Oct 30, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

So is die rubriek aangebied, met my en Sonja se foto’s; hare darem groter as myne.
Nou moet ek versigtig trap, ek weet, maar ek wil tog waag om dit op skrif te stel: dat Sonja Herholdt die borrelendste, opgewekste, sprankelendste en ongekunsteldste mens is met wie ek ooit ‘n onderhoud gevoer het.
Sonja word vandag in “Die Burger” se lekker rubriek ”50 Jaar gelede” vermeld vir die Sarie wat sy in 1975 – toe ‘n bloedjong Oos-Randse onderwyseres – met haar eerste treffer “Ek verlang na jou” verwerf het. Die weghol-sukses van die lied het die einde van haar onderwysloopbaan beteken, en sy het een van die voorste Afrikaanse sangers van ligte liedjies geword met ‘n loopbaan vol hoogtepunte. Dink maar aan “Jantjie”.
Ek het vir die “Beeld”-rubriek “Onder Vier Oë” met Sonja gaan gesels – vernaamlik oor haar sangloopbaan. Die gesprek het wye draaie geloop, tot by haar hare, haar klerekas, haar liefdeslewe, sommer baie ander dinge . Oor elke onderwerp het sy openhartig en entoesiastiers geborrel.

Kroeskop-krullebol: drie dae trane gestort hieroor.
Oor die hare het sy vertel hoe sy drie dae lank gehuil het nadat ‘n haarkapster dit tot ‘n krullebol-kroesies konfoes het. Lank was dit ‘n hele petalje (tot twee ure soms) om voor elke vertoning die hare reg te dokter sodat Sonja soos die ou Sonja lyk: die vars plaasmeisiebeeld waarop sy gesteld was.
Ook met haar klere was daar ‘n beeldprobleem. Ontwerpers wou haar na haar sin te sexy laat lyk. Sy het soberder, sagte vloeiende lyne verkies.
Met “Ek verlang na jou” het sy kennis gemaak by ‘n groepie studente wat dit op ‘n KJV-kamp gesing het. Dit het haar “nou eers vreeslik” laat verlang na haar studentekêrel (en eerste man), FC Hamman, op wie sy baie verlief was. Hy was toe in die Kalahari besig om aan die rolprent “Sarah” te werk,
Sy gaan sit toe en skryf vir FC ‘n briefie – niks anders nie as net die woorde van die liedjie: “Ek verlang na jou / Na die winde wat sy arms om my vou / So verlang ek as die son en die maan en die wind en die wolke oor my gaan / Verlang jy ook na my? / Daar waar jy nou in die verre lande bly / En verlang jy as die son en die maan en die wind en die wolke oor jou gaan?”
By sy terugkeer het sv die liedjie vir hom gesing. Hy het gedink dit is “baie mooi” en het dit toe vir “Sarah” verwerk. FC se woonstel in Aucklandpark het hulle “onwettig” in ‘n ateljeetjie omgeskep. Die hele plek het hulle met elerdosles uitgeplak. In een muur het hulle ‘n gat geslaan en’n venster ingesit, Daarna het hulle “op vreeslike skuld” hul eie klanktoerustinq gekoop en aan die werk gespring. En daar is die uiteindelike “Ek verlang na jou”, soos ons hom ken, eintlik gebore.

