‘N KOPPIE VIR KUIER

Knus teen die koue.

Op die granokoppie Mathekenyani, 10 kilometer suid van Skukuza op die H1-1, gebeure vele dinge. Leeus en luiperds loop hier. Soms ‘n energieke olifant. Mense raak in stringe hier verloof, hulle trou selfs. Ander kom strooi die assies van ‘n geliefde.  Intieme kerk- en ander byeenkomste vind plaas. Dis ook ‘n voortreflike plek vir ‘n skemer-geselligheid.

So omring deur die wydse Krugerwildtuin ver benede is die sonsondergang ‘n strelende prentjie. Met die komplimente van die gasvrye Jimmy en Lida Pressly van Skukuza kon die Van Deventers, asook Corrrie en Corrie du Plessis van Potchefstroom – die een is Corrie-Adam en die ander Corrie-Eva –  ‘n geluksalige uurtjie of twee op die yslike rotsplaat deurbring met ‘n eet- en ‘n drinkdingetjie in die hand.

Later het die kundige Jimmy vir ons die sterre identifiseer: van die prominente Aandster tot Scorpio. Op pad huis toe in die donkerte kon ek en Tokkie van harte met mekaar saamstem: ‘n Goeie tyd saam  met goeie vriende op ‘n goeie plek is goud werd.

Met renosters wat weens stropery en hervestiging in ‘n groot gebied van die Krugerwildtuin bitter skaars geraak het, word die Vyf Grotes deesdae nie sommer in ‘n japtrap afgetik nie.  Ek en Tokkie is al vyf weke in Sabiepark en het die vakansie al iets soos tien Wildtuinbesoeke agter die rug. Leeus baie gesien, ook olifante en buffels.  Luiperds nie soveel nie maar tog wel.  Renosters?  Niks. Toe skielik, op pad huis toe ná die kuiertjie op die koppie (‘n seldsame nagrit vir ons): Stadig stap in die donker pad, hier kom ‘n renosterma en haar kalf van voor in die teerpad aangedrentel; ongestoord of elke geknor van ‘n voertuig-enjin nie vir hulle potensiële onheil inhou nie.

Hulle poseer as ‘t ware vir foto’s. Dankie, julle. Sou maar sleg gewees het om in die Kaap aan die kleinkinders te gaan rapporteer dat ons in die Vyf Grotes-mekka was sonder om die Vyf Grotes almal te sien.

Tot die galery van sneeufoto’s van oraloor op allerlei webblaaie kan ek uit Sabiepark natuurlik geen bydrae lewer nie. Dit het hier nie gesneeu nie en slegs ‘n paar druppels het geval. Maar dit was deksels koel, hoor. Hier is my weerfoto: twee sebras wat Sondag skuiling soek teen die snerpende winterwindjie in ‘n knus hoekie by Tarlehoet. Toe ons omstreeks een-uur by die huis kom (wasdag gewees), het die twee hulle stewig ingeplant op die Honda se staanplek,  en was hulle erg ongretig om die “verowerde gebied” prys te gee. Taamlike oortuiging geverg.  Sulke merries!

Die stoelkussings op die vloer is nie vir hul gerief nie. Dis deur die wind daar gedeponeer

Ek raai die koue is nou verby. Lente is in die lug. Oral slaan groen blaartjies uit.  Die sambokpeule staan geel in die blom of spog reeds met ‘n groen blaredos.  ‘n Vreugde by Tarlehoet is die pienk impalaletjies.

Wild bly skaars maar voëls is aktief.  Een oggend was daar tegelyk ‘n spookvoël, swarthelms, withelms, ‘n speg en kakelaars. Hope sysies kom drink.

‘n Kommer is of die teenwoordigheid van ‘n likkewaan op die stoep en ‘n gegor-gor in/op die dak verwant is.

Die “hoofstraat” van die Wildtuin, die Skukuza-Onder-Sabie-pad, bly maar die vrugbaarste.  Ons het drie ritte daarop onderneem – twee keer na Nkuhlu insake buffelspasteie – en al drie keer leeus gekry, ook hope olifante, buffels, kameelperde, koedoes, ens. Luilekker is leeulekker. ‘n Maanhaar en ses wyfies het hulle o.m. langs die uitgestrek vir ‘n la-a-a-a-ng middagslapie.  (OOr die buffelspasteie. Hulle is baie lekker en kos R45 elk. ‘n Mens kan hulle ook gevries koop. Reël met Natie.)

