A-RA-RA-RA-RATIO! YEA TUKS!

Raid ,,,Jong Tukkie … modderbad … HK-aflos

Laat elke ou Tukkie sy glasie vol maak ….Die vyfde en laaste era van my jongmensdae was die vyf goue jare in Kollegetehuis op Tukkies van 1958 tot 1962. Die heerlike era kom vandag aan die beurt in my reeksie mymeringe oor vergange tye aan die vooraand van my 80ste Sondag.    

‘n Jaar van groot nederigheid was jou eerste in die dierbare Kollege.  Maar as dit verby was, na ‘n ordentlike modderbad aan die einde, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n mooi nooi lief geword vir die plek, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus.

Party ouens het met Fisika geworstel. Ander met Romeins-Hollandse Reg. ‘n Derde groep met Toegepaste Wiskunde, en so aan. Maar ander noodsaaklike kennis is ook vroeg-vroeg aangeleer. Soos die sogenaamde “broek-raid”: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit — na ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade.

In die laat jare vyftig was “Tant Bella” (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. In aansluiting daarby was in die koshuis selfs ‘n sogenaamde boozeklub” — eufemisties bierklub genoem — met die leuse: “Tee verdra geen onreg nie”.  Ek verskyn links in die voorste ry van die klub se 1959-span.

Vir die jaarlikse ienksport is aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is — en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek – die tweede jaar in ‘n ry.

Rugby  was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels.

In 1961 gaan toer Kollege se span na Vrede, Harrismith, Volksrust en Ladysmith. Ek wat nogal kan ooplê lyn toe maar ‘n ongelukkige lugtigheid op die verdediging openbaar, is ‘n verrassende keuse as een van die vleuels. Op ‘n groot rugbydag speel ons span in die hoofwedstryd teen die tuisspan. Ek is daardie dag vlagman.

In ‘n kritieke stadium van die wedstryd kry Kollege ‘n strafskop, amper op die halflyn. Dries Pretorius wat kon skop soos ‘n muil, mik pale toe. Die bal trek goed, hy trek goed… Ek wys dis oor. Die ander vlagman beduie dis mis. Terug voor die paviljoen, te midde van ‘n energieke geboe van die tuisskare, skree ‘n ou vir my: “Was hy oor?”

“Nee,” skree ek terug, “hy was mis.”

“Nou hoekom wys jy hy was oor?”

“Omdat hy amper oor was!”

In 1961 word ek vir die tweede keer in my lewe redakteur: nou van Die Perdeby, die studentekoerant.

Wat ‘n jaar word dit nie! Suid-Afrika word ‘n Republiek — ‘n droom bewaarheid. Dr. H.F. Verwoerd verbreek Suid-Afrika se bande met die Statebond. Kerkmense bots by Cottesloe oor die politieke rol van die kerk.  Oor  al die gewigtige gebeure praat Die Perdeby saam. Hoë besoekers stroom na die kampus. Dr. H.F. Verwoerd kom kuier twee keer.   Pres. C.R. Swart woon die intervarsity by, wat Wits tot algemene verbystering daardie jaar wen.

Elke keer is Die Perdeby op die toneel met ‘n verslaggewer — dikwels in die persoon van die redakteur self — en ‘n fotograaf, Dirk Cloete, ‘n fris ingenieurstudent met ‘n motorfiets.

Die Perdeby was darem nie net politiek nie.  Van een mooie Bloemfonteinse roos, Gerdia Neethling, wat later joolprinses geword het en by wie  die redakteur in ‘n stadium knaend flikkers gegooi het,  tel ek nie minder nie as sewe foto’s in die jaar se 22 uitgawes. Dit is seker ‘n rekord in nepotisme, maar het ongetwyfeld die koerant  versier.

Van die Akademie het in 1961 helaas maar min gekom.  Maar lof vir Die Perdeby het  uit verskillende oorde opgedaag.  Selfs die rektor, prof. C.H. Rautenbach, het lofuitend van hom laat hoor: “U het ‘n moeilike taak op ‘n eervolle wyse behartig … ek dink dit was ‘n goeie jaar — ook vir die redaksie van Die Perdeby.”

Hoofsaaklik seker maar vir my bedrywighede aan die joernalistieke front, meer bepaald Die Perdeby, is Dux -erekleure einde van 1961 aan my toegeken – ‘n hoogs gewaardeerde belonging.

