ANTWOORD UIT ‘N KROEG

Wanneer iemand van die statuur en charisma van koningin Elizabeth II sterf,  hoef koerante wêreldwyd nie kop te krap oor ‘n hoofberig nie.  Ander kere is die keuse soms ‘n tameletjie – veral in sogenaamde komkommertyd as nuus skaars is. Met koningin Elizabeth was die besluit vir die meeste vanselfsprekend, soos Die Burger se voorblad vandag weerspieël.

Die idioom van “een se dood is ‘n ander se brood” kom by ‘n mens op. In die koerantwêreld is dit bepaald ‘n onomstootlike waarheid. Sterftes van bekendes is nuus – groot nuus. Sterf twee bekendes in dieselfde tydgleuf, is die keuse watter een in die hantering voorrang moet kry. Oordele oor aanbieding verskil soms skerp, nie net van koerant tot koerant nie. Ook intern. Robuuste debatte word gevoer.

‘n Storie wat op die onderwerp nogal uit ‘n onverwagse hoek lig werp, het te make met die keuse van ‘n hoofberig (“lead story”) vir die eerste uitgawe van Amerika se eerste nasionale dagblad, “USA Today”, op 15 September 1982.

Bashir Gemayel, pasverkose president van Libanon, is vermoor, en by die koerant was die algemene verwagting van senior lede van die redaksie dat dit die hoofberig sou wees, soos dit wel van ander Amerikaanse oggendblaaie was.

Maar prinses Grace (Kelly) van Monaco is in ‘n motorongeluk gedood, en “USA Today” se redakteur, Al Neuharth, se instinkte het hom vertel dat dit vir die meeste Amerikaners die grootste nuus van die dag sal wees. Om sy teorie te toets, is hy na ‘n kroeg en ‘n politieke byeenkoms.

By albei plekke was die dood van prinses Grace op almal se lippe. Toe Neuharth die sluipmoord in Libanon meld, het mense hul skouers opgehaal. Die volgende oggend was “USA Today” se banieropskrif : “America’s Princess Grace dies in Monaco”. Gemayel se dood was op ‘n binneblad.

EK SWAAI ‘N UNION JACK


Reken, sover hierdie 81-jarige kan onthou, het hy die 96-jarige ontslape koningin net een keer in sy lewe in lewende lywe gesien. Sy was toe nog prinses Elizabeth – net 20 jaar oud. ‘n Stralende jong vrou.
Die uwe is in 1947, 75 jaar gelede, in Kimberley skool toe: die Diamantveld-Laer. Vroeg in die eerste kwartaal was die skool in rep en roer. Koning George VI, koningin Elizabeth, prinses Elizabeth en prinses Margaret uit die verre Engeland besoek die Diamantstad.Elke kind word ‘n Union Jackie in die hand gestop en die see opgewonde kindergesiggies staan ure lank op die roete waarlangs die vyf statige swart Daimlers met hul koninklike vrag stadig verbyknor.Oupa Herklaas Visser is in ons skakelhuisie met die vlaggie-swaaiery van sy kleinseun se skool nie baie gediend nie. Waar hy met sy gekromde kierie in sy hand in ‘n sonhoekie in Diagonalstraat 10 se sitkamertjie sy dae sit en omlees aan Die Voksblad, roep hy grimmig die Anglo-Boereoorlog in herinnering. Sy tyd in die krygsgevangekamp op Ceylon druk swaar op sy hart.

Toe Oupa boonop in die koerant lees van die twee yslike diamante – een blou-witte van ses karaat en een van vier-en-half – wat De Beers (sy oorlede skoonseun se werkgewer) vir die twee prinsesse present gegee het, was hy erg verontwaardig.

Askies Oupa, wil ek stilletjies na binne prewel as ek vandag in my gemoed ‘n simboliese Union Jackie vir die koningin swaai. Wat ‘n waardige dame was sy nie. Uitdagings was volop, maar die pad wat sy geloop het, was altyd reguit en voorbeeldig – haar land ter ere.

