GRATIS GESKENK – ‘N STORIE VAN HOOP

‘n Geskenk wat hopelik vir mense hoop kan bring. So noem ek graag die beskeie e-boekie wat ek vandag namens die Van Deventers GRATIS vir een en almal aanbied.
Vir eers is die “storie van hoop” bedoel vir ’n nuwe generasie ouers wat hulle in dieselfde bootjie bevind as die een waarin ek en Tokkie in 1972 tot ons algehele verslaenheid beland het toe ons eersteling, Johan, op ses maande oud uit die bloute as diabeet gediagnoseer is. Vandag, 50 jaar en seker 60 000 inspuitings later, is die nimlike Johan sterk en gesond: ’n voorbeeld van wat met goeie beheer, dissipline en toewyding bereik kan word.
Ten tweede is die boek vir almal wat dink dat hulle uit ‘n ervaring van ander hoop kan put. Ten derde is dit vir almal wat dit graag wil lees, om watter rede ookal. Welkom, mense.
Dis ‘n plankdun boekie wat in ‘n japtrap gelees kan word. In die 50 of wat bladsye (foto’s ingesluit) word nietemin ‘n intieme lig gewerp op Johan se lewe op insulien: van kleins af toe diabetes by ‘n baba ‘n ongekende ding was wat dokters laat skarrel het, deur skool, universiteit en in sy volwasse lewe.
Die boekie wemel van vreemde insidente. Dit vertel onder meer hoe gade Tokkie – die “heldin’’ van die verhaal, aldus ‘n bevoegde waarnemer – haar seun met ‘n goed gemikte skop uit die hande van ‘n duiweluitdrywer bevry het, hoe sy incognito saam het hom ‘n veldskool bygewoon het, hoe ‘n onderwyser hom met byna noodlottige gevolge op ‘n uitstappie in ‘n badkamer op ‘n universiteitskampus vergeet het, en hoe sy hond, ‘n staffie met die naam Novo (dieselfde as sy insulien) sy lewe op ‘n donker aand gered het.
Die onbedagsaamheid en onbegrip by sommige word gelukkig deur wonderlike ondersteuning deur briljante geneeshere en andere uitbalanseer.

 

 

 

 

 

😊😊Heelwat humor is in die boekie opgesluit, soos die juffrou wat van skrik op die naat van haar rug beland het nadat Johan weens ‘n lae suikervlak in sy bloed in haar klas snaaks begin optree het, en hoe sy ma in ‘n verkeersknoop in ‘n sneeustorm stukkies ontbytkos moes fyn kou en in sy mond dwing.
Diabetes mellitus het Johan op vreemde, uitdagende en soms beperkende paaie gelei. Dit het hom nie ’n slegter mens gemaak nie. Verreweg nie. So skryf ek. Ek dink (hoop) dat die boekie hierdie woorde onderstreep.
Die e-weergawe is GRATIS by die aanlyn-boekwinkel van De Novo Uitgewers van Langebaan beskikbaar. Die skakel is https://www.denovowebs.co.za/books-2/. Lees dit aanlyn. Laai dit af. Versprei na goeddunke so wyd as moontlik, met komplimente van die Van Deventers.
Dank aan De Novo Uitgewers vir die versorging en hantering.
Die ooreenkoms in die name Novo-insulien en De Novo Uitgewers is – anders as in die geval van Novo, Johan se stoere staffie – net ’n gelukkige toevalligheid.
FOTO’S: Voorblad van die boek, Johan en sy ma, Tokkie, op sy 40ste, die skrywer en sy onderwerp op sy 40ste en ‘n resente foto van Johan, sy vrou, Mariza, en hul seun, Migael.

WILDEHONDE, WILDEVY EN WEERLIG

Op Granokoppie.

Weerlig slaan nie twee keer op dieselfde plek nie. Sê wie? Wat van drie keer?

Wel, ons het die vakansie al drie keer in drie weke wildehonde in Wildevylaan, Sabiepark gekry. Die derde keer, op Donderdag 19 Mei, kon ons maklik 300 meter rustig agter hulle aanry, verby ons eie 154, deur die driffie by 231 en toe links in by Gwarriebos. My Canon het oortyd gewerk.

