O GITS, MENEER MOTORREDAKTEUR

Die Volksblad het gedugte motorredakteurs soos Ben van Rensburg en Fred Schnetler gehad. Voor Ben het so ‘n pos nie bestaan nie. Tussen Ben en Fred was die pos vakant. Vir bekendstelling van nuwe modelle – gewoonlik ‘n luisterryke en luukse bederf-okkasie – het die nuusredakteur in sulke tye sy span deurgekyk. As jy lyk of jy kan doen met ‘n blaaskans is die mantel jou tydelik omgehang.
So kry die jong Van Deventer in 1967 (dalk 68) sy eerste vername kans as “motorredakteur” met die bekendstelling van die Volkswagen Variant, die bekende “seekoeineus”-model wat daardie dekade in sedan- en stasiewavorm sy buiging in Suid-Afrika gemaak het. Ek koop selfs vir die uitstappie ‘n nuwe elegante safaripak en bypassende langkouse (foto). Aitsa, jong man!
Die spannetjie motorskrywers het Nelspruit toe gevlieg en die eerste nag in die aangename Sabie River Bungalows (nou die Sabie River Sun) net buite Hazyview met spanbou deurgebring. Lekker gebraai en tot laat in die gesellige kroeg slimstories uitgeruil. Een ding was gou duidelik: die manne ken hul karre. Ek het tjoepstil geluister.
Die volgende oggend is ons by die Numbihek in Krugerwildtuin toe, twee-twee per motor. (Die Krugerhek was toe nog net ‘n toekomsdroom). Ek en die noukeurige Andrew Marais van Die Burger was spanmaats, hy (op sy aandrang) agter die wiel en ek met die voorvinger op die padkaart.
Van Numbi is ons na Skukuza. Daarna is die reis voortgesit via Onder-Sabie tot by die Krokodilbrughek. Olifante oweral.
Via die Lebombogrenspos by Komatipoort is die
stoet Variants na die kontinentale Lourenco Marques (vandag Maputo), waar die groep in die Hotel Cardozo tuisgegaan het. Nou nie heeltemal so spiekeries soos die beroemde Polana nie, maar ook glad nie te beteuterd nie.
Ek onthou ‘n flambojante seekos-dinee met die
beste Suid-Afrikaanse wyne. Die y

 

slike Mosambiekse garnale het goed afgegaan. Op die spyskaart was ook ‘n krap met ‘n wilde smaak. Die lelike affệre met die kraalogies het ek net eenkant toe gekrap.
Die Saterdagmiddag sou almal terugvlieg Johannesburg toe. Almal minus die uwe. Ek sou die terugtog per motor aandurf. Reëlings is getref dat ek ‘n kar by Ben van Rensburg, toe by die nuwe Sondagkoerant Die Beeld, in Linden gaan aflewer. Hy en sy gesin sou die volgende dag daarmee met vakansie vertrek.
Middagete was skaars verby toe ek groet, dapper die Variant se sleutels vat en my koffertjie in die Cardozo se parkeergebied in die kattebak gooi. Toe ek die sleutel draai, gebeur niks. Twee, drie keer probeer ek met stygende paniek. Absoluut niks.
Ek suiker terug eetsaal toe, kry ‘n man van Volkswagen en verduidelik die onverwagte komplikasie met die splinternuwe voertuig. Verbaas, vergesel hy my na die onwillige Variant. Hy wikkel aan die ratkierie en skakel die kar aan. Die enjin vat dadelik en dreun egalig.
Nou wat de drommel? Die verduideliking was nogal ‘n verleentheid. Dit was die waarnemende motorredakteur van Die Volksblad se heel eerste kennismaking met ‘n outomatiese ratkas. Die stomme man was salig onbewus van die feit dat die motor in “park” moet wees om die enjin te kan aktiveer. O gits.

ROMEINSE BACCHUSFEES

Stel jou voor: ‘n Uitbundige klomp koerantmense net in lakens geklee, gevlegde blarekrone op die kop, lywe uitgestrek op rolle rooi fluweel, en met yslike goudgeverfde erdebekers vol wyn in die hand.

‘n Romeinse Bacchusfees so uit die boek.

Dit was die toneel met die inwyding van SA se eerste Holiday Inn in die laat 60’s/begin 70’s op Mtubatuba  naby St. Lucia aan die Natalse noordkus.

Holiday Inn het persmense vanoor die land na die okkasie genooi.  Ons is per SAL na Johannesburg gevlieg en van daar af met ‘n verslete Dakota na Mtubatuba.  Op pad met die jolige vrag, het die Rand Daily Mail se man, ‘n oud-vlieënier, die mikrofoon gegryp en gemaak-ernstig aangekondig: “Ladies and gentlemen, in the case of any extra oxygen being needed … we are all buggered.”

