Jul 29, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Let op die lang droogtetyd tussen die vorige inskrywing uit die bos en hierdie een. Tussen 2 Februarie 2020 en 29 Julie 2021 lệ 18 maande van inperkings weens Covid 19, verlange na Sabiepark, frustrasie en selfs twyfel of ek en Tokkie – nou 80 en 75 onderskeidelik – ooit weer ‘n voet op die geliefde grond sou sit.
Wel, hier is ons – danksy Pzifers, Airlink se direkte vlug na Kruger-Mpumalanga en ‘n paar ander dingetjies wat uiteindelik vir ons reg geval het.
Aanvanklik was dit bra vreemd om weer hier te kom. Selfs die Honda se knoppies het my laat rondtas. Tarlehoet self was half begrawe onder blare, spinnerakke en dooie goggas. Miere het ‘n bylsteel feitlik opgevreet en ‘n besemstok gehalveer. Maar vandag, dag drie, het normaliteit al grootliks teruggekeer.
Ons plek ken ons nog. Charelle het vir Tokkie by die Krugerhek herken, Chris Badenhorst vir my by sy werkwinkel – nog net so ‘n plaat motors soos altyd – en ons vrugteverkoper-vriend by die ou Checkers die Honda. By die kantoor wil almal weet: “Hoe gaan dit met Christopher?” Die weersiens met Patson en die flukse Lucy was hartlik. Ongelukkig is Patson se dienste nie meer nbeskikbaar nie. Hy werk nou net vir Sabiepark.
Ou “kuiergaste”uit die diereryk soos die bosnagaap, die hiëna, die uil, die bloukuifloerie,die tarentale, die sebras, die blouwildebeeste, die rooibokkies en die bobbejane het reeds kom oë wys. Die hiëna was skemer by die swembad-trappies. Later het die bokker aan die noodwiel se seil kom kou. Die bobbejane het buitengewoon rustig verby gemarsjeer.
Drie kameelperde het ons spesiaal kom “verwelkom”. Een het dadelik aangesuiker watergat toe, sy voorbene geknak en die lang nek laat sak om van die skoon, vars water te geniet . Dit was die eerste keer in 23 jaar dat ‘n kameelperd voor ons o uit ons watergat teenaan die huis drink – heuglik! Die ander twee het lank hier rondgestaan en blare gepeusel. Op die foto’s kan ‘n mens sien hoe naby aan die stoep en lapa hulle was.
In Maroelalaan het ‘n swartwitpens vinnig tussen die bosse uitgespring. Goed gewees om so gou een van die Sabiepark-sierade te sien. (De Wet Mouton het ‘n klompie op die gras by die kantoorgebou afgeneem.)
Ons eerste vlugtige kuiertjie by die piekniekplek het ‘n verrassing gelewer: ‘n poublou bosloerie (narina trogon) met sy karmosyn bors in die takke van die reuse-trosvy. Natuurlik was daar ‘n ophef, soos altyd, al is die minder seldsame bloukuifloerie vir my mooier. Organ het met die Canontjie vir my ‘n klompie foto’s geneem. My nek is te styf vir sulke “lugfoto’s”.
Natuurlik was daar ‘n paar olifante (drie) en ‘n bosbokkie. Ook ‘n koedoe.
Wat vir ons sleg is, is die toenemende versletenheid van die wildtuin. By Boulders het ons lekker gekuier saam met Philip en Nancé van Rensburg asook Jaap en Marlene Duvenage, Jani en Daniël. Warm water was bitter skaars. Kaste, deurkosyne en stoele het beter dae geken. Ook Letaba, Tshokwane en die Phabenihek toon tekens van verval. Skukuza se “beddings” by die winkelkompleks is verwaarloos. Dit lyk met een woord bra oes.
Sabiepark daarenteen lyk goed versorg. Gedurig kom nuwighede by, soos die groot uitkykplek by die rivier en nuwe braaiplekke, ook by die TV-kamer. ‘n Persoonlike plesiertjie is dat “Bure van nature” by die kiosk ‘n topverkoper is. Organ Ongeni wat die buitebladfoto van “Bure” geneem het, kry vanmiddag sy komplimentệre eksemplaar van die boek. Tokkie sal die keer die fotograaf wees.
Jul 16, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos, skryf Dawid de Wet in sy vriendelike Litnet-resensie van “Bure van nature”.
