Dec 12, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die lang somervakansie is met ons. Ons liewe dorp bars uit sy nate. Langs die lang strand, by restaurants in Kusweg, in winkels en in die kerk is dit weer vreemde registrasienommers en onbekende gesigte van oraloor. Op die sand wapper die nuwe strandsambrele in die wind.
Melkbos lewe mos in die vakansietyd. Elke jaar by die Kersdiens vra die leraar besoekers om hand op te steek. Melkbossers skrik telkens oor die see van hande. Soms lyk dit amper of die “vreemdelinge aan ons poorte” in die meerderheid is.
Maar eintlk is ons gasvrye mense hier op ons bekoorlike woonplek aan die Atlantiese kus. Ons harte is oop vir die besoekers en ons knyp maar oë toe as hulle ‘n maand of wat ons plek binneval en oral oorvat.
Hierdie Melkbosser hoop die besoekers geniet die lang strandwandelinge, ons kleindorp-rustigheid , die goue skemers en die skilderkwas-sonsondergange wat hierdie tyd van die jaar op hul kwistigste is. ‘n Beter tyd vir ‘n vuurtjie en iets lekker op die kole kan daar nie wees nie.

Ek hoop hulle geniet die kom en gaan van mense en dinge op die strand: die vlieër-entoesiaste met hul kleurryke tuie, die bedrewe seilplankryers (veral as die suidooster opsteek), die vroegoggend-perderuiters
Ek hoop hulle geniet Tafelberg in sy vele stemminge, Robbeneiland in die verte.en die lekker geplaveide wandelpaadjie langs die see van Land’s End af verby die Melkbos Kitchen en die NSRI. Ook lekker rotspoeletjies daar waar kinders vir ure kan speel en klouter as hulle moeg raak vir Slabber se klippe in Kapteinsbaai.
Ek hoop hulle ontdek, benewens die skilderagtige Melkbos Kitchen, ook ander lekker kuierplekke in Kusweg aan die hoofstrand – veral Café Orca en die historiese Damhuis. Orca se viskos is ‘n moet, mits jy plek kan kry by die gewilde eetplek wat vir baie Kapenaars sinoniem met Melkbos geword het. Die porsies is gul soos Melkbossers se gasvryheid.
Ek hoop hulle ry die kuspad Blouberg toe en verken die bekoorlike baaitjies een vir een: Holbaai, Kreefbaai, Eerstesteen …. Plekke om rustig te sit en droom terwyl die branders aanrol.
Ek hoop hulle ry ook ‘n bietjie noordwaarts, loer by Ganzekraal in (in vakansietye ongelukkig ietwat oorbevolk) asook by die karaktervolle vakansiedorp Yzerfontein. Dan is Darling net ‘n klipgooi binneland toe.
Langebaan is net sowat 100 km van Melkbos af – ‘n moeitewerd-mekka met sy reuse-strandmeer. Voor Langebaan lê die Weskuspark met sy fynbos-verskeidenheid, gesellige braaiplekke en amper onherbergsame kustonele.
Die uwe hoop die Melkbos-besoekers ontdek op hul drumpel die eersteklas-wyne en wonderlike kelders van die Durbanville-wynroete. Klein Roosboom is ‘n persoonlike gunsteling. Nitida se restaurant lok smulpape. Die moderne Durbanville Hills se uitsigte en sy sauvignon blanc is ewe voortreflik.
Vir uitsigte: Probeer gerus ook Grootbaai se Spur en Cape Town Fish Market. Lyk of Tafelberg oor die baai al hoe nader skuif terwyl jy jou geelbek of T-been geniet. Haal sommer die MyCitibus daarheen – jy kry die panoramas van berg en see op die koop toe.
Aan die fraaie Kleinbaai, ‘n klein entjie aan, kry jy die restaurante On The Rocks en Ons Huisie. Peusel calamari terwyl jy onder ‘n strandsambreel ‘n koue wittetjie van hierdie kontrei op die tong neem
Vir ‘n smaaklike, outydse ontbyt is Philadelphia se Pepper Tree ‘n prima-keuse. Die dorpie, net 17 km van Melkbos op die pad na Malmesbury (N7), raak ‘n regte toeristetrekpleister met sy knusse winkeltjies en allerlei. Die historiese ou kerk is ‘n besienswaardigheid (soos Mamre se orrel, vir diegene wat in sulke dinge behae het).
Nog nader is die Padstal by die Total-dienssstasie op die Weskuspad (R27). Vele verrassings op jou voorstoep – onder meer die varsste plaasbrood warm uit die oond.
Vir die herlaai van geestelike batterye staan die NGK Melkbos se deure oop. Sondae se erediens is om 09:00. Op Kersdag is twee dienste, om 07:30 en 09:00. Die Oujaarsaand-diens is om 18:30.
Ek (wat natuurlik bevooroordeeld is) glo jy kan op Melkbos en omgewing so lekker kuier dat die Kaap self maar aan sy eie hordes oorgelaat kan word. Te veel vir een vakansie? Nou-ja. Kom dan maar weer!
(Ietwat aangepaste weergawe van ‘n blog wat ek in 2020 geskryf het.)
Oct 28, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Van vyf sterre tot ‘n bouval
Vyf hotels figureer in my en Tokkie se wittebroodsdae aan die begin van 1967. Hul geskiedenis is, helaas, oorwegend maar droewig. Vier van die vyf is in Natal. Op ons reis deur daardie provinsie vandeesmaand het ons by die vier gaan inloer: in die Drakensberg, op Amanzimtoti, in Durban en op Umhlanga Rocks.
Die Royal Natal Hotel aan die voet van die manjifieke Mount-Aux-Sources was ons eerste aanryplek. Ons het ons tweede huweliksnag, 1 Januarie 1967, in die eertydse baken in die Drakensberg deurgebring. Nou is dit ‘n bouval – hartverskeurend om te aanskou. Onkruid staan twee meter hoog waar die deftige eetsaal was, en in die koninklike kwartiere waar Koning George en sy gesin in 1947 uitgespan het, ontbreek stukke dak.
Die derde nag was ons in die Beach aan die lagune op Amanzimtoti. Tot siens, Beach. Hy en sy ou buurman, die Lagoon, is gesloop om vir woonstelle plek te maak: die L’Escalier Cabanas. Ten minste ‘n swierige naam.
Van die vierde nag af was ons in die Lonsdale in Weststraat, Durban – nie uitsonderlik nie, maar netjies, skoon, gesellig en bekostigbaar. Drie ordentlike etes per dag, Drie sterre. Die Lonsdale is nou ‘n vervalle “boardinghuis” vir immigrante uit Afrika.

