Mar 17, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die lotsbepalende referendum van 17 Maart 1992, vandag presies 30 jaar gelede, het begin met ‘n onverwagse aankondiging op die “verkeerdste tyd”. Daar was konsternasie in die NP-koukus en skok in die federale raad. FW de Klerk se skuif is beskou as ‘n enorme waagstuk in die heersende politieke klimaat.
By Die Volksblad was ons self skepties. Hoofredaksielid Jan Scholtz het die reaksie met ’n geliefkoosde uitdrukking opgesom: “Buurman, nou speel FW op Avbob se stoep.”
Waarom dan die swaarmoedigheid? Kort antwoord: die een na die ander bloedneus by die stembus, soos pas in ’n tussenverkiesing in Potchefstroom. In die Vrystaat het Virginia en selfs “veilige” munisipale wyke in Bloemfontein in KP-hande geval. Nasionaliste het grootoog begin bespiegel of meer setels as net Bloemfontein-Noord in ’n algemene verkiesing behou sou kon word. Die aptyt vir hervormingspolitiek was bra eina.
Die groot Ja-oorwinning met ‘n volslae tweederde-meerderheid het egter die stoutste verwagtinge oortref. FW se politieke intuïsie is reg bewys. Sy tydsberekening was skitterend. Vir hom was die referendum ’n persoonlike triomf. Van begin tot einde was hy die oorheersende figuur.
Hy was in persoon hier, daar en oral en het mense met sy sjarme, opregtheid, logika en redenaarsvermoë saam met hom gevat. So is die regse gety nie net gestuit nie, maar omgekeer.
‘n Verbeeldingryke veldtog is gevoer. Nie die gewone stereotipe spyskaart van onpersoonlike formele vergaderings en ellelange toesprake was aan die orde nie – dié was daar ook – maar die klem het op intiemer kontak geval: huisvergaderings, blitsverskynings van FW en sy ministers op straat en in sakesentrums, deur-tot-deur-aksies, multimedia-aanbiedings, musiek, ens.
Die Nee-veldtog daarenteen het maar gesukkel om op dreef te kom. Daar was interne dwarstrekkery oor die fokus, en AWB-belhamels se onordentlike gedrag was vir die beskaafder KP-kern ’n verleentheid en ’n nadeel. Talle lelike insidente en onnodige gewelddadigheid het vervreemding veroorsaak.
Verrassend gou kon ’n positiewe ‘vibe’ aangevoel word. Uit reaksie kon jy optel dat ’n opgewondenheid aan’t opbou was om die ou juk van ’n moreel onregverdigbare en fisiek onvolhoubare bestel af te gooi.
Vir my was die referendum ’n laaste hoera as redakteur en aktiewe joernalis voordat ek Kaap toe is in ‘n bestuurspos. In my laaste verslag aan direksie oor die NP se kreeftegang in die Vrystaat het ek geskryf. “Iets is verkeerd gedoen – hoop tyd bring klarigheid”.
In die konteks was ek dubbel vasbeslote om nie op anti-klimaks my stoel oor te gee en te groet nie. Ek het myself – en my redaksie – met ywer in die veldtog ingewerp. Geen twyfel bestaan nie dat die koerant deurgaans met entoesiasme die Ja-stem bevorder het.
Die Volksblad het inderdaad met sy indringende, ontmaskerende joernalistiek ‘n deurslaggewende rol gespeel om wanvoorstellings en verdagte verkiesingsmetodes aan die kaak stel. Koerante is natuurlik toe nog wyd gelees. Die magtige internet was nog nie met ons nie.
Die vrugte van ywer is gepluk toe die Ja-stem teen die verwagting in in albei Vrystaatse stemdistrikte geseëvier het. In totaal was amper 55% van die stemme in die taai provinsie ten gunste van magsdeling met swartmense in ‘n onderhandelde nuwe grondwet. Veral die gunstige uitslag in die Kroonstad-streek was vir vriend en vyand ‘n verrassing.