Hy skryf: Ek was baie geseënd om as kind baie tyd in die Krugerwildtuin te kon deurbring. My oom was die hoof van spyseniering in “die wildtuin”. In ’n tyd van buffelvleispasteie met slaptjips vir middagete en wit lapservette. ’n Tyd voor kettingwinkels. My oom-hulle het in die personeeldorp in Skukuza gebly. Ben was ’n koedoe wat elke dag oor die lae heining gespring het om in die tuin aan allerlei groen blare te kom peusel. Die heining was eerder daar om nuuskierige hiënas saans uit die werf te hou. Soms kon my neef nie met sy fiets na die laerskool toe ry nie, want daar was manne met tanne op die dorp se gholfbaan of krieketveld. Dikwels was dit ’n seekoei of rooibok wat in die slag gebly het. Ouers is dan baie mooi gevra om die kinders maar self by die skool se hek te kom besorg. Ek het vele sorgelose dae in die bos tussen die huise spandeer. Dit was vir my nooit genoeg nie.
Almal wat al tyd in die Laeveld spandeer het, sal jou kan sê dit is sintuigwêreld. Die flikkerende vlamme van ’n Combretum– (kierieklapper-) vuurtjie, die vroegoggendgeluide, soos dié van ’n fisant wat lank voor sonsopkoms die nag se nuus uitblaker, die laatmiddagreuk van oewerbos, en die rillings langs jou ruggraat as jy skielik bewus raak van die hiëna agter jou kampstoel.
Hennie van Deventer se Bure van nature: Waar mens en natuur skouers skuur is ’n boek vol stories van ontmoetings met wilde diere in ’n wilde wêreld. Die verhale wat Van Deventer, lank verbonde aan Naspers, hier deel, is oor ’n tydperk van 20 jaar in Sabiepark, ’n privaat natuurreservaat teenaan die Sabierivier en aangrensend aan die Krugerwildtuin, versamel.
Ek het van die beskrywing van die gebande muishonde gehou. “Die bangjanne in hulle geledere sal sommer ’n agteroor-salto uitvoer as hulle ’n mens sien. Daardie stukkie gimnastiek word met skril uitroepe van skok en verontwaardiging begelei.”
…….
Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang.
……..
Dan is daar nog stories van likkewane in die dak, leeus op die wandelpad, luiperds op die stoep en hiënas wat alles vreet wat in sig is. Natuurlik ook slange: luislange, Mosambiekse spoegkobras en die gevreesde swart mamba. Vir iemand wat daar huis moet hou, is die streke van blouape en bobbejane dalk nog erger.
Diep binne-in ons is daar tog ’n heimwee, ’n tipe verlange na so ’n lewe in die bos. Watter ander woonbuurt kan dan spog met ’n inwonende luiperd? Nogal met ’n naam soos Vin Diesel. Dit is net jammer dat die buurt se vlakvark, Brood, ook onder Diesel moes deurloop. En wie kan die vloed van Februarie 2000 vergeet?
Die hoofstukke is kort en die vertellings humoristies, en die boek lees dus maklik. Dit is perfek vir diegene wat in die wintermaande saans knus in die bed lê en na die Laeveld verlang. Ek ruik en proe en sien “die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse teen die donker naghemel” wat oorslaan in ’n sagte reën. En dan verlang ek ook.
Sabiepark klink vir my soos die ideale woonplek (as jy die insekaanvalle en breekskade van viervoetiges ignoreer). Jou huis is in die wildtuin en die wildtuin in jou huis. Duikertjies en bloukuifloeries word bekendes en kameelperdgeboortes kan van die stoep waargeneem word.
Ken jy die Laeveld, sal jy Bure van nature baie geniet. Was jy nog nooit daar nie, sal jy stomgeslaan wees oor die leefstyl in die bos.
Jul 14, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Johan en Novo in die 80’s
Kritiek reën op die polisie oor die swak vertoning rondom die die massahisterie in KwaZulu-Natal en Gauteng. Ek wil graag ‘n positiewe polisiestorie uit die 80’s in herinnering roep. Dit gaan oor ons seun Johan wat op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer is – waarskynlik die jongste ter wêreld.
Terwyl hy in Bloemfontein gestudeer het, het hy vir sakgeld ná sy klasse by ‘n drankwinkel gewerk. Ná sy skof in die drankwinkel was dit ‘n vinnige aandete. Daarna het hy en sy staffie, Novo, gaan draf.
Een aand het hy nie op die gewone tyd teruggekeer nie. ‘n Kragonderbreking het die noordelike stadsgebiede in ‘n pikswarte duisternis gehul en my vrou, Tokkie het skielik ‘n nare voorgevoel gekry dat iets fout is. Sy bel toe die Bayswater-polisie en meld an dat haar kind weg is. “Hoe lank al, mevrou?” “n Halfuur.” “Hoe oud is hy?” “Negentien”. Die polisieman was stom verbaas.
Toe Tokkie verduidelik van diabetes en insulien en insulien-reaksies wat verlies aan bewussyn kan meebring, het die polisieman dadelik gesnap dat dit nie ‘n grappie is nie. Weet sy plus-minus waar hy gewoonlik gaan draf, wou hy weet. Sy kon die presiese roete verstrek.
