Feb 27, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
.

‘n Diens op die grasperk voor die Skukuzakerk in die grendeltyd. Ds. Carl staan regs.
In Skukuza, 2 000 km van Melkbos, breek more ‘n waterskeidingsoomblik aan waar vele trane gestort gaan word.
Na 29 jaar as leraar van die gemeente Krugerwildtuin lê ds. Carl Louwrens die tuig neer. Hy en Sarah verlaat hul geliefde wildtuin en gaan tree af in Pretoria. Amper ondenkbaar: hulle wat so deel van die landskap was soos die reuse-koorsboom by die westelike ingang of die rooibokkies wat voor die kerktrappies wei, verdwyn net skielik van die toneel.
My en Tokkie se bande met daardie karaktervolle kerk, hartlike leraarspaar en gasvrye gemeente (net 80 lidmate) strek van 1998 af. Ons is lief vir hulle. Ons beleef ‘n gevoel van “behoort”. In die gees sal ons more daar wees waar ds. Carl buite op die trappies sy afskeidspreek hou. Weens Covid-19-protokolle kan hy nie vir oulaas die kansel bestyg nie.
Sal wat wil gee om insae te hệ in die kaleidoskoop van herinneringe waarmee Carl en Sarah more gaan groet – aan verwoestende vloede, die krisis van ingrypende rasionalisasie by Sanparke, roerende Paasdienste op die Granokoppie, luiperd-aanvalle op ‘n lidmaat en die seuntjie van ‘n lidmaat, die krokodildrama by die gholfbaan, opwindende half-marathons elke eerste Saterdag van Augustus, gholfdae, die bediening in Mosambiek, die kleuterskooltjie in Huntington – te veel om op te noem.
Oor kerk in Skukuza kan ‘n mens maklik liries raak. In die intieme kerkie in die boomryke personeeldorp in “God se tuin” spoel die gewyheid Sondae verheffend deur jou gemoed. Die kerk spog met die enigste pastorie in die wêreld wat in ʼn wildtuin is. Skukuza se kerkklok is een van min – dalk die enigste – wat aan ‘n stuk hardekoolstam hang. Die doopvont is in ‘n hardekoolstomp. Die hout, soos die van die preekstoel, kom alles uit die Krugerpark. Alles verraai dis nie jou gewone gemeente nie.
‘

Saam met die egpaar Louwrens op ‘n veldpiekniek in die wildtuin in 2010: Tokkie en die tweeling Jacob en Thomas.
n Stiltenagmaal op ‘n weekmiddag terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom hul eie koorsang aanhef, is baie spesiaal. Dienste word meermale in die natuur gehou: op die die indrukwekkende Mathekenyane-granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe, op die wal van Lake Panic en op die gholfbaan. Paasdienste op die koppie is werklik uniek. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.
Aand-geleenthede op die granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. . ‘n Kerssangdiens eindig ook altyd met ‘n tradisionele agterna-kuier om die kospotte.
‘n Agtelosige vlakvarkmoeder en haar kroos is al deur ‘n skoonmaker binne die kerk toegesluit. Die besorgde ma begin toe benoud teen die deure stamp. Ds. Carl moes ontbied word om die onverklaarbare gestommel te kom identifiseer. Toe hy oopsluit, sien hy net krom tande. Die verligte vlakvarke draf ná die herderlike ontsetting stertjie-orent op ‘n verontwaardigde drafstappie die personeeldorp in.
Besoeke van ander diere soos olifante en hiënas eindig darem altyd buite die kerk en nie binne nie – net een keer het ‘n hiëna by ‘n kerkraadsvergadering om die deur geloer. ‘n Olifant het al sy bolle kom los direk onder die kerkklok.
Veel van die uniekhede van hierdie “uniekste gemeente in die wệreld” is gelukkig onveranderlik. Dis net die gesigte van opeenvolgende generasies wat kom en gaan. Tog: die afwesigheid vorentoe van Carl en Sarah Louwrens beteken nie sommer net ‘n doodgewone verwisseling van mense-seisoene nie. Dit gryp veel dieper.