By Die Volksblad was toe al ‘n sekere grimmigheid oor die beurshouer wat eenvoudig nie genoeg kan kry van student-wees nie.  Laat 1962 net eers verbygaan, het ek gepleit, want die huisvoorsitterskap van Kollege het vir my voorgelê — die hoogste vorm van lewe volgens my voorkeure van daardie tyd!

Toe kom boonop sommer ook die kans vir ‘n bietjie akademiese rehabilitasie. Oor die bietjie regskennis wat ek in LL.B 1 opgedoen het en oor daardie ekstra jaar in die algemeen  was ek  nooit spyt nie.  In 1963 het ek by Die Volksblad ingeval.  Van toe af moes ek my eie potjie krap tot einde 1997 toe ek in die Perssentrum aan die Heerengracht in Kaapstad my kantoordeur vir oulaas agter my toegetrek het.

Die finale era – die Melkbos-era van toe af tot nou  – duur reeds reeds 32 jaar. Wat ‘n wonderlike voorreg. Om die voorreg nog saliger te maak, was Sabiepark van die begin af deel daarvan.  Hoe lief is ek nie vir daardie bosplekkie van my langs die Sabierivier nie!  Maar dis ‘n ander storie. Lees gerus “Bure van nature” wat in Mei 2021 by Protea Boekhuis verskyn.

ODE AAN DIE ROLPERS

My geliefde koerant, Die Volksblad, se verdwyning uit die hoofstroom van gedrukte koerante was vir my vanjaar ‘n diepe hartseersaak. In my verjaardagboekie “Koerant” / 80 wei ek daaroor uit. In Volksblad vandag verskyn my “Ode aan die rolpers”, wat ‘n hoofstuk in daardie boek is.   

Oor ‘n rolpers kan ‘n woordkunstenaar ‘n gedig skryf. Oor hoe massief hy is, hoe verbysterend vinnig hy loop, hoe hoor en sien vergaan terwyl hy dreunende die duisende klaar koerante in ‘n kits netjies voor jou uitspoeg.

By Volksblad was ons bevoorreg om fabriek en redaksie onder een dak te hê. By koerante soos Die Burger en Beeld is hulle in geboue ver van mekaar. Die afronding van ons produk kon ek en ander redaksielede dus telkemale in verwondering aanskou.

Ons het die indrukwekkende Goss-pers ook graag vir gaste gaan wys. Om hul meevoering te beleef as die koerante so snel en kant en klaar van die pers kom, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.

Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.

Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. Ek het stil staan en luister na die egalige musiek van ‘n rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.

Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.

Opwindende dae was daar gelukkig te veel om op te noem. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek in die drukkery – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant – op 24 Maart 1983 met die inwyding van die nuwe Goss. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.

Ons profetiese opskrif daardie dag was: “Swart verpleegsters in wit hospitale”. Nie almal was ingenome met die vooruitsig nie! Ook nie met die keuse van hoofberig nie. Dit is op my rekening, en soos Winston Churchill mag ek seker maar sê: “I have not always been wrong.”

Nog ‘n dag vir die geskiedenisboek was 4 Maart 1991. Ons koerant het die dag van gleuwe verwissel. Hy het, soos sy susters, ‘n oggendkoerant geword. Ek het ‘n foto waar ek, Philip van Rensburg, nuusredakteur, en Nols Nieman, hoofsub-redakteur, gretig die eerste oggend-Volksblad by die rolpers opraap. Ou Nols – ‘n ware pionier met elke modernisering – is helaas jonk dood.

Sal ek die dag vergeet toe ek en Naas du Preez, nuusredakteur, by die rolpers afgeneem is – tamaai breëbors oor ons “wêreld-scoop”: “Zola bly”? Ons had die eksklusiewe mededeling in haar eie handskrif. Maar toe ons ons oë uitvee, hôl sy al weer in Londen. La donna e mobilè…

My hele eerste skof van 20 jaar in Bloemfontein en ‘n hele paar jaar van die tweede skof was die settery net onder die redaksie: ‘n see van yslike linotipe-setmasjiene met hul onophoudelike klik-klik-klik-geluid. Dit was soos die setters die berigte wat op die boonste verdieping op tikmasjiene geskep is met vuurwarm lood in kolomwydte stafies herskep. Wanneer jy by die voordeur instap, was die besige settery jou eerste visuele indruk.