Naskrif:  Presies 20 jaar gelede het 12 Probuslede en hul gades van Melkbos, 2 000 km ver, oorgekom vir ‘n braai. ‘n Hele konvooi het opgeruk. By die Gariepdam en Badplaas is langs die pad oorgeslaap. Daardie aand is op tipiese Bosveld-manier behoorlik vleis gebraai. Agter die huis was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ’n nog ysliker een vir kuier. ’n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure. Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald.

“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra. Die volgende oggend is hulle vort Wildtuin toe. Weens stertftes en verhuisings is van daardie 12 net twee nog lede van die klub: Henri van Biljon en Frans Ellis

VOLMAAN LAAT WOLKE SWIG

Kyk hoe hang die helikoptertjies.

Die hele wêreld word stil, sing Laurika Rauch. Sondagaand was dit so in Sabiepark. Die strelende rondomklank van die naguiltjie se lied het stil geword. Die hiëna het opgehou roep. Van die Sabierivier se kant het die olifante tot rus gekom en die seekoeie hul nurkery gestaak.

Dit was doodstil … asof die bos asem ophou vir die skouspel in die lug van die volmaan wat volhardend stry om ‘n pad oop te beur deur die digte wolke wat die hele dag lank ‘n digte loodgrys kombers oor die gebied getrek het.

Eers het enkele spatsels lig deurgebreek. Toe word die ligkolomme stadigaan groter. Die donker verloor sy greep. Dit swig. Uiteindelik sit hy daar: die helder,  volronde volmaan van 22 Augustus 2021, die tweede en laaste van ons wintervakansie. Wat ‘n natuurskouspel was dit nie om met ‘n glasie goeie merlot in die hand (dankie, Lorinda Steenkamp) van die stoep die stryd tussen lig en donker meegevoer te beleef nie.

Die donker verloor sy greep.

Die amperse volmane Saterdagaand en Maandagaand was wonderskoon en verrruklik. Eersgenoemde het ons te danke aan luidrugtige rugbykykers en algemene ordeloosheid by die TV-kamer. Ons is rustyd weg om te kom vuur maak.

‘n Vasvat-voorneme het ek nou uit die monde van drie komiteelede gehoor. Dit is bemoedigend. Maar hoe steil die uitdaging is, het ‘n mens by die rugby  opnuut besef. Geen Covid-protokolle het gegeld nie:  temperatuur is nie gemeet (soos by die piekniekplek) nie, die reël insake kaspasiteit van die vertrek het hoegenaamd nie gegeld nie, sosiale distansie is nie gehandhaaf nie, maskers was skaars.

Hoe anders kan jy beheer uitoefen as deur strenge kontrole oor getalle, gedrag, ens.?  Dit beteken vir eers toegangsbeheer – iemand by die hek met ‘n stel reëls in die hand.  Maar dit vereis ook gedragsbeheer. Ek sal nie Alfred wil wees as hy dit tussen daardie klomp witmense moet waag en orde te probeer afdwing nie. Het juis nou die dag gesien hoe hardekwas jong manne met bottels bier in die hand in die swembad sy gesag uitdaag.

Om rustyd te loop, was my en Tokkie se eie keuse.   Die ironie behoort egter niemand te ontsnap nie: eienaars vir langer as 20 jaar neem die wyk en jong gaste kuier lustig voort met hul brandewyn wat nie brieke het nie.

By Tarlehoet het impalas al ‘n paar keer die watergat opgesoek. Dit het gedagtes losgewoel aan die Impala-residensie in Visagiestraat, Pretoria, die private hotel wat in die 80’s Pa en Ma Malan se laaste ekonomiese aktiwiteit was. Wonder hoe lyk dit nou daar en of die Impala-residensie nog bestaan.

By die rivier was laat Sondagmiddag gelyktydig drie groepe olifante – saam seker dertig, veertig, selfs meer: ‘n lekker 76ste verjaardagpresent vir Corrie du Plessis van Potchefstroom, ‘n gas van Jimmy en Lida Pressly wat kom koffie drink het.

