulle sal net verenig as elkeen ‘n sinryke bestaan het om te verdedig, ‘n eie plekkie in die son wat vir hom so waardevol en so dierbaar is dat hy hom met mag sal verset teen enige poging om hom dit te ontneem. “

Dit is woorde wat van die toehoorders moes laat sluk het.  In kringe was dit bekend dat vrese bestaan het oor die “liberale” gees  wat die “Beeld-man” sou kom indra, en ‘n abortiewe poging is selfs ter elfder ure aangewend om die aanstelling om te keer.  Gelukkig het dit nie geslaag nie.  Die 12 jaar in die stoel was vir my dubbel en dwars die moeite werd.

Met ‘n storie wat ek as jong verslaggewer by Oom Blackie Swart, eerste staatspresident, gehoor het, het ek dalk ook ‘n ongemaklikheidjie by sommige veroorsaak.  Oom Blackie het vertel dat met die inwyding van die koshuis Pres. Steyn by die UV die destydse Vrystaatse Administrateur, sir Cornelius Wessels, die spreker was. Vir die studente was sy boodskap:

”Geleerdheid is mooi, maar moet tog nooit neersien op die jong man met ‘n paar velskoene en ‘n ferweelbroek nie – dikwels klop ‘n warm Afrikanerhart in daardie ferweelbroek.”

“Dit geld ook ons koerant,” het ek gewaag. ”Sy voorkoms is miskien velskoen en ferweelbroek,  maar sy hart klop reg. As die díreksie vir ons ‘n nuwe skoene en ‘n broek sal gee (bedoelende ‘n kleurpers, wat ons toe wel gekry het), ons sal sorg dat die hartklop reg bly.”

Het ons die hartklop reg gehou?  In hoe ‘n mate het die nuwe redakteur woord gehou? Kon ons ideaal en werklikheid versoen? Daaroor moet andere liewer oordeel. Nie almal se oordeel sal positief wees nie, glo ek. Nou-ja, met die waters wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie. Wat verby is, is verby.

Oor die vervullende skof van 12 jaar in Voortrekkerstraat 79 vertel ek vorentoe meer.

 

 

 

 

HVD 1: SWEM, GROENTJIE, SWEM!

Jong sub by Die Volksblad, circa 1965.

Plus-minus 60 gelede het ‘n groentjie-verslaggewer by Die Volksblad in Bloemfontein ingestap. Dit het ‘n koeranteloopbaan van 35 jaar ingelui. ‘n opwindende skof by Beeld in Johannesburg is ingesluit: die kindertuinjare van daardie koerant.

In ‘n kort reeksie kyk daardie groentjie terug op sy pad. Vandag val die fokus op eerste twee dekades totdat hy in 1980 van Beeld na Bloemfontein toe teruggestuur is om die leisels te vat by die koerant waar hy sy tande gesny het.

Die storie begin in 1957. As Wes-Transvaalse seun slaan ek ‘n Volksblad-beurs los. Ek is Tukkies toe vir vyf jaar. Einde 1961 moes die 20-jarige Tukkie as Goudveldse verteenwoordiger waarneem – ek moes aan die diep kant leer swem.  Begin 1963 het ek in Bloemfontein vas ingeval. Uit die staanspoor is net beroepsvreugde ervaar. Verslaggewing was in my bloed, van moord tot politiek.

In 1964 en 1965 (ongelukkig net die twee jaar) was ek in die persgalery van die parlement. ‘n Dinamiese stukkie van die Verwoerd-era kon ek as’t ware in die voorste ry beleef.  In 1966 het ek hoofsubredakteur geword  (‘n pos wat te gou gekom het). Die moord op dr. HF Verwoerd op 6 September moes ek as groentjie hanteer. ‘n Groter nuusstorie het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.   Nog ‘n grote was prof. Chris Barnard se eerste hartoorplanting op Louis Washkansky op 3 Desember 1967.