Opskrifte is uit ‘n kas vol verskillende letters van elke grootte in stawe gepak en in loodvorm gegiet. Vir werklik groot stories – soos die moord op dr. Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 – is houtletters gebruik – die heel grootste in ons besit. “Dr. Verwoerd vermoor” was die reuse-banier.

Dan moet die drukkersduiwel net nie met die naam kom lol nie. Opskrifte is in spesiale vormpies uitgepak. Soms is dit agterstevoor gedoen. Wat op aarde beteken “Erg skitter Dicky Brob”? Ruil die twee stukke lood om. A-a-a, “Dicky Broberg (bekende atleet) skitter”!

Saam met die berigte is die opskrifte op die sogenaamde “steen” – ‘n soliede sementblad – volgens die subredakteur se bladplanne ingepak. By die vernaamste laaste bladsye het subs bygestaan om hier en daar te verstel. By die voorblad was dit die hoofsub se taak. Ek het die takie in my hoofsubdae baie geniet, buiten die dag toe my trui in ‘n roller beland wat dit toe halfpad van my lyf af in ‘n drom swart ink intrek. Dit was permanent onbruikbaar.

Wanneer die blad van die steen af gaan, was hy uit die redaksie se hande. Nadat dit geproeflees is (‘n span spesiale proeflesers met arendsoë) is dit na die stereo-afdeling. Hier is eers ‘n karton-flong of -matrys van die blad gemaak. Die matrys/flong wat hittebestand was, is in ‘n silindervormige gietmasjien geplaas. Gesmelte lood is dan daarop gegiet. By ‘n sogenaamde “router” is die silindriese lood-“bladsy” wat so gemaak is, se hoër oppervlakke weggesny voordat dit rolpers toe gaan.

Ai, waar is daardie dae en daardie wonderlike tegniese kollegas? Baie is natuurlik lank voor die papierkoerant op 7 Augustus langboompies toe is, al lank vooruit. Die laaste ongetwyfeld TD (Oom Pottie) Potgieter op ouderdom 93 op 18 Mei. Hy het in 1945 as setter by Die Volksblad begin.

Die nag van 6 Augustus toe die gedenkuitgawe – die laaste breëbladuitgawe – gedruk is, het die enigste twee van die ou garde wat nog oor is, Mossie Mostert en André van der Nest, die Goss gaan beman. Albei is nou in bestuursposte by Novus Print, maar het as vakleerlinge by die rolpers begin toe dit nog deel van Volksblad as filiaal was. Sou meer as ‘n pennie vir hul gedagtes betaal het!

OU VOLKIES BY DIE MOOIRIVIER

Matriek, 1957.

‘n Vierde era in my jong dae is my vervullende Volkiedae van 1953 tot 1957 op Potchefstroom. Volkies is ‘n skool wat uiteenlopende politieke figure opgelewer het: Pik Botha, Ferdi Hartzenberg en Eugéne Terre’Blanche, asook Botha se voorganger as Minister van Buitelandse Sake, dr. Hilgard Muller. Ná Pik, saam met Ferdi en voor Eugéne het ek  die netjiese swart kleurbaadjie met die kenmerkende dun rooi en geel strepies en  ‘n oopvlerk-arend op die sakwapen gedra.

Die leuse: Sapientia vis vera – Wysheid is die ware krag. Die skoollied: Ou Volkies by die Mooirivier, ‘n brokkie van my hart bly hier. Albei is waar.

‘n Gunsteling-onderwyser het in matriek vertroulik in my oor gefluister dat van sy kollegas my as “te groot vir my skoene” beskou. Drie rampspoedige uitstappies en my vermeende rol as een van die belhamels in ‘n “eetstaking” oor Jack Pauw-koshuis se slegte kos het niks gedoen om diesulkes verkeerd te bewys nie.

In al vier die insidente was die “sapientia” nie juis so sterk teenwoordig dat ‘n mens dit sou agterkom  nie. In die “staking” (eintlik meer ‘n protesvergadering op die rugbyveld waar ek nogal baie te sê gehad het) was te veel skuldiges om almal slae te gee. Die drie uitstappies het egter my agterwêreld laat brand.

Nommer een: Volkies se eerste rugbyspan speel teen die Hoërskool Klerksdorp en ek en Willem Hartzenberg (later regter Willem Hartzenberg van o.a. Marthinus Basson-faam) ontglip studie om  te gaan kyk. Ons gooi duim (destyds nog ‘n respektabele manier van reis) en woon die wedstryd by – tot allerverbasing,  ook van die onderwysers.

