TROU TOT DIE DOOD

Een vakansie bring my Sabieparkvriend Frik Nel, voorheen brig. Frik Nel van die Veiligheidspolisie, vir my die boek Trou tot die dood deur die laaste polisienkommissaris in die ou bedeling, genl. Johan van der Merwe, wat gisteraand na ‘n beroerte oorlede is.
In die boek kyk hy terug op ‘n bewoë stuk geskiedenis wat ek as joernalis self intens beleef het. Toe ek begin lees, is ek dadelik geboei.
In hoofstuk na hoofstuk ontvou die brandpunt-episodes. Sommige het al ietwat vervaag. Die hoofstuk oor die Cato Manor-opstand voer my byvoorbeeld terug na ‘n amper vergete Saterdagmiddag in die jare 60 op Stilfontein in die ou Wes-Transvaal toe ek as studenteverslaggewer die huwelik van ‘n oorlewende bygewoon het. Die bruidegom in sy blou polisie-uniform se gesig was vol permanente letsels.
Een helder herinnering is aan die Silverton-bankbeleg in my Beeld-dae in die jare 70. Frik was, terloops, aan die spits van die ondersoek. Ek sou hom egter eers meer as drie dekades later oor ‘n tjoppie en ‘n glasie wyn, die eerste van vele, in Sabiepark leer ken.
Dit voel soos gister toe die foto’s van die voos geskiete terroriste binne die bank die aand by Beeld op my lessenaar beland. Soveel bloed en sulke stukkende liggame op die voorblad? Die gedagte het my aanvanklik laat terugdeins.
“Gooi dit groot,” was die advies van my kollega wyle Bob van Walsem, ‘n beredeneerde Hollander. “Die mense sal die bliksems so wil sien.”
Die polisieman Mof de Klerk se onskuldige swanger vrou is in die chaos in die bank dood. Die storie van sy desperate pleidooi om aan die stormloop deel te neem, gryp my opnuut aan. Sulke herinneringe laat my besef hoe in die kol Bob daardie aand was. Die mense WOU groot foto’s van dooie terroriste sien om die weersin uit hul bloed te kry.
Later, met die Kerkstraat-bom in die jare 80, toe ek al by Die Volksblad redakteur was, het ek gewens dat ons sulke grafiese foto’s gehad het om tot troos en stigting van ons lesers te plaas, nie net foto’s van die dood en verwoesting in die eie kamp nie.
Genl, Van der Merwe skryf volledig en openhartig oor omstrede insidente en sensitiewe sake soos hakkejagte oor landsgrense heen, Vlakplaas, Dirk Coetzee en Eugene de Kock, asook die onheuglike openbaarmakings by die WVK. Hy erken dat soms te ver gegaan is. Maar hy spaar nie die roede oor sekere politici se rol nie. Die polisie is deur sekere vername here gruwelik in die steek gelaat, betoog hy.
Sy bitterheid oor die vrotsige hantering van die kritieke kwessie van algemene amnestie is opgeteken in woorde van gal wat duidelik steeds in sy mond opgestu het.
Hoe het die persepsie wyd in die polisie ontstaan dat bepaalde dade tot op die hoogste vlak ondersteun en selfs goedgekeur is? Generaal Van der Merwe gee ‘n verklaring wat na my oordeel nogal geloofwaardig is. Mense met kort geheues kan gerus kennis neem.
Natuurlik sal sommige kritici niks wil weet nie. Niemand is mos so fel in hul verwerping nie as diegene wat eensydig alle gruweldade van die terroriste-oorlog net by die veiligheidstak – en veral net by wit Afrikaners – wil soek. Hierdie leser had plek-plek ook onbeantwoorde vrae oor bepaalde buitensporighede en optredes, maar een ding moet ek sê: ‘n beter advokaat as Johan van der Merwe sou sy era se geregsdienaars ver moes gaan soek.
Nie net as ywerige pleitbesorger het hy respek afgedwing nie, maar ook as toegewyde aktivis vir elke polisieman se persoonlike en kollektiewe belang.
Wat my deurgaans in Trou getref het, is die hegte polisie-broederskap wat grootliks tot vandag toe onder daardie generasie voortbestaan. Ek het altyd gedink boere help mekaar soos niemand anders nie. Hulle ploeg, saai en oes vir medeboere, herbou huise, skenk van hul beste eie vee om bure weer op die been te bring. Ook in Colorado in die VSA het ek hierdie ingesteldheid beleef by ‘n rodeo naby Denver om geld in te samel vir ‘n jong boer wie se opstal afgebrand het.
Maar die polisie staan nie terug nie – hulle dra mekaar se laste op waardige wyse op hul breë skouers met die sterre en ander rangtekens. Trou tot die dood. 

