Jan 29, 2026 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sweef soos ‘n arend, sing minnesanger Bles Bridges in een van die liedjies wat hom beroemd gemaak het. Die toenmalige treffer (uit die stal van Mynie Grove) maal in my kop terwyl ek nadink hoe om my avontuurlike arend-storie te vertel.
Kom ek begin by die tradisievaste Stellenbosse manskoshuis Eendrag waarvan die koshuiswapen ‘n arend met uitgestrekte vlerke is – op ‘n haar na soos die arend op die ou Volkiewapen (Volkies, Potchefstroom).
Kleinseun Thomas Claassens (21), ‘n student in die Regte in sy vierde jaar, is vanjaar Eendrag se primarius. Verlede Saterdag trek hy toe sy dagdrag aan – kleurbaadjie met sakwapen, Chinolangbroek, das, die lot – en spring so gestewel en gespoor op 10 000 voet uit ‘n ligte vliegtuig met ‘n valskerm; sy eerste sprong, maar darem saam met ‘n ervare instruktrise.
Soos ‘n arend sweef Thomas met wapperende kuif op die video van sy avontuurlike daad waarmee hy sy koshuis se arend-wapen op ‘n unieke manier gestalte gee.
Die valskermsprong is deel van ‘n Eendragprojek om HK-lede op sonderlinge wyse aan die nuwe eerstejaars bekend te stel. Een is glo al op ski’s agter ‘n bakkie in die straat af, ‘n ander = ewe deftig aangetrek – onder die stort.
Natuurlik is hierdie oupa nie min trots op sy vindingryke, kreatiewe, avontuurlustige en dapper kleinseun nie. Hy is net dankbaar in sy dae is soortgelyke dade nie van HK-lede geverg nie. Oupa was in 1962 huisvoorsitter van Kollegetehuis aan Tukkies , en het sowat skotvry afgekom. Die ergste uitdagings van daardie studente-era was omtrent ‘n modderbad en ‘n pil deurdrenk van duiwelsdrek aan die einde van die eerste jaar.
Was Thomas nie bietjie bang nie? Nee, oupa, lag hy, dit was heerlik – ‘n onvergeetlike ervaring. Trouens, ‘n reksprong van ‘n brug oor ‘n ravyn het vir hom tevore ‘n groter verskrikking ingehou.
Foto: Verskaf.
Jul 31, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Met die verkiesing van kleinseun Thomas Claassens tot primarius van die Matiekoshuis Eendrag gisteraand word my gedagtes ver-ver teruggevoer tot ‘n aand in 1961 toe ‘n eenderse eer sy oupa Hennie te beurt geval het. Ek het daardie aand primarius (huisvoorsitter) van Tukkies se Kollegtehuis vir 1962 geword.

Ek kan sien hoe straal Thomas van die trots. Oupa se hermpsknope kon ook daardie aand spat. ‘n Groepie vriende is dadelik met my Peugeot 203 (1953-model) padkafee toe om sy verkiesing met ‘n melkskommel te vier. Sal liewer nie vra hoe so iets nou, ses dekades later, gevier word nie. Wat ek wel weet, is hoe ek dit vanaand in Sabiepark gaan vier,
Op die foto links is Thomas en vise-primarius Taro Samuelson. Regs is Kollege se HK van 1962. Agter staan Arend de Waal, Naas du Toit, Piet Theron en Johan de Jager (Jan-Jakob). Sittende is Oom Chris de Wet (huisvader), Hennie Smit, ekke en Pierre le Roux, my adjunk.
Net ek, Pierre en Piet leef nog. Die foto is dowwerig. Rede: dis agter glas. Hang in my studeerkamer op Melkbos.
Sep 30, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ja, dis vroulief Tokkie se granaatrooi Merc daardie. Hoe haar 14-jaar-oue staatmaker op die nippertjie ’n rol in die matriekafskeid van die Hoërskool Stellenberg, Bellville/Durbanville, verwerf het, is ‘n lang, pynlike storie.
Laat ons die detail maar verswyg. Genoeg om te meld dat daar ‘n noodoproep was. Ouma is soos ‘n vetgesmeerde blits hier op Melkbos weg om te gaan red. In die vloot sierlike voertuie het die jarige Merc toe nie afgesteek nie (dink ek). Kyk hoe staan hy daar sy plek vol terwyl kleinseun Jacob Claassens vir sy metgesel, Mia Smuts, na die balsaal begelei. Gelukkig mooi skoon gewees.

Anschen, Thomas, Jacob en Mia.
Buiten vir die impak van die indrukwekkende wiele waarmee die matrieks aangekom het – adellike veterane tot hipermodernes – was die ervaring van twee uur voor die rekenaarskerm vir ‘n YouTube-stroming van elke spoggerige paartjie se verskyning op die rooi tapyt om verskeie ander redes gedenkwaardig.
Oor matriekmodes het ek veel dieper (sic) insigte as tevore. Wonder net of ontwerpers met ‘n skynbare spleet-obsessie vergeet hoe moedswillig ‘n suidoostewindjie kan dreig om te onthul wat nie onthul behoort te word nie, ‘n Milde aanbod van jeugdige boesems het hierdie ou man ook meermale oor swaartekragwette laat wonder. (Thomas en Anschen Truter het in ‘n Alfa-Romeo opgedaag.)