Die polisieman het onverwyld tot aksie oorgegaan. “Bly jy by jou telefoon, mevrou. Ons ry dadelik.”
‘n Ruk later lui ons telefoon. Dis die polisie. Johan is opgespoor waar hy op ‘n sypaadjie omgekap het. ‘n Motor se ligte het geval op die staffie wat ontsteld by sy basie op en af spring. Toe sien die insittendes die bewustelose seun daar lệ.
Novo is aggressief en wil niemand naby Johan toelaat nie. Maar moenie bekommerd wees nie. Die ambulans is ontbied en is op pad.
Tokkie is met ‘n vaart na die toneel, het die hond gekalmeer en Johan – wie se gesig sopnat was soos die hond hom gelek het – se kake oopgebeur. Hy is vinnig met glukose volgepomp om sy bloedsuikervlak reg te kry. .Redelik gou was die drama iets van die verlede.
Novo was sy geskenk toe Johan ‘n rukkie tevore op sy nuwe nuwe Novo-insulien geplaas is. Daardie aand het Novo sy hond hom gered soos Novo die insulien elke dag. Maar natuurlik was die polisie se begrip, snelheid van reaksie en daadwerklike ingryping ewe onontbeerlik.
Dié dat iemand wat ‘n kind met die polisie wil bang maak, vinnig met Tokkie te doen kry. Leer kinders om op die polisie te vertrou en hulle as vriende te sien, glo sy vas tot vandag toe.
- Johan is in September 50 – ‘n volle 49 en ‘n half jaar daarvan op insulien.
Jul 8, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Oor Afrikaanse koerante se rol in die oorgangspolitiek van die jare 80 en 90 word vurige debatte steeds veral op sosiale media gevoer. Die onwilligheid van die Nasionale Pers om by die WVK (Waarheids-en-Versoeningskommissie) van Desmond Tutu kollektief te gaan boete doen oor die “sondes” van ons koerante in die ou bedeling bly by van die jonger garde ‘n teer punt.
Op die oomblik kry ‘n TV-program gestalte waarin die kwesssie weer sterk ter sprake kom. Gesprekke word onder andere gevoer met van leiersfigure van die 127 Jong Turke om teen die wense van Ton Vosloo, van myself, wat uitvoerende hoof: koerante was, en van die Naspers-direksie wel te gaan getuig.
Ek weet ek steek my nek uit en sal daaroor opnuut getrap kan word, maar die waarheid kan tog nie ontken word nie. Die 127 se optrede, was vir my, om dit sag te stel, ‘n teleurstelling. Destyds het ek dit beskou as idealisme wat op loop gesit het. Vandag het ek meer begrip daarvoor.
In ‘n persoonlike voorlegging aan die WVK slaan ek geheel ‘n ander koers in. Die Afrikaanse koerante se sware stryd om regverdigheid en ‘n demokratiese bestel aan regse Afrikaner-gemeenskappe te “verkoop”, was my perspektief.
My standpunte daaroor was aanvanklik net vir Ton se oë bedoel terwyl gesprekke gevoer is oor hoe Naspers die WVK-turksvy moet hanteer. Ton het die gedagte uitgespreek dat dit goedskiks as ‘n selfstandige voorlegging op sy eie bene kan staan. Ek het my nie twee keer laat nooi nie. Toe pos ek dit dadelik – voordat hy of die direksie dalk anders begin dink. My sienswyses was nogal omstrede maar ek hetself het baie sterk daaroor gevoel.
‘n Monitor-onderhoud hieroor met ‘n siedende Chris Louw van die SAUK staan my nog helder voor die gees. Volgens Louw het ek my oor die rol van Afrikaanse koerante uitermate aan “romantisering” besondig. Hy het my oor die eter so bevlieg dat in Rapport ‘n spotprentjie deur Lou Henning daaroor verskyn het. Dit hang tussen ander spotprente teen my studeerkamer. Dit is al voorheen hier gepubliseer. Maar hier is dit weer.
Hoekom ek daardie geskiedenis vandag weer oprakel? Nie omdat ek rusie soek nie. Op my oudag soek ek vrede. Sê dan maar om historiese redes. Daardie oorspronklike dokument wat ek op 25 Junie 1995 afgestuur het, was lank “iewers” , maar waar? Al waarop ek en andere kon steun, was die Sapaverslag wat op die internet beskikbaar is. Nou het kollega Tobie Wiese, een van die 127, my dokument in een van sy leggers raakgevat. Hoe dankbaar is ek nie!
Dit – en die Sapaverslag -verskyn op my webblad by die volgende skakel https://hennievandeventer.co.za/my-storie-by-wvk/ Gaan loer gerus as jy wil sien wat ‘n Afrikaanse redakteur van daardie era vir homself te sệ gehad het in 1995.