Die vreemde gedagte om voortaan Sondae Skukuza roe te ry en hulle nie daar aan te tref nie, gaan tyd neem om aan gewoond te raak. Indien ooit.
Vir die twee is die wense vir ‘n gelukkige, gesonde en geseënde rustyd. Die wense kom met dank uit die hart vir hul bydrae oor meer as twee dekades om die periodieke belewing van ‘n boslewe vir ons verrykend en vervullend te maak.
/
Jul 27, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met Skukuza wat gisteraand aangewys is as “Kwela” se Dorp-van-die-Jaar-finalis vir Mpumalanga plaas ek graag weer ‘n bloggie wat al voorheen verskyn het – ook in die tydskrif “Weg”. My stuk is natuurlik meer op toeriste gemik. Vir Kwela se kompetisie is ‘n sterk elemengt ‘n dorp se leefkwaliteit vir sy inwoners.
Nietemin, met die persoonlike ode aan Skukuza betoon ek dan graag my solidariteit aan “my dorp” die tye datr ek in Sabiepark is.
Skukuza is verreweg die grootste kamp en die slagaar van die Kruger-wildtuin. Al die fasette van ‘n omvangryke infra-struktuur is daar saamgeknoop. Soek jy ‘n dokter, ‘n poskantoor, ‘n noodhersteldiens vir jou motor, noem op – Skukuza is die regte adres.
Nie alle Wildtuinbesoekers is egter versot op Skukuza nie. Te besig, sê baie. Hulle oornag net in die kamp as laaste toevlug – indien die ander kampe tjok en blok is. Vir diegene het ek nuus. Hier is my lysie van vyf sleutels tot die hart van Skukuza – en tot ‘n kuiertjie wat deur en deur die moeite werd sal wees.
1.Twee ure van betowering
Vat ‘n fles koffie of wyn en gaan sit minstens twee ure by die voëlskuiling Lake Panic. Watervoëls is gek na die pragtige plek. Jy sien sierlike bosbokkies en njalas, hope seekoeie, krokodille en skilpadjies. Ons het olifante raakgeloop wat hul kinders “swemlesse” gee. Wees geduldig, net agt motors word toegelaat. Moet nie jou kamera, verkyker en voëlboek vergeet nie. Bring jou la-a-a-ngste lens. Beter foto-geleenthede duik min op.
- Bospiekniek
Pak ‘n piekniekmandjie en soek ‘n afgesonderde plekkie uit diep in die bos by Skukuza se afsaalplek vir dagbesoekers aan die Sabierivier. Huur ‘n braaiskottel. Dit word agter jou aangepiekel. Oorkant die rivier is baie wildpaadjies en ‘n gewilde drinkplek. Loer maar af en toe soontoe. Alternatief: As jy tyd en lus het om verder te ry, vat ‘n halfdag-uitstappie na Nhlanguleni wes van Tshokwane. Dis werklik bos, heerlik aards en primitief met silwerskoons toilette.
- ‘n Potjie avontuurlike gholf
By Skukuza se gholfbaan moet elkeen ‘n vrywaringsvorm teken. Oral is waarskuwings soos: “Pas op vir leeus.” Word jy “aangeval, gegaffel of verskeur”, dis vir jou rekening! Verwag vars seekoeispore of stomende olifantmis op die setperke. ‘n Leeu het al by die eerste putjie aan buffelvleis gesmul. Die ruim grasdak-klubhuis is beroemd vir sy ontbyte – groot porsies, smaaklik, niks duur nie. Die kroeg is altyd oop … en die uitsig oor die setperk op die meer is hemels.
- Gaan kerk toe
Gaan kerk toe. Vakansiedrag is doodreg. Die rustigigheid in die intieme kerkie in die personeeldorp spoel verheffend deur jou gemoed. Ds. Carl Louwrens het altyd ‘n boodskap wat tref, en die hegte klein Skukuza-gemeenskappie is gasvry verby. Kyk uit vir die knoetsige hardekool van die kerkklok en doopvont. Veral spesiaal is ‘n stilte-nagmaal op ‘n weekmiddag terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom hul eie koorsang aanhef. Sondagdienste begin om 08:30.
