LAG, LAG IN TAMATIESTRAAT

tmatievooorbladDie ganse wêreld is in Tamatiestraat soos nog nie in my lewe van 79 jaar nie.  My idioom is eintlik ‘n volkome eufemisme. Korona keil die wêreld op met ‘n venyn wat ons ergste nagmerries kwalik sou kon optower. Dit saai ontwrigting, ekonomiese ellende, siekte, hongersnood, dood …. op sy minste angs, stres en eensaamheid.

Half ironies dat juis in hierdie ernstige Tamatiestraat-dae my humorboekie Praat-praat in Tamatiestraat ‘n tweede lewe gaan kry.  Die boek-boek (op papirus)  is tien jaar gelede deur die ontslape uitgewer Griffel uitgegee. Kort daarna het Griffel gevou  – darem nie weens my boek nie, hoop ek! Nou het De Novoboeke ‘n e-boek daarvan gemaak. Hierdie week maak hy sy buiging met ‘n voorblad wat my nogal plesier gee. Ek glo julle sal verstaan waarom.

In Tamatiestraat is’ n seleksie van (hopelik) humoristiese blogs/stories uit die HvD-stal, wat in die laaste jaar of drie hier, op my eie webwerf, www.hennievandeventer.co.za, op Litnet of in allerlei Media24-publikasies verskyn het.

In die boek is ‘n 70-stuks hoofstukke. Elkeen is bedoel om die lagspiere te prikkel. En moenie bekommerd wees nie: om te lag is ‘n “lewensnoodsaaklikheid”. Kraai maar dat die trane rol daar in jou geslote ruimtetjie – geen regulasie word oortree nie. Trouens, as jy my vra wat my wens vir die boek is, sal ek antwoord: dat hy in die mond van lesers ‘n nuwe titel kry –  Lag, lag in Tamatiestraat. 

Van die temas wat ontgin word, is die stuitighede by begrafnisse; die vuur en avontuur van opwindende laat liefdes; krom en skewe kommunikasie; dikvellige kuiergaste; mediese moleste, betjoinste boetebessies … noem maar op.

De Novo  noem dit ‘n “plesierige storiebundel” wat allerlei verleenthede, skades en skandes weerspieël wat die uwe in sy omswerwinge slagoffers sien en hoor oorkom het, of, helaas, self oorgekom het. ‘n Voorbeeld van die self-oorgekom-soort, is o.m. die Huisgenoot-storie van die buurtwag wat my en Tokkie, kaalbas in die bad, met sy priemende lig deur die badkamer verras. Dalk is daar mense wat nou nog daaroor tjie-tjie-tjie. Of oor Ouma se rooi nagrok wat so geheimsinnig uit die outehuis op romantiese uitstappies verdwyn het.

Ander se skades en skandes sluit in ‘n arme drommel wil ‘n einde maak aan alles – toe word sy “sterfbed” onder hom uit gekaap. n Entoesiastiese dame sonder ‘n draad storm met ‘n oorlogskreet op haar lippe swembad toe – en ontdek, tot in haar siel geskok, ‘n onverwagte toeskouer.

Vir diegene wat in die grendeltyd lus voel vir ‘n paar opgeruimde oomblikkies verwys ek graag na De Novo se Boekeblad. Laasi gerus Tamatiestraat af. Die adres is  http://www.denovowebs.co.za/product/praat-praat-in-tamatiestraat/   Die boekie is spotgoedkoop, skaars ‘n middelslag bottel wyn se prys, en dié mag julle in elk geval nie nou koop nie.

IN BAD BETRAP DEUR AARDBEWING

Dit gaan maar skud-skud die bult uit as moederaarde oral om jou skielik onbeheersd begin bibber en beef, rukkings kry en rondomtalie swaai.

’n Jonkman van Ceres het ’n Kaapse vriendin oorgenooi om met sy pa-hulle te kom kennis maak juis toe die Richterskaal in daardie kontrei presies 50 jaar gelede woes op loop geraak het.