Vir byna ‘n dekade was ek nuusredakteur, eers by Die Volksblad en later by Beeld. Die storiestroom oor my lessenaar het die adrenalien laat pomp: ruimte-deurbrake en –rampe; die neerstorting van vliegtuie; vloede; terreur; staatsgrepe; rooftogte; aardbewings; politieke intriges; opspraakwekkende hofsake; kapings; Anneline Kriel; allerlei menslike dwaashede en manewales; spitse op die sportveld.

Op 16 September 1974 het Beeld sy buiging gemaak (prys was 7c, onthou ek).  Die nuusredakteur was een van die bevoorregtes in die voorhoede wat in April reeds Rand toe geskuif het om die dolosse in ‘n ry te gaan te kry. Later het ek assistent-redakteur geword.

Die stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd.  Die joernalistieke omgewing was dinamies. Die spangees was kerngesond. Toe die stryd teen Die Transvaler (grootliks weens sy geknoei met syfers) gedugter blyk as wat verwag is, het dit ons in net ‘n hegter eenheid gesmee.

Beeld-dae: Nuusredakteur en sy gesin, circa 1976.

Ek het dit vantevore gesê; ek sê dit weer: Ek wonder of iewers ter wêreld al ’n koerant was waarin soveel mense soveel liefde gestort het.

In 1976 is ek as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Die jaar in die VSA was genotvol, maar ook uitdagend.   Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys.  Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop.  In ‘n vyandige omgewing moes ek maar bontstaan.

‘n Jammerte van die 70’s is dat ‘n driejaar-skof in die Londense kantoor  verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was bespreek en ons huis in Bloemfontein verhuur. Toe word ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer. Pediaters was uit die veld geslaan. Ons is aangeraai om liefs nie in die ongewone situasie die vreemde aan te durf nie.  Nou-ja, het ek Londen toe gegaan, het ek dalk nooit ‘n Nieman Fellow of nuusredakteur van Beeld geword nie.   Laat ‘n mens liewer juig oor geleenthede wat jy gekry het as wat jy huil oor dié wat deur jou vingers is.

Met my aanstelling as redakteur van Die Volksblad in 1980 is ‘n droom bewaarheid.  Jare tevore het ‘n verslaggewerskollega, Trudi Gey von Pittius, gevra: “Hoekom werk jy so hard? Wil jy redakteur word?” Ek het eerlik geantwoord: “Ja, ek wil.”  Op ouderdom 39 raak my wens toe vervul.  Ek was weer redakteur soos op skool in 1957 (eerste leerlingredakteur van die Volkie-jaarblad) en op Tukkies in 1961 (redakteur van die studenteweekblad Die Perdeby).

Ek was weer in my element.

 

oto 2: Beeld-dae: Nuusredakteur en sy gesin .

25 JAAR GELEDE: TYD VIR TOTSIENS

Op 15 Desember 1997 – vandag presies 25 jaar gelede – het ek die deur van my kantoor met die mooi uitsig op Tafelberg op die 18de verdieping van die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad vir oulaas agter my toegetrek.

Ek het die sleutels op die pynlike netjiese lessenaar van Lizette Hanekom, my uiters bekwame, dinamiese en borrelend vriendelike persoonlike assistent sedert 1 April 1992, my eerste dag as uitvoerende hoof van koerante,  neergesit, ‘n oomblikkie getalm vir ‘n laaste opregte dankie vir alles en deur haar kantoorvenster die toneel ingedrink hoe ‘n haelwit wolkekleed oor Tafelberg stoot.

Toe stap ek soos sovele kere tevore oor die straat na die parkade waar my rooi Sportline staan, swaai  sy neus noordwaarts en durf met ‘n bittersoet gevoel die woelige N1 aan vir die rit langs Paardeneiland, Milnerton en Bloubergstrand verby huis toe op Melkbos vir ‘n salige lewe los van roetine en daaglikse sleur.  Voel soos gister. Maar die saligheid duur reeds ‘n kwarteeu.

Om eerlik te wees, het ek ‘n ekstra dag gegaps. Daardie laaste dag op kantoor het ek min vermag, indien enigiets.  Hier ingeloer, daar praatjies gemaak. By elke kollega ‘n draai gemaak en my geel legger gemerk “Idees“ ingenome voor hom/haar ingeskuif. Dié was dolleeg. Almal het dit nogal prettig gevind.

