TE VINNIG MET DIE NUUS

Christine Keeler in 1963

Hoe varser des te beter.  Dit geld nie net vir vrugte, groente, melk, brood en eiers nie; gewis ook vir nuus.

‘n Koerant wat skitter met sprankelvars nuus – dit is die ideaal.

Pas egter op vir “te vars”. Die enigste goeie “te” is die “te” in “tevrede”, soos my ouma Elsie altyd vermaan het.

‘n Minsame kollega het ‘n slag ‘n stel afgetrap met nuus wat “te vars” was. Dit was die tyd van die mooi Britse foonsnol Christine Keeler (foto) en ‘n rondslaap-minister, lord John Profumo. Profumo en ‘n Russiese vlootattaché het albei by die skone Christine gekuier. Toe dit uitlek, het vrae ontstaan oor die gevaar wat die indiskrete oorvleueling vir Britse veiligheid inhou.

‘n Osteopaat, dr. Stephen Ward, wat me. Keeler  as’t ware ontdek, die verhewe sosiale lewe ingelei en later “bestuur” het, het midde-in die skandaal ‘n oordosis pille gedrink. Dit was kort nadat nadat hy in Londen in die hof verskyn het op aanklag dat hy uit die opbrengs van onsedelikheid leef.

Ook in Suid-Afrika was ‘n lewendige belangstelling in die stoutighede in hoë kringe. Toe die kollega die oggend van Saterdag 3 Augustus 1963 in Bloemfontein in die hoofsub se inmandjie ‘n flitsberig optel dat dr. Ward gesterf het, het verligting oor hom gespoel. Daar had hy sy vars plakkaatstorie vir die dag, iets wat Saterdae soms hoofbrekens gegee het.

Later, toe die eerste uitgawe al uit was, begin dit hom hinder dat, anders as gewoonlik, net die kort middernagtelike flitsberiggie opgedaag het, niks meer nie. HY gaan deel sy ongemak oor die vreemde toedrag van sake met die nuusredakteur.  Dié bel bekommerd die Londense verteenwoordiger. Nee, hy weet van niks. Kyk juis nou na die BBC se oggendbulletin.

Die ontredderende werklikheid daal skielik op almal wat die oggend in Voortrekkerstraat 79 werk: dr. Ward is nie dood nie.  Dit was daardie wrede oomblik wat elke koerant vrees: dat hy ‘n bogstorie prominent op sy voorblad – en op die plakkaat op elke tweede lamppaal – die wệreld ingestuur het. Berge bedek jou.

 

Maar waar kom die geheimsinnige flitsberig dan vandaan? Indringende navrae bring aan die lig dat die vorige nag by Die Burger ‘n “natsteen” gehou is; ‘n tradisionele feestelikheid van die nagpersoneel nadat die laaste uitgawe van die week gesak het.

‘n Platjie wou die ontspanne hoofsubredakteur ‘n poets bak.  Hy gaan tik toe die vals flitsberig op die teleksmasjien.

Wat hy nie besef het nie, is dat die beriggie ( “fopnuus” van die eerste water) ook by Die Volksblad ontvang sou word. Hoe sou daardie Burgerman in elk geval ooit kon raai dat ‘n onervare man die oggend by die Vrystaatse suster in die hoofsubstoel sou waarneem, en makliker as ‘n gesoute hand in so ‘n strik sou trap?

Gedane sake het geen keer. Al wat gedoen kon word, is om die voorblad vir die volgende uitgawe ingrypend te verander. Die uitgawe verskyn met die nuus dat dr. Ward steeds sterwende is. Uit iets anders word ‘n  plakkaat opgetower.

Die poetsbakker het natuurlik ‘n kwaai skrobbering gekry, en goed so, maar – soos dinge nou soms maar onverklaarbaar gebeur – had die storie ‘n byna verbluffende kinkel in die stert.

Want terwyl die vragmotors die koerant met die verraderlike poets op die voorblad nog oop en toe na die verre platteland toe dra, blaas dr. Ward ewe bedagsaam in sy Londense hospitaalbed sy laaste asem uit.

So al of die poetsbakker, en die waarnemende hoofsub van daardie oggend, ‘n voorbode gehad het – ‘n “premonisie” soos ouma Elsie dit genoem het.

Heimlik was die waarnemende hoofsub dalk agterna ietwat spyt dat hy die nuusredakteur oor die situasie gaan inlig het.

Anders was ‘n wệreldrekord vir die vinnigste publikasie van ‘n regte, egte scoop-berig dalk agter sy naam!