Die lagbui wat deur die Dakota gespoel het, had tog ‘n ‘n element van senuweeagtigheid as onderbou.

Na bewering het die grapjas later agter die stuurstang ingeskuif. Daar was selfs ‘n bewering dat hy die ou rammelkas op Mtutatuba neergesit het. Glo dit darem nie. IN elk geval, op die lughawe was nie trapstelle op wiele soos in moderner tye nie. ‘n Leer moes op ‘n vragmotor se bak staangemaak word om die passasiers op die grond te kry.

In ‘n skielike windvlagie het rokkies hoog gewapper. Die helpers wat aan die onderpunt van die leer gestasioneer was om ‘n helpende hand te verleen, het vir hul moeite allerlei bonus-waarnemings te beurt geval.

Die aand se verrigtinge is ná ‘n halfeeu steeds in die ou man se geheue ingegrif. Die kleredrag was eenvormig: net ‘n laken en ‘n gordel.  Vir groter posture en posture wat ruim met kurwes bedeeld was, was dit nogal ‘n uitdaging om te bedek wat ter wille van die goeie sedes alles bedek behoort te wees.

So sonder sakke was bykomende toerusting soos pakkies sigarette en lipstiffies ‘n oorlas waarvan net op een manier ontslae geraak kon word. Dit is in onderbroeke, amperbroekies en bra’s ingeprop (ek meen ons het destyds nog van buustelyfies of vormdrag gepraat). Die uithaal was meermale ietwat onelegant. Veral as dit ‘n pakkie 30’s was, soos my Rembrandt Van Rijns.

Die wyn het nie opgeraak nie. Die yslike goudgeverfde glase was nooit leeg nie. Die ontspanne gees wat die verrigtinge gekenmerk het, het al hoe meer ontspanne geraak. Dames, meesal darem getroudes, het later op hul metgeselle se skote beland. en al hoe meer been het verleidelik onder die lakens uitgesteek.

Oor die komplikasies by die geriewe vir mans sal ek nie uitwei nie.   OOr die komplikasies by die geriewe vir vroue kan ek natuurlik nie uit eerstehandse kennis uitwei nie. Tokkie het wel in my oor gefluister dat dit ’n “gedoente” was.

Die volgende oggend is ons op wildritte die pragreservaat Hluhluwe binne, waar die vrolikheid van die vorige aand ondanks ‘n suwwe gevoel in die kranium onverpoosd voortgesit is. Gelukkig was ons nie in lakens geklee nie, maar in ‘n verskeidenheid velddrag volgens eie smaak.

Te laat was ons almal terug in die Dakota vir die terugvlug. Nog op pad Goudstad toe het die donkerte toegesak. Ons was nog nie naby Grand Central-lughawe nie toe die laaste SAL-vlug van die dag Bloemfontein toe opstyg. SAL was toe nog die enigste opsie. G’n Kululas, Mango’s, Safairs en die klas ding nie.

Wat nou? Ek en Roland Solomon van The Friend was taamlik gespanne omdat ons teenwoordigheid op kantoor die volgende dag nie onderhandelbaar was nie. Holiday Inn bied toe soos goeie gashere gul aan om ons in ‘n klein Piper Vrystaat toe te vlieg.

Die ongetroude Roland se reaksie was ‘n gilletjie. Hy het Tokkie – wat hy Klokkie genoem het – aan die arm gegryp en gepleit dat hulle twee ‘n verenigde drukgroep vorm om die onheil af te weer. Haar eggenoot was egter onversetlik.

Uiteindelik is ons in die kleine Piper: die vlieënier en die forsgeboude Claude Cawood (fotgraaf) voor; ek, “Klokkie” en Roland agter ingeprop. Toe ons by die huis in die bad klim, sien ek hoe het Roland haar op onbehoorlike plekke pimpel en pers geknyp.  Siestog, hy was baie bang.

Laat my bely dat ekself in stadiums bra benoud was as die klein goggatjie met die woerende skroef bokant die donker Vrystaatse vlaktes so heen en weer kantel.  Maar ‘n uitstappie om te onthou, was dit gewis.

Van toe af ‘n stoere Holiday Inn-man gewees.