‘n (Seldsame) wildruinrit het ons laat wonder of die S van die S65 nou vir Sinkplaat staan.  Ons (en die arme Honda) het behoorlik geskud. Skukuza se kampeerplek was tot oorlopens toe vol. So het ons dit nog nie gesien nie.  En dit in die Covid-tyd. Die nuwe hotel, en veral die ongtwikkeling by die “Krugerstasie” (die ou Selatirestaurat), lyk puik, moet ek sê.

‘n Helikopterboom vol helikoptertjies in Skukuza se personeeldorp was ‘n bonus. . Die helikopterboom met sy trosse hangende blomme, in Engels die propellor tree, wetenskaplike naam gyrocarpus americanus, is ‘n middelgroot tot groot, bladwisselende boom wat veral voorkom op dolomiet in die noorde van Namibië. In die Zambezivallei en Limpopovallei groei die boom in warm, droë, laagliggende bosveld. By Skukuza is minstens twee waarvan ek weet – een by die kerk se ingang. Die het ek in al die jare nog nie so vol vrugte gesien nie.

Die volksnaam is afgelei van twee lang, papierdun vlerke van ongeveer 7cm lank wat soos die skroef van ‘n helikopter in die rondte draai wanneer die vrug val. Gyrocarpus inderdaad!

‘N HAND VOL MOOI VERE

Terug na die vangs.

‘n Hand vol vere. Nie sommer enige vere nie, maar die glansende blou en rooi kleed van ‘n  vorstelike bloukuifloerie. Tokkie tel ‘n kleurryke hopie daarvan Woensdagoggend op onder ‘n rooiboswilg by ons watergat by 154 in Sabiepark.

Raaisel:  wat was die stomme voël se lot? Was die aanvaller ‘n  roofvoël, was dit ‘n mukeljaatkat?  Die verlies tref skynbaar diep in die loeriegemeenskap. Teen 09:00 soggens is ”ons”  bloukuifloeries gewoonlik hier; hang hulle soos trosse skarflakenrooi blomme aan die bome en wip-wip hulle koggelend van tak tot tak. Enkele dae gelede was hier ses. Vyf het gedrink. Nommer ses was brandwag.

Eers Donderdag om 12:00 was twee terug. Mooi vir my geposeer by die voëlbad. Ook met die nagapies – wat deesdae gereeld weer presies op 18:10 hul opwagting maak – gaan dit so.  As ‘n reuse-ooruil een gegryp het, bly die ander geruime tyd ver weg

Hand vol vere.

Aan die dierefront is dit stillerig. Maar soos Witnek die duikertjie – met ‘n nek wat al hoe witter geword het – en sy latere gesinnetjie ons aan die begin hier by eindeloos plesier verskaf het, doen  ‘n bosbokgesinnetjie dit nou.  Sal nie so ver gaan om te beweer dat hulle span Witnek se plek inneem nie, maar die aangenaamheid van hul teenwoordigheid wil ek graag hier boekstaaf.

Die laaste paar dae is ‘n duikertjie al hoe gereelder op die werf opgemerk. Ons romantiseer en glo dit kan ‘n afstammeling van Witnek wees, hoewel geen gryserigheid aan die kordate lyfie waargeneem word nie.

‘n Ander vermeldenswaardige bokbesoek was van vier najala-ooitjies en ‘n kordate jong bulletjie. Ek en Tokkie glo hulle het in die watergat kom drink. Ons was so ingestel op ons eerste glasies wyn dat ons hulle eers agtergekom het nadat die drinkery verby was.

Op  die langerige afwesigheidregister moet ook   vlakvarke gevoeg word.  Die luiperds het hulle uitgeroei.  Ons mis die rondlopers wat enige tyd by jou huis kon opdaag.

Sabiepark se sierade, die vier swartwitpense, het gistermiddag rustig by die tennisbaan gewei. ‘n Verruklike toneel. Ek en Tokkie het ‘n kwartier sit en kyk.  Ek het hope foto’s geneem, o.m, van die bul se ongeduld met ‘n lastige duikertjie. By die piekniekplek tot dusver een leeu gesien.  In Rooiboslaan ses kameelperde in een groep raakgeloop. Hier is dus nege of 10.