Ná die wedstryd sukkel ons effens om ‘n geleentheid te kry. Dis laterig toe ons by Jack Pauw aankom. Ons tref Johannes Theodorus Claassen, groot nuwe Springbokslot, wat daardie dag diens doen, in ‘n moerige stemming aan. Ja, goed en wel dat ons die eerste span so mooi ondersteun, maar die weglopery soos slegte watsegoed kan nie geduld word nie. Toe buk ons.

Nommer twee: Nie lank daarna nie daag ek vir aandete op met ‘n elegante krawat pleks van ‘n das. Gaan trek jou ordentlik aan, gebied  Jack Slabbert, ‘n  koshuishoof.

“Ek is ordentlik aangetrek.” Harde woord val op harde woord, en toe ek by die eetsaal uitstap, besluit ek: “Jack Slabbert, vir jou sal ek wys.”  Ek gaan spring in my deftige blou dubbelbors-Sondagpak. Toe ek weer instap, dawer die eetsaal van die lag. Slabbert slaan sulke rooi vlekke uit. ‘n Nuwe woordewisseling ontstaan, en ek word weer die deur gewys om “ordentlik” te gaan aantrek.  Maar toe ek hardekwas die tweede keer by die eetsaal uitstap, stryk ek sommer aan grootpad toe.

By die huis gekom, in Meiringspark, Klerksdorp – steeds in my dubbelbors —  is my ouers klaar ongemaklik. Toe die koshuisvader kort daarna bel, word dit ‘n lelike saak.  Pa  laai my in die  kar, ‘n 1948-Chev, en die hoof, dr. H.F.B. Muller, wag my in – lat in die hand.

Pak slae nommer drie val in die matriek-eindeksamen. Voor die laaste vraestel (Geskiedenis) kom ‘n gawe breuk, en ‘n paar van ons oordeel dis ‘n ideale geleentheid om te gaan fliek: Bill Haley en sy Comets in Rock Around The Clock.

Buite wag die nimlike Jack Slabbert ons egter in – ‘n sardoniese glimlag op die gesig. “Nou ja, menere, wat het julle vir julleself te sê?” Almal moes gedweë buk.

‘n Lekker herinnering is ‘n Volkie-weergawe van ‘n gewilde radioprogram van daardie tyd, Die Mielieblaarklub van A.M. Burgers. Elke Saterdagaand om agtuur het dit valserig oor die radio opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar ….da-ra-ra-ra…da-ra-ra-ra …”      Daarna was Oom Mêrtin, Oom Gawerjal, Doorsie en Hennerik ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord oor sake wat die volksgemoed beroer.

Die rolverdeling uit ons matriekklas was soos volg: Oom Mêrtin (wyle Carel Weeber), Oom Gawerjal (wyle Koos van Niekerk), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe).  Die gedugte viermanskap se funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus. Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien om verliefde paartjies te beteuel.

Vroeg in die matriekjaar kry Van Deventer ‘n terugslag. Hy wen die 150 tree onder sestien op Volkies se skolesport. ‘n Rekord word aangekondig. Daarna paradeer hy oral op die baan sodat geen meisie die breker moet miskyk nie. Toe kom die aankondiging: terug na die wegspringplek, asseblief.  Dit blyk ons het te kort gehardloop. Die aflosstrepe het die afsitter verwar. Verpletterende nuus!

My altyd maar karige Latyn-kennis het feitlik verdamp. Jy kan my egter nou nog enige tyd van die nag wakker skud en vra hoe skryf jy “na Rome toe”? Ek sal blitsvinnig antwoord: “Romam”. Hoekom nie “ad Romam nie”?  Elementêr, my liewe Watson. Omdat die voorsetsel “ad” voor die name van stede, dorpe en klein eilandjies wegval.  Die akkusatief is voldoende.

Oom Andries van Rooyen, latere skoolhoof, het, op sy kenmerkende energieke manier, een goeie oggend in 1955 sy standerd-agt-klas die na-Rome-toe-les geleer. Toe hy klaar is, sê hy: “Van Deventer, skryf op die bord na Rome toe.”

Ek, arme drommel,  skryf ewe goedsmoeds: “Ad Romam.”

Ek dag die man kry stuipe. Wha! brul hy, pluk die venster oop en en maak of hy wil uitspring. Toe gryp hy my, dop my om en skud my sakke net daar voor die klas uit — terwyl my kop teen die plankvloer stamp-stamp.