 

LIEFLINGSEUN KOM TOT ‘N VAL

Met Amerika nou weer so sterk in die nuus weens Donald Trump se manewales, dwing my gedagtes terug na 18 Julie 1969. ’n Insident op die eiland Chappaquiddick in Cape Cod, Massachussets, het die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag op ’n ander koers gestuur.
’n Lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, het in skande tot ’n val gekom.
Hy was die broer van onder andere die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) en die jonger Bobby wat skynbaar ook onstuitbaar op pad Withuis toe was voordat hy op 6 Junie 1968, soos sy oudste broer, deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is.
Die jong senator (37) het met ’n mooi verpleegster van New Jersey, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty op Chappaquiddick weggery en met sy spogmotor, ’n deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons.
Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink (net agt dae voor haar 29ste verjaardag). Die Kennedy-dinastie van Boston was in sy hart gewond.
Die Kennedy-storie was sensasioneel. Die hantering het aansienlike uitdagings aan koerante se goeie oordeel en kreatiwiteit gestel. Die politieke skandaal met sy sappige detail het naamlik saamgeval met die lansering van Apollo 11 op 16 Julie 1969 van Cape Kennedy af met kommandeur Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin “Buzz” Aldrin aan boord.
Die Apollo-driemanskap se taak was die voorheen ondenkbare: ’n bemande maanlanding; ’n epogmakende wêreldstorie. Maar so ’n super-“sepie” met ’n voorste senator in die skurkerol beland darem ook nie aldag in ’n joernalis se skoot nie!
Suid-Afrikaanse dagblaaie het, tot hul eer, deurgaans Apollo 11 prominenter hanteer. Selfs die respektabele Boston Sunday Globe van Kennedy se tuisstad in Massachusetts het egter – seker ná pynlike kopkrap – op 20 Julie Kennedy hoofberig gemaak en Apollo 11 onder die voulyn op die onderste helfte van die blad aangebied. Sy opskrif was: “Ted Kennedy escapes, woman dies as car plunges into Vineyard pond”.
Die populêre Amerikaanse ponieblad Sunday News het niks teruggehou nie. Kennedy was sy voorblad vol onder die groot opskrif: “Teddy escapes, blonde drowns”.
Die Maandag was die New York Times se aardskuddende banier, tereg, anders gefokus: “Men walk on moon”.
Kan nie vinnig dink aan twee ander gelyktydige nuusstories van soveel omvang en betekenis wat koerante, veral in Amerika, voor sulke uiters moeilike keuses gestel het nie.
 Foto: ‘n Studie in kontraste. Drie Amerikaanse voorblaaie uit 1969.

‘N BRUID SOOS ‘N BOKS

’n Bedeesde. konserwatiewe redaksielid van Die Volksblad het leseresse verbaas en geskok met haar advies vir ’n ontwerpwedstryd vir trourokke: “hou by die A-lyn; vermy regaf lyne – dit laat die arme bruid soos ’n boks lyk!”

Sy het nie die woord “boks” nie, maar die suiwerder Afrikaanse ekwivalent gebruik. Boonop het sy nagelaat om die aard van die voorwerp duidelik te maak, bv. deur die woord “karton” daaraan te koppel.

‘n Groentjie was al lewende wese in Beeld se nuuskantoor toe ‘n bom in die middaguur in Johannesburg ontplof.  Die nuusredakteur had geen keuse nie. Hy moes haar opkommandeer. Sy is in aller yl na die toneel. Ná ‘n rukkie bel sy uitasem: “Meneer, ek kan nie naby kom nie. Die polisie het ‘n kondoom om die hele blok gespan.”

‘n Nuusleser by ‘n Weskus-radiostasie het luisteraars laat regop sit oor ‘n berig waar ‘n “Rooi gety”  vandaan kom. Dit word veroorsaak deur ‘n “giftige orgasme” in die water, het sy doodernstig meegedeel, en rustig voortgegaan met die res van die bulletin.

Lyk dalk of ek my mes in het vir die meisies. Glad nie so nie. Die res van die mistykies is deur lede van die manlike geslag gepleeg, en word gekroon met een of twee op my eie rekening.

Ontmoet die kreatiewe jong man wat vir die lesers wou verduidelik hoe ‘n tapier lyk. Ná heelwat wik en weeg het hy by die volgende beskrywing uitgekom: “Die dierasie lyk baie soos ‘n donkie, net heelwat anders.”

‘n Ander nuweling het die volgende juweeltjie gepleeg:  “Met behulp van die dokter het die drenkeling vinnig sy bewusteloosheid teruggekry.”