By die Krugerbrug is ‘n nuwe padteken wat mense waarsku om versigtig te ry oor wildehonde op die pad. Die versoeking is groot om dit te gaan gaps. Ek wil dit hier voor ons huis kom plant.

Die tweede keer was minder as twee weke tevore. Twee opgewonde jong stappers – ‘n man en meisie – was die Sondagoggend op die toneel toe ek daar aangery kom. Hulle het geesdriftig beduie. Sowaar, die wildehonde – in daardie stadium vier, maar nog het uit die bos gekom – was net enkele treë van hulle. Moet sê ek was nogal verlig dat ek liewer in die veilige beskutting van my motor was.

Die derde keer was studentemaat Cas Jacobs en sy vrou, Nella, saam in die Honda.  Hulle het die vorige Saterdag hier aangekom met hul eie, nuwer Honda swaar gelaai van die heerlikste kos en drank. Soos altyd het die twee wellewende, stylvolle mense soveel tot die besoek bygedra dat ek des te meer dankbaar was vir die wildehonde se aktiwiteite. So kon Sabiepark my en Tokkie darem help met ‘n spesiale gebaar van wederkerigheid.

Derde keer is skeepspreg, lui die idioom. Neem kennis dat my tweede naam nou Skeepsreg is.‘

n Tweede hoogtepunt van ons heuglike saamkuier met gewaardeerde ou vriende was ‘n skemerpiekniek op die Granokoppie naby Skukuza. Watter wonderlike voorreg was ons vier beskore om as gaste van Jimmy en Lida Pressly van Skukuza ons kampstoele daar kon gaan neersit vir die skouspelagtigste sonsondergang wat ek nog in die Wildtuin beleef het.  Soos Konings van die Krugerwildtuin – so voel jy as daar sit en die rustige sononder indrink terwyl jy aan ‘n koue drinkdingetjie teug en aan Tokkie se smaaklike “platters” weglê.

Net een groot hartseer:  my en Cas se Tukkiemaat Vos Grey (ons was saam eerstejaars in Kollegetehuis in 1958) wat saam met ons sou wees, was in ‘n koma in die hospitaal ná ‘n beroerte aan die vooraand van sy en Magdaleen se kuier saam met ons in Sabiepark.  Hy is Dinsdag 24 Mei oorlede, en sal Sabiepark dus nooit weer sien nie.  Ook ons nie vir hom nie.

Wildehonde in Wildevy.

Tydens die Jacobse se besoek het Sabiepark die nuutjie beleef van twee vure langs mekaar op die stoep.  Hoekom dan twee vure vir vier Die antwoord is ‘n oulike groenterooster, ‘n geskenk van Cas en Nella. Ek moes dadelik daarmee eksperimenteer. Met die oog op volle konsentrasie was ‘n eie vuurtjie onontbeerlik. Eerlik nou: my tweede poging was beter as die eerste. Groente (al is dit in ‘n foeliebaadjie) soek meer hitte as wat ek aanvanklik geraai het.

In die Wildtuin het ons  die nuwe dek by Skukuza se gholfklub met melkskommels ingewy. Die klub is ‘n gunsteling onder ons Sabieparkers vir ‘n tradisionele ontbyt, ‘n ligte middagete of sommer vir ‘n happie en ‘n koffie (dalk ‘n koue bier of ‘n glasie wyn). Die  netjiese dek met tafeltjies en sambrele wat tot teenaan die 18de putjie se setperk strek, bring die seekoeie in die meer nou nog nader – en dalk ook die gevaar dat ‘n kragtige bofhou in jou bord spek en eiers skuiling kan land.

Iets besonders wat ons vier beleef het, was die intieme oomblikke van twee vlakvarke vlak langs die pad. Moet sê die onverdrote ywer en stamina van die beer verdien die hoogste respek. Nie verrassend nie was die passievolle minnaar en sy maat aan die einde papnat van die sweet.  Ek het nie geweet vlakvarke kan sweet nie, wat nog te sê van so erg.

BOMBARDEMENT YS-ALBASTERS

Was ek ‘n boer met ‘n oes op die lande was ek vanoggend waarskynlik ‘n verslae man. Watter skade kan ‘n bombardement van ysalbasters nie in tien minute aanrig nie.

