Oud-kollega Danie Krynauw, nou 93, was hoof van Naspers se tydskrifte toe ek in 1992 by die Naspersentrum ingestap het as hoof van koerante. Ons was bure in ‘n kantoor-suite. Ons het een buitedeur na die gang gedeel en het ons onderskeie domeine betree deur die gemeenskaplike kwartiere van ons twee PA’s, Willa Joubert (Danie) en Lizette Hanekom (HvD).

Ek beskryf die ruimtelike opset in detail omdat dit geen geringe rol gespeel het in die gawe verhouding wat tussen die twee bure ontwikkel het nie. Die ligging van my kantoor het aan my terselfdertyd ‘n verkwiklike uitsig gebied op die verkeer na Danie se kantoor, wat ingrypend verskil het van die verkeer na myne. Die meeste van Danie se besoekers was elegante dames uit die tydskrifte-omgewing. Koerantredakteurs en –bestuurders was minder sag op die oog. Maar dit daargelaat. .

Feit is dat die fyn jintelman Danie en ek heelwat van mekaar gesien het. Ons samesyn was vir my ‘n ekstra plesiertjie van my nuwe pos waarin ek aanvanklik bra ontuis was. Trouens, ek was geruime tyd ontuis in die grote Kaap met sy vreemde gesigte.

Op die eerste dag, 1 April 1992 (Gekkedag!), was hy my gasheer op my eerste besoek aan die kafeteria Van Alle Kante met die prentjiemooi uitsig na alle kante. Danie het vir my ‘n ete gekoop en vir die groentjie ‘n broodnodige blitskursus in hoofkantoor-kultuur gegee. Hy het my nogal verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede.

Ja, hy kon nogal brutaal eerlik wees, dié Danie, maar hy het ook die geheim geken om elke mens spesiaal te laat voel. In ‘n sekere sin was hy meer ‘n ou vleier as ‘n bakleier. Mettertyd het ek agtergekom Danie was selde verkeerd in sy oordeel oor mense. Hy kon hulle haarfyn raak takseer – seker een van die redes waarom hy die uitsonderlike Kathleen in Oktober 1989 as bruid gekies het. Sy bederf hom tot vandag toe tot in die aarde, en hy aanbid na meer as 30 jaar jaar nog die grond waarop sy loop.

Meer as een keer het ek in sy kantoor ingewals om oor, noem dit maar, die eienaardige optrede van dié of daardie koerantekollega te skinder. Hy het altyd gereageer met ‘n kenmerkende Krynauw-kwinkslag. Dan lag ons saam in ons moue. Nóg Danie nóg ek had ‘n aptyt vir ‘n opgeblase ego of oordrewe selfbeeld.

Danie was in verskeie opsigte bewonderenswaardig. Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen MBA was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.

Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur se gesig. Hy was ‘n skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien. Hy was seker maar die jongeling Absalom genadig!

Ná Danie se aftrede het hy soms op die 18de verdieping kom inloer vir ‘n vinnige: “Haai, hoe gaan dit?” In 1997, aan die vooraand van my eie aftrede, was Danie weer op besoek. Ons is na die kafeteria vir koffie en hy het vertel van sy en Kathleen se salige leefwyse: somer op Hermanus, winter in die Laeveld.

‘n Vrugbare saadjie is daardie dag geplant. Kort daarna was die Van Deventers die trotse eienaars van ‘n eiendom in Sabiepark by die Krugerhek, ‘n plekkie wat diep in ons harte gekruip het. Dankie, Danie, jy was vader van die gedagte. Ek onthou altyd in dankbaarheid jou rol as ek by Tarlehoet ‘n vuurtjie aansteek.

Hazyview en Sabiepark is net 40 kilometer uit mekaar. Nog ‘n gesellige Krynauw/Van Deventer-reëling het sedert 1998 ontwikkel. Op besoek aan Sabiepark is die Van Deventers meermale genooi na die Krynauws se spogplek aan die Sabierivier in die manjifieke Kruger Park Lodge, elke deftige vertrek spierwit van A tot Z. Middagetes was op die houtdek onder ‘n grasdak met onweerstaanbare kos en wyn, die gulste gasvryheid en wonderlike natuurskoon.

Wanneer ons die Krynauws na Sabiepark genooi het, moes hulle maar inval by die Van Deventer-patroon van tjops en wors met pap en sheba. Tot hul krediet was hulle altyd galant en vol lof, al was die vleis dalk ‘n raps te gaar.

Die laaste jare is ons besoeke beperk tot Helderberg Village by Somerset-Wes waar hulle al ‘n dosyn jare of wat permanent woon.  Sondag het ons die twee weer daar gaan opsoek – nog net so onberispelik stylvol soos altyd. Alles was eksie-perfeksie, ook Kathleen se kos. Dis maar net die jare wat meedoënloos voortmarsjeer, links, regs, links, regs. Danie se verstand is verstommend helder. Op 93 is hy steeds ‘n sjarmante heer. Maar ‘n mens raak broser. Ook my  immergroen oud-kollega ontsnap nie.aan die werklikheid nie.

Foto’s: Ek en Danie, Tokkie en Kathleen.

Deel dit: