Aug 6, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Terwyl die winde van verandering so sterk by koerante waai, is dit dalk nie ‘n slegte plan vir koerant-verslaafdes om ‘n skilder se dienste te bekom ten einde ‘n permanente herinnering te skep nie.
‘n Vriend stuur Sondag vir my die mooi skildery van ‘n koerantleser deur Coleen Shield (foto 1). Die eienaar is Hester van Rooyen, voorheen van die WNNR se rekenaar-afdeling en later vennoot in ‘n onderneming wat werk vir onder meer Danel, Transnet, Weermag en Telkom gedoen het. (Sy was een van die eerste mense wat in SA ‘n meestersgraad in rekenaarwetenskap gekry het – klaarblyklik ‘n slim vrou.)

Hester het die skildery jare gelede op ‘n uitstalling by die Dieretuinmeer by die skilder self gekoop. Die vriend se oog val toe daarop toe hy Sondag haar gas was by ‘n middagete en dink ewe bedagsaam aan Van Deventer.
Praat ‘n mens van koeranteskilderye, moet jy natuurlik nie Danie Marais s’n van ‘n Volksbladleser vergeet nie. Dit hang in Volksblad se kantore in Bloemfontein en is op die voorblad van die uwe se laaste boek, “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” (Naledi). Danie, nou van Langebaan, het dit as opdragwerk vir die direksie van die Nasionale Pers geskilder as geskenk aan Volksblad met sy eeufees in die goeie ou dae. Vir diegene wat al vergeet hoe dit lyk, sit ek ‘n foto by (foto 2).
Nov 9, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Watussi-vrou – Irma Stern se R13 miljoen-meesterstuk
More uit Melkbos
Of ek vandag uit selfbejammering skryf, of uit afguns, of uit onkunde, moet elkeen maar vir homself/haarself besluit.
‘n Groot advertensie op Die Burger se voorblad kondig aan: Stephan Welz is op pad Kaap toe. Dus, mense, ruk op met julle ou meesters, laat die ghoeroe vir julle vertelle of julle ‘n goudmyn teen die muur het of ‘n waardelose prul.
Die advertensie herinner my aan drie dinge:
Die eerste: die vriende, liewer naamloos uit vrees dat kunsdiewe kan kennis neem en onheilige planne begin smee, met ‘n Irma Stern aan hul eetkamermuur.
Ek loer telkens daarna wanneer ek die voorreg het om by die gasvrye mense aan tafel te kom. Sal ek of sal ek nie? Die versoeking is darem groot om die een of ander “vanishing trick” uit te voer wanneer die gasvrou vinnig kombuis toe glip en die gasheer die glasies gaan vul.
Sal hulle dadelik raaksien as daardie stukkie muur kaal geraak het? Moontlik, want hulle kan nie onbewus wees van die asemrowende pryse wat me. Stern se skilderasies oral op veilings behaal nie. R13 miljoen vir ‘n Wattusivrou – sjoe!
Die twee ding waaraan ek dink, is die relatiewe waardeloosheid van die “kunswerke” aan die uwe se eie mure, helaas. Skilders wat ge-affronteer voel omdat van hul produkte, na hul wete, in Van Deventerbesit is, moet tog maar vergewe, maar die hartverskeurende waarheid is dat geeneen van die betrokke werke mnr. Welz na verwagting buitengewoon sal imponeer nie.
Een van die uitsig op Tafelberg van onse Melkbosse stoep af was ‘n geskenk met my aftrede in 1998. Vir my nogal besonders – net ongelukkig van die yslike boom op die strand. Ek woon nou al dertien jaar op Melkbos en soek nog vergeefs na daardie boom. Dalk is dit wat die kenners ‘n surrealistiese werk sal noem!
Hoop Tafelberg word een van die nuwe “sewe wonders” – ek was een van die eerstes wat gestem het ondanks die misdadigheid in sy klowe – want net altemit slaan ek dan ook ‘n slag. Sit, so tussen ons, met nog ten minste drie ander Tafelberg-weergawes teen die muur – een buitengewoon vrolik met die flambojantste kleure.
