TOL PIENAAR SE MAGTIGE BAKENBOEK OOR WILDTUIN
Hier onder is my resensie. op versoek van Beeld, van Tol Pienaar en span se magtige bakenboek oor die geskiedenis van die Laeveld en die ontstaan van die Krugerwildtuin, Neem uit die verlede (Protea, 2007).Die resensie het helaas ook verlore geraak.
Die ensiklopediese boek beslaan 767 groot bladsye plus vyf los kaarte. Al was ek 15 jaar jonger, moes ek lees, hoor, om daardie resensie betyds te kon lewer!
SOOS SPORE BY ‘N WATERGAT
Soos die see van spore by ‘n watergat in die Krugerwildtuin lê die voetspore in hierdie boek van mense wat ‘n wilde landstreek – nie om dowe neute nie nog tot 1930 bekend as die “witman se graf” – kom tem het.
Die San, magshonger swart “koloniste”, die Voortrekkers van die roemryke Trichardt-era, voorposmense soos die Portugees João Albasini, ontdekkingsreisigers, sendelinge, goudhonger fortuinsoekers, transportryers, beroepsjagters, wildstropers, smokkelaars, Crooks Corner se alle soorte swartskape – almal duik op, doer van die Steentydperk af. Dan, na ‘n jammerlike “eeu van uitdelging”, oplaas ook die heldegalery van stoere Wildtuin-pioniere wat Paul Kruger se grootse ideaal moes vergestalt.
Ons leer ken in-diepte natuurbewaarders soos die fanatiese James Stevenson-Hamilton – die nimlike Skukuza (die “een wat skoon vee”) – wat bestem was om so ‘n reuse-rol te speel; Harry Wolhuter, legendariese oorwinnaar oor ‘n leeu in ‘n kaalhand-geveg, en sy seun, Henry; Lou Steyn, wat sy hand in ‘n gewonde leeu bo-op hom se bek gedruk het om sy tong vas te gryp, Bert Tomlinson wat nooit weer ‘n leeu vir ‘n bondel hout sou aansien nie….
Om al hierdie diverse voetspore – van deurlugtiges tot ongures – uit ‘n romantiese waas te ontrafel en in ‘n sober historiese konteks te verpak, is die enorme taak wat Tol Pienaar en sy span aangedurf het. Die resultaat is ‘n boek van ensiklopediese omvang, heerlik leesbaar, keurig versorg en beslis ‘n baken in die stelselmatige oopskryf van ‘n stuk van die aangrypendste Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Ervare reisigers dons nie sommer net met dwase moed in nie. Hulle weet: hoe grondiger die huiswerk, des te vrugbaarder die reis. ‘n Vinnige oriëntasie het my bv. die kans gebied om twee keer stil te staan by J.B. de Vaal se ontroerende klein kamee oor Dina Fourie – ‘n verhaal van ‘n vrou van staal se leeuemoed en die opperste trou van haar swart Samaritaan, Makakikiaan, indoena van Chabana, in ontberinge wat die hart vasgryp (p.206). Dit was die moeite werd.
Ook aan die sjarmante fotoskat uit ‘n Wildtuin van weleer kon ek my in dié voorlopige vingeroefening al verkneukel: dowwerige tweespoor-paadjies, eenvoudige rondaweltjies in uiters basiese kampe, ponte oor riviere, piekniekplekke in die bos… Ons het weliswaar die gerief; ons voorgeslagte het die romantiek gehad (vergelyk die jong manne wat by Onder-Sabie in die rivier was en skeer op p. 603)! En – wrintiewaar! – kyk daardie kansvatters op die dakke van hul tjorries (p. 574). Hulle kyk leeus in die 1930’s.
Op p. 541 skryf Pienaar: “So is die goeie aarde wat vandag die Krugerwildtuin is …. met bloed gedoop.” Dit is ‘n sleutelsin in dié meesleurende boek. Baie het immers in die Wildtuin hul bloed vir ‘n ideaal gestort. Nog meer het op ander altare hul lewens opgeoffer vir hul ideaal van ‘n beter, toegankliker Laeveld vir hulleself en hul nasate.
Impi’s se bloedige kampanjes; veldslae van die Anglo-Boereoorlog; die gevreesde malaria; leeus, luiperds, olifante, seekoeie, buffels, krokodille en slange; hongersnood, watergebrek, hitteslag, brande en vloede; moord en doodslag – niks kon hierdie opmars na ‘n nuwe beskawing stuit nie. Die nasate kan hul safarihoede in dankbaarheid hoog lig vir daardie vasbyters, soos Pienaar-hulle dit so waardig doen.
