VUURVONKE OOR “MODERNE AFRIKAANS”

In sy afskeidsrubriek in  Rapport  roer Waldimar Pelser  ‘n sekere geesgenootskap  tussen Rapport en NP van Wyk Louw aan. Op Sondag 29 November 1970 is Rapport se eerste hoofartikel byvoorbeeld ingelui met Louw se woorde:  “Die vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie.”

Meer voorbeelde van sulke vrugbare wisselwerking van denke bestaan – ook met  Rapport se een voorganger, Die Beeld.  Die verhouding tussen Louw en Schalk Pienaar, eerste redakteur van Die Beeld, het in die 40’s egter bra suur begin.

Oor die rede sou ‘n mens vandag dalk kan glimlag – maar dit was ernstige sake. Pienaar, toe nog by Die Burger, het die betekenis van ‘n Louw-gedig bevraagteken. Die opskrif: “Voortreflike onbegryplikheid”.  Louw het hom opgeruk . Hy het “die artikeltjie van die heer Pienaar” as “dom en oningelig” beskou.

Pienaar het in Huisgenoot betoog dat in Afrikaans al hoe meer dinge geskryf word wat hy – wat darem kan oor die weg kom met die Psalms, Shakespeare en Goethe – nie kan verstaan.  Hy haal dan Louw se gedig “Spieël en venster in die nag” aan: “Sal ek die klare dodes noem /In hierdie blink en bitter nag /En aan die dun galg van die roem / Ook dié gesig sien lag.”

Hy kon daar “geen woord van wys word nie,” kla hy. “ Die digter – hy is een van ons heel bekendste – was so vriendelik om in die opskrif te verduidelik dat die vers met ‘n spieël, ‘n venster en die nag te doen het.  Maar wat, kon ek tot op hede nie agterkom nie.”

Diegene wat “hierdie moderne Afrikaans “ prys,  is of vriende van die skrywer of mense “wat alle onbegryplike dinge kuns noem” of wie se “status as kunsindoenas” daarvan afhang dat daar ‘n “standhoudende voorraad onverstaanbare dinge” sal wees waaroor hulle “onverstaanbare menings” kan uitspreek.

Dan vervolg hy: “Ek sou hierdie mense hul vermaak gun as dit onskuldige vermaak was, maar die saak gaan verder.” Dan volg, waarteen Louw die ergste eksepsie geneem het:  Dat mense die idee propageer dat “sulke dinge aanprysenswaardig is” en daardeur “‘n mark vir hulleself verwerf”; terselfdertyd dat dinge wat nie so is nie, verwerplik is – en daardeur word “andere se mark bederf.”

Louw het hierdie uitspraak vertolk as sou dit “oneerlike motiewe aan sy literêre werksaamheid toeskryf”.

Huisgenoot het teruggekrabbel: Hy moet erken dat die woorde vatbaar is vir hierdie uitleg, maar dit was nie die bedoeling nie. Die tydskrif betuig ook names Pienaar sy spyt en publiseer ‘n apologie en ‘n kwaai brief van Louw.

Louw skryf: Wanneer Pienaar beweer dat sy optrede geen “onskuldige vermakie” is nie, en insinueer dat dit is om ‘n mark te verseker en “ander se mark te bederf”, word dit “persoonlike bekladding”.  (En as hy  – Pienaar – nie meen dat dit in die bedoeling van sy woorde lê nie, “begryp hy sy eie Afrikaans net so min as dié van die jonger digters.”)

In ‘n naskrif skryf hy: “Die heer Pienaar se verklaring dat hy alles in die Psalms, Shakespeare en Goethe begryp, was seker glippens – ‘n stukkie optimisme wat hy sal verloor as hy dié werk en dié skrywers ‘n bietjie meer gaan lees.”

Lesersbriewe het ingestroom – en die meeste was dit met Pienaar eens.

Daar was ook ‘n geval dat Pienaar ‘n vroeë digbundel van Louw – watter een het my ontgaan – in ‘n resensie in Die Burger taamlik afgekam het.  In literêre kringe is dit as ‘n erge mistasting bejeën.