Die skilderes, een met ‘n Melkbos-adres, het volgens eie mededeling een skemeraand met sonsondergang met ‘n bottel wyn op die stoep kom stelling inneem op wag vir die Muse. Of die kleureweelde van die Weskus-sonsondergang of die genot van die koue wyntjie die beste in haar skildery weerspieël word, is seker iets waaroor ‘n mens kan bespiegel.
Ek dink aan ‘n derde ding en dit is Gert van der Walt se suksesvolle en onsuksesvolle inskrywings vir ‘n kunskompetisie in die jare rondom ’60 by die Nasionale Museum in Bloemfontein.
Gert was ‘n landskapskilder uit Trompsburg se wêreld – later, na sy egskeiding, Port Elizabeth – wat veral in die jare ‘50 vele doeke met romantiese landskappe die lig laat sien het. Ek het met sy werk kennis gemaak by ‘n studentemaat wat stief-familie was, en in die distrik Philippolis geboer het – nie ver van Trompsburg af nie, wat natuurlik van hom ‘n gerieflike aflaaipunt gemaak het vir Gert se minder bevredigende produkte.
Ewenwel, een naweek toe ek en Tokkie daar kuier, sien ons die twee woelige seuntjies van ons gasheer en –vrou veerpyltjies na ‘n vreemde teiken werp. Dit was ‘n Gert van der Walt-skildery. Maar dis nie my storie nie. My storie is dat Gert hoopvol vir daardie kompetisie ingeskryf het. Toe word sy inskrywing waarin hy sy kunstenaarsiel gestort het, subiet afgekeur.
Gert was onhebbelik in sy gesig gevat. Hy gryp toe boos sy pajamabroek, doop dit in ‘n poespas van kleure en smeer dit lukraak af aan ‘n doek of twee. Daarmee sit hy af Bloemfontein toe. By die beoordelaars kry dit waarderende oe’s en aa’s. Uiteindelik hang dit teen die mure wat te verhewe geag was vir sy ernstige poging, met moeite volbring.
Was nogal ‘n verleentheid vir die Vrystaatse kuns-“establishment” toe die stuk moedswillige wraak in Die Volksblad onthul is. Wonder of mnr. Welz dit as prulle sou oormerk – en of die pajamakuns dalk regtig goed genoeg was om op ‘n veiling ‘n bieër met baie pitte se aandag te trek. (HvD)
May 4, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Op Melkbos se stoep: HvD, Ben en Hannetjie
Middag uit Melkbos
Die uitdrukking “vir Afrika” om oorvloed te beskryf, is vir my ietwat vreemd, want al oorvloed wat Afrika werklik ken, is oorvloed aan mense (en armoede en versukkeldheid).
By my neef Ben Smith en sy vrou, Hannetjie, in Jukskeiweg, Kelland, Randburg, kry jy meer as een ding in oorvloed. Teen hul mure hang minstens 100 oorspronklike skilderye – plek-plek tot drie diep. In die manjifieke tuin (al gewys op TV en in tydskrifte) is ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam swem hope reuse-koivisse. In hul harte is ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.
In Ben se kas is ‘n oorvloed wat letterlik “vir Afrika” is. In drie netjiese rye lê 45 onderbroeke . Dit is “vir Afrika”, want Ben, wat Afrika in sy jonger jare platgery het met sy Sani en spesiaal geboude sleepwa, wou nie onderbroeke was as hy op safari is nie!
Aan die einde van ons Sabiepark-vakansie het ek en Tokkie drie dae by die Smiths gekuier. Voor ons vertrek het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”
Ja, Hannetjie is nie net ‘n voorslag-tuinier wat pryse inpalm en as ‘n soort Moeder Owerste vir die Soweto-tuinbouklub praktiese uitreik beoefen nie – sy is ook kosmaker by uitnemendheid. Sy toor met hoender! Haar wenresepte swerf die wêreld vol.
