SLAG VAN MELKBOS

My brief in Rapport se meningskolom Sondag 13 April:

Jammer om daardie ballon te prik, maar die Slag van Blouberg in 1806 was nie in Blouberg nie. Om ‘n stryd teen ‘n nuwe hotel in Blouberg aan die veldslag van amper 220 jaar gelede te koppel, kan oulik klink, maar is histories geheel onjuis.

Met sy berig “Inwoners van Blouberg veg hand en tand teen nuwe hotel” (6 April) trap Rapport ongelukkig in ‘n slaggat waarin vele voor hom al getrap het.

Die slag van Blouberg was inderdaad op Melkbosstrand, eers net op die strand en later op ‘n koppie buite die dorp waarvan die naam Blaauwberg grootliks vir die verwarring oor locus verantwoordelik is.

Die koppie is sowat 15 kilometer van Blouberg en kanonne staan nog daar rond. Gereelde uitstappies word deur die Vriende van Blaauwberg-bewaringsgebied aan die berg met sy ryke biodiversiteit, manjifieke uitsigte en klinkklare spore van die veldslag gereël.

Om redes wat ‘n stuk geskiedenis op sy eie is, was Melkbosbaai doerie tyd bekend as Lospersbaai (soms ook genoem Losperdsbaai). Dis hier waar Sir David Baird in 1896 met 6 000 manskappe op 63 skepe opdaag met die doel om die begeerlike Kaapse halfwegstasie na die Ooste van Nederland af te vat en vir Engeland in te palm-  ‘n klipgooi van waar gaste deesdae in die Melkbos Kitchen, die Damhuis of Orca rustig seekos geniet.

Op genl. Jan Willem Janssens van die VOC het amper ‘n onmoontlike taak gewag. Tot sy beskikking was net ‘n raap-en-skraap leërtjie van iets soos 2 200 man: Hollanders, Kapenaars, Duitsers, Franse, Hottentotte (Koikois), Maleiers en slawe. Boonop het ‘n regiment bangbroek-huursoldate, die Waldekkers, wanordelik op die vlug geslaan,

Tog is hardnekkig weerstand gebied, plek-plek selfs heldhaftig terwyl die artillerie- en geweervuur ure lank aan die Weskus weergalm. Uiteindelik was die oormag en die omvang van die aanslag eenvoudig te groot. Ondanks eie probleme soos uitputting weens hitte, die warm sand, te min water, te min kos en te min perde het die Engelse die oorhand gekry. Janssens en sy troepe moes bly terugval. Daarna was die Kaap nie meer Hollands nie. Sir David Baird het militêre goewerneur geword en dit gebly tot 1807

‘n Moderne Slag van Blaauwberg (sic) speel hom inderdaad op die oomblik in die wyke af. Die gemeenskap van Melkbos sluit geledere op indrukwekkende skaal teen die plan om ‘n reuse-stortingsterrein vir gevaarlike afval by sy voordeur te kom plaas, in die skadu van die kragsentrale Koeberg as’t ware. Die drywer van die bose plan is Wesco (Interwaste).

In ‘n omvattende fondsinsameling is R500 000 ingesamel om weerstand te bied en ‘n petisieveldtog is in volle gang. Selfs in die NG kerk Melkbosstrand word Sondae teen die potensiële terugslag vir die bekoorlike vakansiedorp gebid.

Die onvermydelikheid van erge lug- en waterbesoedeling met gevolglike gesondheidsgevare is maar enkele van die ernstige besware wat geopper word.

Geweldige verkeersontwrigting word voorsien met die byvoeging van 300 tot 500 afvaltrokke, sewe dae per week , 365 dae per jaar, Die uitwerking daarvan op gewone daaglikse verkeer en veral op Koeberg se noodontruimingsplanne kan katastrofaal wees.

Oorstromings en lekplekke is onafwendbaar en permanente besoedeling van grondwater, boorgatwater, riviere en die nabye see word gevrees. Seisoenale winde sal die stank en gesondheidsbedreigende besoedeling wyer versprei.