Tog het wedersydse begrip gegroei, soos Pelser aantoon. Wat bygevoeg kan word, is dat  Die Beeld se tweede hoofartikel verskyn het onder die opskrif “Oop gesprek”  – natuurlik een van Louw se groot temas.

Betekenisvol is dat Schalk Pienaar hom in 1966 bankvas agter Louw ingewerp het in die storm oor sy omstrede toneelstuk “Die Pluimsaad waai ver”. Louw het opdrag gekry om n stuk te skryf vir die vyfde herdenking van die Republiek op 31 Mei 1966. Dr. Verwoerd het die stuk in sy feesrede heftig gekritiseer omdat daarin nie net hulde aan helde betuig is nie, maar in Afrikanergeledere in die Anglo-Boereoorlog ook verraad en ander swakhede raakgesien is. In die agteropskop, gretig ondersteun uit regse politieke kringe, was Die Transvaler en Die Vaderland op die voorpunt, lees ek in Alex Mouton se biografie oor Schalk Pienaar, Voorloper. In ‘n latere hoofartikel het Pienaar die digter onder sy vlerk geneem en verklaar dat hy verhewe is bo die kleinlike kritiek van verkramptes. Sommige het dit as “boetedoening” vir sy Huisgenoot-artikel beskou.

 

Van sy kant het Louw – moedeloos oor die peil van noordelike Afrikaanse koerante – voor die verskyning al gemeen die koms van die koerant is “ soos suurstof vir ‘n mens wat in ‘n moeras vasgevang is”. Tussen digter en redateur het mettertyd ‘n kameraderie ontwikkel wat tot oor en weer kuiers oor ‘n glas goeie brandwyn gelei het.

  • ‘n Melkbosse vriend, wyle Danie Krynauw, het vertel dat hy Louw ‘n keer gevra het na die betekenis van ‘n gedig wat vir hom duister was. Louw se antwoord: “Mnr. Krynauw, toe ek die gedig geskryf het, het net twee geweet wat dit beteken – die liewe Here en ekself.  Nou weet net die liewe Here.”

GERRIE EN KALLIE: VLOEI KWADE BLOED NET VOORT? 

Kallie Knoetze figureer nie in die beoogde rolprent oor Gerrie Coetzee nie – dit is die nuus uit die Knoetzekamp.  Geen foto nie, niks. Nie eens sy naam word vermeld nie. Die kwade bloed tussen die twee swaargewigte vloei ná dekades steeds volstoom voort, lyk dit.

Oor hul ongemaklikheid met mekaar het albei boksers openhartig gepraat toe ek in 1978 met hulle gesels het vir die rubriek “Onder vier oë” in Beeld – twee maande uit mekaar, eers Kallie, toe Gerrie.

Die bynaam “Gerrie ‘Seer Handjies’ Coetzee” wat Kallie vir Gerrie gegee het, was klaarblyklik by laasgenoemde ‘n teer punt.  Ook dat  ‘n geveg tussen Gerrie en die legendariese vorige wêreldkampioen “Smokin Joe” Frazier op die nippertjie deur die mat geval het; Kallie het toe wel die kans gekry wat Gerrie moes ontbeer.

Kallie het op sy beurt uitgepak oor die  “dinge wat Gerrie aanvang” en wat hom,  Kallie, teen die bors stuit.  “Kyk laas toe klein Charlie Weir verloor het. Toe moes jy vir Gerrie hoor – dit was net kritiek, kritiek, kritiek.”  Dis mos ‘n teken van jaloesie. “Ek is anders.  Ek gun elke mens sy sukses. As ‘n ander bokser voor my ‘n wêreldtitel wen, sal ek sê: ‘Pragtig, pragtig’”.

Met my besoek aan sy Oos-Randse hoewe was Gerrie vier maande laas in die kryt, en gefrustreerd. Hy het uitgesien om in daardie tyd in Suid-Afrika teen Frazier te boks. Toe dit deur die mat val, kom die nuus dat Kallie wel ‘n geveg teen Frazier gaan kry. Dit het hom “siek” laat voel. Hy is lus om te sê Kallie het hom “onderkruip”. As Kallie verloor “gaan ek dalk partytjie hou”.