- Boeiend en ontroerend
By die Stevenson Hamilton-gedenkbiblioteek herroep boeiende uitstallings die Wildtuin se romantiese geskiedenis. Jy kan die kosbare natuurboeke deurblaai en koerant lees (gewoonlik net ‘n dag oud) of by die hondebegraafplasie onder ‘n koelteboom talm: ‘n kolletjie ontroerende “heilige grond”. Elke klipstapeltjie of eenvoudige steentjie vertel ‘n storie van die band tussen ‘n veldwagter en ‘n getroue vierbeen-vriend wat baie kampvure en avonture gedeel het. ‘n Mens voel om jou hoed vir almal te lig.
Sien jou in Skukuza!
Jan 28, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kerk in Skukuza.
Sondag toe ons die unieke doopvont – ‘n knoetsige stomp hardekool op wieletjies (omdat dit so swaar is) – voor die kansel sien staan, besef ons dadelik: vandag word hier gedoop in Skukuza-kerk.
Doop is, raar maar waar, ’n seldsaamheid in die wildtuingemeente. Sondag was maar ons tweede in die oor die 20 jaar dat ons in Sabiepark kom kuier. Dit beteken natuurlik geensins in al die jare is net twee keer gedoop nie, genade, nee – maar ds. Carl Louwrens bevestig: die doop is ’n sakrament wat in sy kerk nie aldag bedien word nie Hoekom, weet hy nie. Sy eie plig het hy immers nie in die verband versuim nie, gee hy met ‘n vonkel in die oog die versekering.
So min word, trouens, gedoop dat hy elke keer skaars sy lus kan bedwing om die hele uitvoerige doopformulier woord vir woord te lees voordat hy die gebruiklike vrae aan die doopouers stel.
Sondag het die doopouers, Conrad en Maya Booyens van Letaba, hom as ’t ware gesystap – darem met sy goedkeuring. Die doop-belofte was ’n intieme selfgeskepte dokument. Mamma Maya het dit voorgedra – plek-plek met ’n bewende onderlip. Pappa Conrad, trots soos ‘n pou, het uit die Bybelboek Sagaria ’n stukkie voorgelees.
Klein Hugo Booyens was ’n regte meneertjie so met sy deftige kruisbande en al. Stroopsoet en geduldig het hy in sy ma se arms gesit terwyl ’n video van hom in ’n verskeidenheid monderings in verskillende omgewings vertoon is. Op een skyfie was hy op ’n antieke wakis, het dit gelyk. Op ’n ander weer op ’n moderne smuktassie. Elke grootouer het kans gekry om vir die kamera die kleinkind vas te hou.
Wat my en Tokkie betref, was hierdie karaktervolle doop ’n tradisie wat voortgesit is. Ook ons eerste doop in hierdie intieme boskerkie in die personeeldorp, waar vlakvarke soms die grasperk omdolwe en voëls in die reuse-koorsboom by die trappe hul eie koorsang aanhef, was iets om te onthou.
Die meisietjie se rokkie was die ene donsige tarentaalveertjies. ‘n Kinderkoor het haar toegesing, ‘n CD is gespeel en in die voorportaal was ‘n reuse-tietiebottel: een waarmee wees-olifantjies gevoed word. Na die diens was daar ‘n kreunende koektafel onder die bome wat elke kerkbasaar eer sou aandoen. Die dooptee was vir almal in die kerk – ook vir die uwe in sy sportiewe vakansiedrag wat toe nog ‘n volslae vreemdeling vir die liewe mense van Skukuza was.
Ds. Carl het altyd ‘n boodskap wat tref. Sondag het hy almal weer diep laat nadink oor die voorbeeld wat hulle stel vir hul kinders wat hul voetspore sal moet volstaan. Hoor julle kinders julle byvoorbeeld ooit hardop bid? Sit julle ooit saam om ‘n tafel en lees uit die Bybel?