Die eerste aand van haar kuier sit sy ontspanne in ’n warm skuimbad. Sy werskaf met haar groottoon aan die kraan om die watertemperatuur nog ’n bietjie hoër op te jaag.

Skielik kry sy die sensasie dat ’n onsigbare reusehand die bad probeer omkeer. Die aarde sidder. Diep skeure verskyn in die mure. Buite dreun dit soos donderweer. “Die oordeelsdag het aangebreek!” Dié skrikgedagte flits deur haar brein.

En waar bevind sy haar op hierdie uur van waarheid? Stoksielalleen en poedelkaal in ’n vreemde bad in ’n vreemde huis op ’n vreemde dorp!

’n Paar oomblikke is sy verlam van vrees. Sy klem angsbevange aan die bad se rande. Dan vlieg sy vervaard uit die water, tas in ’n stoom- en stofwolk vergeefs na die handdoek en ruk die deur amper uit sy kosyn.

In blinde paniek storm sy met haar kaal, nat lyf gang-af – net ’n skamele waslappie soos ’n wapperende vlaggie voor haar. Waarheen, weet sy nie.

Haar gasheer, ’n bekende politikus van daardie era, het skaars besef wat aangaan, toe tref ’n tweede skok hom: die mooi jong meisiegas wat te midde van ’n stofwolk onbedek inbars by die vertrek waar hy hom bevind – ’n toneel wat hy later telkens op populêre versoek oor en oor moes beskryf.

“Was sy darem mooi gebou, Oom Jasper?”

Op dié gereelde vraag was die antwoord altyd ridderlik en stoïsyns: “Gits, man, ek wou nog kyk toe gaan die ligte af!”
Die verlore kans het hom verleërig laat grynslag.

Ek vertel die storie in Praat-praat in Tamatiestraat (Griffel, 2010).  Wonder waar is daardie dame nou, en of sy onthou – met afgryse of met ‘n stoute glimlag om haar mond?

WAT DE V..V..V..V…VLEISPASTEI!

More uit Melkbos

Dit is mos maar hoe dit gaan: jy knoop ‘n pakkie lekkergoed vir ‘n kind toe, en net daarna, te laat, te laat, ontdek die ogies allerlei begeerlikhede wat hy/sy darem bitter graag ook daarin sou wou gehad het.

Met stories is dit nie anders gesteld nie. ‘n Boekie met stories soos “Tamatiestraat” kom van die pers – onmiddellik kom ‘n hele spul ander stories oor jou pad wat jy wens hulle was in.

Danie Krÿnauw van Melkbosstrand kry in die voorwoord van “Tamatiestraat” ‘n pluimpie dat hy ‘n “storiemasjien soos min” is. Om gewig aan daardie woorde te heg, trek hy los soos ‘n mini-orkaan. Dis net stories, stories, stories ….

Een van dié waarmee hy gister opdaag, is ‘n mooie oor ‘n begrafnis – ene wat nog moet plaasvind. Hy jok natuurlik dat hy “self die oom gesien het”, want dit is nie ‘n splinternuwe storie nie. So ‘n verpersoonliking is egter part en deel van Danie se arsenaal. Dis waarmee hy baie mense uitvang.

Ewenwel, hier’s Danie se storie dan – hy noem dit “Die Vleispastei”:

“Ek het self die oom gesien wat op sterwe gelê het. Sy dogter het by hom gewaak.

“In ‘n stadium het die oom n paar snuiwe gegee en sy dogter het gevra: ‘Pa, wat makeer?’

“‘Is dit nie jou ma se pasteie wat pa ruik nie?’

“‘Ja, pa, ma is besig om pasteie in die kombuis te maak.’

“‘My kind , gaan haal tog vir my een, asseblief.