Maar só suur was hy darem nie dat hy ‘n aanbod wou aanvaar om Frazier vir die geveg te help voorberei nie?  “Nee,” het Gerrie geantwoord, al hy ken Kallie se swakplekke soos ‘n boek, sou dit darem te erg gewees het om dit aan Frazier te gaan uitlap.  Dit sou hom laat voel hy is nie “die naam Suid-Afrikaner waardig nie.”

Hy nie vir Kallie eerste begin slegsê of afbreek nie, het Gerrie aangevoer.  Maar wat Kallie oor hom kwytraak, sal hy nooit kan vergeet nie. Die dinge tussen hulle het ‘n “bodemlose put” geword.

Kallie het “sy bek so vol”, maar as hy vir hom (Gerrie) raakloop, “skrik hy altyd sy wind uit” en groet. Gerrie groet nie terug nie, en sal voortgaan om Kallie te ignoreer. Waarvoor ‘n man groet wat spog hy gaan jou kop van jou lyf slaan? “As hy teen my is, is ek teen hom.”

Hy het Kallie twee keer “goed opgedons”. In twee van hul ses gevegte het hy hom vir die volle telling planke toe gestuur (die ander vier het taamlik gelykop verloop – HvD). Al sou Kallie ook wêrelkampioen word, is hy, Gerrie, eintlik die kampioen. Hy het teen harder manne baklei en gewen.

Die gesprek met Kallie in Pretoria was ‘n week nadat hy die Amerikaner Duane Bobick in die tiende ronde van hul geveg in die Randse stadion met ‘n regter teen die kinnebak aan die slaap gesus het. Bobick is deur die nimlike Frazier afgerig oor wie die onmin tussen hom en Coetzee só hoog gevlam het.

“Ek het sommer voor die geveg al in die arme man se oë gesien hy’t geen vertroue nie,” het Kallie geborrel.  “Toe die skare Die Stem sing, het my bors geswel en ek kon sien Bobick skrik hom boeglam vir die trotse Boerseun.”

In die geesfdriftige skare was o.a. Pik Botha, minister van buitelandse sake, wat afgeneem is waar hy hy opgewonde die vuis bal. Dat hy die minister so opgewonde kon maak, het Kallie, die patriot, se bors opnuut  laat swel.

“Gerrie, wie’s Gerrie?”  wou Kallie weet. “Hy is maar net die SA kampioentjie. Ek is die man wat die skares trek.”

Sy groot ambisie is die wêreldtitel, het hy volgehou.  Hy gaan dit syne maak. Vir Suid-Afrika en vir die polisie (hy was voorheen polisieman). ‘n Mens veg vir jou land, dit het hy by daardie groot sport-amsasadeur Gary Player geleer.  Bring maar die groot kanonne soos Ali en Ken Norton. Sê vir hulle hulle kan maar vergeet van Gerrie “Seer Handjies” Coetzee.  Dis die “Bek van Boomstraat” wat hier op hulle wag. En hy’s honger.

Naskrif:  Die “honger” Kallie het dit toe nie gemaak nie; Gerrie wel – dalk tog “against all odds”, soos die titel van die beoogde rolprent gaan wees.

JINTELMAN-POLITIKUS 

Sir Div in later jare; op die kruin van sy loopbaan in 1962; as jong soldaat en op die dansbaan in Kaapstad met prinses Elizabeth (huidige monarg) op haar 21ste verjaardag in 1947.

Een van die politieke leiers wat in my persgalerydae in die 60’s die diepste in my hart gekruip het, was – snaaks genoeg vir die verteenwoordiger van ‘n Nasionale koerant – sir De Villiers Graaff, jintelman-leier van die Verenigde Party.

Ek het hom op die krieketveld by Fernwood, die parlementêre sportklub in Nuweland, beter leer ken. Hy was ‘n formidabele paaltjiewagter-kolwer van die parlementêre krieketspan, ondanks ‘n rug wat hom toe al opgekeil het. Ek en twee kollegas in die persgalery, die SAUK se Daan Eksteen en wyle Neville Krige, het jong bloed tot die span bygedra.