Die oggend het al die mense van die 18de saam tee gedrink en ‘n soetigheidjie geniet in die Pers se deftige eetkamer met mure vol groot skilderye wat deur skakelhoof, Andrew Marais, uitgesoek is. Ek het nie geweet of ek ooit weer daar kom nie.

Anet-Pienaar Vosloo het my met ‘n vernuftige plannetjie verras.  Toe ek instap, kyk ek in ‘n see van HvD-klone vas: een en elke kollega agter ‘n mombakkies  soos diéwat ek elke oggend in die spieël sien  – ook die vroue.  Vir Conrad Sidego het ek dadelik herken. Sy lang lyf het bo almal uitgetoring.

Die formele afskeid sou in Februarie 1998 volg: ‘n tradisionele dinee by die Mount Nelson.  Teen daardie was ek al gewoond aan die nuwe status van voormaligheid.

In die  volgende klompie dae wil ek graag die een en ander uit my loopbaan van 35 jaar deel – eintlik 40 jaar as jy my tyd as beurshouer en gereelde vakansiewerker by Die Volksblad ook tel. Verduur my dus maar,  asseblief.

NASKRIF:  Van die lede van die bestuur van Naspers wat op daardie dag saam met my op die 18de verdieping gehuisves was, en saam ‘n totsienstee gedrink het, is nog net ekself en Ton Vosloo, uitvoerende hoof, oor.  Ja, werklik. Koos Bekker het nog nie formeel ingetrek nie. Die ander voor wie se name ‘n “wyle “ gevoeg moet word, was Eric Wiese (in sy huis vermoor aan die voet van Tafelberg vermoor), Andrew Marais, Conrad Sidego, Robert Crowther en my buurman aan die oorkant van ‘n gemeenskaplike p.a.-kantoor, Salie de Swardt.  Die Byl kap al hoe vinniger. Dis  ‘n versoberende gedagte vir ‘n amper 82-jarige.

 

Foto’s:  (i) Vir oulaas Saam met die liewe Lizette Hanekom. (ii) HvD’s net waar jy kyk.

 

RUILDUIWEL, VARKE, BABERS EN BURGEMEESTER SE BODEM

Almal het seker al ‘n koerant onder oë gehad waarin onderskrifte per abuis omgeruil is. Op bladsy 3, sê maar, is ‘n foto van ‘n mooi meisie. In die onderskrif staan: “Hierdie knewel van ‘n patat……” Dieper die koerant in is ‘n foto van ‘n yslike patat. In die onderskrif staan Mej. So-en-So wat as Mej. Hartenbos gekroon is.
Die onderwerp van omgeruilde onderskrifte is gister vlugtig op Nagkantoor aangeroer. Albe Grobbelaar het ‘n bekoorlike Rykie-van-Reenen-storie opgediep oor die kleurrryke sangeres Cecilia Wessels. Ek kon toe as kommentaartjie ‘n naskriffie byvoeg oor ‘n koerant wat in ‘n spesifieke uitgawe foto’s gehad het van die gedugte me. Wessels en ‘n voortreflike varksog.
Toe kry die ruilduiwel die twee beet – met die allerliederlikste gevolge.
Twee ander slagoffers:
‘n Fris vroulike tennisspeler slaan af dat haar rokkie hoog opwip. Die onderskrif maak lesers wys sy is Mev. So-en-So wat by die naweek se hengelkompetisie dir prys vir die grootste baber gewen het.
‘n Vroulike burgemeester van Namibië, glimlag mooi vir die kamera, ketting en al. “Hierdie ou balie (tub) het verlede week die hawe aangedoen om haar bodem te laat skraap,” staan in die onderskrif.
Wag, dit is darem nie net vroue wat aan die ontvangkant is nie. Net nou kry Stellenbosch se prof. Amanda Gouws my beet. Ek lees juis in vanoggend se Burger hoe oorgehaal sy is om iemand te vloek dat die see hom nie kan skoon was nie.
‘n Keer was daar foto’s van oud-president Blackie Swart en die skip Andrea Doria wat iewers vergaan het. Onder die foto van die eerbiedwaardige Oom Black moet lesers toe verneem dat dit is hoe die laaste stuiptrekkinge van die Andrea Doria lyk.
Gelukkig had hy ‘n gesonde humorsin.
(Hierdie brokkies kom nie uit die duim nie maar uit my humorboekies “Scoops en skandes” , Tafelberg, 1993, en “Flaters en kraters”, eerste druk, Tafelberg, 1996.)