Gisteraand se haelstorm oor Sabiepark – ongekend vir ‘n Kapenaar – het met albastertjies begin; toe ALBASTERS; toe met groter goed. Dubbeldoor-hoendereiers dalk?

Ondanks swaar weer van vyfuur se kant af met skouspelagtige blitse en ‘n onheilspelllende gerammel in die wolke was ek vasbeslote om ‘n tjoppie te braai.  Die hemele skeur oop net toe die tjoppie mooi begin kleur kry op die gloeiende kole.

Tokkie draf nader met ‘n swart sambreel (seker maar vir formele doeleindes). Maar watwou. Wys my die sambreel  wat kan staande bly as strome water en kletterende klonte ys in ‘n digte gordyn op hom neergiet.

Holderstebolder is die Van Deventers die huis in. Vir verdere hitte vir ons vleiskos sou die gasstofie in die kombuis moet sorg. Dit het hy heel doeltreffend gedoen, dankie.

My vrou se behulpsaamheid in die skielike krisis by die rooster het natuurlik nie sonder ‘n prys gekom nie.  Sy is bed toe met ’n nat krullebol. Haardroërs is nie in die bos so vryelik  beskikbaar nie.

Intussen het mevrou Van D die grootste klont hael op die stoep herwin. Dis die een op haar hand op die foto, met een verskil:  op die foto het amper die helfte al weggesmelt.  Dalk verskaf die tweede foto, ondanks die  onsekere beligting en fokus, ‘n beter perspektief.  Daardie knewel is ongetwyfeld die grootste hael-‘’korrel’wat hierdie man nog gesien het. Sou jou katswink slaan as dit jou tref.

‘n Mini-wolkbreuk sou ‘n mens dit kon noem. Saam met die hael het stortreën neergesak.  Gou was die swembadseil ‘n dammetjie en het die water uit die dakgeut wat op die stoep uitloop, soos ‘n jong waterval geklink.  In 10 minute is 10 mm in die reënmeter opgevang.

Deur die nag het dit nog gereën, maar sagter.  Vanoggend se lesing was 31 mm. Hierdie April was Sabiepark se natste. Lyk of Mei nie van plan is om by April af te steek nie.  Ek ruik nog reën.

Maar, mense, julle moet vanoggend die blare sien: op die Honda’tjie, die swembadseil (foto), die stoep, die lapa se plaveisel en reg rondom die huis. Wat die wind tot dusver gesukkel het om reg te kry, het gisteraand se hael met mening vermag. Aan talle bome kan jy vanoggend bemerk dat dit begin herfs word.

In die rooster lyk die natgereënde kole bra bedremmeld (foto). En hulle was so mooi!

SPEURTOG OP SLANG SE SPORE

Hier volg die tweede episode van die slang-sage by Wildevy 154, Sabiepark.

In die episode gesels ons oor die ontdekking van die waarskynlike toegangsroete van die yslike Mosambiekse spoegkobra wat Donderdag die vrede hierlangs so wreed kom versteur het.

Die leidraad is ’n lang slangvel – die langste wat hierdie waarnemer nog aanskou het – aan ’n dakbalk aan die voorkant van die huis, daar by die badkamer van die hoofslapkamer rond. Kon nie meet nie, dis te hoog, maar dis niks korter nie as 1,5 m. Dit sweer ek.

Dis Tokkie die verspieder wat die vel ontdek het op een van haar gewone rondes om die huis waarop sy alles waarneem wat waar te neem is en ook  nog ’n bietjie ekstra.

Die doel vermoed ek is om die uwe uit die hoogte oor sy onoplettendheid te vermaan.  Soos ook in hierdie geval.

“Kom kyk hier.” Dit klink na ’n kwaai weermagoffisier se bevel. Ek gehoorsaam so vining soos die kierie my toelaat. Daar hang die vel toe, wapperend in ’n ligte briesie.  ”Dis syne.’’ Daaroor het ons onmiddellik konsensus,

Geen mens kan tot enige ander gevolgtrekking kom nie: dis onteenseglik ons kobra se vorige bedekking daardie.  (As dit die van ’n ewe lang maat is, is dit onheilspellende nuus, want waar is die maat dan nou?)