‘n Nuwe dimensie in dié gedugte boek is hoe ingedelf word in die verre verlede toe die Laeveld (nog) woes en leeg was (hoofstuk 1, p.11.) Die San-faktor kry uitgebreide erkenning en rotsskilderkuns word omvattend gekarteer. Historiese integriteit word verder gedien deurdat swart veldwagters van formaat verdiende eer kry. Een is Mankoti Nkuna wat hom 36 jaar na die Wolhuter-insident ook alleen in ‘n leeu vasloop. ‘n Feitlik identiese sage speel hom af. Mankoti was minder gelukkig as sy eertydse baas. Sy eie pa het die volgende dag sy lyk gekry.
Partikuliere uitdagings en verwikkelings vir die Wildtuin na die koms van demokrasie is vlugtig bygewerk. ‘n Mens wonder egter: moes die boek nie tog – al was dit net met ‘n ekstra voorwoord – t.w.v. nog groter eietydse relevansie sterker by die eise van natuurbewaring in die 21ste eeu aansluiting gesoek het nie?
Foto’s sorg vir ‘n sterk visuele element. Die Singapoerse kleudrukwerk is egter wisselvallig en party foto’s is eenvoudig te klein. ‘n “Unieke natuurtoneel” (p. 529) kan nie tot een kolom gereduseer word nie. Meer dierefoto’s soos op p. 687 (swartwitpense) en p. 569 (wildbeeste en sebras) sou ‘n aanwins gewees het. Die dramatiese omslagfoto is kennelik op die buitengewoon historiese waarde beoordeel (kyk p. 635). Ongelukkig ly die impak met vergroting skade.
Die boek volg kort op die hakke van Salomon Joubert se prag-trilogie, The Kruger National Park – A History, wat spesifiek op natuurbewaring gefokus is. Neem uit die verlede en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ‘n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” (p.610).
SALOMON JOUBERT SE WILDTUINBOEKE – VERLORE RESENSIE
Grootse boeke oor die grote Krugerwildtuin – dit is Salomon Joubert se ensiklopediese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History” beslis. In my boekery is hierdie liefdestaak van die waardevolste skatte; Africana van die eerste water.
Joubert se boekestel is in 2007 deur ‘n klein uitgewery, High Branching, in deftige hardeband met goue beslag gepubliseer. ‘n Bygewerkte tweede uitgawe het op 3 Maart 2013 sy buiging gemaak, die keer in sagteband. Dit was my uitnemende voorreg om hierdie boeke van nasionale betekenis by die verskyning van die tweede uitgawe vir die Afrikaanse dagblaaie te resenseer. Ek was werklik verheug oor die geleentheid.
Tot my teleurstelling het digitale weergawe van die resensie verlore geraak. By die skakel http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303 waar dit destyds te vinde was, kry ‘n mens net die onheilspellende boodskap dat “this site can’t be reached”. Ek herhaal dit graag hier, soos dit in my boek Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017 ) verskyn:
Soos die Sabie, Krokodil, Olifants of Luvuvhu in vloed, só vloei die nostalgie breed en onstuitbaar wanneer ’n wildtuinliefhebber in Salomon Joubert se pragtrilogie The Kruger National Park – A History verdiep raak.
Salige episodes spoel soos dryfhout verby in die vloedwater van eie herinneringe; beelde word opgetower van kampvuurtjies in ’n gesellige kring, koolstowe met reuseketels kookwater en gloeiende hardekoolstompe waar jy met langsteelgrawe kole kon skep.
Die romantiek van vanmelee word met sjarmante foto’s uit argiewe en private versamelings verbeeld. In primitiewe rondawels was daar nog kamerpotte onder die bed. Riviere is per pont oorgesteek.
Die reuse-arbeid van dié “Mnr. Wildtuin” in sy era as parkhoof (1987-94) is verstommend. Op vele en verre spore word teruggeloop – soos die duisternis spore elke oggend in riviersand. Die register omvat oneindig baie brandhout vir die onthou.
