HEILDRONKE LANGS SABIE

Ons klink ‘n glasie Nuy by die piekniekplek. 

‘n Rede vir ‘n heildronk langs die Sabie ontbreek nooit. Basiese rede: net die vreugde van daar wees.  Twee uitmuntende redes het hulleself pas aangebied. Vir eers is dogter Marisa Claassens se 50ste op Vrydag 5 Julie heeldag lank gevier.  Ten tweede is ‘n glasie vonkelwyn geklink op die tydskrif Sarie wat op  6 Julie 75 jaar gelede as Sarie Marais haar elegante buiging gemaak het.

Wat “Sarie” relevant maak, is dat “Maanlig op die Sabie’’ deur Tryna du Toit van die liefdesverhale was in die heel eerste Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949 verskyn het. Die liefde bloei in Tryna se storie in die Skukuza-ruskamp van die Kruger-Wildtuin na allerlei teenspoed en misverstand – soos dit dikwels maar met storieliefdes gesteld is.

Selfs op ouderdom 83 en op meer as 50 besoeke aan Sabiepark lewer die bos nog nuwe ervarings op. Soos hierdie een:

Iets om te verklaar? vra die hekwag by die Krugerhek van die wildtuin

“Net die twee apies agterin,” antwoord skoonseun, Brent. Die “apies” het hulle maar die grappie ten koste van hulle laat welgeval.

Ma en dogter, Tokkie en Marisa, het daerem self verkies om daar te ry. Dit was nie manlike chauvinisme in aksie nie. En die Honda het nou maar eenmaal net gemakliker sitplek vir vyf. Ons was sewe vir die toggie Skukuza toe vir middagete.

Om op die stoep te sit en rugbytoets kyk terwyl die son eers die lug agter die rekenaarskerm rooi  verkleur voordat die donkerte toesak, was ook ‘n eerste.  Ons het ons “losie”genoem die Loftus-anneks. Gelukkig wen die Springbokke toe oortuigend. Die agternabraai sou niks lekker gewees het as die Iere bobaas was nie.

Nog ‘n eerste was kleinseun Jacob se netjiese Operasie Likkewaan met ‘n leertjie en ‘n braaitang.  Die dierasie was briesend met sy lang tong flitsend toe toegang tot die grasdak hom ontneem word. Waar hy in die veld losgelaat is om ‘n nuwe tuiste te vind, het dit hom seker berou dat sy naels sy teenwoordigheid op die Harveyteels bo-op die gras aan die wakker seuns verraai  het.

Om die tradisionele spanfoto by die Tarlehoet-naambord  neem, moes ‘n vernuftige plan prakseer word. In die afwesigheid van iemand anders om die knoppie te druk, is ‘n kombuisstoel en ‘n koffer met die motorpad afgepiekel. Daarmee is ‘n heel doeltreffende “driepoot” vervaardig.

Wat die eerste keer saamgekom het bos toe, is kleinseun Christopher se indrukwekkende bergfiets.  Daarmee is la-a-ang oefenritte voor ontbyt op die Hazyview-Krugerhek onderneem.  Om die aftakeling van die fiets te aanskou voordat dit in ‘n enorme spesiale sak geprop is vir die vlug terug Kaap toe het hierdie ou man se oë laat rek.

‘n Troppie van 20 of meer njala-ooitjies het ons op ‘n wildrit saam met die driemanskap Jacob, Thomas en Christopher naby Lake Panic by Skukuza begroet. Nog nooit soveel van die oulike bokkies op ‘n hoop gesien nie.

En ons 2024-wintervakansie is vandag eers ‘n week oud.

Naskrif: Die nagapies kom soos vanouds  en die bloukuiloeries is bedrywig in die rosyntjiebosse.

AMPER VERGETE SKRYFKAMPIOEN

Sy het ‘n generasie jong Afrikaanse vroue leer lees; meer as 40 boeke geskryf; tot vier boeke per jaar neergepen (lank voor rekenaars); onder ‘n rits skuilname (ook mansname) geskryf; vir die tydskrif Sarie Marais se eerste vervolgverhaal gesorg en in ’n stadium vervolgverhale in twee tydskrifte gelyktydig behartig.

Tog lyk dit of E.J.M. Fraser in ons herinneringe aan vroeëre Afrikaanse skrywers nie die plek beklee wat sy ongetwyfeld verdien nie. Haar dogter Carol Smit (90), weduwee van die bekende onkoloog prof. Ben Smit, woon op Melkbosstrand. Sy kan boeiend en met verstaanbare bewondering oor haar ma se skryfwerk praat.

Eleanor Fraser, ‘n nooi van McGregor, by Robertson, het haar hoofsaaklik toegespits op liefdesverhale, soms gemeng met ’n goeie skeut spanning, aksie en intrige.  Daarmee wou sy jong Afrikaanse meisies aan die lees kry. Sy was bekommerd dat hulle ná die depressie as ‘n generasie nie-lesers grootword.

In die twee dekades tussen 1940 en 1960 het sy meer as 40 boeke die lig laat sien, meesal onder haar eie naam, maar ook onder verskeie skuilname waaronder die mans- of neutrale name Okkert Bosman en P.J. Rademeyer.   Haar getroude van was Rautenbach (haar man was John William Rautenbach) en sy het die naam ook ‘n keer of wat in haar skryfwerk gebruik.

Met titels soos Die liefde van Karolien Wiese en Die huwelik van Elsa Martyn  hoef ‘n mens nie te raai oor die aard van die betrokke verhale nie. In van haar boeke het spanning egter romanse as hooftema verdring. Vir die doel het sy die skuilname Okkert Bosman en PJ Rademeyer ingespan.  As ek so na Carol luister, klink dit of veral  “Bosman” se Tamboer van die dood die skryfster nogal na aan die hart gelê het.