Die omgewing waar die vel hang, dui op ’n klaarblyklike kwesbaarheid in ons vesting.  Voorheen is ‘n likkewaangesin daar onder die dak se dekgras in vir ’n ’n uitgebreide besoek totdat die versoeking van ‘n gekookte eier een in ’n lokval gelei het.  Die ander het ons so sit en kyk toe ons hom agter in die Honda laai om vir hom ‘n nuwe adres te gaan soek.  Toe kies hulle ook koers.

Net om die draai van die lang vel hang boonop ’n korter velletjie.  Onse spoegkobra was nie die eerste lid van die spesie slang wat daar kom vel afgooi het nie.

’n Verdere leidraad is ‘n dowwe plofgeluid wat die uwe die vorige dag uit die rigting van die badkamer hoor kom het. ’n Ondersoek ter plaatse het niks opgelewer nie.  Tokkie was skepties. Dat ek in die nanag ook voetspore op die dak gehoor het – seker maar ‘n bosnagaap – het haar vermoede versterk dat ’n ooraktiewe verbeelding ’n rol speel.

Met die ontdekking van die vel het die scenario egter verander. Kon die kobra gewees het, gee sy toe.  Waarskynlik sy vel afgegooi, onder die gras ingekruip en toe sy houvas verloor.  Die donker hoekie langs die toilet lyk na die waarskynlikste landingsplek.

Dit sou ook die verklaring bied vir die resultaatloosheid van my vinnige rondkykery na iets verdags. ‘’Elementary, my dear Watson.’’

Uit die badkamer is hy klaarblyklik toe, deur avontuurlus gedrewe, slaapkamer toe waar ’n ontsnapping deur die skuifdeur gestuit is. Ons het immers self gesien toe hy ‘n keer onverrigter sake teen die gladde ruit probeer opseil. Dalk gefrustreerd deur die versperring was hy klaarblyklik in ‘n minder welwillende luim toe ek hom daar langs die deur raakloop; bak-kop dreigend in my rigting gekeer.

Volgende besoekpunt was onder die dubbelbed. Dis waar die dapper slangvanger Sipho hom met die slangtang  aangekeer het: sissend en kriewelend.

SLANG IN SLAAPKAMER !

‘n Kobra in die slaapkamer, wildehonde in ons straat, romantiese rooibokkies al om die huis en twee gulsige bosnagape wat meeding om die happies op die piesangtafel.  Dit is van die ervarings tot dusver wat weer eens op ons Sabieparkskof, soos op al die voriges, ‘n groot klomp stof vir heerlike kampvuurstories  skep.

Van slange weet ek min.  Ken omtrent net ’n tuinslang, brandslang, pompslang by ’n vulstasie en ’n rubber-speelslangetjie.  My raaiskoot is egter dat die indringer in ons slaapkamer-sanctum ’n kobra moet gewees het, waarskynlik ’n Mosambiekse spoegkobra.

Dis nie ’n saggeaarde vent nie, weet ons uit twee vorige ervarings.  Ek skrik my dus boeglam toe ek gister om 15:30 by die deur instap. Net anderkant die drumpel wag die meneer: bakkop omhoog om sy terrritorium te verdedig.   En die Mosambiekse manne kan spoeg hoor. Dodelik. Tref dit jou in die oë is dit middernag.

Tokkie speel slangwag en ek bel die kantoor: ‘’Kom help gou’’. Sipho daag op met ’n beiligheidsbril en ’n slangstok.  Teen die tyd is ta onder die Van D’s se dubbelbed ná ’n mislukte poging om teen die skuifdeur se glas op te seil, onheilspellende tekens dat die ingeboude kas vir hom na ‘n aantreklike heenkome lyk en allerlei ander glibberige maneuvers.

Sipho ken sy storie. Nie lank nie of die knewel – gewis minstens 1,5 meter lank – kriewel in die greep van die slangstok. Hy word veld toe ontplooi waar hy hoort.  Maar skielik lyk die slaapkamer onveilig. Het die slang juit die dak geval? Skuil daar ander slange in die gras?

Ek wonder hardop of ek nie in die Honda moet gaan slaap nie.  Maar dit raak koel in die nag. ‘n Dubbelbed is in Mei se frisserige herfsweer nie te versmaai nie.