Die ensiklopediese boekestel behels derduisende feite oor alles onder die Kruger-son; van diere tot strukture. Vra sowat enige vraag oor die geskiedenis tot 1994; die antwoord is in hierdie plus-minus 1 500 bladsye se boeiende teks, kaarte, tabelle en grafieke, wil ek waagJoubert het in 1981 van sy mentor, Tol Pienaar, opdrag gekry om ’n omvattende toekomsplan vir die park saam te stel. Dit word ’n meesleurende liefdestaak. Al die navorsingsresultate, nadenke, kundigheid en kreatiwiteit wat ingestort is, vind in sy boeke neerslag, ook in heelwat voorheen ongepubliseerde stof. Prof. Fritz Eloff, vorige baas van die Parkeraad (nou Sanparke), het dit as Joubert se uitmuntendste bydrae tot natuurbewaring beskou: ’n gewigtige pluimpie.
Die skrywer het daarna nie agteroor gaan sit soos van ’n gewone sterfling verwag sou kon word nie. Dadelik het hy dieper begin dolwe, varser feite versamel, insigte verbreed en die ryke oes aan illustrasies uitgebou. Die resultaat is hierdie hersiene uitgawe wat, soos hy dit beskeie stel, die geleentheid gebied het om ’n “paar regstellings te maak, asook hier en daar nuwe inligting en illustrasies by te voeg”.
Die kollektiewe Kruger-dinamiek lewe op die omslae, nou sagteband. Ai, daardie swartwitpense op Volume I darem – die bladsye wemel van sulke natuurlike, onopgesmukte wildtuintonele.
History is die fassinerende verhaal van dié kroonjuweel se verrysenis. Met passie, visie, idealisme en ferm bestuur is die Kruger-wildtuin van ’n nederige begin, soms sukkelende, soms met vaartversnellings, soms deur turbulensies, uitgebou tot ’n park wat in omvang, verskeidenheid en karakter uniek ter wêreld is.
’n Chronologiese safari neem die leser deur vyf tydvakke met ’n verskeidenheid kulture, style, voorkeure en filosofieë. Veranderende beleide, byvoorbeeld oor kunsmatige watergate, beheerde brande en die uitdunning van olifante, kom aan die bod. Strydpunte word openhartig uitgelig.Die pioniers wat Paul Kruger se ideaal moes vergestalt, is prominent: die legendes, karakters en helde (ook anti-helde). In ’n uitgebreide galery maak onbekendes soos Boorman Bosch (die boorman Pieter Bosch) en hoofman Chocwane (Tshokwane) hul buiging.
Die ware hartklop is die ryke natuurlewe: die olifante, leeus en luiperds; die bobbejane en vlakvarke; die kremetarte, maroelas en mopanies; die gompoue, arende en bromvoëls; die krokodille en adders.
Die fokus is, tereg, sterk op hierdie magnete wat derduisende besoekers uit elke windrigting telkens teruglok.
’n Glimlagbrokkie uit ’n ou brosjure is dié wenk: Moenie vir leeus skrik nie. Hulle staar eintlik na julle motors, vreemde goed wat hulle stom verbaas. Hul neuse vertel dit is nie lekker kos nie en stink na petrol!
Niks aan die Kruger is klein nie. Ook niks aan Salomon Joubert se boeke nie. Dis grootse werke oor ’n grootse plek waarvoor die geskiedenis die outeur sal eer. ’n Ruiker tarentaalvere vir die klein uitgewery High Branching.
- Uit die pen van Joubert se mentor, Tol Pienaar, het ook twee gedugte Wildtuinboeke verskyn, Neem uit die Verlede (Protea Boekhuis, 2007) en ‘n selfpublikasie in 2010, Goue jare – die verhaal van die nasionale Krugerwildtuin (1947 tot 1991). Pienaar se boeke en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ’n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” Eersgenoemde is ook deur my geresenseer. Daaroor skryf ek in ‘n volgende blog.
RIDDERS VAN DIE MIELIEBLAAR

Volkies se eie span ridders.
Elke Saterdagaand om agtuur het dit uit die Bloemfonteinse ateljee van die SAUK bra valserig opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar, die wêreld woes, leeg en naar sal ons hervorm; met ‘n towerslag die leed verban en die traan versag.”
Daarna was Oom Mêrten, Doorsie en trawante – afwisselende karakters soos Oom Gabriël (dalk Gawerjal of Gabrilêl), Hennerik en Paal – ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord om “oplossings” te vind vir kwellinge wat die volksgemoed beroer. Altesaam 600 episodes op agtereenvolgende Saterdagaande in die jare 50 het luisteraars voor die radio vasgenael laat sit om die ridders van die klub se pittige wyshede aan te hoor.