                                                                ***********************************************************
In die Royal Natal Hotel aan die voet van die manjifieke Mount-Aux-Sources in die Drakensberg het Koning George en sy gesin in 1947 uitgespan – dus ook kroonprinses Elizabeth, die pas ontslape koningin. Trouens, dit was waar sy haar 21ste verjaardag gevier het.
Twintig jaar later het ek en Tokkie ons tweede huweliksnag, 1 Januarie 1967, daar deurgebring – nou wel nie in die koninklike kwartiere nie, maar darem ook nie te versmaai nie. Die waardige plek was deftig met ‘n hoofletter D. Die atmosfeer was behaaglik, die kos heerlik en die uitsig hemels.
Tien jaar gelede het ons op ou spore gaan terugry. Toe is “ons hotel in die berge” ‘n absolute bouval – hartverkeurend om te aanskou. Waar die elegante eetsaal was, het die onkruid meters hoog gestaan. In die koninklike kwartiere het stukke dak ontbreek – ‘n droewe toneel van vervallenheid.
Wat gebeur het, is dat die huurders se kontrak verstryk het, het ons gehoor. By die hemelhoe nuwe huurgeld kon hulle nie bykom nie, en niemand anders wou byt nie. Toe staan die plek dolleeg … en die plunderaars beweeg in.
Sic transit gloria mundi.
                                                   **********************************************************************************
Met die Wit Trein op pad na die noorde gedurende die koningsbesoek aan Suid-Afrika in 1947 stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – en sy geselskap op Beaufort-Wes.
Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme Engelse verslaggewer (en later ook die subredakteur) in ‘n gat trap.
Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die hoofsaaklik Afrikaanstalige skare sy majesteit begroet het met krete van:
“Hoere, hoere, hoere vir die koning!”

PROF. PERFORMER

Fransjohan Pretorius se memoires oor sy dosenteloopbaan op Netwerk24 laat die prentjie van prof. Nico van der Merwe voor my opdoem. Hy was ‘n jeugdige regsprof by Tukkies in die jare 60. ‘n ware “showman”. Ek sou sy delikteklas in Romeins Hollandse Reg III vir geen geld misloop nie.
Hy gee klas oor seduksie. Vertel van hierdie hofuitspraak en daardie handboek-definisie. Dan: “Goed, dis wat hulle sê. Maar wat sê ek, Nico van der Merwe?” As hy klaar is, slaan hy triomfantelik op sy bors: “En wie dink julle is reg? Natuurlik, ek, Nico van der Merwe.”
By ‘n ou met die bynaam Killer wil hy weet: “Killer, ek stap in die straat af en stamp die man wat van voor kom, teen die bors. Wat is dit?”
“Aa-aa-anranding, pro-o-o-ofessor,” antwoord Killer, nie ‘n man wat soos ‘n snelgeweer praat nie.
“Nee, Killer, nee. As jy hom stamp, is dit aanranding. As ek hom stamp, is dit moord, moord, moord!”
Ons skryf toets. Bo aan een – later ‘n bekende sakeleier – se vraestel staan: “Mooi so Mnr. So-en-So, as jy so aanhou, gaan jy net-net dop.”
Saam met ons in die klas was ‘n mediese dokter, ene Cor du Preez. In ’n ander toets moet ons die vraag beantwoord: Bespreek die vonnis Methodist Church vs. The Master (Gaan slaan dit gerus na). Hy skryf toe: Prof, ek het nooit geweet dat ‘n Engelse kerk my klokke so sou laat lui nie.
Prof. Nico antwoord: Ja dok, en dis toe nie die gelui van huweliksklokkies nie, maar die kluitlap op die kis!
Ongelukkig het ‘n blonde buurvrou in prof. Nico se lewe gekom. Hy beland op die voorblad van Die Transvaler. Of dit gelei het tot huweliksklokkies later weet ek nie. Wat ek wel weet: dit het ‘n briljante loopbaan kortgeknip.