Dit is na my oordeel nie net ‘n Melkbos-probleem nie. Die hele streek se belange kom in die gedrang, onder meer die uitgestrekte Atlantisgebied met sy nywerhede en woonbuurte. Atlantis se water is waarskynlik die kwesbaarste. Ek wonder of die gemeenskap dit besef.

Die aanleg gaan 50 miljoen liter water per jaar gebruik. Dit is genoeg water vir byna 400 gesubsidieerde huishoudings. Wat gaan gebeur as daar weer droogtes kom?

Die hele Kaapse metro staan met die risiko gekronfronteer.

Kom oor na Masedonië (Melkbos) en help ons!

(Vir ‘n  kortbegrip van hierdie geskiedenis raadpleeg Pieter Geldenhuys se “Die ontstaan van Melkbosstrand”. Vir dieper grawe kan DW Krynauw en GSJ Möller se “Blouberg – ons beroemde strand” aanbeveel word, Om werklik die tande in te slaan, is daar Ian en Barbara van Oordt se “The battle for the Cape 1778 – 1806″”. Elke moontlike vraag oor die slag word beantwoord in ‘n formidabele boek.  Die boek van 548 A4-bladsye –  ja, dit weeg 2,3 kg! –  het 15 jaar se intensiewe navorsing geverg. )

KOERANTE: MOES (KON) ONS HARDER BAKLEI HET?

Knorrige oud-Rapport-lesers takel my gister oor ‘n “vreedsame” koppie Sondagkoffie oor hul verlies op Sondae. Oud-redakteurs, soos ekself, was te gedweë oor die ingrypende koerante-slagting wat tot die einde van Rapport en Beeld as papierkoerante, asook die einde van as Rapport, Beeld en Volksblad as PDF’s gelei het, verwyt hulle. (So asof ekself nie die verlies intens ervaar nie.)
In my verweer kon ek wys op die verklaring van veertien voormalige redakteurs oor vier dekades waarin hulle hul sterk teenkanting oor Media24 se ingryende planne met koerante uitspreek. Media24is gevra om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.
Die 14 – en dit ag ek as van kritieke belang – het ook onomwonde die wens uitgespreek dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.
Die omvang en betekenis van daardie eendragtige toetrede tot die debat is ongelukkig nie volledig raakgesien nie, glo ek.
Daardie 14 oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 af. Dit was die eerste en enigste keer in die bestaan van die Nasionale Pers (later Naspers) van langer as ‘n eeu dat oud-redakteurs so kollektief optree – dus ‘n gedenkwaardige en unieke gebeurtenis.
Ook agter die skerms is hard gewerk aan meer as een inisiatief. Ek dink nie om hulle (ons) kwalik te neem vir die beperkte welslae en die gevolglike pynlike toedrag van sake is korrek en billik nie.
Die gesprek het my genoop om tuis te kom bestek opneem oor my eie bydraes in artikels en briewe oor die sluiting van koerante en PDF’s. Die bestekopname lyk soos volg:
Artikels in Rapport- Weekliks:
Die scoop is (nie) dood nie – 22/12/24
Koebaai koerantplakkaat: ‘n Onbekende leegheid wag nou in strate – 15/12/24
Ag nee, Koos, te veel word verswyg – 3/8/24
Artikels op Litnet:
Koerante: sewe heildronke … en ‘n huildronk – 19/12/24
Hoekom my hart so bloei oor koerante – 4/12/24
Projek T en die verowering van die Noorde – 29/7/24
Artikels in Volksblad:
Herman le Roux se plakboeke vertel ‘Volksblad’ se storie – 22/11/24
Saluut aan loodsoldate van ‘Volksblad van weleer – 16/8/24
Briewe:
Volksblad: Dankie dat Volksblad kon wees – 20/12/24
Beeld: Koerant se lot is Pienaar gespaar – 20/12/24
Beeld: 2024 se reuseverliese vir Afrikaans – 28/11/24
Volksblad: Eer Volksblad met ‘n naam in Bfn – 16/9/24
Beeld: Verslind brieweblad eerste – 18/8/24
Volksblad – Samelewing sal armer wees sonder koerante – 26/7/24
Die Burger – Media24 moet Afrikaanse joernalistiek bly dien – 21/6/24
Volksblad – Netwerk24 moet Volksbladgemeenskap toegewyd dien – 20/6/24
Ook met die sluiting van Volksblad as papierkoerant vier jaar gelede het ek die pen in Rapport en die drie dagblaaie opgeneem. Verskoon my dat ek dit self sê, maar ek voel werklik nie dat ek ooit my gevoelens weggesteek het of my onbetuig gelaat het oor die treurige ontwikkeling nie. My vriende skuld my ‘n rustige koppie koffie en ‘n ekskuus. (Hoop hulle lees hier.)