In April doop hy ‘n eie kleinkind – sy tweede dogter, Madge, se dogter – in die gemeente Blouberg in die Kaap, ons buurgemeente. Vir seker gaan die Van Deventers die geleentheid bywoon, Wonder net of die hele formulier dan gelees gaan word. En of ds. Carl dalk ‘n bietjie bewoë gaan raak, soos sy vrou, Sarah, stellig verwag.
Aug 6, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Konfrontasie!
van die vreugdes van ‘n vakansie in die bos is die Sondagbesoeke aan die karaktervolle kerkie in die personeeldorp met sy duursame inheemse hout oral, gewyde atmosfeer en natuurlike omgewing met ‘n reuse-reuse koorsboom by die een ingang.
Aanbidding saam met die intieme klein gemeente is ‘n geestelike verfrissing wat vrymoediglik by alle wildtuingangers aanbeveel word. Vakansiegangers hoef nie te vrees dat hulle skeef aangekyk sal word omdat hulle nie “aangetrek” is nie. Dienste is om 08:30 winter en somer. Almal is welkom.
Die een diens wat vir die uwe uitstaan, was die van Sondag 4 Augustus 2019. Die preek van die leraar, ds. Carl Louwrens, was ‘n boeiende kragtoer, soos altyd – sonder ‘n enkele nota en met ‘n goeie skeut humor. Maar jammer, ds. Louwrens, dis nie jou preek waaroor ek dit hier het nie. Ek wil vertel van die rit van 15 kilometer van Sabiepark tot by die kerk.
Skaars twee kilometer gery, kry ons ons eerste luiperd van die dag in die Sabierivier skuins voor die Protea Hotel tussen die riete. Dis ‘n fris mannetjie. Dié is in ‘n soort sielkundige oorlog gewikkel met ‘n trop bobbejane wat omtrent die horries wil kry van die opgewondenheid. As hy maak of hy mik, retireer die ou lot met ‘n spoed. Staan hy stil, skuif die bobbejane arrogant nader met die hoofman oor honderd handeviervoet op die voorpunt. Hy sluip al hoe nader en koggel die luiperd jillend.

Die sprong.
Die luiperd vererg hom, en gee van die klip waarop hy staan ‘n elegante sprong in die sekelsterte se rigting. Toe moet jy sien hoe begewe die bende lawaaigatte se moed hulle. Hulle skarrel oor die brug tussen die motors deur, die dapper generaal losvoor. Die granietbeeld van Pres. Paul Kruger bied ‘n aantreklike plek van veiligheid. Op sy kop sit die naderhand swart. Wetende wat skrik aan bobbejane se spysvertering doen, skat ‘n mens ‘n goeie skrop sou dalk vir Oom Paul se kop nodig gewees het.
Wat die luiperd betref, was die speletjie egter verby. Die toonbeel van waardigheid, vind hy sy weg oor die rivierklippe, en verdwyn onder die brug.
Nou moet ons aanstoot. Net agt kilometer verder, by die afdraai na die Lake Panic-voëlskuiling , gaan die remligte van die bakkie voor ons skielik aan. Ek volg sy voorbeeld en bring die Honda ook vinnig tot stilstand. “Leeu!” Die bestuurder van die bakkie vorm die woord met sy lippe. Maar toe is dit nie ‘n leeu nie, wel luiperd nommer twee. Weer ‘n mannetjie.
Hy kom uit die bos en gaan maak ‘n draai oorkant die grondpad. Deurentyd merk hy sy gebied af. Toe maak hy ‘n regsomkeer. Reg van voor kom hy op ons afgestap. Jy sou aan hom kon vat. Die laaste foto is net ‘n blerts. Hy was eenvoudig te naby.

Nommer twee.
Die laaste sien is toe hy so tussen die motors deur oor die H11-teerpad vleg. Oorkant verloor ons hom in die langerige wintergras.
Gelukkig is ons betyds by die kerk – net toe die klok aan ‘n hardekool-stellasie sy eerste en laaste lui lui. So betyds dat ons nog vinnig kan vertel en foto’s wys om ander kerkgangers jaloers te maak.