Die Mielieblaarklub van AM Burger was ‘n moet-luister-program en die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” het deel van die spreektaal geword. Die skrywer, Burger, en veral die twee sentrale karakters, die kwasterige Oom Mêrten met sy ryk basstem (pure outydse dominee) en die stamelende, senuagtige Doorsie, was huishoudelike name. Al drie was Bloemfonteiners. Oom Mêrten en Doorsie was albei onderwysers in Afrikaans – die een aan die Greykollege en die ander aan die Hoërskool Sentraal.
AM (Apie) Burger self was ‘n dosent aan die Strijdom-opleidingskollege vir swart onderwysers, ten suide van Bloemfontein. Die kollege is bedryf deur die Vrystaatse NG Kerk, wat ook sendingstasies in Noord-Rhodesiê en Njassaland onderhou het (die huidige Malawi). Apie was getroud met die aktrise Anna Richter Visser, bekend om haar gevleuelde bril. Hy word onthou as ‘n “vriendelike oom”, maar nie altyd so stiptelik met sy tekste nie.
Die “ridders” moes soms self inspring en woorde opmaak wanneer Burger se teks nie opgedaag het nie of onvolledig was. Dinge was so informeel dat Burger een keer gesorg het dat Oom Mêrten groete stuur vir ‘n kollega in die sendingveld in die destydse Noord-Rhodesië. Die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” was syne.
Die rol van die kwasterige Oom Mêrtin is vertolk deur Jaap Rousseau, kleurryke veteraan-onderwyser aan die Grey-kollege in Bloemfontein vir amper 40 jaar, van 1926 tot 1965. Hy het Afrikaans en Latyn gegee, rugby en atletiek afgerig (met sy “plankie” altyd byderhand) en was lank huisvader van Leith-huis. Met sy DKW-motortjie, bokbaard, pyp en pet, asook sy grys sokkies en sandale as klasdrag was hy ‘n geliefde stukkie Grey-tradisie.
Doorsie, JJ van Rensburg, was Afrikaans-onderwyser op Sentraal in Bloemfontein. Voorheen was hy lid van die Hanekom Toneelskool met rolle in sowat 15 produksies in Bloemfontein tussen 1930 tot 1934. Doorsie se stem het glo glad nie die seunsagtige stemmetjieklank gehad wanneer hy voor ‘n klas staan nie, en het verklap hoe ‘n goeie toneelspeler hy was.
Oom Gabriël, Gawerjal of Gabrilêl was ‘n taamlik gereelde ridder. Maar wie het die rol vertolk? Dit lyk na ‘n vergete stukkie SAUK-geskiedenis. Ook oor ander randfigure soos Paal en ‘n vlugtige vroulike lid ontbreek inligting.
Ekself was ‘n gereelde luisteraar na die program en het graag, waar moontik, aan die wyse lippe van die vier volksredders gehang. Op my voorstel is in 1957 uit ons matriekklas van Volkies (die Hoër Volkskool, Potchefstroom) ‘n kloon gebore. Die rolverdeling was soos volg: Oom Mêrtin (Carel Weeber), Oom Gawerjal (Koos van Niekerk), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe).
Die viermanskap se funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus. Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien om verliefde paartjies te beteuel. Op 28 September 2002 is ‘n matriekreünie ná 45 jaar op Potchefstroom gehou. Een van die soeweniers van daardie verhewe geleentheid is ‘n foto van Oom Mêrtin, Oom Gawerjal, Doorsie en Hennerik, ietwat voller van postuur, blesser, gryser – seker ook ‘n kerfie wyser! – besig net ‘n kamma-program.
NASKRIF: In die Wikipedia op Google van dr. OPM Burgers, een van die eerste heeltydse omroepers van die SAUK, word beweer dat hy die skrywer van en ook ‘n deelnemer aan die program was. Dit is nie korrek nie. Die skrywer was beslis AM Burger. Die baanbreker-omroeper Olivier Burgers was egter uit eie reg ‘n radioman wat in die beginjare van radio in Suid-Afrika ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het. In sy latere loopbaan was hy Wes-Kaapse streekbestuurder van die SAUK. Hy was ‘n geleerde wat ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden in Nederland verwerf het met ’n proefskrif oor C Louis Leipold, asook ‘n kenner van Langenhoven, skrywer, akteur, resensent en beoordelaar by drama- en kunswedstryde. Hy tree onder meer op in ‘n Afrikaanse opvoering van Hamlet van William Shakespeare in 1947. Die radiorubriek Knap u Engels op is jare lank deur hom aangebied. Hy was, les bes, die broer van Frederik Burgers, akteur en komediant, wat vele rolprente saam met sanger-komediant Al Debbo gemaak het.