In redaksionele kommentaar op 19 Maart – die laaste uit my pen – het Die Volksblad daaroor o.m. die volgende geskryf:
“`Die politieke rehabilitasie van die Oranje-Vrystaat is een van die vreugdevolle subtemas van die Ja-triomf. Wat bereik is, is die resultaat van harde werk, maar klaarblyklik ook van ‘n hartsverandering by Vrystaters. Groter realisme het oor die land se werklikhede posgevat. Andersyds is regse metodes en beleidloosheid, asook die gevare wat blanke hardkoppigheid vir die land en vir hulleself inhou, verwerp.”
Mar 9, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Geld groei nie aan bome nie … ook nie klippe nie.
In Sabiepark is ‘n klip in ‘n boom wat lyk of dit saam met die boom kon gegroei het. Hoe anders verklaar ‘n mens daardie bielie se teenwoordigheid hoog en droog in ‘n mik van ‘n huilboerboon (ai, watter gedugte boom!) drie meter bo die grond?
By al die ander monumente vir wyle Peter Malan in Sabiepark is die klip gewis een van die onverganklikes.
Peter, die fyn jintelman wat jy altyd deur ‘n ring kon trek, boomkenner, gholfspeler en konstruktiewe lid van die Sabiepark-komitee, wat vanoggend oorlede is, het die tamaaie klip jare gelede in Maroelalaan ontdek op een van sy gereelde staptogte kruis en dwars in die park.
Dit weeg maklik 60 kilogram …. en dis net ‘n konserwatiewe raaiskoot. Dalk is dit swaarder, want soortgelyke klippe op die grond kry jy nie geroer nie.
Niemand kon die eienaardige verskynsel ooit vir Peter geloofwaardig verklaar nie. My eie instintiewe teorie was klaarblyklike bog. Dit het ek gou ingesien. Geen sprake kan tog bestaan dat die klip daar neergesit/opgehys is toe die huilboerboon nog jonk en heelwat kleiner was nie.
Watte brose jong takke sou immers daardie gewig kon dra; wat nog te sê van soos ‘n wafferse kampioen-gewigopteller in die lug opstoot?
Die troos is dat ek, volgens Peter, nie al een is wat so klaarblyklik misgetas het oor die oorsprong van daardie klip in die boom nie. Die meeste mense raai maar dit moet die boom self wees wat dit op die een of ander duistere manier gekry het op die plek waar dit nou stewig rus.
Wel, as dit nie die natuur was nie, moet dit mensehande wees. Mense het darem die piramides ook gebou!
Maar wanneer, hoe en waarom?
Iemand gooi ‘n klip in die bos dat die klip drie meter hoog in die huilboerboon dalk met die draai van rieme in ‘n lang vervloë era verband kan hou. Soos ek die prentjies uit my skoolhandboeke onthou, was die klip vir daardie aktiwiteit egter onder aan die riem, nie bo nie.
Of wat praat ek alles?
Mar 7, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Akademikus weet al hoe meer van al hoe minder en minder en ‘n joernalis al hoe minder van al hoe meer en meer. Die wysheid van prof. Piet Cillié by sy eie oorskakeling van die ioernalistiek tot die akademie kom by my op wanneer ek by die herlees van JA Kannemeyer se biografie “Langenhoven – ‘n lewe” (Tafelberg, 1995) tussen ‘n duisternis juweeltjies veral by een besonderlike blinke vassteek.
Die een waarheen ek telkens terugblaai, is ‘n stomende Langenhoven-reaksie op ‘n onvleiende resensie in “Die Burger” deur dr. DB Bosman, lektor in Afrikaans aan die UK, van sy boek “First Guide to Afrikaans” (1926). Die woord-virtuoos se gramskap was tot by kookpunt opjaag.
Langenhoven noem dit ‘n “delirieuse” en ‘n “sotte” resensie en bring hom by een van sy gunsteling-onderwerpe: Suid-Afrikaners wat in Europa ‘n “kontinentale matriek” gaan verwerf en dan terugkeer met ‘n “dokterstietel” (so het hulle nog gespel) wat “op plekke in die buiteland rondlê vir elke geestelike Jan Rap om op te tel”.
