MY SJARMANTE KOLLEGA DANIE

Oud-kollega Danie Krynauw, nou 93, was hoof van Naspers se tydskrifte toe ek in 1992 by die Naspersentrum ingestap het as hoof van koerante. Ons was bure in ‘n kantoor-suite. Ons het een buitedeur na die gang gedeel en het ons onderskeie domeine betree deur die gemeenskaplike kwartiere van ons twee PA’s, Willa Joubert (Danie) en Lizette Hanekom (HvD).

Ek beskryf die ruimtelike opset in detail omdat dit geen geringe rol gespeel het in die gawe verhouding wat tussen die twee bure ontwikkel het nie. Die ligging van my kantoor het aan my terselfdertyd ‘n verkwiklike uitsig gebied op die verkeer na Danie se kantoor, wat ingrypend verskil het van die verkeer na myne. Die meeste van Danie se besoekers was elegante dames uit die tydskrifte-omgewing. Koerantredakteurs en –bestuurders was minder sag op die oog. Maar dit daargelaat. .

Feit is dat die fyn jintelman Danie en ek heelwat van mekaar gesien het. Ons samesyn was vir my ‘n ekstra plesiertjie van my nuwe pos waarin ek aanvanklik bra ontuis was. Trouens, ek was geruime tyd ontuis in die grote Kaap met sy vreemde gesigte.

Op die eerste dag, 1 April 1992 (Gekkedag!), was hy my gasheer op my eerste besoek aan die kafeteria Van Alle Kante met die prentjiemooi uitsig na alle kante. Danie het vir my ‘n ete gekoop en vir die groentjie ‘n broodnodige blitskursus in hoofkantoor-kultuur gegee. Hy het my nogal verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede.

Ja, hy kon nogal brutaal eerlik wees, dié Danie, maar hy het ook die geheim geken om elke mens spesiaal te laat voel. In ‘n sekere sin was hy meer ‘n ou vleier as ‘n bakleier. Mettertyd het ek agtergekom Danie was selde verkeerd in sy oordeel oor mense. Hy kon hulle haarfyn raak takseer – seker een van die redes waarom hy die uitsonderlike Kathleen in Oktober 1989 as bruid gekies het. Sy bederf hom tot vandag toe tot in die aarde, en hy aanbid na meer as 30 jaar jaar nog die grond waarop sy loop.

Meer as een keer het ek in sy kantoor ingewals om oor, noem dit maar, die eienaardige optrede van dié of daardie koerantekollega te skinder. Hy het altyd gereageer met ‘n kenmerkende Krynauw-kwinkslag. Dan lag ons saam in ons moue. Nóg Danie nóg ek had ‘n aptyt vir ‘n opgeblase ego of oordrewe selfbeeld.

Danie was in verskeie opsigte bewonderenswaardig. Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen MBA was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.

Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur se gesig. Hy was ‘n skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien. Hy was seker maar die jongeling Absalom genadig!

Ná Danie se aftrede het hy soms op die 18de verdieping kom inloer vir ‘n vinnige: “Haai, hoe gaan dit?” In 1997, aan die vooraand van my eie aftrede, was Danie weer op besoek. Ons is na die kafeteria vir koffie en hy het vertel van sy en Kathleen se salige leefwyse: somer op Hermanus, winter in die Laeveld.

‘n Vrugbare saadjie is daardie dag geplant. Kort daarna was die Van Deventers die trotse eienaars van ‘n eiendom in Sabiepark by die Krugerhek, ‘n plekkie wat diep in ons harte gekruip het. Dankie, Danie, jy was vader van die gedagte. Ek onthou altyd in dankbaarheid jou rol as ek by Tarlehoet ‘n vuurtjie aansteek.

Hazyview en Sabiepark is net 40 kilometer uit mekaar. Nog ‘n gesellige Krynauw/Van Deventer-reëling het sedert 1998 ontwikkel. Op besoek aan Sabiepark is die Van Deventers meermale genooi na die Krynauws se spogplek aan die Sabierivier in die manjifieke Kruger Park Lodge, elke deftige vertrek spierwit van A tot Z. Middagetes was op die houtdek onder ‘n grasdak met onweerstaanbare kos en wyn, die gulste gasvryheid en wonderlike natuurskoon.

