SY WAS ‘N ROTS

Sy/haar onderhoude met spesiale mense is deel van elke joernalis se memoires. Gedenkwaardige eie onderhoude wat vinnig by my opkom, was met  uiteenlopende karakters soos Thabo Mbeki, Harry Oppenheimer, Tretchikoff,  Gerhard (Spiekeries) Viviers, Francesco, die witgesig-nar, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Jamie Uys, Anneline Kriel, Sonja Herholdt,  Ampie Roux, vader van ons eie  “bom”, Buurman van Zyl, legendariese Bloubul-afrigter, Thys Lourens en Paul Nash, een van ons grootste atlete.

Een onderhoud wat onuitwisbare indrukke gelaat het, was met mev, Tini Vorster, minder as 20 uur nadat premier (en later staatpresident) John Vorster weens die Inligtingskandaal skielik as premier moes bedank.  Die onderhoud van anderhalfuur in die premierswoning Libertas in Bryntirion, Pretoria, het my aangegryp. Dit het gelei tot die treffende plakkaat op die foto met die foto van die Vorster-egpaar en die volgende bewoording: My man John – mev Tini Vorster.  Dit  is nie elke onderhoud wat met so ‘n plakkaat bekroon word nie.

By haar was in daardie bittere uur geen bitterheid, verydeling of teleurstelling oor haar man se premierskap  wat so dramaties gestuit is nie. Inteendeel. In haar was ‘n fierheid, blymoedigheid en stille krag wat ek nie sal vergeet nie. Daar was ook die teerheid, liefde en lojaliteit van ‘n sorgsame eggenote. So ‘n mengsel van aristokratiese waardigheid en vroulike sagtheid kry ‘n mens nie elke dag nie. Ek bewonder dit nou nog.

Geen wonder nie dat die naam van hierdie rots aan John Vorster se sy dadelik by my opgekom het toe die tydskrif Sarie in 1989 by my en ‘n paar ander mense wou weet watter vroue ons die meeste bewonder.

Sy was teenwoordig toe mev. Betsie Verwoerd haar man, dr. HF Verwoerd, aan die dood afgestaan het, het sy my daardie oggend oor ‘n koppie tee en keurige fyngebak rustig meegedeel.  Dit het haar diep getref.   Toe haar man as opvolger gekies word en dit hul beurt word om by Libertas in te trek, was dit met die gebed in haar hart dat hulle by die dag van afskeid saam oor die drumpel sal kan stap.  Daardie gebed is verhoor. Daarom verlaat sy Libertas met ‘n dankbare hart.

In 1993 met die verskyning van my debuutboek, Flaters en kraters, het ek uit die aftree-oord Serenitas in die Strand van haar ‘n handgeskrewe briefie op blou Croxleypapier gekry om my geluk te wens. Mert verwysing na my stukkie in Sarie het sy bygevoeg: “Wat u op skrif gestel het, is steeds en sal altyd vir my ‘n kosbare kleinood bly – veral in hierdie dae dat ek op die lewenspad terugloop en graag die mooi na vore bring om te onthou.”

Natuurlik is dit vir my ‘n kosbare briefie. Dit word steeds met sorg bewaar.  Koerantmense kan ook sentimenteel raak!

(Mev. Vorster het in 1978 ontvang ‘n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang vir haar maatskaplike  diens  – sy was Suid-Afrika se eerste geregistreerde maatskaplike werkster – en haar geskiedenisnavorsing oor die presidentslandgoed Groote Schuur in Kaapstad. In 1990 ontvang sy die D.F. Malan-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns vir haar bevordering van die Afrikaanse kultuur.  Sy was ook ‘n ereburger van  Kareedouw waar die egpaar ná hul aftrede gewoon het. In 1987 het oud-president PW Botha die Orde vir Voortreflike Diens aan haar toegeken. ‘n Britse koerant het by geleentheid geskryf dat, as sy in ‘n later geslag gebore was, sy self die eerste minister sou kon wees. Sy verdien waarlik ‘n buiging van diepe bewondering.)

KRAAI OOR MY KUIKENS

Kellerprinz-braai 1981. Die Van Deventergesin by twee jong kollegas, Tom Ferreira en Deon Meyer.

More uit Melkbos

Deon Meyer is gewis Suid-Afrika se mees gerekende skrywer van spanningsverhale op die internasionale toneel. As groen redaksielid, vroeg in die jare 80 by Die Volksblad in Bloemfontein, was hy ‘n vuur-en-vlam-verslaggewer. Hope entoesiasme was in sy skraal lyf te bespeur.

Ek het al voorheen gespog met die beroemde gees wat Die Volksblad in my redakteurstyd opgelewer het (asof ek iets met sy latere roem te make het!). Ek voeg graag onbeskeie by dat ook Chris Karsten, die kroonprins van Afrikaanse spanningsliteratuur, een va my kuikens was (asof sy latere sukses deur my toedoen is!), maar dit daar gelaat.

Nou dat Deon se begindae in die joernalistiek in die jongste Sarie te berde gekom het, kan ek seker maar weer die spogvoet voorsit. Sarie haal die uwe kortliks aan oor Meyer as jong joernalis. Ek gee hom die lof wat ek hierbo uitspreek, maar het in my kommentaar in alle eerlikheid bygevoeg dat ‘n element van verstrooidheid, helaas, ook teenwoordig was.

Nog kort by Die Volksblad, het hy ewe onverskillig mnr. Kosie Pansegrouw – groot gees van Rouxville – tot Piet Pantsegrouw (!) herdoop. Vonke het om die redakteur se kop gespat. Dié het dit met rente afgewentel.

Vir die energieke jong man met die deurmekaar kuif, groot brilglase en sonskyn-glimlag kon jy nie lank kwaad bly nie. Hy was ‘n joviale kollega, en het gou uit die redaksie ‘n kampioen-braaispan georganiseer.

‘n Ouer spanlid onthou hoe hulle gedryf is. Meyer wou wen! Hy het ook – Die Volksblad het die Kellerprinz-kroon losgebraai. ‘n Lekkerlees-poprubriek, Popskop, was sy volgende monumentjie. Tot Advokaat Lang David de Villiers in die Kaap het Deon Meyer se Popskop glo verslind.

Meyer het geglo sy stories móét op die voorblad wees, en het elke berig – hoe gering ook al – gepak asof dit die hoofstorie was. Sy kollegas het hom eers oor dié gedrewenheid gespot. Hul spot het vinnig plek gemaak vir bewondering. Hulle het besef “verloor” was nie in hierdie man se woordeskat nie.

Miskien sy onvergeetlikste Volksblad-storie was ‘n onderhoud met die kanonvoet-losskakel De Wet Ras nadat dié ten gunste van Errol Tobias oor die hoof gesien is vir die Springbokspan. Ras was woedend en het, terwyl hulle gesels, telkens ‘n duif met ‘n windbuks omgeklits. Deon het in kleur en geur daaroor berig.

Elke dooie duif was in sy storie – tot die ontsteltenis van die sportskrywers. Hulle het gevrees Ras se loopbaan is daarmee begrawe. Dit was darem nie, en die jong Deon het hom met sy voorbladstorie onderskei as die begaafde joernalis wat hy inderdaad was.

Deon, ek salueer jou. Ryg nog vele treffers uit. (HvD)

Naskrif: Goeie of slegte nuus, maak jou keuse – ek is egter nog nie klaar geskryf oor die Van Deventers se bosvakansie nie. Staal jou vir ‘n volgende aflewering na hierdie vinnige onderbreking!