 

RYK GEUR VAN MARLBORO

“Come to where the flavour is”, het die cowboy met sy diep stem verleidelik genooi terwyl hy behaaglik aan sy Marlboro teug. Het die mense dan nie gekom nie! Of dit nog so is, weet ek nie, maar in ‘n stadium toe rook nog die inding was, was Marlboro met sy “ryk Virginiese tabak” die beste verkoper ter wereld.
In Rusland was die wit en rooi van ’n pakkie Marlboro as’t ware die paspoort wat vir jou allerlei toe deure oopgemaak het. ‘n Hardekwas Rus se gesindheid kon darmee maklik positief geswaai word. Die wenk het kollega Tertius Myburgh van die Sunday Times my gegee toe ek in 1990 – nog die Gorbatsjof-era – ‘n besoek agter die Ystergordyn sou bring.
Ek vertrek toe uit Bloem met ‘n karton Marlboros in my koffer op die eerste skof van die reis na Londen waar ‘n visum vir die destyds nog seldsame, selfs misterieuse, besoek op my sou wag.
My “gasheer” was die Sowjet-nuusagentskap “Nowosti”. Naspers moes egter vir als opdok. Igor, my gids en beskermheer, het my darem na sy en sy vrou, Anna, se woonstel genooi vir middagete in ‘n knapperige kombuisie in ‘n siellose, grou woonstelgebou. Ek onthou die blokkiespatroon van die tafeldoek en die koolsop soos gister. Ook al die ander identiese blokke woonstelle voor, agter en aan alle kante. En die verwarrende netwerk van treinspore by die voorstedelike stasie.
Ek was in een van my periodieke ophou-rook-fases. Tydens my oorslaap in Londen gaan kuier ek egter ‘n aand by ds. Henno Cronje in Wimbledon. Hy was leraar by die groot Afrikaanse gemeente in die stad. Henno haal ‘n vergete pakkie Rembrandt Van Rijn uit ‘n laai en ons steek oor ‘n Engelse bier of wat ‘n paar entjies aan.
Volgende oggend staan ek op met daardie hond-in-die-mond-gevoel. Net ‘n sigaret kan red. Wel in my koffer onder die kooi is ‘n hele karton. ‘n Sielestryd soos min ontvlam. Sal ek toegee of sal ek verbete my belofte aan gade Tokkie probeer gestand doen?
Seker ‘n halfuur lank staan ek verskeurd. Toe borsel ek my tande ‘n tweede keer en gaan eet ‘n stywe Engelse brekfis. Die Marlboros is saam op Aeroflot (Aerovrot?) se Toepolef Moskou toe. En Tertius se wenk het gewerk soos ‘n bom. Veral etenstye wanneer die Russe aanvanklik nie gretig was om die verlore siel in hul vol restaurants te verwelkom nie. Hoekom nie? Slaan my dood. Koppigheid was net ‘n Russiese ding doerie tyd.
Van rook gepraat. In Bloemfontein was in die 80’s ‘n dr. Ann Hiemstra wat oor die stad se gesondheid moes waak. ‘n Belangrike gesagsamp by die munisipaliteit beklee.
Dr. Hiemstra was nie lief vir sigarette nie. Sy skryf toe aan Die Volksblad ‘n brief waarin sy drie van die stad se grootste rook-rampokkers by die naam noem: Louis Botha, administrateur, Barnie Human, motormagnaat, en Hennie van Deventer, redakteur van Die Volksblad.
My kollega by die brieweblad het gewonder of hy so ‘n sensitiewe briefie moet plaas of liewer nie,
Ek het nie lank gedink nie. Net vir my ‘n Van Rijntjie opgesteek. Toe ek die eerste wolkie rook behaaglik in die lug blaas, spreek ek die oorwoë oordeel uit: sit hom in.
Dr. Ann is uit vele oorde gelukgewens. Ook uit my eie huis. Ek het my egter nie deur die “misipaal” (kollega Johan van Wyk, ‘n kwarteeu lank die skrywer van die rubriek “Stop van myne”, se woord) laat voorskryf nie! Ook nie Louis nie. Ook nie Oom Barnie nie  Oom Barnie het hoeka verkondig om op te hou rook, is die maklikste ding. Hy het dit al 12 keer reggekry!

DOMINEE, KYK NET DIE EINA!