Wanneer ons die Krynauws na Sabiepark genooi het, moes hulle maar inval by die Van Deventer-patroon van tjops en wors met pap en sheba. Tot hul krediet was hulle altyd galant en vol lof, al was die vleis dalk ‘n raps te gaar.

Die laaste jare is ons besoeke beperk tot Helderberg Village by Somerset-Wes waar hulle al ‘n dosyn jare of wat permanent woon.  Sondag het ons die twee weer daar gaan opsoek – nog net so onberispelik stylvol soos altyd. Alles was eksie-perfeksie, ook Kathleen se kos. Dis maar net die jare wat meedoënloos voortmarsjeer, links, regs, links, regs. Danie se verstand is verstommend helder. Op 93 is hy steeds ‘n sjarmante heer. Maar ‘n mens raak broser. Ook my  immergroen oud-kollega ontsnap nie.aan die werklikheid nie.

Foto’s: Ek en Danie, Tokkie en Kathleen.

‘N KOSBARE KUIERTJIE VAN KARPERD-KOLLEGAS

Die sakke sout wat kollegas in uitdagende omstandighede saam opeet, dryf hulle in later jare weg van mekaar of  maak die verhouding hegter.  MIn twyfel dat dit in die geval van my en Johan van Wyk laasgenoemde is.

Daarom was gister se kuier by Johan en Zandra in die Strand so kosbaar met sy eie onuitwisbaarhede.

Vir ons sou dit heerlik gewees het om daardie twee spesiale mense op ons oudag gereeld te sien.   Omstandighede bepaal dit anders.  Helaas. 

Dit klink seker onbeskeie maar ek glo vas dat ons geliefde Volksblad in die 80’s was wat hy was weens veral twee pilare: sy dinamiek (waarvoor ek gedeeltelike eer sal opeis) en die liefde wat mense vir die rubriek Stop van Myne gehad het. Laasgenoemde borrel steeds uit waar Vrystaters gesels. 

Johan het gister met ons aan koms ‘n los kruisband vir my vasgeknoop. Hy  het vir my voorheen baie simboliese kruisbande vasgeknoop, Ek is dankbaar daaroor. 

Hiermee enkele stukkies uit ‘n HvD-blog van 2014 waarin ek oor Stop se waarde besin:

Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies. Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.

Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders. Die era van die “Oom” was ook ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.

Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie. As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd. Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys. Net terloops.

So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners. Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie. Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende. Soek graag mekaar se geselskap op.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue! Hy het ‘n sjarme aan hom, die “Oom”.

Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk.

Ek staan bankvas by elke woord.

‘N MAN MET SY HAND AAN DIE PLOEG

Vreemde assosiasies wat soms spontaan by ‘n mens opkom.  Met die 80ste verjaardag van my Bloemfonteine buurman Chris van Rensburg dink ek skieik aan Volkskas, die bank wat nie meer is nie.

Waaraan ek eintlik dink, is die ou Volkskas-logo: twee hande aan ‘n ploeg wat die aarde omdolwe.  Een aan die leuse: Arbeidsaamheid.

As ek Chris met een woord moet beskryf, is dit  arbeidsaamheid. Hierdie gewse vise-rektor van die Sentrale Universiteit van Tegnologie  is ‘n man wat hand aan die ploeg slaan.. Wat nie skaam is om hand uit die mou te steek nie. Wat nie met sy hande gevou sit, met sy hande in sy skoot sit, met sy hande   in sy broeksak staan of bang is om sy hande in koue water te verbrand nie . Daarby is hy ‘n handige man. Sy hande staan vir niks verkeerd nie.

As hy nie die akademie gekies het nie – dierkunde is sy vak – sou hy ‘n loopbaan kon volg as “handyman”. Nutsman, om nou mooi Afrikaans te praat.  Chris is ‘n kombinasie van timmerman, loodgieter, werktuigkundige, elektrisiën …. Noem maar op.

Ons paaie het in in1981 gekruis in Bloemfontein. Amper tien jaar lank het ons skuins oorkant mekaar gewoon in Dan Pienaar, hy en en die borrelende wyle Annette in Kmdt. Senekalstraat, ek en Tokkie in Genl. Van Schoor. Ons het dadelik gekliek en het graag saam gekuier, in Bloemfontein, die Krugerwildtuin en  Namibie. Later ook in die Oos-Kaap. (Addo) en in Sabiepark. .