OUDSTE NASPERSER WORD 95    

 My paaie het met Wiets Beukes s’n gekruis toe ek einde 1958 in Bloemfontein aankom vir my eerste skof vakansiewerk by Die Volksblad.  Hy was ‘n assistent-redakteur, en ook ‘n kranige tennisspeler.

Wiets was toe 31 en ek ‘n skamele 17; darem amper al 18. Al was hy reeds ‘n belangrike man het hy na die groen outjie van Tukkies af uitgereik.

More, Donderdag 25 Augustus, word Wiets 95 – die oudste lewende Nasperser. Hy vier die verjaardag op die plaas Groenweide by Franskraal, waar hy sedert Januarie 2021 by familie tuisgaan ná 16 jaar in Berghof in Oranjezicht, Kaapstad.

Die huis waarin hy met sy voltydse versorgers woon, is  aan die voet van die Franskraalberg,  omring deur ‘n lowergroen tuin, en kyk uit oor die wit strand en woelige branders van Uilenskraalmond. Hy vier sy 95ste dus in ‘n geliefde omgewing waar hy self ook ‘n vakansiehuis besit het waar kollegas wat tydgenote was, lekker saam met hom onder die melkhoutbome gekuier het.

‘n Hele 64 jaar het sedert ons kennismaking verloop. By sy verjaardag dink ek met vreugde terug aan ‘n verbintenis wat in my lewe groot waarde toegevoeg het. Hierdie gedugte joernalis was ‘n mentor in die joernalistiek,  asook  ‘n wyse ouer kollega en vriend.

Wiets se joernalistieke waardes was altyd ‘n baken, en sy swaargewig-bydraes tot die koerantwese bewonderenswaardig; ‘n ideaal om na te strewe.

Op hom het die mantel van Die Burger se redakteurskap geval nadat die formidabele Piet Cillié die pos ontruim het. Om so ‘n oorheersende figuur op te volg, verg hare op die tande.  Wiets het rustig in die redakteurskantoor in Keeromstraat ingeskuif en in sy eie styl ‘n vername rol in die onstuimige Afrikanerpolitiek van die 80’s gespeel.

Naspers het hom met die Phil Webermedalje bekroon – die maatskappy se hoogste erkenning vir  ‘n voortreflike loopbaan . Hy verdien in my oë om selfs deegliker onthou te word.

Sy reuse-bydrae as geskiedskrywer van die Pers met monumentale boeke soos “Oor grense heen” en “Boekewêreld” tot sy krediet behoort veral groter erkenning te kry, glo ek.

Op ‘n persoonlike vlak is ek dankbaar dat ek altyd met vrymoedigheid by Wiets kon aanklop as ‘n netelige kwessie opduik. Op sy gesonde oordeel, verstandige insigte en wyse adviese kon ek staatmaak.

Ook vir my gesin was hy ‘n rots – veral nadat ek in 1974 vooruit uit Bloemfontein weg is om nuusredakteur van die te stigte dagblad Beeld te word.

Ek wens ek kon op Franskraal vir Wiets ‘n handdruk gaan gee om hom op sy 95ste geluk te wens. Ek sou graag vir hom gaan vertel hoe ek hom respekteer en eer.

“Mens!” sou hy antwoord en vining die gesprek in ‘n ander rigting stuur. By al sy ander deugde is ook nog ‘n plat-op-die-aarde-beskeidenheid by hierdie koerante-sieraad teenwoordig.

Foto’s: Wiets in diepe gesprek met rubriekskrywer Johan van Wyk, saam met Willem Wepener, mede-Kovsie wat redakteur van Beeld was en adv. DP de Villiers.  Die prentjie is deur Fred Mouton.

 

RSG SKIET BOK MET KLOK

Een van Edith Piaf, “Mossie van Parys ” se mooi Franse liedjies  heet “Les trois cloches”.  Dit vertel van ‘n man vir wie die kerkklokke drie keer gelui het: by sy geboorte, troue en begrafnis.

Wie onthou nog die liedjie waarvoor Fanus Rautenbach so lief was, “Die bok se klok”?

Ek het groot geword met welluidende kerkklokke, swaar koper-skoolklokke, etensklokke by die koshuis (uitkoms vir ‘n honger student!), voordeurklokkies, klokke wat elke nuwe ronde in ‘n boksgeveg aankondig, die klokke by perdewedrenne, die brandweer se klokke, die roomyskaretjie se klokkie  en nog ‘n paar.

‘n Klok wat lui, kom voor in idiome en  in die spreektaal.  Saam met my in die Romeins-Hollands III-klas op Tukkies was ‘n mediese dokter, ene Du Preez. In ’n toets moet ons die vraag beantwoord: Bespreek die vonnis Methodist Church vs. The Master  (Gaan slaan dit gerus na).  Hy skryf toe: Prof, ek het nooit geweet dat ‘n Engelse kerk my klokke so sou laat lui nie.  Die spitsvondige prof antwoord: Ja dok, en dis toe nie die gelui van huweliksklokkies nie, maar die kluitlap op die kis!