Voorheen het ons in seker ver meer as honderd ritte kerk toe al ‘n luiperd in die pad gekry. Ons het al leeus gesien, ‘n renoster en selfs een keer wildehonde. Olifante is gereelde kalante op die roete. Maar twee luiperds – boonop so na aan mekaar en sulke oop teikens vir die kamera se oog! Dit teken die Van Deventers aan as ‘n een- keer- in- ‘n- leeftyd-belewenis.
Party vriende trek ‘n verband tussen die wonderlike waarnemings en getroue kerkbesoek. So asof dit ‘n beloning kon wees. Hoe teologies korrek die teorie is, weet ek nie. Ander kla dat dit darem nie regverdig is nie. Hoe gelukkig kan party mense nou nie wees nie!
Vir hulle is my antwoord: gaan kontroleer ‘n bietjie hoeveel keer per jaar ry die Van Deventers daardie paadjie. Twintig jaar al. Dikwels sien ons tussen Sabiepark en Skukuza enkele rooibokkies en nie veel meer nie. Maar dit is mos nou maar een maal so soos Gary Player graag opgemerk het: “Hoe meer jy oefen des te gelukkiger raak jy.”
Jun 15, 2016 | Vars Blog

Bokkies wei onder die reuse-koorsboom onder die kerk.
Kerk in dreigende reën op ‘n verlate koppie op die oop vlakte; piekniek knus in die kerk tussen die kerkbanke. Waar gebeur iets so raar? Hier’s leidrade: in dieselfde kerk is al ‘n vlakvarksog en ses kleintjies per ongeluk toegesluit, het ‘n dronkgeslaande hiëna by die konsistorie se deur ingeloer terwyl die kerkraad vergader, en moet kruiwavragte olifantmis van tyd tot tyd op die grasperk opgetel word.
Waar anders as in die Krugerwildtuin? Om meer presies te wees: waar anders as in die unieke NG gemeente Krugerpark in Skukuza, wat pas sy 30ste verjaardag gevier het. Dit is Van Deventers se bosgemeente wanneer ons in Sabiepark kuier, en ons is verkleef aan ons kerkie.
Die atmosfeer binne is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Die kerk spog met die enigste pastorie in die wêreld wat in ʼn wildtuin is. Skukuza se kerkklok is een van min – dalk die enigste – wat aan ‘n stuk hardekoolstam hang. Die doopvont is in ‘n hardekoolstomp. Die hout, soos die van die preekstoel, kom alles uit die Krugerpark.
Om te aanbid terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe (voordat die onthutste kerkraad dié plek van aanbidding laat omhein het), rooibokkies by die voordeur wei, of voëls hul eie koorsang aanhef in die reuse-koorsboom by die kerktrappies kan nie anders nie as om jou opnuut van die wonder van die Skepping bewus te maak. (Daardie monumentale boom maak op sigself ‘n ritjie die personeeldorp in die moeite werd).

Indrukwekkende hout-preekstoel.
Dienste word meermale in die natuur gehou: op die die indrukwekkende Mathekenyane-granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe, op die wal van Lake Panic en op die gholfbaan.
Paasdienste op die koppie is werklik uniek. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.
Op Sondagaand 16 Maart 2008 het oud-kollega Herman le Roux en sy vrou, Rina, van Randburg op die granokoppie die viering van Palmsondag saam met ons meegemaak – ‘n spesiale geleentheid vir die Van Deventers persoonlik, vir omdat ons met vreugde en dankbaarheid kon terugdink aan ‘n verbintenis van tien jaar met Sabiepark.
In die Wildtuin en omstreke daal die kwik daardie Sondagmiddag skielik dramaties. Teen 17:00 kan jy die reën in loodgrys vlae uit die verte sien aankom. Die skraal windjie begin aan die sambrele ruk. Maar die Gideonsbendetjie op die koppie druk dapper deur. Met palmtakke in die hand word entjies-entjies teen die steilerige koppie opbeweeg om die gebeure van die Paastyd treffend met woord en lied in herinnering te roep.