SCOOP: DOOD OF NIE DOOD NIE?

Vir die tradisionele koerantscoop kan ons saam met die gedrukte koerant vaarwel wuif. Dis een van die sware totsiense wat op papierverknogte koerantlesers wag.

Met scoop bedoel ek daardie klas trefferberig met die sterk skok- of verrassingselement wat jou soos ‘n klipharde hamerhou tref as jou oog op die opskrif val.

Rapport is in die opsig ‘n skynende lig. Sedert die Sondagblad se ontstaan in 1970 het hy  – te veel keer om te probeer onthou  – gereeld met nuus uit die bloute hierdie toegewyde leser soos ‘n weerligstraal getref. Om net enkeles te noem: ‘n gewese staatspresident – nogal uit huis uit Gereformeerd – wat sy vrou los vir ‘n minnares, ‘n eerbiedwaardige kerkleier wat in sy voorkamer deur ‘n sluipskutter afgemaai word, en ‘n minister wat in ‘n geheime liefdesnessie allerlei avontuurtjies met ‘n waardige (vroulike) senator beleef.

Op Sondag 15 Februarie 1998 – nogal die dag ná Valentynsdag – het Suid-Afrika met skok verneem dat FW de Klerk (61) sy vrou vir 39 jaar, Marike (60) gaan verlaat. Dit vir ‘n jonger Griekse minnares, Elita Georgiades (46), vrou van ‘n Griekse skeepsmagnaat.  ‘n “Valentynsdagbom” eksklusief op die voorblad van Rapport – ‘n droom-scoop.  Dae, weke, lank is die storie in al wat koerant en tydskrif is, ge-”spljes”, soos die koerante-idioom lui.

Waar en hoe Rapport die sappige brokkie bekom het, is nie aan my bekend nie.  Dat die indertydse redakteur, Chris Moolman – ’n voorslag-joernalis met ’n gesonde eerbied vir joernalistieke standaarde en waardes – soos met verskeie ander scoops van daardie era ‘n enorme rol gespeel het, weet ek wel. Dis hoe hy by sy redaksie die bynaam Super(mool)man verwerf het.

Moolman moes self die stang stewig vasbyt om die storie van hul huweliksverbrokkeling uit die onwillige FW en Marike te pers. Dan was dit sus en dan weer so. Presies op die regte oomblik het die redakteur die troefkaart gespeel: Rapport weet dat ’n derde party betrokke is en dat haar naam met ’n E (vir Elita) begin.

De Klerk se reaksie was: “Nou is ek geskok.” Maar die koeël was deur die kerk. Hy het dit onmiddellik besef. ‘n Scoop is op die harde manier gebore.

Ook in die tweede geval – die steeds onopgeloste moord op die kerkleier prof. Johan Heyns – was  Rapport se indertydse redakteur ‘n sleutelfiguur. Maar op ‘n heel ander manier.   Moolman se voorganger, Izak de Villiers, gewese man van die kleed, was die Saterdagaand reeds tuis toe sy telefoon op 5 November 1994 – Guy Fawkesdag – skuins voor middernag lui.