“Die dogter is kombuis toe en toe sy teruggekom het , het sy gesê: ‘Sorry pa, maar ma sê pa kan nie een kry nie, want dis bedoel vir die begrafnis…’”

“Wat de v…v…v…v….. vleispastei!” wil ‘n mens amper uitroep. (HvD)

KAALBAS IN TAMATIESTRAAT

Middag uit Melkbos

O gonna, Tamatiestraat (wat uiteindelik gister verskyn het) bevind hom nou in gevaarlike geselskap, lyk dit.

Die gifpyle vlieg om die kop Van Griffel Media (uitgewer van Tamatiestraat, en ook my vorige pennevrug, Byl in my Bos). Gelukkig is dit darem, nie oor die HvD-boekies nie, maar ook Griffel se glanstydskrif Pomp 11 wat ook in hierdie dae sy buiging maak.

’n E-pos veldtog is in die omloop waarin Pomp 11 beskuldig word dat hy op sy voorblad “die vrou tot ’n verbruikersartikel verlaag.”
Kerkbode word karnuffel omdat ‘n advertensie van Griffel op Kerkbode se webblad verskyn. Op grond van onverwante webwerwe word die arme Griffel en Kerkbode sommer deur boses aan kinderpronografie gekoppel, wat darem baie vergesog is! Die uitgewer van Griffel, Hendrik Venter, noem die onsinnige bewerings tereg “onverantwoordelik, domastrant, lasterlik en ’n leuen”.

Op die omstrede omslag van Pomp 11 verskyn ‘n skildery van ‘n nooientjie wat a la die ou-ou Afrikaanse liedjie gaan water haal daar onder by die dam, maar dan, anders as in die liedjie, slegs met ‘n Voortrekkerkappie op die kop!

Venter betoog “die naaktheid van die meisie simboliseer die emansipasie van die Afrikanervrou … ’n simbool van die durf, deursettingsvermoë en sterk karakter van die Afrikanervrou.”

Ek gaan nou hier ‘n geheimpie verklap oor Tamatiestraat, en sal dit dan maar op die kinnebak vat as dit kom. In Tamatiestraat is naamlik ook ‘n mooi kaal meisie. Sy draf met net ‘n fladderende waslappie voor haar naaktheid totaal onbeskermend uit ‘n badkamer.

Of sy ook die “durf en emansipasie” van die Afrikanervrou simboliseer? Nee, dit sal ek nie beweer nie. Sy’t net vrek groot geskrik toe die aarde skielik om haar begin rammel, skud en skeur terwyl sy in ‘n vreemde huis in ‘n warm bad ontspan.

Die arme kind was nou ferplie kaalbas in Tamatiestraat!

Sensitiewe lesers hoef nie te vrees dat ‘n foto van die Tamatiemeisie in die oomblik van haar haar vrees en verleentheid in my boekie verskyn nie. Haar verskyning in gemengde geselskap was glo net momenteel. Die volgende oomblik was die ligte af in die chaos van die aardbewing wat haar paniekbevange uit die bad gedwing het. Selfs die huisbaas kon later nie mooi onthou wat hy gesien het of nie gesien het nie – of so het hy beweer.

In elk geval, lees liewer self die boek . Dalk is daar ook ‘n paar ander verrassings aan die kaalnooi-front. Maar niks stout foto’s nie, hoor! (HvD)

* Praat-praat in Tamatiestraat sal binnekort op die rakke van boekwinkels wees (ook die CNA), en natuurlik by Kalahari, On The Dot en so. Hy kos R160,00. Die boek kan ook direk bestel word by Boekblik by die volgende skakel: http://www.boekblik.co.za/pGRIFFEL43/Praat-praat-in-Tamatiestraat.aspx

My lojale vrou, Tokkie, meen dit sal ‘n oulike Kersgeskenk wees, maar natuurlik nie vir my nie, omdat ek die inhoud ken. Ek het hoeka nuwe naskeer nodig.