Juweel van die noordkus
Vir die laaste nag het ons geldjies oorgehad om op te gradeer. Ons trek toe na Sol Kerzner se Beverly Hills in Umhlanga Rocks, destyds sy vlagskip. Dis die enigste van die Van Deventer-vyf wat uitgestyg eerder as agteruitgegaan het. Ek het die plek nou weer uit elke hoek afgeneem.
Dankie tog vir die Beverly Hills (steeds die toonbeeld van elegansie daar langs die Oyster Box). Anders kon dit lyk ons wittebroodsreis was getoor. Tokkie sê hoeka ons huwelik self is omtrent al van destyds wat nie verbrokkel het nie. Dit hou al 49 jaar.
Durban is ‘n Afrika-ontdekkingsreis in die kleine. Sowat van naamsveranderinge slaan die pilgrim met ‘n volslae lamheid. In die stad wou ek graag ook gaan kyk waar ek in die 50s ‘n jaar of wat gewoon het, op skool was en kerk toe gegaan het Na ‘n yslike soektog kon Tokkie my darem eindelik afneem op die kaal erf wat Botanic Grove 9, ons tuiste, intussen geword het. Die NG gemeente Berea waar ou dominee Adler die leraar was, is nou net ‘n saaltjie by ‘n ouetehuis. By Suidstrand het ek as 10-jarige die eerste keer die branders aangedurf. Die bekende vakansiehotels staan nog fier, maar die plek trek my nie meer nie. Die stadskern lyk verslete.