Aan ander kant was ‘n predikante-makker, ds. Henno Cronjé, met ‘n vuurwarm nuuswenk: prof. Heyns is net ure tevore met ’n enkele skoot uit ’n jaggeweer deur ’n venster in sy huis in Waterkloofrif doodgeskiet terwyl hy met sy kleinkinders sit en rummy speel.

‘n Geskokte De Villiers het dadelik die bittereinders op kantoor gebel. Die wiele kon in die hoogste rat begin draai. Ds. Cronjé, ‘n huisvriend van die Heynse en van De Villiers, se vriendskapsgebaar het gelei tot die scoop-hoofberig: “Johan Heyns vermoor”.

‘n Scoop is nie altyd onder groot swart letters op die voorblad nie. Op 21 Januarie 2018 was dit, van alle plekke, op bladsy twee van Rapport-Weekliks weggesteek. In stomme verbasing kon lesers, veral Vrystaters – soos Van Deventer op Melkbos – amper uit hul beddens val by die lees van joernalis Herman Lategan se grafskrif vir die vuurvreter-politikus van die Paarl Adrienne (Kuki) Koch (82). ‘n “Minister se skelmpie” word Koch op die man af in die opskrif genoem.

En wie se naam duik toe verrassend in daardie delikate konteks op? Dié van niemand minder nie as wyle Kobie Coetsee, minister van Justisie en Vrystaatse leier van die Nasionale Party, ‘n voorloper in die toenadering tot Nelson Mandela. Dat Coetsee en Kuki vurige minnaars was en lank ‘n liefdesnessie in Seepunt gedeel het, word met vers en kapittel onthul.

Dadelik het die vraag natuurlik ontstaan:  waar het Lategan sy inligting oor die buite-egtelike Koch-Coetsee-verbintenis gekry?  Die antwoord het nie lank geheim gebly nie: Kuki se dogter, Judy, het die hele verhouding – al die intrige, passie, avontuurlikheid – ook al die bitterheid ná die opbreek – in opdrag van haar berouvolle moeder in ‘n boekie met die veelseggende titel An Adulterer’s Prayer haarfyn opgeteken.

Nie net Sondagkoerante sorg vir scoops nie. Waar die onderwerp ter sprake kom, doem die naam Alf Ries, legendariese politieke beriggewer van Die Burger, Beeld en Volksblad, dadelik opRies was dekades lank doyen van die parlementêre persgalery; ’n scoopmasjien sonder weerga wie se stroom trefferberigte mededingers telkens radeloos gelaat het.

Binne 48 uur nadat dr. HF Verwoerd op 6 September 1966 in sy bank in die Volksraad vermoor is, kon Suid-Afrikaners byvoorbeeld sien hoe die skuldige, die immigrantebode Dimitri Tsafendas, lyk – danksy ‘n Ries-scoop.  Dit was ongehoord – eintlik onwettig –  maar spesiale vergunning vir ’n uitsondering met publikasie van die foto is deur Ries beding. Die Burger was die eerste in die land met twee groot foto’s van Tsafendas op die voorblad van 8 September.

Die kosbare foto’s se herkoms was amptelike leggers van die parlement. ’n Bevriende amptenaar, een van vele in Ries se kring van kontakte, het hom dit stilletjies in die hand gestop.  Gewapen met die foto’s, vat hy toe die spoor van John Vorster, minister van justisie, na die wandelgang van die Volksraad toe. Die minister het aandagtig na sy betoog geluister. Ja, hy stem saam dat die foto van groot openbare belang is, sê hy naderhand. Maar die wet is die wet. Hy sien swarigheid om oor die struikelblok te kom.

Net toe stap Jim Fouché, minister van verdediging, verby. Die boer van die plaas Babel, distrik Rouxville, was bekend om sy aardse wysheid en praktiese benadering tot ’n probleem. Kom ons vra Oom Jim wat dink hy, stel Vorster voor, en wink sy ouer kabinetskollega nader. Fouché, latere staatspresident (van 1968 tot 1975) het nie lank gedink nie. Sit dit in, sê hy, en toe met nadruk: die mense sal wil sien hoe die vark lyk. Sy oordeel gee die deurslag.