Wildehonde was die langnaweek weer die groot tema in Sabiepark.  Donderdagaand het ’n troppie in Wildevy opgedaag. Ons gaste vir die naweek, Cules, Dalene, Marcus en Anel Malan van Pretoria, was bevoorreg om op die eerste aand van hul kuier nie KWV nie maar WWW by die kampvuur en die braai te kry: Wildehonde op die hoek van Worsboom en Wildevy.

Vrydagoggend het ek hul spoor gevat – die wildehonde s’n, nie die Malans s’n nie.  Daar lê die bont brakke toe in Gwarriebos heerlik aan’t uitrus na nagtelike kaperjolle waarvan die aard en omvang nie aan my bekend is nie.

Die gebied is deeglik gemerk en ure later was hulle steeds daar. So het  werkesel Tokkie darem ook kans gekry om hulle waar te neem.

Dit is die maand Mei, vir die rooibok-gemeenskap die mooiste, mooiste maand. Die liefde blom. Die ramme proes en  brul luidrugtig. Die brulgeluide moedig glo estrus in die ooie aan en lei tot gesinchroniseerde ovulasie, paring en geboortes in November.

Die Van Deventers tref dit vanjaar gelukkig. Rondom ons plek is dag en nag romantiese rooibok-aktiwiteit. Buiten die harde brulgeluide van die ramme, sien ons aan mekaar hoe die ramme mekaar met die kop bykom, bosse met hul horings slaan, hul sterte lig, gaap en vir mekaar met monde wyd oop tong uitsteek – vinnig en verskeie kere.

Laasgenoemde – ook bekend as ‘’tongue flashing’’ – is dominante ramme se manier om hul dominansie te demonstreer.  Dit laat ooie nader aan mekaar bondel en jong ramme op die vlug slaan.

Die ram wat die tamboer slaan, probeer om familietroppe vir  8 tot 12 dae in hul territorium te hou en moet terselfdertyd sy belange teen uitdagers verdedig. Daar is nie eens tyd om te wei nie.  Die ou teer in die tyd op die vetreserwes wat deur verhoogde hormoonproduksie in die nek opgebou is.

Na hoogstens 12 dae is’n ram gewoonlik so uitgeput dat hy deur ’n mededinger verjaag word – arme ding.

(Met dank aan Riëtte vir kennis bygedra deur haar naslaanboek ‘’Aardwolf tot ystervark’’.)

Die “Piesangroete” verskaf Tarlehoet se mense al jare plesier. Nou weer met ons herfsbesoek aan Sabiepark. Dié roete kry lewe sodra dit sterk skemer begin raak. Skielik sak nagapies (galago moholi) en bosnagape (galado crassicaudati) uit alle oorde op die stoep toe vir ‘n porsie – net nie te ryp nie, hoor!

Met die toenemende wedywering van die grotes betaal die “moholi’s” die prys as hulle wag totdat dit goed donker is, soos hul instink hulle lei. Die “crassicaudatusse” met hul groter aptyt, onversadigbare piesanglus en minder verfynde eetgewoontes boer hulle uit.

Die eetgewoontes verskil aansienlik. Die kleintjies raap die lekkernye op soos blits en gaan eet dit fyntjies in ‘n tak van die pendoring. Dit word in die handjies gehou soos ‘n mens met ‘n mielie doen. ‘n Bosnagaap is soos ‘n dorsmasjien. Hy gaffel die heerlikheid behoorlik in, en maak die tafel skoon.  (“Op is mooi,” het my ouma altyd gesê. Bosnagape stem klaarblyklik volmondig saam.)

As twee gelyktydig op die tafel land, word dit ’n eetkompetisie soos min. Hulle vloog onder die skyfies piesang in met ’n drif en ’n verbetenheid wat ’n mens verstom. ’n Beter vertoning kan jy kwalik vir gaste aanbied

Die verskillende eetkulture het ek in twee versies vir my kleinkinders in ’n private bundeltjie “Innibos saam met Oupa” in die versies “Piesangs en pendorings” en “Dorsmasjien” probeer verduidelik:

Nagapies dink: “O jinne, ons droom,

ons pluk stukkies piesang

hier sommer aan ‘n pendoringboom!”

__________                                     

Met sy bieliestert is die bosnagaap

‘n apie-meneer van ‘n ander kleur;

voordat jy kan tel tot tien

draf hy deur ‘n piesang

soos ‘n dorsmasjien.