Hier was ons huis
Gelukkig is Berea nog die toonbeeld van grasie met jakarandas wat plek-plek aan Pretoria herinner. By my skool, Port Natal, lyk alles piekfyn en netjies. Die Botaniese Tuin is steeds verkwikkend. Die Moses Mabhida-stadion is ‘n meneer. Boonop het ons op een verdwaal die hoog aangeskrewe Bread Ahead ontdek. Die Durbaniete bak strate beter as wat hulle deesdae rugby speel!
Umhlanga Rocks is ‘n perd van ‘n ander kleur. Verbeel jou die branders breek op Sandton se strand. Dan het jy Umhlanga Rocks, juweel van die Natalse noordkus, skaars 15 km van Durban op die N3.
Die uwe ken Umhlanga maar skraps van die een nag se oorslaap in die Beverly Hills en ‘n paar keer se vinnige inzirts. Dis die vakansiemekka met die pragtige promenade, interessante wandelhoof (pier), elegante hotels aan die seefront, ‘n ontwerpers-vuurtoring en 300 sonskyndae per jaar. Dit was my prentjie altyd.

Promenade

Poort na Gateway
Maar die keer is Gateway ook op ons program – glo die grootste winkelsentrum in die suidelike halfrond. Toe die een geweldige verrassing op die ander. Die enorme Gateway, wat glo meer as tweemiljoen besoekers per maand lok, is klaar asemrowend. Maar rondom hom verrys vinnig ‘n stylvolle sakestad. Dis die ene moderne wolkekrabbers en boulevards.
‘n Rykmanskolonie. So eerstewêrelds, soos Sandton. Al verskil: hier breek die branders werklik op ‘n skilderagtige strand. En ja, natuurlik sal jy vergeefs na die Gautrein soek.
(Die eerste huweliksnag is deurgebring in die Hotel Winburg, wat later in ‘n “herberg” omskep is.)
Oct 26, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

By die Sani.
Elke tuin het sy spesiale hoekies wat die siel des te meer verkwik. In die Tuinprovinsie Kwazulu-Natal wemel dit van sulke hoekies. Ons kuier in die fraai dorp Hilton was ‘n heerlike ontdekking van die Natalse Middelland tot so ver as die suidelike Drakensberg met sy baie kuierplekkies in die natuurskone Underberg-kontrei.
Ons en die kinders is selfs halfpad die legendariese Sanipas uit tot waar die SA vlag op die grens van die Bergkoninkryk wapper. Ons slaapplek was ‘n sprokieshuisie op pad na die Drakenberg Gardens Hotel met roeibootjies op ‘n dam, perde, ganse en poue.

In die suidelike berg.
Natuurlik het ons die Midmardam gaan verken, waar Jacob die eerste keer lyntjie natgemaak het. Die Howick-waterval is altyd die moeite werd. Die Queen Elizabethpark aan die buitewyke van Pietermaritzburg is ‘n onontdekte juweel. Die landelike toneeltjies met akasiabome en troppe, troppe beeste oral langs die pad is beeldskoon.

Ou gruisgroef.
‘n Staptog deur Hilton is verfrissend. Die dorp is in die hart van die skilderagtige “Midlands Meander”. Dis die ene berge en dale, groot bome, welige tuine en ‘n amper tasbare rustigheid. Die vernaamste sakesentrum is treffend geleë op die rand van ‘n gruisgat met water, bome, gras en blomme. Die dorpshotel is in klassieke Tudorstyl – sou nie ontuis gewees het nie in die Cotswolds of Sussex.
In die hartjie van die dorp is ‘n “Voortrekker Road” . Wat sou ‘n “Voortrekker Road” soek op Hilton met sy Engelse oriëntasie? Die antwoord kry ek op ‘n besoek aan die sogenaamde “World’s View” tussen Hilton en Pietermaritzburg. ‘n Gedenksteen en ‘n netjiese mosaiëk-reliëf verklap ‘n stukkie geskiedenis wat dalk aan vele van Hilton se eie mense van die huidige generasie onbekend is – dat hul dorp vierkant op die Natalse Voortrekkerroete was.
Waens het uit Blaauwkrans, Weenen en elders oor Hilton gekom. By “World’s View”- vroeër bekend as Voortrekkersig – het die Voortrekkers uitgespan om as’t ware die beloofde land voor hulle in te drink. Die panorama van Pietermaritzburg en sy hinterland is indrukwekkend. Later het transportryers en ander pioniers ook die pad gevolg.