KWARTEEU VAN MELK(BOS) EN HEUNING

Op Melkbos se destydse stoep. Ons poseer vir die tydskrif Sarie 25 jaar gelede.
“Van die stoep, oor my grasperk, oor die sand, in die see. En dit ‘n skrale 30 km van die hartjie van Kaapstad. Ek het nooit geweet ‘n doodgewone mens kan soveel plesier hê nie.”
So het ek die tydskrif Sarie geantwoord toe dié vir my vir ‘n artikel in sy uitgawe van 31 Desember 1997 oor Melkbos se bekoring vra. Ons het ‘n rukkie tevore uit Welgemoed na die mooi kusdorp getrek as ‘n “proeflopie” vir my aftrede. Daardie “proeflopie” het ‘n kwarteeu geword. In hierdie dae vier die Van Deventers hul 25 jaar van Melkbos-verbondenheid – verreweg die langste skof in ons lewe
Penguin Place 11 – dis ons plek van melk(bos) en heuning met Tafelberg in sy vele stemming en skakerings aan die suidekant en die atlantiese oseaan wydgestrek voor ons met saans die skilderagtigste sonsondergange. Dan Robbeneiland. Op ‘n helder dag sien ons van ons stoep af motors op die eiland ry. Saans bekoor sy liggies en sy vuurtoring.

Van ons eerste gaste 25 jaar gelede. Van die spannetjie kollegas is meer as 50% al heen.
Baie water het al in die Atlantiese oseaan voor ons geloop. Van die stoep tot in die see is nie meer so ‘n maklike storie nie. In die twee en ‘n half dekades het ek en Tokkie egter al liewer vir ons aftreeplek geraak. Ons is verknog aan die plek, of gek na ons plek, om ‘n uitdrukking by my oud-kollega Herman le Roux te leen.
Wat bied Melkbos ‘n mens nie alles nie? Buiten die goue skemers en die skilderkwas-sonsondergange, ook ‘n salige kleindorp-rustigheid en ‘n blouvlag-strand waar altyd iets roer, hetsy die gereelde wandelaars, die vlieër-entoesiaste met hul kleurryke tuie, die bedrewe seilplankryers (veral as die suidooster opsteek) en die vroegoggend-perderuiters (of selfs ‘n ry pelikane wat verby marsjeer).
Haai, sal Tokkie hier wil ingryp: die beste is dat alles so binne bereik is. Binne vyf minute kan jy by die supermark, die dokter, die kerk of ‘n lekker restaurant wees. Binne 10 minute is jy by ‘n moderne reuse-winkelsentrum met elke moontlike diens waaraan jy kan droom. Vir die hospitaal ry jy ‘n klein entjie verder.
Ja, dit alles maak Melkbos vir ons die beste plek vir ons herfsjare. Maar oos, wes, tuis, bes. Op die keper beskou, bly die allerbeste tog net een ding: jou eie huis en die plek waar hy staan. Dit is wat jou die voorreg gee om 24 uur van die dag van die see bewus te wees. Om die branders te sien aanrol; om die oseaan te sien, te hoor en te ruik; om soms walvisse baldadig uit die water te sien spring.

Tentfees op die gras voor ons huis sewe jaar gelede.
Op die gras voor die huis is al ‘n markiestent opgeslaan en groot fees gevier: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag met 100 aansit-gaste en lekker kos uit buurman Dale Schreuder se restaurant. Die VOG-groep (Volksblad-omgeegroep) het kom braai vir ‘n jaar-afsluiting: ‘n saamtrek van oud-kollegas soos min. Kuiergaste – tot uit Portland en Seattle – het bladsye vol in die gasteboek geskryf.
Uit hierdie huis is kinders getroud en kleinkinders gedoop. Hier het Ouma Marietjie haar 90ste gevier. Teen ons mure hang gesinsfoto’s wat op die stoeptrappies geneem is met klein kinders wat al hoe meer en oupa en ouma wat al hoe ouer word. Kleinkinders wat eers as babas op die sandduine rondgekruip het, het later as jong manne op die gras gholfstokke kom swaai. Die goue herinneringe is talryk.
Ouer word of nie, die lekkerte bly om sommer net hier rond te peuter, te kuier of te lees – of om laatmiddag met ‘n wyntjie op ons bankie teenaan die strand te gaan sit en die skoene uit te skop. Dit sou ons sonder teenstribbeling vir nog 25 jaar kon doen.