‘n Opvoering op Vanrhynsdorp is ‘n keer deur net vyf mense bygewoon.  ‘n Onervare Burgerman het berig: “Die finansiële sukses was ‘n totale mislukking.”

Lank-lank gelede het Die Volksblad ‘n ou die grammadoelas ingestuur om ‘n politieke vergadering te dek. Dit was die tyd voor selfone en met telefoonverbindings op die platteland in die algemeen wisselvallig. Toe hy nie van hom laat hoor nie, was al uitweg om maar op sy terugkeer te wag.

Toe hy opdaag, is die eerste vraag: “Waar’s die berig?”  Nee, antwoord hy toe. Daar’s geen berig nie. Die spreker het net “dames en here” gesê en toe op die verhoog dood neergesyg.

Op my eie rekening is ‘n foutjie met die naam van ‘n man wat dood is toe ‘n brug kort voor saktyd ineenstort. In die dolle gejaag om die berig betyds te lewer, tik ek een oorledene was mnr. Johan de Wet. Hy was nie. Johan de Wet was my kollega.  Die uwe is verwar toe die nuusredakteur my kollega se naam op die kritieke oomblik noem terwyl ek die tikmasjien laat kletter. Tyd vir oorlees was daar nie. Velletjie vir velletjie is van my tikmasjien na die subs.

Toe die eerste klompie koerante op die redaksie se lessenaars kom, bemerk ek dadelik die fout. Al die senior manne was op middagete. Ek hol toe fabriek toe, stop die rolpers en herstel my fout.

In my skik, wag ek om geprys te word. Wel, ‘n bietjie lof was daar wel vir my ondernemingsgees.  Die skrobbering omdat ek die koerant laat gemaak het, was aansienlik omvangryker.  Hoe noodlottig vir verkope op die platteland ‘n laat koerant is, het ek tot daardie dag nie besef nie.

‘n Nog groter blaps was met die dood van een van die hooffigure in ‘n bekende SA hofsaak, Preller vs. Jordaan. Dit behandel oor “onbehoorlike beïnvloeding”. ‘n Dr. Jordaan sou ‘n boer, ene Jordaan, terwyl hy ernstig siek was, oortuig het om sy drie plase aan die arts te bemaak. Wat hy toe doen. Daarna skenk dr. Jordaan twee van die plase aan sy kinders.

Preller het uit sy siekbed opgestaan en wou sy plase terughê. ‘n Lang hofstryd volg en ‘n gekompliseerde uitspraak word gelewer. Die kern was dat Preller slegs op die een plaas in dr. Jordaan se besit kon aanspraak maak.

Toe Preller sterf, stuur die korrespondent (Bothaville? Viljoenskroon?) ‘n kort  beriggie. Dit laat dadelik ’n klokkie lui, en ek is daarmee nuusredakteur toe om my storie te vertel. Natuurlik was hy opgewonde. Ek moet skryf. Om seker te maak van my “feite” ry ek gou Kovsiekampus toe en gaan leen by ‘n regstudent wat ek ken, sy notas.

 

O wee. Of sy notas was verkeerd of HvD het dit verkeerd vertolk.  In my berig word toe verkeerdelik ook blaam op die twee kinders gewerp.   Dit kom op die voorblad.

Die volgende dag hier marsjeer ‘n span prokureurs in. Hulle beraadslaag met die assistant-redakteur met geslote deure. Later word kiepie ingeroep om stamelend te verduidelik. Gevolg was ‘n korreksie ewe groot as die oorspronklik berig op die voorblad.  Dit was nie my glorierykste dag in die joernalistiek nie.