‘n Foto in my Volkie-album van die skool se jaarblad-redaksie van 1957 getuig van ‘n belangrike  ommekeer in my lewe. Dit is die ene tikmasjiene, oorvol snippermandjies en leë koeldrankbottels. In die middel, met ‘n deurmekaar-kuif en ‘n los das, sit redakteur Van Deventer.  Alle ambisies om advokaat te word, is net daar begrawe. Die joernalistiek het geroep.  En ek was nooit spyt dat ek na daardie roepstem geluister het nie.

FLITSE UIT MY KLEINTYD

Babanango … Kimberley … Durban

 

Volgende Sondag, 3 Januarie 2021, word ek 80. Tagtig, verbeel jou. Vandag, presies ‘n week voor bereiking van daardie ver-ver baken as jy jonk is, dwing my gedagtes terug kleintyd toe.

Van my Babanango-era op die plaas Middel-in teen die berg Spês onthou ek weinig.  Ek was maar drie toe ons in 1944 noodgedwonge moes Kimberley toe met sy heilsame, droër klimaat. Op doktersadvies.  Want klein Hennie sukkel chronies met ‘n kroep-borsie in die nat, mistige weer van Natal.

Die Kimberleyskof – van 1944 tot 1950 – lewer ‘n kaleidosokoop van herinneringe op. Helder beelde doem op van ons nederige ongepleisterde skakelhuisie by Diagonalstraat 10 – naby die stasie en die treinspoor, met ‘n sinkheining en ‘n kleinhuisie met ‘n emmer onder ‘n peperboom in die agterplaas.

In daardie stowwerige agterplaas het klein Hennie met sy duiwe en skilpaaie geboer en met sy “vetdiere” (blikbeeste, -perde, -varke en -skape) plaas-plaas gespeel. Een gedenkwaardige agtermiddag het hy hom verbeel hy is Superman. ‘n Vliegpoging van die tuinmuurtjie af was minder geslaagd. “Superman” se regterpols was morsaf!

Die feit dat die eerste jaar in die nuwe omgewing nog oorlogstyd is, sou vir ander herinneringe sorg:  van manne in uniform in die strate, petrolrantsoene, DKW-motortjies, mense in lang, ongeduldige toue vir aartappels en ander noodsaaklikhede, slegte brood en uiters karige suiker-en koffie-porsies.  Rys was onverkrygbaar, die bak van wit brood was verbode – as jy daarmee betrap word, was jy in die moeilikheid, groot moeilikheid.

Voordat ek in 1947 by die Laerskool Diamantveld met die skoolbanke kon kennis maak (en in ‘n stadium toe ek tot Pa Seun se ontsteltenis nog telkens die syfer 7 vergeet as ek tot 10 moet tel), het hy op ‘n koue wintersaand op ‘n nagskof by De Beersmyn hondsiek geword.  Hy het vroeg huis toe gekom, sy klere netjies opgevou en in die kas gebêre, soos altyd. Daarna het hy in die bed geklim. Daardie selfde nag is hy skielik aan sy hart oorlede.  ‘n Man in sy fleur – net 35 jaar oud.

Ma Baby, die jong weduwee, moes maar uitspring en gaan werk. Ek onthou hoe sy elke dag kiertsregop op haar fiets wegry Kimberley-sentrale toe. Die blou Hillman Minxie moes verkoop word. Bekwame vrou wat sy was, het ma lewenslank verseg om te leer motor bestuur.

Oupa Herklaas en ouma Elsie Visser het daardie tyd by ons kom woon.  Aan oupa se voete het ek leer Volksblad lees – min wetend dat ek drie dekades later redakteur van die koerant sou word. By ouma Elsie het ek brood met botter en tamatiesous leer eet en vol fiemies geraak oor kos. Dit het arme ma grys hare besorg.  Gelukkig het ek in latere lewe my nonsens gelos.  Als is vir my lekker – tot kool en pampoen. Hou net afval weg, asseblief.

In 1950 het pa Tonie Malan in ons lewens gekom. Ek en ma is terug Natal toe. Vir ‘n ruk was ons tuis by oom Martiens en tannie Dinah Maritz by die Boshoekmyn, naby Vryheid, waar hulle die winkel en slaghuis besit het. Ek het skoolgegaan op die naburige myndorpie Enyati. Soggens langs die pad gaan staan om deur ‘n steenkoolvragmotor opgelaai te word. Ai, daardie kragtige Studebakers.

