Nou-ja, die onderhoud met Gorbatsjof waarvoor ek in 1990 na die Sowjet-Unie is, was toe ‘n nat klapper. Toe toer ek, vermom soos ‘n Britse toeris, maar rustig verder saam met die groepie van 20 uit die VK waarby ek my in Londen aangesluit het. Ek hou darem my oë oop vir ander stories, soos die enorme toue by die eerste McDonalds in Moskou, die dolleë winkelrakke en die strand-apartheid in Odessa .
Ons toergids van Intourist, ‘n staatsinstelling, is Swetlana. ‘n nogal knorrige tante wat nie nonsies vat nie. Van Odessa na Leningrad was die groep veronderstel om te vlieg. Op die tippie roep sy ons bymekaar en kondig aan 10 van ons moet per trein ry – jy en jy en jy. Vliegtuig is vol.
Leningrad is ‘n nagreis ver per trein. Dus nog ’n lang dag in Odessa vir die ongelukkige 10; nog minder tyd in die mooie Leningrad (St. Petersburgh) met sy paleise, die Hermitage-kunsmuseum met sy hope Rembrandts en wat nog. Gevolg: hoge ontsteltenis in die groep.
As julle toeriste so sleg behandel, kan julle maar vergeet, kapittel ‘n Skotse magistraat vir Svwtlana. “But we don’t want tourists.” kap sy betraand terug. “Tourists bring hard work. They need clean sheets. They want fancy food. They make us unhappy!”
“We don’t want tourists!” Wat ons spannetjie betref, het sy daarmee die spyker vierkant op die kop geslaan. Die Sowjet-Unie – toe in sy laaste stuiptrekkings – kon, volgens ons ervarings, werklik nie beskuldig word dat hy die rooi tapyt vir toeriste uitrol nie.
Vergeet van reisreëlings wat op nommer 99 omvergegooi word, van winkelrakke wat leeg vir jou gaap, van rigiede voorskriftelikheid t.o.v. jou bewegings (Swetlana kon op haar rug val toe ek in Odessa aankondig ek wil ‘n motor huur en op my eie die Swartseekontrei gaan bespied), van steiers wat glo al hoe lank sierlike ou geboue orent help hou, van swaarkry op die gryse moedertjies in parke en op straat en van opdringerige straatsmouse wat oral bie om matriosjkapoppe en beervelmusse aan jou te verkoop of dollars by jou te koop (‘n misdaad).
Moet darem noem hoe ‘n gesukkel dit was om kos in die hande te kry – nogal ‘n noodsaaklikheid vir enigeen, joernalis of toeris. Dankie tog vir die pak Marlboro’s wat ek op aanbeveling saam het. Dwars deurwagte by ontoeganklike restaurants laat hulle gretig daarmee omkoop.
Die middelmatige Hotel Bratislava in Kiëf onthou ek of ek gister daar was weens die plankdun matrassie en die norse, besnorde vroulike “generaal-majoor” wat my boos uit die eetsaal geboender het omdat ek vyf minute te vroeg wou kom aansit vir brekfis. “Njet! Njet! Njet!”
Volgende stop was Odessa. Die stad was (is dalk nog) bekend as die “Pêreld van die Swartsee”. Die rede het my ontwyk.
Ontnugtering nommer een was die Hotel Chornoye More (Hotel Swartsee) wat niks beter as ‘n swakkerige plattelandse losieshuis was nie, met hysbakke wat skynbaar permanent “out of order” is. Die kennisgewings is duidelik nie gister opgesit nie. Die Chornoye More is boonop kilometers weg van die see per rammelkas-bus deur vuil nywerheidsgebied waar ‘n digte rook hang.
Ontnugtering nommer twee was die strand self (foto). Die geriewe is oes – sommer sulke slordige, styllose opslaangeboutjies. Die ergste skok: die “strand-apartheid” wat streng gehandhaaf word. Oorsese toeriste had ‘n spesiale “Intourist”-strand wat met hoë tralies – variasie op die tema Ystergordyn! – van die strande van die plaaslike plebejers afgekamp was. Hulle beloer jou nuuskierig. Njannies.
Ons het darem in Odessa een aand ‘n mooi konsert in die deftige Operahuis aan die bopunt van die indrukwekkende “Potenkim Stairs” – simboliese toegang tot die stad van die see se kant – bygewoon. Die talentvolle kunstenaars was uitgevat in aandpakke en swierige rokke. Die sirkus en ballet in Moskou was ook goed. Net jammer die sirkustent se dak het ingestort weens aanhoudende reën.
Die versameling in die Hermitage in Leningrad was ‘n belewenis. Net jammer die vensterrame se verf was so afgeskilfer en plek-plek verrot.
Die moltreinstasies is kunswerke en die treine loop op die minuut. Glo Lenin se buiging na die werkers. Geen “maar” hier nie.
Vir uitbuiting moet jy lig loop. Uit Odessa bel ek Washington. Vooraf kry ek, altyd versigtig, ‘n kwotasie vir die prys van die oproep. Toe ek my rekening kry, is dit egter driedubbeld die bedrag. Toonbankdienste was bra bot toe ek hoflik wil navraag doen. Swetlana moet ingryp. Sy lyk nie alte gretig nie. Tog het sy tot my ewige dank. Toe betaal ek eindelik aansienlik minder as wat gekwoteer was!
Ek wou nog iets oor die land se minder gelukkige openbare toilette sê, maar genoeg is genoeg. Laat ek liewer halt roep met net die een opmerking: Ook op Aeroflot het die toilette waarlik nie fris geruik nie. Dis om dit sag te stel. En daar was vlieë teen die dak. Soontoe en terug na Gatwick.
Ek weet ‘n klomp mense gaan kwaad wees oor hierdie onvleiende inskrywing en my van eenogigheid beskuldig. Tipiese siniese joernalis! Ek weet immers: Party mense onthou Rusland in ‘n romantiese gloed, veral diegene wat op weeldeskepe op die Volga die land leer ken het. Ek is om hul onthalwe bly oor hul lekker ervarings, al bly ek skepties oor die smaak van Russiese bier en voka.
Dan ook: die gelukkiger besoeke was meesal seker na 1990 wat so plus-minus ‘n ekonomiese laagtepunt vir die land, destyds nog agter die Ystergordyn, was