Vandag se nuus vandag. So het middagkoerante graag in hul gloriedae gespog. Selde is aan die motto beter reg laat geskied as op 2 Februarie 1989 met die verkiesing van FW de Klerk as hoofleier van die Nasionale Party in die plek van ‘n ongestelde PW Botha. Die onverwagte verkiesing het in die grootste geheimhouding geskied.

Ries het buitengewone aktiwiteit by die NP-koukuskamer waargeneem, en dadelik snuf in sy politieke neus gekry. Daardie middag was die nuus Die Volksblad se voorblad vol. Toe ’n Vrystaatse LV, wyle  Piet Steyn van Winburg, ’n Bloemfonteinse vriend, wyle prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan alles in Die Volksblad”!

Dan ‘n rêrige groot scoop: die eerste foto’s van die eerste ontmoeting tussen Botha en Nelson Mandela op 5 Julie 1989 in Tuynhuys. Op die ingewing van die oomblik, en met instemming van die twee hooffigure, het kapt. Ters Ehlers, knap gewese private sekretaris van mnr. PW Botha, met sommer ‘n dood-gewone mik-‘n-druk-kameratjie die foto’s geneem. Eintlik sommer net ‘n paar kiekies.

Om politiek-sensitiewe redes het Ehlers se foto’s lank ongepubliseer gebly.

Toe op Donderdag 15 Februarie 1990 verskyn Die Volksblad eerste met die “foto’s waarvan die wêreld nie geweet het nie” op sy voorblad. Hoekom juis Die Volksblad? ‘n Vername rede was dat redakteur een van die min mense was wat van die bestaan van die foto’s geweet het. Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, het dit in ‘n private gesprek laat glip.

Vanselfsprekend het hy (die redakteur) nie ophou torring om die foto’s as ’n scoop los te wikkel nie. Aan die begin van Februarie 1990 het hy, al half moedeloos, die kwessie weer oor die telefoon aangeroer. Die eerste keer het Botha sy gewilligheid laat deurskemer. Ná intensiewe onderhandelinge, onder meer ook deur ‘n bemiddelaar met Mandela, wat toe in sy laaste dae in die Victor Verster-gevangenis was, is tot publikasie ingestem.

Wie daardie bemiddelaar was? Niemand minder nie as die nimlike Kobie Coetsee, hierbo in ‘n ander verband genoem ‒ “my vriend Kôbie”, soos Mandela hom waarderend bly noem het.

Met die ooreenkoms beklink, is ‘n verslaggewer per motor na Pretoria om die kosbare pakkie te gaan haal. Nog twee foto’s is per koerier na Bloemfontein gestuur. En op Donderdag 15 Februarie, verskyn die koerant toe met sy eksklusiewe foto’s – inderdaad ‘n wêreld-scoop.

Maar so lekker dit is om te scoop, so bitter is dit om gescoop te word. So ‘n wrange scoop vir die koerante van Media24 – – om meer as een rede – was die eksklusiewe (digitale) berig uit die bloute op die internetmaatskappy Moneyweb se blad oor die voorgenome sluiting van belangrike Media24-koerante se gedrukte en / of digitale uitgawes.

Die beroering wat dit veroorsaak het, het gewys watter sensitiewe snaar hier getokkel word, met ingrypende implikasies vir hope mense – van joernaliste tot koerantverkopers op straathoeke – inderdaad vir die ganse Afrikaanse kultuur. Wat opvallend was, is dat die geloofwaardigheid daarvan nooit vir ‘n enkele oomblik in twyfel getrek is nie, nie deur ander media nie en –  belangrikste – ook nie deur Media24 self nie. Ná aanvanklike swye moes die maatskappy lammerig erken: Moneyweb was in die kol.