As buurman  het ek hom hom leer ken as iemand wat nie vir sy hande die saligheid belowe nie.  Dit was uitputtend  om te aanskou hoe hy sy hand aan die ploeg slaan.  Waar ‘n ander ou die geelbladsye sou nader pluk en “let their fingers do the walking through the yellow pages”, sou hy self die saag, die hamer, die snoeiskệr of watter ander gereedskap ookal opneem.  Met ‘n tang is hy so knap soos agter ‘n rekenaar of op ‘n podium.

‘n Helder herinnering van Chris as tuinier en van ‘n Sondagoggend.  Inmontlik vroeg het sy grrassnyer begin dreun. .Die buurt was gewek.  Toe hy klaar is, gaan stort hy en  klim terug in die kooi. Min gepla.

Sy algemene handigheid het hy by ook by die braairooster gedemonstreer.  Op Luderitz het hy in slegte weer vir ons krewe in die rondawelhuisie se stort gebraait.  Een aand in Bloem was dit  frikkadelle as ‘n “hodurfie”. Toek kantel die braaier.  Ons twee moes met flitsies handeviervoet agter die gevalle soldate tussen die blomme aankruip .  Annette was nie geamuseer nie.

Van “hande” gepraat: Chris is ook ‘n handhawer.  Handhaaf gesonde waardes en hoë peil van ingeligtheid.  Hy weet wat in die wệreld aangaan en hy het oor alles sterk opinies.  Hy vang my dikwels uit dat ek nie so op die hoogte is as wat ‘n mens van ‘n oud-koerantman sou verwag nie. !

Die word “handhaaf” is ‘n eie neef van die Franse “maintenir” waar Engelse “maintain” geleen is. Chris het hom nie net betoon as instandhouer van bates, vas of roerend, nie,  maar ook vriendskappe. Hy het ‘n oop hand vir sy vriende. As jy sommer net wil korswel, diep gesels, verstandige raad wil vra of prikkelende menings soek … Chris is jou man. Ek het twee glasies vonkelwyn (een van sy gunstelingdrankies) geklink. op my groot vriend, nou van Kleinmond. Een Vrydag toe hy verjaar het en ‘n tweede Saterdag toe dit by Stellenbosch gevier is saam met die huwelik van sy dogter Elindi met Fernando van  Meksiko. Die huwelik is voorheen in Meksiko voltrek.

Op die foto’s is Chris, wyle Annette en Tokkie op Melkbos, ek en Chris in Sabiepark en Chris met sy kleindogter klein Annette .

DRIEKUNS IN DIE BOS

‘n Driekuns op die krieketveld  veroorsaak groot opgewondenheid.  Die bouler is uit sy vel . Sy spanmaats storm op hom af om geluk te wens. Laat ek julle vertel van ‘n sonderling driekuns in die bos.

Die “bouler” se naam is Caroline Pols-Dijkstra, ‘n mede-Sabieparker, met haar wortels in Heerhugowaard in Nederland.  Die “veld” se naam is Tarlehoet, die Van Deventers se bosplek aan die Sabierivier by die Krugerwildtuin.

‘n Keer kry ons van daar ‘n ontstellende onheilsboodskap: “Die hemel weet wat julle huis getref het.”  Dit blyk dat rame van mure geruk is, breekgoed is stukkend, glas lê gestrooi op die vloer, gordyne is aan flarde.

Caroline kuier in die Polswoning, Gecko, in Gwarrieboslaan. “Asseblief gaan kyk tog,” pleit ons by haar.  Ná ‘n eerste besoek is die raaisel onopgelos. Met ‘n tweede betrap sy die sondaar op heterdaad.  Toe sy die voordeur oopskuif, kom hy met die trappe afgewaggel: ‘n uitgevrete veldlikkewaan.

Die kantoor het hom met knypers kom haal en by die piekniekplek gaan los.  Ons hoop hy is in die Sabierivier vort Mosambiek toe.

‘n Ander gedenkwaardige keer het sy en Gert, haar ontslape eggenoot, die omgewing gaan verken nadat ‘n luiperd ‘n bokkie op ‘n aangrensende erf platgetrek het. Hulle gaan loer sommer, soos ons wederkerige gebruik is, of alles pluis is by Tarlehoet … en dis toe dat Caroline, soos sy dit pikant stel, amper ‘n  luiperd se peuselhappie word.

Gelukkig het Gert uit die motor by die stoep se ingang die puntjie van die stert gewaar. Volgens die bloed op die stoepteëls het ta waarskynlik die bokkie daar verorber.