“Groot Div” en “Klein Div” het die VP-leier en die Volksblad-man vir ons spanmaats geword toe ons een dag vir ‘n substansiële vennootskappie van so dertig, veertig lopies sorg. Daardie aand was my naam in die Argus Late Sport – die enigste keer in sy lewe dat hierdie middelmatige sportman die sportblad gehaal het!

Sir Div was darem ‘n Oxford Blue (hy was dit ook in boks) en ek ongetwyfeld die junior (dog ratser) vennoot!

My “Div” het moontlik van my van gekom, moontlik van ‘n ooreenkoms in voorkoms, wat sommige glo bemerk het. Of so ‘n ooreenkoms wel bestaan het, is iets waaroor ek my nie sal uitlaat nie. Wat egter baie waar is, is dat “Groot Div” “Klein Div” se guns gewen het deur hom hoflik en bedagsaam te behandel, allerlei geselsies aan te knoop, ligweg oor die politiek te korswel, en buitengewone gasvryheid te betoon.

Ek (en ander pergalery-kollegas) is na sy spogplaas De Grendel aan die Tygerberg genooi; ek is ook by geleentheid sommer spontaan in die wandelgang vir ete in die parlementêre eetkamer gevra. Een Woensdagaand was dit net ons twee aan tafel, en was daar ‘n hele geskarrel om vir ons ‘n oop plekkie te kry. ‘n Tafeltjie is later speiaal ingedra.

In die politiek van destyds was min wat met integriteit, standvastigheid, eerbaarheid, betroubaarheid, waardigheid, beskaafdheid en ordentlikheid by hierdie regsgeleerde, voorste melkboer, teler van kampioen-Friese  en veteraan-politikus met sy ouwêreldse standaarde kon kers vashou.  Vriend en vyand het hom gerespekteer. ‘n Bewys is die voorwoord deur die destydse staatspresident PW Botha in sy biografie,  Sir De Villiers Graaff  (Digma, 1990). Hoë agting vir die mens Div Graaff word daarin uitgespreek.

Psalm 15  met sy eise van opregtheid, onberispelike wandel, doen wat reg is, die waarheid praat en jou woord hou, was lewenslank vir hom ‘n rigsnoer.

As student aan die universteite van Kaapstad, Oxford en Leiden was die seun van Bishops ‘n uitblinker op akademiese en sportgebied. Later as soldaat met die rang van kaptein het hy sy land in die Tweede Wêreldoorlog met onderskeiding gedien. Nadat hy in Tobruk gevange geneem is, was hy vir jare in ‘n krygsgevangenekamp waar hy ‘n leiersrol vertolk het. ‘n MBE (Member of the Bitish Empire) is aan hom toegeken.

Met sy terugkeer het die VP hom opgeraap.  Hy is in 1948 Volksraad toe en het agt jaar later op ouderdom 43 die oninspirerende adv. JGN Strauss as leier van die party opgevolg.

In die politiek was hy in 21 jaar (1956 tot 1977) leier van die opposisie in die termyne van drie premiers, JG Strydom, HF Verwoerd en BJ Vorster. Ondanks koersvaste leiding het sy party uiteindelik onder hom verkrummel en het die Progressiewe Federale Party (PFP) die amptelike opposisie geword.  Die ondergrawery deur jong lede van sy koukus was vir hom ‘n ontnugterende ervaring juis omdat hy soveel prys op lojaliteit gestel het. Hy het die politiek met ‘n sekere mate van geregverdigde verbittering verlaat.

Tot die verbittering het ongetwyfeld bygedra die verbete veldtog in die Sunday Times (redakteur: Ken Owen) dat “Graaff must go” , sonder dat ‘n alternatiewe leier van betekenis aangebied kon word.

Miskien nie onverwags nie was Sir Div my kandidaat toe ‘n nuwe Staatspresident in 1979 gekies moes word. Die mantel het op Marais Viljoen geval. Ek het geglo ‘n geleentheid is verspeel om groter eenheid in die land te bewerkstellig, en dat Graaff in elk geval vanweë sy hoë kwaliteite as mens eer en internasionale aansien na die amp sou bring. Ook sy voorkoms en houding was prima-presidensiëel.

*Sir De Villiers Graaff is op 4/10/1999 oorlede.

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Zsa-Zsa Gabor.