LIEWE HEUNIS EN ANDER MISTYKIES

‘n Vergissing waaroor ‘n ruk gelede op die blad Nagkantoor  geglimlag is, was dié van ‘n jong verslaggewer wat in Pretoria se Mootgebied ‘n foto van ‘n slagoffer van die bosoorlog by sy ouers moes gaan haal. ‘n Familielid keer hom toe voor en beduie hy moenie nou pla nie, want “the minister is praying with the family”.
“The minister from the defence force?”
“Yes”.
Hy het natuurlik bedoel die kapelaan. Die volgende oggend staan egter in Beeld: “Die Minister van Verdediging, mnr. PW Botha, het twee uur saam met die bedroefde ouers gebid.”
.
Hiermee enkele ander vergissings in  nuuskantore: 
Rex Gibson, oud-redakteur van die Rand Daily Mail, het ook ‘n juweeltjie oor ‘n mistasting met ‘n minister vertel.
’n Groentjie-verslaggewer het opdrag gekry het om Chris Heunis, die minister, te bel vir sy kommentaar op die een of ander verwikkeling. Die jong man raadpleeg toe die telefoongids, kry daar C.J. Heunis en skakel.
“Nee,” antwoord dié, “van daardie saak weet hy bokkerol” (hy’t ’n sterker woord gebruik). Vir impak voeg hy sommer ’n paar ander minagtende kragwoorde by wat almal hul weg tot in die RDM se kolomme vind.
Toe die minister boos bel en kla dat hy nooit sulke dinge kwytgeraak het nie, bring ’n vinnige ondersoek aan die lig daar was inderdaad ’n “ligte mistykie”. Die verslaggewer het C.J. Heunis die loodgieter gebel!
‘n Berig in Die Burger oor ‘n vlieënde kondoom wat met ‘n sierlike boog in ‘n swembad op Stellenbosch beland het, het die Cape Times waarskynlik laat wens Simonsberg wil hom bedek.
Die kondoom, gebruik en daarna gevul met water, het uit die bure se erf tot in prof. BH en mev. Eva Marie Koeppen se swemad getrek. Vir die egpaar was dit die laaste strooi in ‘n jarelange buretwis. Hulle is hof toe.
Die volgende dag berig die Times toe ook oor die insident. Onder die opskrif “Prof is mad over condom” haal hy ‘n vies prof. Koeppen self aan. Dié vertel in kleur n geur.
Ongelukkig vir die Engelse mededinger verskyn in Die Burger die volgende opvolgberig : “Mev. Eva Maria Koeppen, die klaer, het daarop gewys dat haar huidige man nie prof. BH van Koepen is soos n.a.v. die telefoongids berig is nie. Pof. Koepen is 10 jaar gelede oorlede. Mev. Koeppen is weer getroud maar het haar vorige van behou. Die stomme Times het sleg in ‘n slaggat getrap.
Sout is in die wonde gevryf toe ‘n Burgerman die Times bel en doodonskuldig vra wat prof. Koeppen se telefoonnommer dan is. Hy soek hom al tien jaar lank.
‘n Keer wat Die Burger bloedrooi moes bloos, was in 1958 toe die jong Jurie Gryffenberg, latere ambassadeur, opdrag kry om verslag te gaan doen oor ‘n rugbywedstryd: Bellville teen die toerspan van die Tukkies.
Hy (wat nie ‘n rugbyskrywer) is die enigste siel in die persbank. Hy vra sommer gou vir ‘n toeskouer watter span is watter een. Die volgende dag verskyn sy verslag, onderteken deur JG, op die sportblad. Die opskrif lui: “Bellville wen; heelagter kry 15 punte.” O wee, dit was die Tukkies wat 24-6 gewen het. Dit was die Tukkie-heelagter, Charlie Meyer, wat 15 punte aangeteken het.
Dit blyk dat JG die volle 70 minute lank die spanne met mekaar verwar het. Sy verslag was ‘n presiese spieëlbeeld van die werklikheid.
Dieselfde berig, in verkorte vorm, verskyn ingevolge ‘n ruilooreenkoms ook in die Times. Die korreksies in albei gevalle was heelwat langer as JG se oorspronklike agterstevoor-berig!

HIER’S HY: MY NUWE BOEK

Loutere vreugde om vanoggend, 3 Januarie 2021, op my 80ste die omslag van “Bure van nature” te wys – my 21ste en seker laaste boek. “Bure” verskyn in Mei by Protea Boekhuis.

Die omslag – voorbladfoto deur die wakker Organ Ongeni van Sabiepark se piekniekplek  – en ‘n lusmakertjie van die  keurige  inhoudontwerp  laat my opgewonde hande vrywe. (Die foto op die agterblad is deur Tokkie van Deventer. Die vuurtjie flikker in ons lapa.)

.

“Bure” is in meer as een opsig ‘n “Buurman van die wildtuin (Tarlehoet, 2004) Merk II” – maar met hope splinternuwe Sabiepark- en wildtuinstories.  Sestien jaar het immers tussenin verloop.

Volgens  die agterblad is my pennevrug  “propvol veldstories  en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier”. Die subtitel is nie verniet nie: “Waar mens en natuur skouers skuur”.

Ek klink graag ‘n glasie “Wild Africa”-likeur op Deborah Steinmair, redakteur, en Hanli Deysel, ontwerper. Die twee kranige dames het uit hul pad gegaan om betyds vir my verjaardag die piekfyn omslag afgerond voor my neer te sit.

Die voorsmaak van hul arbeid laat my tintel van plesier. Watter groter geskenk kan ‘n mens vra – veral op my gryse jare?