Sabiepark-sierade

“Ons noem die knoppiesdoring ons nasionale boom op erf 154 in Sabiepark. Waar jy kyk, staan ‘n rysige knoppiesdoring soos ‘n toringgebou.” So skryf ek in “Bure van nature”.  Op die oomblik kleur hul bloeiseldrag ons nasionale bome ‘n dowwe geel.  So ver soos die oog strek , staan die geel “toringgeboue”.  Uit ons slaapkamervenster sien jy hierdie geel muur.

‘n Verontrustende verwikkeling is dat sekere elemente Sabiepark al hoe meer wil druk om ‘n soort “Badplaas in die bos” te word. Dis net kappityt die heeltyd. Om rustig die natuur te geniet, tel by die sarsie min.   Die langnaweek met Vrouedag het die park uit sy nate gebars.  Die piekniekplek, swemarea en TV-kamer is oorstroom. Drank het gevloei.

‘n Relletjie het uitgebars oor mense wat langdurige en luide Zoomvergaderings in die TV-kamer hou.  Dit is gelukkig stopgesit.

Ons twee oues kon rustig die laaste toets teen die Leeus en die eerste teen die Poemas by Frik en Martie Nel sit en kyk. Maar hul huis is in die mark. Die ou vriende raak erg uitgedun.

+ Op 9 September 2001 het Pieter en Alida Fourie van Durbanville vir ons die vlakvark-sleutelhouer by die voordeur present gegee.  Niemand kon toe raai dat dit 20 jaar later nie net vir sleutels sou wees nie, maar ook vir maskers –  veral vir maskers.

 

 

HIER IS ONS APIES, ONS APIES …..

Week drie van die wintervakansie breek aan met die blye nuus van die nagapies se lank afgewagte herverskyning op Tarlehoet se stoep.

Presies om 18:10 Maandagaand land die eerste  Drie minute later land nommer twee. Eerste keer dat ons 14 dae moes wag. Die opgewondenheid was groot.  Helaas te laat gewees vir ‘n foto.

Albei besoekertjies het taamlik verskrik voorgekom. Eerste ou het vinnig ‘n skyfie opgeraap en laat vat. Die tweede het darem twee keer teruggekom. Wonder wat hulle so laat skrik het dat hulle so sku en op hul senuwees is. Ons hou  maar duim vas dat hulle weer ‘n instelling gaan word.

Drie bloukuifloeries het blykbaar in die katjiepiering by die voorstoep ingetrek. Hulle is heeldag hier rond.  Sebras en bosbokkies het vir mooi foto’s by die watergat gesorg.  ‘n  Hiëna laat gereeld Tokkie se gorillaligte aangaan.  Paradysvlieëvangers maak ook meermale hul opwagting.

By Philip en Nance van Rensburg se huis (“Ons Plasie”, 62) het ons ‘n nuwe stukkie sebrakennis opgedoen: hoe lief die nasie  vir die soetdoring se heldergeel poeierkwasblommetjie is. Hulle eet verbete.

Lente breek vroeg aan. Die drolpere staan in sierwit “bruidsgewaad”, die knoppiesdoring is ‘n see van geel en onder die worsbome lê die rooi trompette dig. Wonder darem hoekom so ‘n sierlike boom so ‘n onwelriekende naam gekry het.

Van die lekkerste aktiwiteite bly maar elke aand se vuurtjie maak vir die braai.  Die ou man se houtgebruik is minder konserwatief as tevore.  Nou die aand die gloeiende kole benut deur agterna soos kinders malvalekkers op stokkies te braai.

Ons mis steeds ons koerant – ook by die vensterwassery.  Ons mis ook die kerk – maar bly lugtig vir “byeenkomste”.  Die mense van Mpumalanga blink juis nie uit in die dra van maskers nie – selfs in Sabiepark.  Wat ons nie mis nie, is die bobbejane. Hulle hou hulle  skaars, skaarser as ooit, en ons is in die wolke daaroor.

‘n Aanwins op ons boekrak is Ron Dulek van Alabama se “Sitting with elephants” (kyk die hoofstuk “Skurwe slaapmaats “ in “Bure van nature”).  ‘n Boeiende en insiggewende boek oor sy toenadering tot en uiteindelike vriendskap met ‘n tamaaie matriarg .   Sy vrygewigheid met fooitjies laat net die oë rek – tot R500 vir die drie hekwagte elk wanneer hy padgee.  Dink ek moet ook my keps by 286 gaan hou.