Was nogal verbaas om op RSG  in ‘n veel gereklameerde dokumentêr meegedeel te word dat die slaweklok – wat ‘n mooie stukkie Kaaps-Hollandse argitektuur  – deur slawe as “simbool van verdrukking” bejeën is.  Dankie, Dan Sleigh, vir jou brief in Die Burger (24/2) wat die mite ontmasker.

Dit herinner hoe Dan Sleigh ook moes ingryp toe die Kaapse geskiedenis ‘n paar taamlike kinkels en kronkels bygekry het in  Patric Mellet se kreatiewe boek “The lie of 1652”.

‘n Mens sidder oor die verwronge geskiedenis wat die nageslagte als sal moet sluk as die Dan Sleighs en ander kundiges nie meer daar is om nugtere perspektiewe te gee nie.

SJAMPANJE IN OVERBERG


n Sjampanje-oggend in die Overberg na ‘n naweek van heerlike stortbuie en slierte digte mis wat laag in die golwende groen heuwels hang. Die donker berg op die agtergrond, helderblou dam, die volmaakte weerkaatsings en ‘n plaasopstal in die verte net buite Swellendam vorm saam ‘n klassieke Overbergse toneel.

‘n Vinnige tweedag-uitstappie na Swellendam het o.m. ook die volgende strelende dimensies van die natuur opgelewer: skimmelwit suidelike pieke van die hoogste berge op pad terug na Melkbos, goudgeel kanolalande tussen die opgeskote koring, lappe veldblomme wat vrolik die naderende lente aankondig – veral al treffend langs die N7 – afwisselende troppe beeste en skape wat rustig in die geil groen wintergras wei, plasse water oral, bome wat begin bot of reg gesnoei vir die nuwe seisoen, bedrywige swerms voëls langs die pad … Hoe mooi is die Wes-Kaap nie in die laatwinter nie.

 

 Wonder of ‘n trop buffels – of ander wild – my soveel genot sou kon verskaf as ‘n trop Jerseys (hoop ek tas nie mis oor die ras nie) die naweek op  Appelsbosch. Met ons aankoms was die trop doer teen ‘n groen rant. Later het hulle in ‘n ordelike ry rustig aangestap agter ons huisie met die naam Skaapkraal verby – ‘n yslike swerm bosluisvoels om hulle heen. Toe ons weer sien, wei die mooi diere vlakvoor ons voorstoep sodat ons hulle deeglik kan bekyk: die verskeidenheid rooibruin-huide, die besonderse liggaamsbou, ens. Party se uiers is enorm. Duidelik dat hulle taamlik voor in die tou met melkproduksie (en wonderlike kaas, lees ek) moet wees. Die proses is ‘n paar keer herhaal. Elke keer het ek my kamera gegryp.

‘n Beesfees soos min gewees by Skaapkraal op Appelbosch.

GROOT SPORE – GESKENK VIR JOU

Tot Wêreldolifantdag vandag wil ek graag bydra. Die begeerte spruit ure se plesiere wat die grootvoete met die waaierore my die afgelope 25 jaar al langs die Sabierivier in Sabiepark se wonderlike piekniekplek besorg.
My olifantboekie, Mayafudi (later hernoem tot Spore in die Bos) is juis gebore terwyl ‘n trop oorkant die rivier sambondel, speel en suip. Vandag wil ek ‘n ereskuld aan hulle as’t ware terugbetaal deur die boekie in e-formaat gratis aan te bied aan elkeen wat ‘n sagte plekkie in die hart vir olifante het.
Stropers, storms, brande, uitdunning, konfrontasie met mense – gelouter deur rampe, durf Mayafudi in die boek ‘n epiese swerftog aan op die voetspore van sy beroemde oupa, Mafunyane, berugte kwaai bul met die manjifieke tande. Rou herinneringe bring Mayafudi tot uitbarsting. Die groot olifant storm ‘n safarivoertuig. As hy vir sy lewe moet vlug, dryf sy oudag-herinneringe hom terug na sy kleindae-kontrei. Die lewensmoeë olifant vind rus vir sy onstuimige hart langs die graf van sy kloeke moeder, Ukuthula. Hier in die oewerbos langs die Sabierivier wag ook ‘n heerlike ontdekking …
Die e-boek kan gratis afgelaai word by https://denovobooks.co.za/product/spore-in-die-bos-2/
‘n Resensie deur Anton J Jansen is te vinde op Amazon by https://www.amazon.com/…/ref=cm_cr_srp_d_rdp_perm
Hoop Mayafudi , die iou maaifoedie, kruip in jou hart ook.