TOERISTE? NJET! NJET! NJET!

Nou-ja, die onderhoud met Gorbatsjof waarvoor ek in 1990 na die Sowjet-Unie is, was toe ‘n nat klapper. Toe toer ek, vermom soos ‘n Britse toeris, maar rustig verder saam met die groepie van 20 uit die VK waarby ek my in Londen aangesluit het. Ek hou darem my oë oop vir ander stories, soos die enorme toue by die eerste McDonalds in Moskou, die dolleë winkelrakke en die strand-apartheid in Odessa .
Ons toergids van Intourist, ‘n staatsinstelling, is Swetlana. ‘n nogal knorrige tante wat nie nonsies vat nie. Van Odessa na Leningrad was die groep veronderstel om te vlieg. Op die tippie roep sy ons bymekaar en kondig aan 10 van ons moet per trein ry – jy en jy en jy. Vliegtuig is vol.
Leningrad is ‘n nagreis ver per trein. Dus nog ’n lang dag in Odessa vir die ongelukkige 10; nog minder tyd in die mooie Leningrad (St. Petersburgh) met sy paleise, die Hermitage-kunsmuseum met sy hope Rembrandts en wat nog. Gevolg: hoge ontsteltenis in die groep.
As julle toeriste so sleg behandel, kan julle maar vergeet, kapittel ‘n Skotse magistraat vir Svwtlana. “But we don’t want tourists.” kap sy betraand terug. “Tourists bring hard work. They need clean sheets. They want fancy food. They make us unhappy!”
“We don’t want tourists!” Wat ons spannetjie betref, het sy daarmee die spyker vierkant op die kop geslaan. Die Sowjet-Unie – toe in sy laaste stuiptrekkings – kon, volgens ons ervarings, werklik nie beskuldig word dat hy die rooi tapyt vir toeriste uitrol nie.
Vergeet van reisreëlings wat op nommer 99 omvergegooi word, van winkelrakke wat leeg vir jou gaap, van rigiede voorskriftelikheid t.o.v. jou bewegings (Swetlana kon op haar rug val toe ek in Odessa aankondig ek wil ‘n motor huur en op my eie die Swartseekontrei gaan bespied), van steiers wat glo al hoe lank sierlike ou geboue orent help hou, van swaarkry op die gryse moedertjies in parke en op straat en van opdringerige straatsmouse wat oral bie om matriosjkapoppe en beervelmusse aan jou te verkoop of dollars by jou te koop (‘n misdaad).
Moet darem noem hoe ‘n gesukkel dit was om kos in die hande te kry – nogal ‘n noodsaaklikheid vir enigeen, joernalis of toeris. Dankie tog vir die pak Marlboro’s wat ek op aanbeveling saam het. Dwars deurwagte by ontoeganklike restaurants laat hulle gretig daarmee omkoop.
Die middelmatige Hotel Bratislava in Kiëf onthou ek of ek gister daar was weens die plankdun matrassie en die norse, besnorde vroulike “generaal-majoor” wat my boos uit die eetsaal geboender het omdat ek vyf minute te vroeg wou kom aansit vir brekfis. “Njet! Njet! Njet!”
Volgende stop was Odessa. Die stad was (is dalk nog) bekend as die “Pêreld van die Swartsee”. Die rede het my ontwyk.