Die volgende oomblik kom sy orent. Daar staan sy voor hulle in haar volle glorie. ‘n Ruk lank kon luiperd en mensekinders slegs vir mekaar staar. Toe stap die pragdier skuur-skuur teen die paaltjieheining van die Van Deventers se lapa weg en in die motorpad af vort.

Dit was Donderdag 19 Maart 2015. Wat ‘n spesiale dag, wat ‘n halleluja-oomblik, om ‘n vriend, Manie Malan, ook al saliger, aan te haal. “Ek is bewend van opgewondenheid, stomgeslaan, oorstelp – en dêm dankbaar dat jy op die regte oomblik op die regte plek was met ‘n stewige vinger op die sluiter.” So het ek vir Caroline  laat weet.

Pasede Woensdag is Caroline weer op Tarlehoet  met ‘n lysie van dingetjies om te kontroleer.  “Kyk asseblief of dit reg is, en dit en dit”  ….  Een is ons sonpanele. Dié moes stutte kry omdat ons in Augustus ontdek het hoe gevaarlik hulle kantel as hulle in die wind wieg.

Maar o wee. Die stutte het nooit gekom nie en die paal het geknak.  Die panele lê plat. Onderstebo. Gesig na onder. Moes net die vorige aand gebeur het, want die yskas is nog koud.  Die batterye het nog krag.

Noodstappe kon dadelik getref en die skade dus beperk word.

Eers die likkewaan, toe die luiperd, toe die sonpanele. Elke keer was die parate Caroline op die toneel.  Elke keer is foto’s Melkbos toe geblits.  Hoe sê ‘n mens dankie, Caroline?

 

BROEDERLIKE BEROERING

Net ‘n week ná FW de Klerk se groot oomblik op 2 Februarie 1990 maak die dinamiese nuwe leier toe weer groot nuus – hierdie keer met ‘n aankondiging oor die vrylating van Nelson Mandela. Weer kom Die Volksblad met ‘n scoop –  maar ene wat roeringe veroorsaak en die redakteur laat bontstaan.

Saterdag 10 Februarie is koorsagtig agter die skerms gewerk om al die los drade vir die aankondiging vas te knoop. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch, ietwat afgehaal omdat De Klerk wat die hoofdis op die program sou wees, deur “ander, belangrike” sake weggehou word.

Maar terwyl die Broers die aand sesuur die aankondiging oor Mandela op die TV-skerm volg, wie stap skielik daar in? Die Man van die Oomblik, Broer FW on lewende lywe! Die atmosfeer was tintelend. KWV se Roodeberg en Chenin Blanc is uitgehaal om feesvierende glasies te klink.

Later bel pres. George Bush die De Klerk-woning en laat ‘n boodskap. De Klerk bel terug uit die sitkamer van die manjifieke plaasopstal met sy swaar geelhoutbalke. Hy word o.m. deur ‘n dankbare Bush na die Wit Huis genooi.

Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die huisbaas, Piet Carinus, later met ‘n bree glimlag mee, maar die moenie bekommerd wees nie; sy kantoor sal kom regmaak. Nee, kap die terug, die geld soek hy nie; net die tjek – as ‘n aandenking van ‘n gedenkwaardige aand.

Die Sondag terug in Bloemfontein, nadat ek lank gewik en geweeg het, besluit ek dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek gaan wel uit my pad om vertroulikheid te eerbiedig; noem glad nie die AB of die plaas of die eienaar se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was.

Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Die Maandag vroeg is die vet in die vuur. Die AB is ontsteld. Die President is in die verleentheid gestel. Prof. Pieter de Lange, voorsitter, raai aan dat ek liewer self Tuynhuys toe bel.

Wat ek toe dadelik doen, taamlik bedug oor die gesprek wat voorlệ.

Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n bietjie stout, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie; ek hoef ook nie te hệ nie.

Dankie, antwoord ek, ek wou ‘n mooi rubriek oor hom skryf, nou sal ek dit nog mooier maak. Moenie, skerts hy terug, as hy dit lees, sal hy weet ek bedoel dit nie opreg nie; daar is ‘n bymotief. Einde van daardie episode.  Wel tog ‘n lekker voorbladstorie gewees, ook in Die Burger en Beeld.

Foto: Aandpak-geleentheid in Bloemfontein in die 90’s.  Lyk na ‘n ernstige gesprek.