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesigheid van broeke ‘n kenmerk is.

Die berigte is totaal onverwant.  By hierdie oprakelaar van herinneringe wek dit tog ‘n assosiasie.

‘n Fotograaf van The Star – sy van was nogal Oosterbroekwas naamlik op die Johannesburgse lughawe toe die Mej. Wệreld-aspirante van 1993 opgewonde uit die vliegtuig trippel.  Oosterbroek, altyd op soek na ‘n ongewone hoek, was vir die okkasie plat op die grond.

Dit het nie net ‘n fees van manjifieke bene op sy negatiewe opgelewer nie, maar ook onthul dat Mej. Denemarke ‘n goeir kandidaat vir so ‘n motorfietsuitstappie  sou kon weees.  Onder haar roekelose kort mini was niks meer as wat glo by tradisionele Skotse geleenthede onder ‘n rasegte Skotse rokkie gedra word nie.

Die foto het later op die koerant se kennisgewingbord opgeduik – tot ontsteltenis van die verslaggeefsters.  Vroulike gemoedere het veral hoog geloop toe die ondeunde nuusredakteur een opdrag gee om by ander deelnemers te gaan vis of hulle hulle op soortgelyke wyse onderlangs koel hou.

Laat my skielik dink aan die potjie wat die einste Star met die rolprentster Zsa Zsa Gabor geloop het oor ‘n onthullende foto – maar darem nie so onthullend nie. Veteraan-verslaggewer Joe Openshaw het die onderonsie in die blad se eeufeesbylae in 1987 “miskien die grootste verleentheid” in sy loopbaan genoem.

Openshaw is na haar perskonferensie in die ou Carlton Hotel in Johannesburg gestuur. Hy en die fotograaf besluit om ‘n informele foto te probeer kry. Daarom is hulle na haar stel kamers. Omdat die deur oopstaan, stap hulle in. Openshaw klop liggies aan die slaapkamerdeur en sy koer: “Kom in”.

Toe hulle vinnig instap, die fotograaf met sy kamera gemik vir ‘n goeie foto, tref hulle voor die kleedtafel aan in die kleinste, fynste onderstukkies. Haar krete laat hulle vinnig retireer. Toe sy by die perskonferensie instap, val haar oog op Openshaw. “Daar is die man wat in my slaapkamer ingebreek het,” gil sy. Eers ná vele mooipraat is sy gekalmeer. Sy het gedink die kloppie op die deur was van ‘n diensmeisie wat haar moes kom help aantrek, het sy verduidelik.

Naskrif: ‘n Verslaggewer van die nuusagentskap United Press wat saam met die koningsgesin in 1947 na Suid-Afrika gekom het, het prinses Elizabeth – nou die 95-jarige monarg – afgeloer terwyl sy by Koningstrand in Port Elizabeth (Gqeberha ) geswem het. Hy het toe ‘n berig oor haar figuur die wệreld ingestuur.

Volgens hom het hy dit gedoen om mense te laat weet dat sy ‘n beter figuur het as wat haar onvleiende kleredrag laat blyk. Die berig was egter genoeg om te sorg dat die prinses nie weer op daardie toer in ‘n baaikostuum verskyn het nie. Ook nie dikwels daarna nie, indien enigsins.

 

OM OP DIE VOORBLAD TE STERF … OF NIE

Wie se dood is voorbladnuus? Wie haal die koerant se plakkaat? Wie kry banieropskrifte of selfs ‘n gedenkvoorblad soos deesdae mode word (kyk Die Burger se voorblad ná die dood van kerkman Desmond Tutu).

Sulke oordele oor die nuuswaarde van sterfgevalle word gereeld  in koerantredaksies geneem.  Soms kry hulle dit doodreg (as ek die woord in die sin mag gebruik).  Soms struikel hulle maar.

Een sterfgeval wat wyd misgevat is, was die van NP van Wyk Louw, voorste letterkundige, op 18 Junie 1970, klink dit vir my uit prof. JC (Jaap) Seyn se formidabele tweeband-biografie van meer as 1 000 bladsye oor die groot man.