Sy het ook kinder- en jeugverhale geskryf. Die jeugverhaal Kinders van die grens is ook in Engels uitgegee as Children of the border. Waarskynlik was sy self vir die Engelse weergawe verantwoordelik, want oor haar ma se voortreflike tweetaligheid kan Carol, wat Engels geörienteer is, liries raak.

In besonder vrugbare jare in die middel 50’s het tot vier boeke van haar per jaar verskyn.

Sy was ook ‘n kampioen van vervolgverhaalskrywers in tydskrifte, en word onthou as die skrywer van die heel eerste vervolgverhaal in Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949, meer as 70 jaar gelede, verskyn het. Die titel was Die liefde bedek alles, hoop alles… (Ek het, terloops, op besoek aan Bloemfontein saam met my oom-hulle in Maitlandstaat vir ‘n sikspens (5c) een van die eerste Saries vir my ma gekoop. Daarin  was ook verhale uit die penne van bekendes soos Tryna du Toit, Marie Linde, Louise Behrens en G. Sutherland, asook artikels  deur Elsa Joubert en M.E.R.)  Fraser het ook vir latere politikus Blaar Coetzee se tydskrif  Fyn Goud ‘n vervolgverhaal geskryf.

Eleanor Johanna Moir Fraser is in 1902 op McGregor gebore. Haar pa, Walter Moir Fraser, was die skoolhoof. Haar moeder was Aletta Catharina Rousseau. Haar susters S.E. Fraser en A.C. Sparks het ook skryfsters geword.

Reeds in haar kinderjare het sy uitgeblink met stories vertel. Op skool in McGregor het sy as redakteur saam met ’n paar skoolmaats ’n skoolweekblad uitgegee.  Vreemd genoeg is sy nie joernalistiek toe nie, maar het sy haar as onderwyseres bekwaam. Terwyl sy skoolhou, het sy geskryf en geskryf.

Sy is op 11 September 1971 op 69 op Uitenhage oorlede.

(Carol is self lief om jeugherinneringe op te teken. Dalk verras sy nog en loop op 90 of daarna in haar ma se voetspore. Dit sal wel in Engels wees.)

“MADE IN THE USA”

Middag uit Melkbos

Na aanleiding van vanoggend se artikel in “By” oor die moontlike Amerikaanse wortels van die Afrikaanse heldeverhaal van die Voortrekkermeisie Racheltjie de Beer herhaal ek hier my blog van 2 Augustus 2010 oor ‘n vorige “Made in the USA”-ontnugtering. Laat ons dan nie vergeet dat “Sarie Marais” ook ‘n Amerikaanse rokkie dra nie!

PERD VAN ‘N ANDER KLEUR

“Jippie-jippie jip, ou pêhert!” Ek dag altyd Chris Blignaut se immergroen liedjie “Ou Ryperd” (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) is só Afrikaans soos koesisters. Een van die musikale ontnugterings van my amper 70 (nou amper 72) jaar op aarde was toe ek verneem dit dra eintlik die stempel “Made in the U.S.A.”

“Ou Ryperd” is inderdaad ? vrye vertaling/interpretasie van die VSA se “Old Faithful we roam the range together”. Ja, ‘n perd nie net van ‘n ander kleur nie, maar ook van ‘n ander taal, land en kultuur. Gaan luister maar – Amerika se “Old Faithful” en ons Boere se “”Ou Ryperd” is vinkel en koljander.

Wat opval uit die lirieke is dat die perd in die Amerikaanse weergawe ‘n naam het en die nooi nie. In Afrikaans is dit andersom. Is die Amerikaners liewer vir hul perde en ons vir ons meisies?

Só sing Chris Blignaut en Dozi:

Ou Ryperd, ons ry die pad tesame
Ou Ryperd, so deur die lewensbane
Wanneer jou rydag oor is,
Gaan jou ou lyf lekker rus
Jy, ou Ryperd van my.
Jaag maar aan ou maat
Die maan skyn helder (heller!) vanaand
Jaag maar aan ou maat
My nooientjie sy wag vir my vanaand
O hoor hoe tjank die jakkals op die rivier se brug
En dra my op jou lekker ou rug
Jaag maar aan ou maat,
want my nooientjie sy wag daar vanaand.

KOOR:

Jippie Jippie Jip (x2)
My ou perd
Daar is voer en rus
En jy doen jou bes my ou perd
Dra my oor die rivier se brug
Dra my op jou lekke ou rug
Na my nooi Sannie
Die dogter van Tant Annie op die plaas.

En hier is die lirieke van “Old Faithful”:

Old Faithful, we roam the range together
Old Faithful in any kind of weather,
When the round up days are over,
And the boulevard’s white with clover,
For you old faithful pal of mine.
Giddy up old fella cos the moon is yellow tonight,
Giddy up old fella cos the moon is mellow & bright,
There’s a coyote crying at the moon above,
Carry me back to the one I love,
And you, old Faithful pal of mine.

Nog iets wat ek nie geweet het nie (ek lees dit op die internet) is dat die Tukkies in ‘n stadium (wanneer?) daarvan ‘n patriotiese intervarsity-lied gemaak het:

“Stad van die noorde, O ek verlang na jouhou/ Stad van die noorde, die jakarandas is weer blou-ou/ Al my lief en leed het ek daar aanskou/ op jou wil ek my toekoms bou? Voortrekkerstad, ou Pretoria/ Elke ou Tukkie verlang na jou/ Ons Alma Mater sal ons nooit vergeet nie/ Ou Pretoria …”

Is ek dan die enigste vreemdeling in Jerusalem wat hierdie goeters nie geweet het nie?
(hvd)