Dominees wat die kansel vir ‘n redakteurskap verruil het, tref reuseverskille in hul nuwe nerings aan – ook ‘n klompie ooreenkomste. Hulle skryf o.a. steeds preke – heelwat korter maar elke dag pleks van een of twee per week.
Dit was die wysheid van Gerrit Velthuysen wat aan die einde van die 80’s ‘n ruk lank redakteur by Die Transvaler (toe ‘n Pretoriase koerant) was. Hy is later na ‘n bemarkingspos geskuif. Voor sy skof by Die Transvaler was hy ‘n Hervormde leraar in Centurion en hoogleraar in Teologie by Tukkies.
Sy naam ontbreek op Die Transvaler se Wikipedia. Wonder hoekom? Dat my geheue my nie in die steek laat nie, het ek egter by twee gesaghebbende bronne bevestig.
Trouens, hoe sou ek Gerrit kon vergeet? Geen ander redakteur wat ek geken het, het so ‘n melodieuse stem gehad nie. Kon my verluister aan die man. Geen ander een het ook sulke klonte aan sy ringvingers gedra nie.
Onvergeetlikste rede? Hy het in Oktober 1989 op ‘n uitstappie na die ou Suidwes aan die vooraand van die Namibiese onafhanklikheidwording Glenfiddich-enkelmout, 12 jaar oud, aan my bekend gestel. Suiwer engeltjiepiepie, klas goud.
Drie Gerrit-stories steek in my kop vas: een uit sy koerantdae, een uit sy domineedae en die ander ‘n lekker grappie wat hy ‘n keer in ‘n rubriek vertel het. Die het ek so geniet dat ek dit in een van my humorboekies van die 90’s opgeneem het.
Die koerantstorie kom aan die begindae van sy redakteurskap – voordat hy gewoond geraak het aan die bokkerops wat om elke hoek skuil. Ek loop hom by ‘n redakteursbyeenkoms raak, en hy is stomend. ‘n Senior kollega het in ‘n hoofartikel van die “Kaiingsmerk” geskryf pleks van die “Kainsmerk”. ‘n Ander senior kollega het die glipsie misgelees. Dit staan toe in die koerant. En die redakteur is veronderstel om sy Bybel te ken. 
Hy  wou hulle braai. Ek kon hom gerus stel dat erger dinge vorentoe met hom sal gebeur.
Die storie uit sy leraarsdae was oor ‘n jongerige gemeentesuster wat geopereer is. Soos die gebruik is, gaan besoek hy haar waar sy tuis aansterk. Hulle gesels nog so oor koeitjies en kalfies toe sy skielik verbete aankondig: “Ek wil vir dominee my wond wys.”
Gerrit keer die kant toe en daardie kant toe maar die suster – jongerig en aantreklik – laat haar nie van stryk bring nie. Toe die dominee hom weer kom kry, lig sy die laken tot doer bo. Daar sien hy toe nie net die nare wond volledig nie, maar ook die res van haar ongeskonde lyf in al sy naakte glorie onthul. Hy moes sluk om teenwoordigheid van gees te behou.
Wat sệ jy toe vir haar?” por ek nuuskierig.
“Net:’Sjoe dis ‘n kwaai wond.’ Tou vou ek die laken netjies toe, maak keel skoon en onthou skielik van ‘n belangrike ander afspraak.”
Die grappie:
Iemand – sệ maar Gerrit self – ry boontoe in ’n propvol hysbak. Op die eerste verdieping gaan die deur oop – en ’n sekuriteitswag, uniform en al, wurm hom in. Met skouers en elmboë beur hy ’n staanplekkie oop.
Die bak sit sy opwaartse reis voort met die vername kêrel breed voor die deure, bene wyd geplant, keps op die kop en “walkie-talkie” in die hand. Hy kyk elke medereisiger vas in die oë. Toe bring hy die “walkie-talkie” na sy lippe, druk ’n knoppie en sê gewigtig: “Kom in, Bravo Drie. Bravo Drie kom in. Oor!”
Almal in die hysbak wag saam met hom. Niks gebeur nie. Hy vroetel weer aan sy praat-apparaat. “Bravo Drie, kan jy my hoor, Bravo Drie? Kom in, Bravo Drie. Oor.” Steeds doodse stilte.
Hy druk daai knoppie dat dit sou traan as dit kon, byt op sy tande en sis dit behoorlik uit: “Waar is jy, Bravo Drie? Het jy moeilikheid, Bravo Drie? Hoekom kom jy nie in nie, Bravo Drie? Oor.”
Stadig en afgemete kom ’n diep stem oor die luidsprekertjie: “Jy is Bravo Drie, jou dom dônner!”
FOTO: SWA, 1989. Links: Gerrit saam met Piet Steyn, LV vir Winburg, en Ritsema de la Bat van die KWV. Regs: Gerrit by een van ons twee klein vliegtuigies.