Die nuus het taamlik laat op 18 Junie bekend geword. Die Volksblad  – toe nog ‘n gerekende middagblad met ‘n sterk klem op “vandag se nuus vandag”  – het ‘n  groot berig op voorblad ingekry.  Hy het die nuus die prominentste van alle middagblaaie gehanteer.

Sy hoofberig was egter oor ‘n lank vergete griepepidemie wat die land geteister het.  Hoekom was Louw nie hoofberig nie soos met die dood van die digter Totius op 2 Julie 1953?  Dit is nogal ‘n vraag. “Totius ontval Afrikanervolk” was die opskrif van daardie dag se hoofberig.

In Junie 1970 was ek nuusredakteur. Ek onthou eerlik egter niks van Louw se dood nie.  Was ek dalk in die wildtuin? In elk geval is nuuskeuring nie die nuusredakteur se verantwoordelikheid nie.  Gelukkig hoef ek nie te probeer verduidelik nie.

Die oggendblaaie van 19 Junie het voorbladberigte bevat maar dit was ook nie hoofberigte nie.  Is die nuuswaarde van Louw se dood deur Die Burger dus laer aangeslaan as dié van Langenhoven op 16 Julie 1932?  Dié is onder ‘n banier aangekondig:  “Suid-Afrika verloor as Langenhoven”.

Volgens Steyn is die nuus dat die Afrikaanse taalgemeenskap Louw verloor het, ‘n “bietjie verdring” deur ‘n hoofberig oor ‘n Tory-oorwinning oor die regerende Arbeidersparty in die Britse verkiesing op 18 Junie. Was dit werklik vir Suid-Afrika gewigtiger nuus?

Natuurlik het ná Louw se dood talryke hoofartikels en huldigingsartikels verskyn.  Die koerante het vinnig die aanvanklike agterstand ingehaal.  Uitwis, kon hulle dit nie.

Interessant (eerder verrassend) is die feit dat Louw se roudiens op Maandag 22 Junie in die NG kerk Linden ook kleiner was as wat ‘n mens sou verwag het.  Dit was “informeel en sonder hoogwaardigheidstedoe”, het Rykie van Reenene berig.  Geen lede van die kabinet was teenwoordig nie en die  kerk was nie vol nie. Die diens is deur 600 mense bygewoon het Die Transvaler berig; 350 aldus The Star en 300 aldus die Rand Daily Mail.  (Beeld sou natuurlik die syfer korrek gehad het. Oogknip, oogknip. Die koerant het egter eers in September 1974 sy buiging gemaak. )

Die grootste ironie met Louw se dood sou nog volg.

Die plan was om sy as te strooi by Verlatenkloof naby sy geboortedorp Sutherland (Sutterland). ‘n Gedenkplaat sou teen ‘n rots aangebring word, soos in die geval van Leipoldt in die Hantam. Sy broer Gladstone (die digter WEG Louw) sou sorg.

Niks gebeur egter nie. In 1976 besluit Louw se weduwee, Truida (Pohl), en dogter Nakkie (Human), om self die werk te laat doen.  “Anders raak dit nooit gedoen nie!”) Sutherland sê dit is reg.  Joernalis Franz Kemp (eggenoot van Louw se dogter Reinet) word gestuur om die kissie met as by die ondernemer te gaan haal.

Maar as? Watter as? Die begrafnisondernemer was verbaas. Niemand het gevra dat dit in bewaring gehou word nie. Lank tevore is dit reeds in die tuin van herinnering by die krematorium in Braamfontein gestrooi.

Truida het toe maar ‘n plaat, soos al die ander, teen die muur van herinnering laat aanbring.  Daarop staan eenvoudig net: NP van Wyk Louw, digter, 1906 -1970.

“So was hy uiteindelik finaal “naamloos onder die naamloses”, soos hy een maal in 1950 wou wees, skryf Steyn.  “Dit is ‘n einde wat byna so aandoenlik is as die Van Mozart, wie se liggaam saam met vreemdes in ‘n massagraf gestort is.”

En dan die aangrypende slotsinne van Louw se lewensverhaal: “Wie die as gestrooi het, weet niemand meer nie; wanneer dit gebeur het, dit onthou niemand.   Nieman kan kan sệ waar presies die stoflike oorskot van een van SA se grootste manne rus nie .”