Ontnugtering nommer een was die Hotel Chornoye More (Hotel Swartsee) wat niks beter as ‘n swakkerige plattelandse losieshuis was nie, met hysbakke wat skynbaar permanent “out of order” is. Die kennisgewings is duidelik nie gister opgesit nie. Die Chornoye More is boonop kilometers weg van die see per rammelkas-bus deur vuil nywerheidsgebied waar ‘n digte rook hang.
Ontnugtering nommer twee was die strand self (foto). Die geriewe is oes – sommer sulke slordige, styllose opslaangeboutjies. Die ergste skok: die “strand-apartheid” wat streng gehandhaaf word. Oorsese toeriste had ‘n spesiale “Intourist”-strand wat met hoë tralies – variasie op die tema Ystergordyn! – van die strande van die plaaslike plebejers afgekamp was. Hulle beloer jou nuuskierig. Njannies.
Ons het darem in Odessa een aand ‘n mooi konsert in die deftige Operahuis aan die bopunt van die indrukwekkende “Potenkim Stairs” – simboliese toegang tot die stad van die see se kant – bygewoon. Die talentvolle kunstenaars was uitgevat in aandpakke en swierige rokke. Die sirkus en ballet in Moskou was ook goed. Net jammer die sirkustent se dak het ingestort weens aanhoudende reën.
Die versameling in die Hermitage in Leningrad was ‘n belewenis. Net jammer die vensterrame se verf was so afgeskilfer en plek-plek verrot.
Die moltreinstasies is kunswerke en die treine loop op die minuut. Glo Lenin se buiging na die werkers. Geen “maar” hier nie.
Vir uitbuiting moet jy lig loop. Uit Odessa bel ek Washington. Vooraf kry ek, altyd versigtig, ‘n kwotasie vir die prys van die oproep. Toe ek my rekening kry, is dit egter driedubbeld die bedrag. Toonbankdienste was bra bot toe ek hoflik wil navraag doen. Swetlana moet ingryp. Sy lyk nie alte gretig nie. Tog het sy tot my ewige dank. Toe betaal ek eindelik aansienlik minder as wat gekwoteer was!
Ek wou nog iets oor die land se minder gelukkige openbare toilette sê, maar genoeg is genoeg. Laat ek liewer halt roep met net die een opmerking: Ook op Aeroflot het die toilette waarlik nie fris geruik nie. Dis om dit sag te stel. En daar was vlieë teen die dak. Soontoe en terug na Gatwick.
Ek weet ‘n klomp mense gaan kwaad wees oor hierdie onvleiende inskrywing en my van eenogigheid beskuldig. Tipiese siniese joernalis! Ek weet immers: Party mense onthou Rusland in ‘n romantiese gloed, veral diegene wat op weeldeskepe op die Volga die land leer ken het. Ek is om hul onthalwe bly oor hul lekker ervarings, al bly ek skepties oor die smaak van Russiese bier en voka.
Dan ook: die gelukkiger besoeke was meesal seker na 1990 wat so plus-minus ‘n ekonomiese laagtepunt vir die land, destyds nog agter die Ystergordyn, was