Outydse taxi!
Op die mosaiëk-reliëf is ‘n uitbeelding van ‘n kakebeenwa. Christopher het die vreemde gedoente so bekyk en toe vir sy ma, Marisa, gevra: “Dis mos ‘n outydse taxi, né mamma?
”
Soos Amerika sy “Ivy league”-universiteite het (Harvard, Yale, Princeton, e.a.) spog die Natalse Middellande met skole in ‘n liga van hul eie. Ek sonder twee uit: Hilton College (glo die duurste skool in Suid-Afrika) en Michaelhouse op die ewe mooi buurdorp Nottingham Road. Die karakter, tradisie en eksklusiwiteit straal uit hul indrukwekkende, lowerryke kampusse met geboue, sportvelde, kapelle, museums en in die geval van Hilton selfs ‘n eie natuurreservaat. Die koshuise sou Stellenbosch eer aandoen.

Hilton College se kampus.
Op pad na Hilton het ek deur Michaelhouse se kampus – ‘n klein plasie – gaan ry … en so verdwaal dat ek moes pad vra. Later het die seuns my op ‘n toer van Hilton College geneem. Asemrowend. Hul eie skool, Laddsworth Primary is ook geensins te versmaai nie, en oupa is trots soos ‘n pou dat Thomas in sy rugbymondering op sy skool se advertensie pryk.
Die Tandemuis het ook ‘n draai kom maak tydens ons kuier in Flamingolaan – sommer twee aande na mekaar. Christopher se eerste wisseltand is deur pa, Brent, met ‘n stuk garing uitgelig. Die volgende aand verrig die kordate kerel die takie sommer self met behulp van ‘n waslap. Vir oupa Hennie en ouma Tokkie nogal ‘n bakengeleentheid gewees. Eerste keer dat ons by is as ‘n kleinkind begin haasbekkkie raak.

Word vinnig groot.
Die kuier by die kinders en kleinkinders het woerts verbygevlieg. Die laaste aand, die vooraand van skoonseun, Brent, se verjaardag, het ons in ‘n gewilde Thaise restaurant op die rand van die gruisgroef gaan eet. Die seuns het hulle uitgevat vir die okkasie. Toe besef ‘n mens skielik hoe vinnig hulle groot word. Van links is Thomas, Christopher en Jacob. Thomas en Jacob is 11; Christopher is ses.
Oct 24, 2015 | Hennie van Deventer se Blog