KERSBRIEF UIT MELKBOS

Liewe vriende

Stilletjies het nog ‘n Desember – Hennie se 81ste, Tokkie se 76ste en ons twee se 55ste saam – op ons afgekom. Hier is die einde van die jaar op ons. Tyd het aangebreek vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand.

Ons kyk terug met dankbaarheid vir gesondheid, lewensvreugde, plus-minus ons 50ste salige Sabieparkbesoek en heerlike ure op ons bankie langs die see, wyntjie in die hand. In verskeie opsigte was 2022 vir ons ons kinders en kleinkinders ’n bakenjaar. Ons is nou ’n gedenkwaardige kwarteeu lank trotse Melkbossers. Hennie is ‘n kwarteeu afgetree. Die tweeling is 18. Hulle maak matriek klaar en spog met rybewyse (en rygoed). Migael is 16. Christopher is klaar met laerskool.

Hennie is ingenome met erkenning deur sy skool, Volkies op Potchefstroom, in dié se eeufeesjaar. ‘n Skaars Alumnitoekenning is aan hom gerig as “’n lojale oud-Volkie wat hom op ‘n buitengewone wyse in die samelewing onderskei het” – 65 jaar ná matriek.

Vir Tokkie ‘n plesiertjie was dat haar granaatrooi Mercedes – nou 14 jaar oud maar met die aanskyn van ‘n splinternuwe – op die nippertjie by die matriekafskeid moes gaan red nadat twee ander veterane onklaar geraak het. Die rooi impakspeler het geskitter – so dink sy eienares (foto).

‘n Groot lewensskuif vir Johan, Mariza en Migael het begin met die koop van ‘n ruim, mooi huis aan die Wesoewer op Oudsthoorn (foto heelbo) as tuiste vir volwasse outiste. So begin ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe met Migael. Die plan is dat die Legacy Centre vir kinders op George moet voortleef en dat Johan sy ekonomiese aktiwiteite daar uit Oudtshoorn voorsit. Die tradisionele Groot Stap in George se Botaniese Tuin ten bate van die Legacy Centre was vanjaar weer ‘n besonderse okkasie.

In die huis van Marisa van Brent was dit ‘n vol jaar met yslike programme – tog darem ook ruim kans vir die gesin se voorliefde vir kamp.

 

Die tweeling, Thomas en Jacob, groet Stellenberg met hande vol bekers, pryse, eerbewyse en balkies. Albei het erekleure gekry. Thomas was o.m. die tweede jaar agtereenvolgens die wenner van die Rekeningkunde-Olimpiade van die Universiteit van Johannesburg. Jacob het, soos vyf jaar gelede in graad 7, die skoolhoof se spesiale pryse vir voortreflike diens aan die skool verower (foto).

Christopher wat in Oktober Nederland besoek het, groet Welgemoed Laer o.m. met die gesogte titel ”Mnr. Blessie” (foto onder), as eerstespan-rugbyspeler en as rasieleier.

Wat die nuwe jaar vir ons inhou? Wel, ek en Tokkie vier nog ‘n kwarteeu-baken. Sabiepark is op 15 Maart 2023 ‘n volle 25 jaar in ons besit. Ons vaar in Januarie saam met Johan en Mariza op die MSC Sinfonia Walvisbaai toe voordat hulle na Oudtshoorn trek. Die tweeling word Maties. Thomas gaan na Eendrag en Jacob na Helshoogte. Christopher begin sy hoërskoollewe by Stellenberg.

Dalk – net dalk – kom uit Hennie se pen ‘n laaste boek, weer met ‘n koerantetema.

Uit Penguin Place 11 ons beste Kerswense vir een en almal. Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.

Ons Nuwejaarswense kom uit Psalm 72:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.

Hennie & Tokkie