GOUE HALFUUR

In ‘n goue halfuur het ons die volgende beleef:

  • Vyf sebras het soos skimme uit die bos gekom om te kom drink. Onenigheid het tussen twee ontstaan. Wilde skoppe is uitgevoer.
  • ‘n Bosnagaap het grasieus teen die maroela afgeseil en oral piesang gesoek – ook, tot Tokkie se ergernis, op haar vars verniste tafeltjie. Later het hy in die boom gaan sit en skel.
  • Die resident-muskeljaatkatjie het ritselend rondgesluip.
  • Seekoeie het lustig in die Sabie genurk.
  • Hiënas het in die verte aanhoudend geweeklaag.
  • Op die kole van die ou rooiboswilg by die kombuisvenster wat afgekap is, het twee varktjoppies perfek gaar geraak (skaap is skaars).
  • ‘n Glasie of drie koue chenin blanc van Laborie is geniet.

‘n Salige vertraagde viering van my 80ste wat  op 3 Januarie stil verbygegaan het.

Op ‘n wildtuinrit Onder-Sabie toe is amper ‘n kilometer agter vyf leeuinne aangekruie. Van hul poging om te jag, het niks gekom nie.  Bokkies het te vinnig laat spaander. Ek glo die vloot karre het die leeus gekortwiek.

Twee takbevelvoerders van die afdeling Arende het die visverkeer in die Sabie bespied – ‘n besonderse fotogeleentheid.  Vier sebras met hul nekke oor mekaar was dit ook.  Fotograaf was egter aan die slaap.

‘n Briefskrywer beweer in Beeld  daar is nou meer olifante as rooibokkies in die wildtuin.  Wel, op die rit het dit werklik so gelyk.  Buiten honderde olifante ook baie kameelperde gesien, buitengewoon baie koedoebulle en vier mooi njalabulle.  Die karkas van ‘n sivet in ‘n boom het motors laat opdam.  Vreet luiperds ander roofdiere?

Buffelspastei by die netjiese nuwe Nkuhu-halfwegstasie geniet.  Goeie waarde vir R45.  Ongelukkig doen die toestand van die toilette afbreuk aan die plek.  Die indruk van algemene versletenheid is verder versterk.

‘n Slegte verwikkeling is dat geen koerante of tydskrifte meer in die wildtuin beskikbaar is nie.  Wat ‘n gemis! Digitaal is inderdaad nou oweral.  Ook sleg is toegang tot die Proteahotel (seker darem net vir die duur van die pandemie) net tot hotelgaste beperk word.

Tuis, verskaf twee bosbokkies – ‘n rammetjie en ‘n ooitjie – vreugde.  Het vanoggend weer saam kom water drink.  Die knoppiesdorings stoot lentebloeisels. Weet nie of die watergat lek en of hier snags ‘n groot dieregefuif is nie?  Vlak sak vinnig. Bedags is die dierevolume nie juis om van te praat nie.

By die piekniekplek is gereeld leeu- en luiperd-aktiwiteit. Ons mis dit telkens. Sien net baie olifante en minder gevaarlikes.

Ons geniet ons yskas terdeë.  Vir ons konserwatiewe behoeftes is hier oortollige krag. Die sonkrag-lapaliggies   het gesneuwel.  Niks hou vir altyd nie en party goed net vir ‘n kort rukkie.

By TV-kamer is toepassing van Covid-protokolle nie so dat jy dit sal agterkom nie.  Sal liefs nie in die lang naweek daar na die derde toets teen die Leeus gaan kyk nie.  BY die pieknieplek – in die oopte – word temperature egter opgeskryf.  “It’s a strange, strange world, Master Jack.”

Tokkie is oustryk aan die werskaf.  Die “engel met die verfkwas” is bedrywig met die verf en vernis. Net om haar dop te hou, is uitputtend. Sy is vol blou kolle van al die stote en stampe. Telkens raak sy so verdiep in haar werk dat haar koffie staan en koud word. My eie hand herstel mooi ná ‘n bloederige onderonsie met ‘n aalwyn.