Bosman het in 1916 in Gröningen gepromoveer wat hom klaarblyklik en van die “hulle” maak na wie die misnoegde Langenhoven kap as hy skryf:
“In hulle geval is ‘n Hollandse of Duitse dokterstietel niks meer nie as ‘n kontinentale matriek, en nie ‘n hoë matriek nie omdat sy vereistes verkrimp is tot die engste spesialisie van ‘n onderdeel van ‘n ondervak van ‘n onderafdeling van ‘n ondergeskikte onder-onderwerp.
“In die laaste tyd is hierdie doktoratery so bespottelik en niksbeduidend gemaak deur die weelderigheid van uitsaaiery onder al wat kom dat ‘n mens nou, soekende na ‘n nodige bewys van iemand se geestesontwikkeling waar dit nog nie uit ander gegewens blyk nie, verplig is om te begint met ‘n nuwe toets te stel en te verneem na teruggekeerde studente, hoe skaars hulle ook is, wat vernuftig genoeg was om die onderskeiding te verwerf om die dokterstietels mis te loop wat op plekke in die buiteand rondlệ om vir elke geestelike Jan Rap om op te tel.”
Ja-nee, vir die “Akademiese Fariseërs” – sy woorde – had Langenhoven min liefde. Toe hy in 1931 deur die US met die eregraad van Doctor Litterarum honoris causa tot die geledere van die einste “Akademiese Fariseërs” verhef word, is die nuwe doktor Langenhoven nie onverwags nie lekker gespot oor die ingenomenheid waarmee hy hom die “tietel” laat welgeval het.
Mar 3, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Redakteurs vang soms koddige goed aan. Van die koddigste in Suid-Afrika waarvan ek tot vandag geweet het (of onthou het), was die hoog aangeskrewe Harvey Tyson van “The Star” se onwilligheid om tussen ‘n Ja-stem en ‘n Nee-stem te kies in die referendum oor die driekamerparlement in 1983. Hy het kiesers aangeraai om liewer buite stemming te bly.
Op ‘n kennisgewingbord by die koerant het ‘n ondeunde kollega toe ‘n nota opgesit: “The indecision of the editor is final”.
Tertius Myburgh, redakteur van die “Sunday Times”, wat ‘n sterk Ja-man was, het van die kolskoot te hore gekom en heerlik met sy kollega gespot.
Tot met sy dood het die etiket van “indecision is final” aan Tyson vasgekleef.
Tot vandag toe was dit dalk vir my die koddigste. Toe lees ek in JC Kannemeyer se Langenhoven-biografie, “‘n Lewe” (Tafelberg, 1995) van die kleurryke baanbreker in die stryd vir Afrikaans se brief in sy eie koerant, Het Zuid-Westen op Oudsthoorn. Hy was redakteur van 1912 tot 1915. (Het dit gewis voorheen gelees, maar onverklaarbaar vergeet).
Op 19 Januarie 1914 skryf Langehoven in sy eie naam ‘n lang brief wat hy as redakteur in Het Zuid-Westen publiseer. “Dit is moeilik vir ‘n man om ‘n brief aan homself te rig,” so begin hy, “maar ek het nou ‘n meedeling te maak wat niks met mij betrekking als redakteur van hierdie blad te doen het nie; en versoek om dit te plaas alsof dit van enige buite-staande korrespondent kom.”
Die onortodokse “meedeling” kom daarop neer dat die huidige lid van die provinsiale raad nou nie juis waffers is nie en dat hy, die nimlike Langenhoven, nie ongeneë sal wees om hom te vervang nie – as die kiesers so wil. Die geskiedenis is dat Langenhoven eindelik toe onbestrede verkies is.
Die wyse waarop Langenhoven hom as kandidaat verkiesbaar gestel het, was nie alleen “hoogs ongewoon “ nie, maar tot vandag toe “uniek in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika,” bevind Kannemeyer.
Mag ek – sonder vrees vir ernstige teenspraak -byvoeg dat dit sekerlik ook tot vandag toe uniek is in die joernalistieke geskiedenis van Suid-Afrika? ‘n Lesersbrief in jou eie koerant, verbeel jou!