Toe die twee trou, het ons na Durban verhuis. Ek het die eerste keer die see gesien. In Durban het ek opgehou om ‘n klein seuntjie te wees. Het in wind en weer met my fiets van Botanic Grove, Berea, Port Natalskool toe gery – nogal ‘n fris ent. Selfs Saterdagoggende alleen die bus gehaal Kingsmead toe vir krieket of met ‘n pak strokiesverhaal-boekies in my arms om te gaan fliek en boekies uit te ruil, soos die gebruik was.

In 1951, terwyl Basil Kenyon en Hennie Muller se Springbokke in Brittanje amok maak – onthou Murrayfield! – het ek in Durban tien jaar oud geword. ‘n Groot seun!

Hemel, dit was 70 jaar gelede. Tempus fugit – het die tyd nie gevlieg nie!

DE LESTE EEN 80

Van hierdie 1957-matriekklas van Volkies, Potchefstroom,  sal ná 3 Januarie 2021 nie een oor wees wat nog onder 80 is nie.  Die baba van die klas, wat die uwe is, bereik dan daardie baken.  Hoeveel van die klas nog lewe, is ‘n vraag. Dalk minder as die helfte.

So mymer ek en klasmaat Willie Hartzenberg, ons dux-leerling wat die langsdienende regter in die Noord-Gautengse Hooggeregshof geword het – ‘n legende op die regbank met sy kennis, humor en jovialiteit – gister toe ek hom bel om op sy 81ste geluk te wens.  Wonder of Willie daaraan gedink het dat hy op 81 presies so oud is soos ons klas groot was.

Ek kon hom nie herinner nie, want ek het dit eers ná die oproep die sommetjie gemaak.  Verskeie ander klasmaats was, soos Willie,  1939-kalwers en het al vroeër die 81-kerf oorgesteek.

Onder die jongste 1940-kalwers was Leon Engela, ‘n ginekoloog, Anton Lombaard, mediese dokter, en Giel de Swardt, prokureur, met wie ek nog kontak het. Dan was daar Hermannie Murray (Smit) net-net ouer as ek. Wonder of sy nog in Pretoria woon. Poenkie de Villiers, ook een van die babas van die klas, is reeds oorlede.

Ander wetenswaardighede:  Twee van die 81 het regters geword, Willie en Ferdinand Preller, en drie doktore, Susan Conradie, Gert Sauer, albei sielkundiges, en Van Aardt du Preez, aardrykskundige wat ‘n verfdeskundige geword het. Twee mediese spesialiste  is opgelewer, Leon en wyle Mornay du Plessis, ortopeed.  Twee skrywers van wie ek weet, is wyle Christine (Marais) Steyn en ekself.

Twee maats was later die besitters van private vliegtuie, Anton toe hy op Calvinia dokter was, en Dok Malan.  Verder het  verskeie prokureurs, ingenieurs, dokters, dosente en ‘n dagblad-redakteur uit die geledere gekom. Een , Charles Bamberger, was Wes-Transvaal se krieketkaptein.

Twee destydse paartjies, Koos van Niekerk (hoofseun) en Ina van der Westhuizen. asook Piet Otto en Hettie du Toit, het met mekaar getrou. Piet en Hettie is in 1979 geskei en 18 jaar later, in 1997, weer getroud. Koos,Ina en Piet is al oorlede. Hoofmeisie, Wena de Kock (Louw), se Pieter is al heen. Sy is egter fiks, gesond en bedrywig.

Ina het in ‘n motorongeluk omgekom, soos MOrnay du Plessis en Tokkie den Dulk. My kamerrmaat, Wiekie Moolman, het as jong man ‘n ernstige motorongeluk oorleef. Hy is vanjaar aan natuurlike oorsake oorlede. ‘n Ander goeie vriend, Carel Weeber, het al geruime tyd gelede  vooruit gegaan.

Een klasmaat,  Dirkie Jacobs,  was jare der jare gelefde  in sy huis die slagoffer van gewapende rowers en ‘n ander, Louwrens Snyman, is voor ‘n nagklub in Johannesburg vermoor.

In ons Latynklas was vyf seuns. Al vyf lewe nog en is/was altyd gereeld voltallig teenwoordig  by reünies.  Hulle is ekself, Willem Hartzenberg , Ferdinand Preller,  Koot Bosman (dosent aan Tukkies) en Giel de Swardt (prokureur op Jeffreysbaai).

Alles in ag genome nie ‘n te slegte oesjaar nie.