“Ons Koning kom!” (‘n lied uit die Moreleta-sangbundel op die wysie van “Ons roem u Naam”) – hoe verheffend sulke kerkliedere met kitaarbegeleiding in die naderende aand in die bos klink, terwyl die eerste druppels jou hare nat spat, is moeilik om te beskryf. Dis ‘n sielservaring.

Ons boskerk in Skukuza.
Die koue en reën slaan hul kake egter in. “Kerk toe,” gebied ds. Carl, en daar trek ons toe met ons stoele, mandjies en wat nog. Piekniek in ‘n kerk? Dit is vir die uwe ‘n eerste. As daardie kerkbanke maar kon praat, sou hulle nogal smaaklike stories kan opdis, ook van ander vreemdhede. Net twee weke vantevore was byvoorbeeld die vlakvark-insident.
Die agtelosige moeder en haar kroos is deur ‘n skoonmaker binne toegesluit. Die besorgde ma begin toe benoud teen die deure stamp. Skukuza se leraar, ds. Carl Louwrens, word ontbied om die onverklaarbare gestommel te kom identifiseer. Toe hy oopsluit, sien hy net krom tande. Die verligte vlakvarke draf ná die herderlike ontsetting stertjie-orent op ‘n verontwaardigde drafstappie die personeeldorp in.
Besoeke van ander diere sdoos olifante en hiënas eindig darem altyd buite die kerk en nie binne nie – net een keer het ‘n hiëna by ‘n kerkraadsvergadering om die deur geloer. ‘n Olifant het al sy bolle kom los direk onder die kerkklok.
Ds. Carl is ‘n man vir simboliek. Toe ons op 14 Maart 2004 ons eerste Paas-sangdiens bywoon, word brood gebreek wat deur sy vrou, Sarah, gebak is. Spykers word ook uitgedeel om ons aan Golgota te herinner. Elkeen ontvang ‘n kruis wat kunstig uit palmtakke gevleg is. Toe Paaseiers een jaar uitgeruil moet word, dam Tokkie, by gebrek aan die ware Jakob, twee gekookte hoendereiers met ‘n viltpen by. Sy verfraai die doppe met sirkels en bind strikkies om. Die ontvangers “oe” en “aa”, al was dit dalk net uit hoflikheid.

Kitaarbegeleiding op Granokoppie op Palmsondag. Links is ds. Carl Louwrens.
Aand-geleenthede op die granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Enkele jare gelede, toe skoonseun Brent Claassens (wat vinnig ingespan is om die rol van ‘n Romeinse soldaat te vertolk) en dogter Marisa teenwoordig is, daal duisende stinkbesies teen die einde op die gemeentelede neer. Hulle moet vinnig die aftog blaas en in Skukuza verder gaan kuier.
‘n Kers-sangdiens eindig ook altyd met ‘n tradisionele agterna-kuier om die kospotte.
Ds. Carl is ‘n man met ‘n fyn humorsin. In ‘n gemeente-nuusbrief vertel hy van ‘n dooie leeu wat hy teengekom het, op pad terug na Skukuza van ‘n sendingaksie aan die oosgrens af. Toeriste het hom beduie waar dié karkas lê. Dié leeu is oënskynlik deur buffels doodgemaak, wat nogal meer gebeur as wat baie mense besef. Ds. Carl vertel:
“Soos dit ‘n verantwoordelike burger betaam, kontak ek een van ons gemeentelede die oomblik toe ek ‘n sein op die selfoon kry. Ná ‘n paar minute se verduideliking van die presiese plek is ek tevrede en gaan voort met my lewe. Die inligting word verwys na die staatsdiereartse. Later vind ek uit dat die man van veeartsenydienste wat die leeu gaan soek het, redelik gesukkel het om op grond van my aanduidings die plek te identifiseer. Ná ‘n groot gesoek is die leeu toe opgespoor en bevestig dat buffels hom doodgemaak het.
“Droogweg merk ons veeartseny-kollega na bewering toe op: ‘As dít is hoe die dominee die pad aanwys, is ek baie bekommerd oor sy gemeente!’”