Oor Ben en Hannetjie sal ek maklik te lank skryf, want ek en Tokkie is aan hulle baie verskuldig – het o.m. een keer ‘n maand lank met kinders en al by hulle ingetrek toe ons aan die Rand moes nesskrop in 1974. Daardie twee huiwer ook nie om op die vliegtuig Kaap toe te klim vir troues, verjaardae en sulke spesiale dae by die Van Deventers nie.
Toe hulle hier was vir my 70ste het Ben, tot my lewenslange dankbaarheid, raak gediagnoseer wat die oorsaak is van die alewige, raaiselagtige gerammel van ons stoepdak elke keer sodra die Suidoos lostrek. Hy het dadelik ‘n stukkie plank by die hardewarewinkel gaan kry (presies die regte lengte en breedte) en dit op presies die regte plek met die hamer ingekap. Die dak is stil.
Ben se hande staan vir niks verkeerd nie. Hy glo ‘n Boer maak ‘n plan – hoewel sy kaste vol gereedskap nou grootliks moet terugstaan vir die rekenaar, wat hy op 76 entoesiasties en met verrassende kundigheid omvattend benut. Sy versameling foto’s (nooi geweet Mr. Bean het so ‘n wulpse dogter dogter nie!), video’s, slimstories en wat nog op sy hardeskyf is om jou hande oor saam te slaan. Hy weet presies waar om wat te soek.
Nou in Johannesburg het Ben opgemerk dat ek en hy nog nooit vasgesit het nie. Ons het werklik nooit nie, vandat ons as seuntjies saam vlieërs – “diamonds” en “swallows” – gevlieg het op Kimberley se mynhope. Ook nie toe ek jare later, in Pretoria, met sy motorfiets in Pretoria neergeploeg het nie. Ons sit nou op ons oudag nie nog nie vas nie, hoewel ons albei sterk menings oor verskeie sake het. Ek vermoed ons swyg liewer soms diplomaties as om mekaar uit te lok!
Oor Ben kan ek die jongdae-herinneringe inryg. ‘n Herinnering, wat ek op my 70ste opgediep het, is hoe ons een aand in die Velskoen-inry ‘n oulike Rietfonteinse buurmeisie, Heather, “gedeel” het. Voor pouse het sy en Ben agter in die motor gesit. Ná pouse het hy ewe ridderlik (en met goedgunstige instemming van die nooi uit ‘n kloosterskool) met sy jonger neef plekke geruil.
Ek onthou ook ‘n partytjie by een van Ben se vriende. Ons is met sy sy eerste motor, ‘n Opel Kapitan, daarheen. Ek en ander studentemaats het weens pure stuitigheid op die dak van die Opel gery.
Almal ken Ben as Ben. Sy seuns, Brent en Brian, noem hom Ben. Sy skoondogter, Michelle, noem hom Ben. Sy kleinkinders, Teegan en Kyle, noem hom Ben. Die huishulp, Maggie, noem hom Ben. Letterlik almal noem hom Ben.
Dit sluit ook die leerskare bankamptenare in wat hy by die bankvakbond Sasbo gedien het. Ben het die land platgery om kontak te hou – twee miljoen myl, het hy bereken. Later het hy hoofsekretaris geword. Dit was goue jare vir Sasbo en vir Ben. Hy is een van die gelukkige mense wat geensins twyfel nie: As hy weer kan kies, wil hy geen ander loopbaan hê nie.
Oor name: Die Smiths se skoondogter, Michelle, kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”. Omdat dit darem nie sou deug as die kleinkinders hul ouma “Granny Smith” noem nie, het sy “Apples” geword.
Dié storie het ek al vertel. Maar ek vertel dit graag weer, want Ben en “Apples” is twee erename, ook in ons boekie, vir twee wellewende mense vir wie baie ander mense om goeie redes baie tyd het! (HvD)