ONDERHOUD AGTER YSTERGORDYN

Met die dood van Michail Gorbatsjof kan ek gerus maar die storie vertel van my ”onderhoud” met hom.
My kollega Willem Wepener van Beeld se onderhoud met Margaret Thatcher in Londen – Ysterman en Ystervrou! – het die prikkel verskaf. Ek klop toe n vroeg in die 90’s by Piet Koornhof, ambassadeur in Washington, aan om die diplomatieke spitwerk te doen om my by die Sowjet-leier uit te bring.
Onthou, dit was nog die ou dae van van die “regime” in Pretoria en die “Ystergordyn”. Wit Suid-Afrikaners – Afrikaner-Nasionaliste! – was in die Sowjet so onwelkom soos ‘n polisieklopjag om middernag.
Op sy aanbeveling “werf” ek ‘n uitnodiging by die Sowjet-nuusagentskap Novosti, wat dadelik gretig is vir so ‘n nadere kennismaking. Novosti bevel aan dat ek my vir die doel in Londen by ‘n Britse toergeselskap aansluit.
Met Naspers se seën en op sy beursie vlieg ek na Londen, nog sonder ‘n visum. Daaroor sweet ek ‘n dag of twee. Uiteindelik kry ek die boodskap op die telefoon van ons Londense kantoor: kom haal hom.
Die middag van 11 Augustus vat ons Londense man Thinus Prinsloo – ook ‘n Vrystater – my na Gatwick. Ek ontmoet die toergroep en ons bestyg ‘n afgeleefde Toepolef van die Russiese lugdiens Aeroflot (vlug SU 1636) na Moskou, waar ons teen middernag neerstryk.
Ek is laaste in die tou by die doeane-mense, en my groen Suid-Afrikaanse paspoort wek argwaan. ‘n Gewapende wag stap nader. My hart wil bollemakiesie slaan, maar ná ’n gesprek waarvan ek niks verstaan nie, besluit die twee die dokumente is in orde. Die stempel word op ‘n skoon blad geplak, en ek draf vir die bus wat ons Moskou toe skommel. (Die bagasie het ure later op ‘n oop vragmotor gekom – ander storie.)
Die oggend van 12 Augustus is Moskou grou en die spelonkagtige Hotel Kosmos nie die toonbeeld van hulpvaardigheid en gasvryheid nie. Waar kry ek ontbyt, vra ek die besnorde tante agter die toonbank. Sy wys na ‘n ry muntmasjiene in die voorportaal. Met groot gesukkel skaf ek darem later ‘n swart koffie en ‘n broodjie aan.
Op daardie onheuglike oomblik stap ‘n man nader – die eerste glimlag wat ek sien sedert ons aangekom het, en boonop met ‘n uigtstrekte hand. Sy naam is Igor Vosnesenski van die Afrika-afdeling van Novosti. Hy word my gids en gasheer vir die twee dae in Moskou, en ons knoop stewige bande aan.
Maar ‘n onderhoud met Gorbatsjof? Nee, daarvan weet hy niks. Op sy program is ‘n besoek aan die Slava-rugbyklub, die Rooi plein, die Kremlin, die staatsirkus by Gorkipark en sy eenslaapkamerhuis in ‘n eentonige woonstelbuurt waar sy vrou, Anna, vir ons ‘n middagetetjie berei (koolsop en koolfrikkadelle in die kombuisie op ‘n piepklein tafel met ‘n geruite tafeldoek).
Ek kon my teleurstelling nie wegsteek nie. Hier kom ek die hele pad van Bloemfontein af vir ‘n joernalistieke triomf en eindig ek met ‘n besigtigingstoer!
Igor bemerk my verslaenheid en belowe sy kantoor sal kyk wat hy vir die volgende dag kan reël. Bra bek-af klim ek in sy bejaarde Volga sonder ruitveërs – hulle sit jy net aan as dit reën, anders raak dit gesteel – vir my bekendstelling aan Moskou, wat toe ondanks my teleurstelling heel interessant raak.
Volgende dag daag Igor met ‘n nog breër glimlag by die Kosmos op. Hy het vir my ‘n verrasing. ‘n Onderhoud? Ja. Nou wel nie met Gorbatsjof nie, jammer, maar tog met ‘n baie belangrike man.
Ai tog. Hy vat my toe na die burgersentrum. Moskou se burgemeester sal graag die joernalis uit die verre Suid-Afrika ontmoet. Maar wat ‘n verwaande mannetjie. Al wat hy wil doen, is my oor die sondes van “Pretorja” kapittel. Uiteindelik word geen woord van daardie “onderhoud” geskryf nie.
Die weeklange besoek het ook Kiëv, Odessa en Leningrad ingesluit, en het nogal heelwat opgelewer: ‘n reeks artikels in Naspers se dagblaaie en twee dik persoonlike foto-albums. Van Gorbatsjof was daar egter niks meer nie as die kritiek van ‘n klomp jonges wat bra keelvol vir die kommunisme was. “Gorbi must go” was hul slagspreuk.