MYLPAAL IN DIE JOERNALISTIEK

Vrymoedigheid by koerante om vorige taboe-woorde stelselmatig in hul kolomme bestaansreg te gee, het as’t ware ‘n hupstoot gekry met die dure verlies van ene John Wayne Bobbitt in 1993. ‘n Mens sou dit ook ‘n mylpaal in joernalistieke openhartigheid kon noem.
Wat gebeur het, is genoeg om elke man koue rillings te gee. John se gade, Lorena, het naamlik in Manassas, Virginia, terwyl hy slaap, ‘n vleismes gegryp en op zijn goeie Engels die “unkindest cut” toegedien. Morsaf. Die voorwerp van haar wrewel is daarna minagtend by haar motor se venster uitgewerp.
Haar woede is ontketen deur ‘n beweerde seksuele aanranding vroeër die aand – iets wat in hul stormagtige huwelik van vier jaar glo meermale die vonke laat spat het. (Later darem weer aangewerk nadat sy in ‘n bedagsame oomblik 911 gebel het. Die nooddienste het die afgesnyde orgaan met die nodige sorgsaamheid uit die veld herwin.)
Oor die sage het koerante wệreldwyd letterlik miljoene woorde geskryf. Die woord “penis” het oornag woerts van diskrete vermeldings in mediese rubrieke tot voorblad-respektabelheid gevorder. Die ontwikkelingsgang sluit woorde in soos “skaamdeel”, “stuk van die onderlyf” en “deel van die anatomie”.
Wat een bloeddorstige Eva darem nie met ‘n skerp mes kan vermag nie!
Vir die hofsaak – met Lorena in die beskuldigdebank weens die diepe leed haar stomme eggenoot aangedoen – het meer as 30 media-organisasies, ook uit die buiteland, die “plattelandse hofsaak van die eeu” in Manassas bygewoon. “The case of the unkindest cut” was voorbladnuus.
Ná ‘n daelange ontboeseming van die intiemste slaapkamersake is Lorena deur ‘n jurie onskuldig bevind op grond van tydelike kranksinnigheid wat gelei het tot ‘n onweerstaanbare impuls om haar man ‘n seksuele bloedneus te gee, by wyse van spreke. Hy is in ‘n ander verhoor op sy beurt onskuldig bevind aan verkragting.
Die twee – wat eers ‘n stuk of vier jaar later finaal geskei is – is afsonderlik derduisende dollars aangebied deur TV-stasies, poniekoerante en tydskrifte wat tou gestaan het om hul kleurryke kooistories op te dis.
Die gesaghebbende New York Times het ‘n volblad afgestaan aan die sensitiewe hegting, kompleet met diagramme. Die Washington Times het ‘n spesiale bylae van 24 bladsye gepubliseer met die opskrif “The Bobbitts across America”. Die kollig is laat val op al die Amerikaanse mans wat aan die hand van hul vroue of jaloerse minnaars sulke gewelddadige amputasies te beurt geval het.
Op een TV-kanaal kon kykers sien hoe ‘n ingenome John die gehoor inlig dat sy aangewerkte bate hom nog beter bedeeld sou maak. Hy het gespog dat hy reeds ‘n nuwe vriendin het, en foto’s uit sy binnesak gehaal – nie van die vriendin nie. Meisies in die gehoor het geskreeu soos hulle lag.
Op ‘n ander kanaal het die eksentrieke aanbieder verklap dat hy John byna $5 000 dollar aangebied het om uit te haal en te wys. John, ‘n fris nagklub-uitsmyter met ‘n seunsgesig, het ná oorweging die gulle aanbod van die hand gewys.
Die opspraakwekkende verhoor het tot ‘n hele nuwe bedryf gelei. T-hempies is verkoop met bewoordings soos “A cut above the rest”, “Love hurts” and “Slice of life”. Daarby was afbeeldings van ‘n bebloede vleismes.
‘n Restaurant naby die hof, The Courthouse Deli” het ‘n spesiale middagete aangebied: ‘n worsbroodjie van agt duim – die lengte van die lem! Bykomende kelners en kokke was nodig.
John, wat lank ‘n soort sterstatus geniet het, het intussen in die tronk beland weens aanranding op ‘n ander vrou. Ná sy vrylating het hy voortgegaan om geld uit sy ontbering te maak. Hy het o.m. in minstens twee pornoflieks gespeel. Hy het hom ook as ‘n spreker van faam ontpop.
In New York was hy seremoniemeester by die bekendstelling van ‘n sogenaamde “Bobbit penis protector”. Dit is ‘n kombuismesbestande toestel gemaak van ‘n akrielmateriaal en sou, volgens aanspraak, die draer van ‘n goeie nagrus verseker.
O ja, een van die pornoprente het heet gepas geheet “John Wayne Bobbitt: Uncut”.
FOTO: Lorena, John en daai mes.