Hier onder is my resensie. op versoek van Beeld, van Tol Pienaar en span se magtige bakenboek oor die geskiedenis van die Laeveld en die ontstaan van die Krugerwildtuin, Neem uit die verlede (Protea, 2007).Die resensie het helaas ook verlore geraak.
Die ensiklopediese boek beslaan 767 groot bladsye plus vyf los kaarte. Al was ek 15 jaar jonger, moes ek lees, hoor, om daardie resensie betyds te kon lewer!
SOOS SPORE BY ‘N WATERGAT
Soos die see van spore by ‘n watergat in die Krugerwildtuin lê die voetspore in hierdie boek van mense wat ‘n wilde landstreek – nie om dowe neute nie nog tot 1930 bekend as die “witman se graf” – kom tem het.
Die San, magshonger swart “koloniste”, die Voortrekkers van die roemryke Trichardt-era, voorposmense soos die Portugees João Albasini, ontdekkingsreisigers, sendelinge, goudhonger fortuinsoekers, transportryers, beroepsjagters, wildstropers, smokkelaars, Crooks Corner se alle soorte swartskape – almal duik op, doer van die Steentydperk af. Dan, na ‘n jammerlike “eeu van uitdelging”, oplaas ook die heldegalery van stoere Wildtuin-pioniere wat Paul Kruger se grootse ideaal moes vergestalt.
Ons leer ken in-diepte natuurbewaarders soos die fanatiese James Stevenson-Hamilton – die nimlike Skukuza (die “een wat skoon vee”) – wat bestem was om so ‘n reuse-rol te speel; Harry Wolhuter, legendariese oorwinnaar oor ‘n leeu in ‘n kaalhand-geveg, en sy seun, Henry; Lou Steyn, wat sy hand in ‘n gewonde leeu bo-op hom se bek gedruk het om sy tong vas te gryp, Bert Tomlinson wat nooit weer ‘n leeu vir ‘n bondel hout sou aansien nie….
Om al hierdie diverse voetspore – van deurlugtiges tot ongures – uit ‘n romantiese waas te ontrafel en in ‘n sober historiese konteks te verpak, is die enorme taak wat Tol Pienaar en sy span aangedurf het. Die resultaat is ‘n boek van ensiklopediese omvang, heerlik leesbaar, keurig versorg en beslis ‘n baken in die stelselmatige oopskryf van ‘n stuk van die aangrypendste Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Ervare reisigers dons nie sommer net met dwase moed in nie. Hulle weet: hoe grondiger die huiswerk, des te vrugbaarder die reis. ‘n Vinnige oriëntasie het my bv. die kans gebied om twee keer stil te staan by J.B. de Vaal se ontroerende klein kamee oor Dina Fourie – ‘n verhaal van ‘n vrou van staal se leeuemoed en die opperste trou van haar swart Samaritaan, Makakikiaan, indoena van Chabana, in ontberinge wat die hart vasgryp (p.206). Dit was die moeite werd.
Ook aan die sjarmante fotoskat uit ‘n Wildtuin van weleer kon ek my in dié voorlopige vingeroefening al verkneukel: dowwerige tweespoor-paadjies, eenvoudige rondaweltjies in uiters basiese kampe, ponte oor riviere, piekniekplekke in die bos… Ons het weliswaar die gerief; ons voorgeslagte het die romantiek gehad (vergelyk die jong manne wat by Onder-Sabie in die rivier was en skeer op p. 603)! En – wrintiewaar! – kyk daardie kansvatters op die dakke van hul tjorries (p. 574). Hulle kyk leeus in die 1930’s.
Op p. 541 skryf Pienaar: “So is die goeie aarde wat vandag die Krugerwildtuin is …. met bloed gedoop.” Dit is ‘n sleutelsin in dié meesleurende boek. Baie het immers in die Wildtuin hul bloed vir ‘n ideaal gestort. Nog meer het op ander altare hul lewens opgeoffer vir hul ideaal van ‘n beter, toegankliker Laeveld vir hulleself en hul nasate.
Impi’s se bloedige kampanjes; veldslae van die Anglo-Boereoorlog; die gevreesde malaria; leeus, luiperds, olifante, seekoeie, buffels, krokodille en slange; hongersnood, watergebrek, hitteslag, brande en vloede; moord en doodslag – niks kon hierdie opmars na ‘n nuwe beskawing stuit nie. Die nasate kan hul safarihoede in dankbaarheid hoog lig vir daardie vasbyters, soos Pienaar-hulle dit so waardig doen.
‘n Nuwe dimensie in dié gedugte boek is hoe ingedelf word in die verre verlede toe die Laeveld (nog) woes en leeg was (hoofstuk 1, p.11.) Die San-faktor kry uitgebreide erkenning en rotsskilderkuns word omvattend gekarteer. Historiese integriteit word verder gedien deurdat swart veldwagters van formaat verdiende eer kry. Een is Mankoti Nkuna wat hom 36 jaar na die Wolhuter-insident ook alleen in ‘n leeu vasloop. ‘n Feitlik identiese sage speel hom af. Mankoti was minder gelukkig as sy eertydse baas. Sy eie pa het die volgende dag sy lyk gekry.
Partikuliere uitdagings en verwikkelings vir die Wildtuin na die koms van demokrasie is vlugtig bygewerk. ‘n Mens wonder egter: moes die boek nie tog – al was dit net met ‘n ekstra voorwoord – t.w.v. nog groter eietydse relevansie sterker by die eise van natuurbewaring in die 21ste eeu aansluiting gesoek het nie?
Foto’s sorg vir ‘n sterk visuele element. Die Singapoerse kleudrukwerk is egter wisselvallig en party foto’s is eenvoudig te klein. ‘n “Unieke natuurtoneel” (p. 529) kan nie tot een kolom gereduseer word nie. Meer dierefoto’s soos op p. 687 (swartwitpense) en p. 569 (wildbeeste en sebras) sou ‘n aanwins gewees het. Die dramatiese omslagfoto is kennelik op die buitengewoon historiese waarde beoordeel (kyk p. 635). Ongelukkig ly die impak met vergroting skade.
Die boek volg kort op die hakke van Salomon Joubert se prag-trilogie, The Kruger National Park – A History, wat spesifiek op natuurbewaring gefokus is. Neem uit die verlede en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ‘n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” (p.610).