Herinneringe aan die Green Lantern Inn.
More uit Melkbos
Plek-plek voel dit of ‘n mens deur ‘n vullishoop tonnel. ‘n Beklemming pak jou oor die smerige beeld wat toeriste van jou liewe land kry. Jy probeer stip voor jou staar maar jou moedswillige oë dwing terug na die morsigheid.
Rommelhope, rommelhope, rommelhope aan weerskante van die spoor, veral van Randfontein af tot by Parkstasie. Dit was ongetwyfeld die slegste van ons reis met die Shosholoza Meijl van die Kaap af.
Elke dan en wan knars die trein boonop tussen nerens en niks tot stilstand – soms pynlik lank. Dan sit jy maar met jou vingers en speel. Prasa, wat die treine beheer, en Transnet, wat vir die spore sorg, sinchroniseer klaarblyklik hoegenaamd nie. Ons het twee uur laat in Johannesburg aangekom, taamlik ontnugter.
Die Premier Classe het ook sy pluspunte – netjies waens en kompartemente, goeie en vriendelike diens, goeie kos. Om dit as super-luuks te beskryf, soos in die oor-entoesiastiese reklamestukke, is egter erg hiperbolies.
Wil nie ‘n nat vadoek weees nie. Maar kan, helaas, nie die ervaring met ‘n skoon gewete by vriende aanbeveel nie.
Dinge kan vining verander.
Geskiedenis waar ek dit nie verwag het nie, het ek aangetref by ons eerste nag se slaapplek op Van Reenenspas. Ons hotelletjie, die Green Lantern Inn, is 123 jaar oud. Sy deure was in al die jare nooit toe nie, hoewel die Britte die karaktervolle plek met die beleg van Ladysmith in 1899 opgekommandeer het as garnisoen.
Die naam kom van die groen lantern wat jare her in die pas opgehang is om reisigers in digte mis op die spoor te hou.
Sogenaamde “Silent Movies” uit die jare ’30 met sterre soos Charlie Chaplin and Laurel & Hardy word steeds 24/7 op die oorspronklike skerm in die gesellige, ruim sitkamer vertoon.
Nog ‘n kenmerk: die hotel het twee nuuskierige inwonende donkies, Bojangles en Dusty, wat haar neus letterlik in ons kattebak kom steek het.
Later vertel ek meer van hierdie kuier by die kinders, pelgrimstog en ontdekkingsreis, als in een. (hvd)
Jan 16, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Hartenbos in die Kersvakansie het my mond laat oophang: die woonwadorpe soos legkaarte; die gesellige kuiery in die strate van die tradisionele “Kardoodorp”; die geur van tjops en wors op die rooster; duisendes van alle ouderdomme wat in hul bonte stranddrag in die strate dwaal en op kraampies toesak; die see van lywe in die branders…
’n Boere-enklave, noem party hietrdie vakansiedorp aan die Tuinroete by Mosselbaai ietwat uit die hoogte. ‘n Heerlike, informele vakansiedorp waarin ontspanning hoogty vier in die somerseisoen – so lyk die lewendige dorp wat rondom die kern van ‘n rustige ATKV-oord opgeskiet het, eerder vir hierdie vlugtige besoeker.
In elk geval, Hartenbos besit klaarblyklik ‘n onoortreflike trekkrag wat Desember op Desember skouspelagtig ge-aktiveer word. Soos ‘n reuse-magneet trek hy uit elke hoek van die land die getroue Hartenbossers na die Suid-Kaap Sommer baie kom uit Gauteng, Noordwes, die Vrystaat, ens. Hulle kom slaan tent op, haal die hortjies van vakansiehuise af, of keer terug na rondawels en woonstelle waarvoor hulle al jare die deposito uithaal nog voordat hulle huiswaarts keer vir hul gewone roetinebestaan die res van die jaar.
Hartenbossers, ek verstaan nogal julle passie vir julle plek, veral ná salige ure op die stoep van ‘n mooi vakansiehuis hoog teen Loerielaan met skilderagtige uitsigte op die riviermond. Die sonsonderganger en voëllewe is hemels. Dankie, Cules en Dalene Malan van Faerie Glen in Pretoria vir die Van Deventer-ontdekking.
Juis van Cules en Dalene se stoep doen ek en Tokkie een oggend ‘n spesiale Hartenbos-ontdekking. Wonder hoeveel van die geswore Hartenbos-tradisionaliste ken daardie geheim!
Die geheim van die flaminke.
Ek en Tokkie gewaar hulle skuins onderkant ons teenaan die eilandjie terwyl die ander huisgenote nog slaap. Die flaminke vlieg sierlik weg voordat enigiemand anders verrys. Ons deel Cules-hulle mee hoe prentjiemooi die vlug van die flaminke vir ons was … en bemerk dadelik ‘n vreemderige reaksie. Opgewondenheid? Bepaald. Ook teleurstelling en ‘n tikkie jaloesie. Maar voeg skeptisisme by.
Flaminke? Is julle sekert dit was flaminke?
Flaminke inderdaad. ‘n Mooi swerm.
Foto’s?
Nee, my kamera was in die slaapkamer.
O.
Gelukkig keer “ons”: flaminke die aand terug, en die volgende dag en die dag daarna. Cules-hulle sien die flaminke die eerste keer in die tien jaar dat hulle hier op Hartenos kom uitspan. Die bure kiek ewe geesdriftig van hul braaistoep af – vir hulle is dit ‘n eerste waarneming in 15 jaar.
Met hierdie kennis tot my beskikking begin ek toe ook links en regs foto’s neem. ‘n Mens moet darem bewapen wees as ‘n Hartenbosser perdalks die “dom inkommer” se waarnemings wil bevraagteken.
Maar waar daardie besoekers vandaan kom? Moet dit nie vir my vra nie. (hvd)