Sober, sag en vloeiend – dis sy, glo Sonja.
Die mense se reaksie op haar debuutlied was net ongelooflik. Van die plaat is 60 000 verkoop. Toe sy vir die Sarie benoem word, was dit vir haar ‘n yslike verrassing. “Ek het dan net begin sing.” Toe haar naam die aand uitgelees word, was sy so oorstelp dat sy in trane uitgevars het. Maar ‘n naam is gevestig wat 50 jaar later steeds wyd bekend is. Nou ook op my blog.
Oor baie ander dinge het ek en Sonja gesels. Uiteindelik in twee onderhoude oor twee dae. Dit was ’n uitvoerige rubriek. Net een ding wil ek egter nog graag noem: van die plesier wat sy geput het uit hope briefies van jong bewonderaars oor watter inspirasie sy vir hulle was. Die een briefie wat haar behoorlik laat borrel het, was van die premier, John Vorster, en sy vrou, Tini. Hulle het haar bedank dat sy vir hul kleindogter Martelize Kolver ‘n inspirasie was.
Martelize Kolver? Ja, die einste wat ons later oor die radio, die verhoog en die TV-skerm leer ken het as ‘n ster uit eie reg. Ek wonder of sy van oupa en ouma se briefie weet.
Sep 24, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met die sanger Gé Korsten, ‘n boorling van Rotterdam, se vurigheid as Afrikaner het niks geskort nie. Hy was aan ‘n Engelse skool, maar sy hart was so anti-Brits dat hy uit die bioskoop gestap het as God Save The King speel. Smiddae is hy Die Voortrekkers toe by ‘n Afrikaanse skool. Hy het selfs spanleier geword.
Die grootste Suid-Afrikaner vir hom was dr. H.F. Verwoerd – “’n eerlike, onberispelike siener”. Dit is hoegenaamd nie omdat hulle albei van Nederland af gekom het nie, het Gé in ‘n onderhoud vir my rubriek Onder Vier Oë in Beeld nadruklik verklaar, sommer seergemaak dat ek oor so ‘n ernstige saak ‘n grappie kon waag.
Toe deel hy ‘n geheimpie: dat hy selfs lid van die Afrikaner-Broederbond was. En voeg hy skalks by: Hoewel sommige Broers sy rooi baadjie en wit broek van onberispelike snit as ietwat onortodokse kleredrag ervaar het, was hulle gou oortuig ‘n goeie Afrikanerhart klop in daardie wit broek.
Dat Gé ‘n voorste Afrikaanse sanger van ligte liedjies geword het, het, volgens hom, “eintlik net gebeur”. Dit was in 1966 rond (toevallig die jaar toe Verwoerd vermoor is). Gé was ‘n suksesvolle sakeman wat deeltyds in opera gesing het. Sy skoonvader, die bekende ds. A.J.V. Burger, stel toe voor dat hy ‘n plaat ten bate van die Abraham Kriel-kinderhuis opneem. In die Oos-kerk in Pretoria het hy en die Cantare-sangers vinnig-vinnig ‘n plaat van die bekendste Psalms, Gesange en Halleluja-liedere gemaak.
Albie Venter van Brigadiers het dit opgeneem, en sê toe vir Gé: “Wil jy nie vir ons ‘n plaat maak nie?” Só gesê, só gedaan. Hulle het vir Dean Herrick voor die orrel gekry en Gé het gewilde ou ballades soos Granada en Because gesing.
Toe kom die FAK en sê vir Brigadiers: “Kry vir Gé Korsten om ‘n plaat te maak waarop hy Afrikaanse liedjies sing, maar met ‘n goeie orkes sodat ons kan wegkom van die konsertina en dinge.” Op die plaat was liedjies soos My Hart Verlang na die Boland, My Vader is ‘n Musikant… en Erika.
Van dié liedjies het Fanus Rautenbach baie gehou. Keer op keer het hy dit oor sy destydse oggendprogram, Flink uit die vere, gespeel, en toe Gé hom weer kom kry, sit hy met ‘n treffer.
Die volgende stap was Afrikaanse rolprente. Kavaliers het besluit om van Gé se liedjies by die rolprent Krugermiljoene in te sluit. Hulle vra hom later om sommer self die rol te kom speel. “Ons is toe Blyderivier toe en ek is op ‘n perd en op ‘n ossewa en ek sing.”
Sy eie gunsteling was Liefling. Dit het mooi woorde wat deur Heine Toerien geskryf is, ‘n goeie wysie en groot trefkrag, aldus Gé. Op ‘n dag laai sy vrou ‘n ryloper op en toe hy agterkom wie sy is, sê hy vir haar: “Tannie weet, daardie woorde van Liefling is darem so mooi. Dis net soos die lewe is vir mense wat verlief is.”
Ja, was Gé se kommentaar, dit wys dat die woorde ‘n boodskap het vir elkeen wat ‘n bietjie liefdesprobleme het – en sulke probleme het elke mens maar die een of ander tyd.
Gé het ook sukkeldae geken toe hy as rou sanger soms in moedelose trane uitgebars het wanneer hy die hoë note nie kon bykom nie. Een so ‘n keer was toe Anton Hartman hom gevra het om die opera La Boheme in die laat jare 50 in Afrikaans te sing. Hy het traag ingewillig, want, hy het nog nie “reg vir die ding” gevoel nie.
Hulle het begin oefen en dit het nie goed gegaan nie. Gé kon kwalik ‘n G haal, wat nog te sê van ‘n C. Op ‘n dag kon hy die trane nie keer nie. Hy het die boek neergesmyt en uitgeroep dat hy dit nooit sal kan doen nie. Nellie du Toit, vir wie hy groot bewondering gehad het, het teenoor hom gesing. Sy het haar dadelik oor hom ontferm en ‘n bietjie raad gegee. En net daar het dinge begin verander.
Dié La Boheme sou hy nooit vergeet nie; ook nie die brief wat op die openingsaand in sy kleedkamer op hom gewag het nie. “Gé Korsten, who the hell do you think you are that you can sing La Boheme?” wou die skrywer weet. “You can never sing La Boheme in your life. You shouldn’t even go on stage tonight.”
In sy operaloopbaan was ‘n “paar moeilike insidente”. ‘n Keer het hy saam met ‘n besonder vurige Carmen uit Frankryk opgetree. Tydens die Blommelied, net voor die swaardgeveg, ontstaan ‘n woordewisseling, gryp Carmen die swaard en smyt dit neer. Dié nooi het dit egter geslinger dat dit doer van die verhoog af trek.
Toe die hoofoffisier, Carmen se kêrel, op die toneel kom en baklei soek, is Gé sonder sy swaard. Al wat hy kon doen, is om die ou stewig aan sy bors te vat en in sy oor te fluister: “My swaard is weg – veg!” Met dié smyt Gé die offisier se swaard ook weg en daar pak die twee mekaar kaalvuis!
Met die openingsaand van Fledermaus in die Aula in Pretoria het Gé se opgeplakte snor hom begin hinder. Nie lank nie of dit hang so skuinsweg oor sy mond. Hy pluk hom toe maar af en gooi hom weg.
Op een plek moet sy karakter ‘n bietjie oefeninge doen voordat hy tronk toe gaan. Dan kom Rosalinda in en vra: Wat maak jy nou? Toe Rosalinda (in dié geval Mimi Coertse) met hom begin praat, kom hy agter sy kyk so na die middel van sy lyf en wys-wys.
Sy hele rits was gapend oop; die wit van sy hemp was al wat hy gesien het. Dit was ‘n bietjie ongemaklik so op ‘n openingsaand, volgens Gé, maar gelukkig is dit ‘n grapperige opera. Hy het doodluiters sy rug gedraai en gewys hy maak nou toe. Toe bars die hele saal uit van die lag.
Gé Korsten is op 29/9/1999 aan ‘n skietwond oorlede. Die vuurwapen was in sy eie hand.