Die tydraamwerk hoe gebeure ontvou het, dui op ‘n snelle lekkasie van die ingrypende stappe aan Jeremy Maggs van Moneyweb. Skere sleutelmense by Media24 was nog nie eens in kennis gestel nie toe die skokberig op hul rekenaarskerms flits.

iDalk maar ‘n voorspooksel daarvan dat die papier-scoop (amper) dood is, lank lewe die digitale scoop!

  • Die artikel verkyn vandg in die laaste uitgawe van Rapport-Weekliks.

 

WAAROM HART SO BLOEI

Wanneer die laaste koerante uitgespoeg is, als netjies in plek en presies gevou, en die reuse-rolperse kreunend tot stilstand knars – Beeld se rolpers in die nag van 19 / 20 Desember en Rapport s’n in die nag van 21 / 22 Desember  – is twee indrukwekkende eras vir altyd verby.

Albei die gerespekteerde titels woel en werskaf al langer as ‘n halfeeu op die Afrikaanse werf. Hul wortels het diep in miljoene se leefwêreld ingedring.  Geen vertakking van die samelewing kan hoop om onaangeraak te bly nie.

 

Tot siens, Volksblad.

By die dood van groot geeste van die woord soos Breyten Breytenbach, Hans du Plessis, Braam de Vries en Martie Retief so kort op mekaar se hakke behels hul verdwyning net nog ‘n luik in die Huis van Afrikaans wat finaal toegetrek word.

Oor die verlies vir taal, kultuur, ‘n goed ingeligte openbare mening en wat nie al nie is derduisende woorde gepraat en geskryf.  Die onderwerp laat ek dus in hierdie skrywe links. Oor hoe diep dit my persoonlik raak – en hoekom so – het ek tog maar nog ‘n vir-oulaas-woord op die hart. Die woord is dalk te lank, te biografies, te egosentries, te wat ookal. Maar dis die reine waarheid en dit soek ‘n uitlaatklep.

Die voorloper in die aftakelingsproses was natuurlik Volksblad (voorheen Die Volksblad). Die koerant waar ek 12 jaar ‘n verknogte redakteur was en nog 12 jaar ander poste beklee het, het reeds vier jaar gelede as papierkoerant verdwyn en die digitale weg ingeslaan.  Die verslaenheid, hartseer en pyn wat ek by daardie skeiding ervaar het, was intens. Nou, verdwyn hy selfs as PDF.

Met Beeld was die verbintenis korter en in die geval van Rapport ook minder regstreeks.  Met hulle het ek nietemin ook heelwat sakke sout verslind. Die pyn tref nie net opnuut nie, maar ook wyer.

Beeld se buiging op 16 September 1974 en die wel en wee van sy vestigingsjare het ek as nuusredakteur en later assistent-redakteur op ‘n binnebaan meegemaak.  Ná ‘n ietwat stadige begin weens diverse faktore het hy mettertyd die noordelike koerantmark volledig verower.

In 1983 het hy die enigste Afrikaanse dagblad in Johannesburg geraak; nie lank daarna nie in die ganse noorde. Hy styg uit tot die grootste Afrikaanse dagblad in die land en word mettertyd in vyf provinsies versprei: Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, Limpopo en die Vrystaat.

Rapport swaai al van 1970 af die septer in die Afrikaanse Sondagmark. Van sy stigting in 1970 tot in 1974 het ek gereeld Saterdagaande in Bloemfontein as huursoldaat gewerk.

Sy opmars ná die aanvanklik ongemaklike, politiek-geïnspireerde samesmelting van die Nasionale Pers se Die Beeld en Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) se Dagbreek – ’n samesmyting, het die vermaarde redakteur Schalk Pienaar die geriefshuwelik genoem – was vinnig en dramaties.

In ‘n korte vier jaar behaal Rapport in 1974 – stigtingsjaar van Beeld – ‘n sirkulasie-hoogtepunt van 500 000; die eerste (en seker ook laaste?) Suid-Afrikaanse publikasie wat dit regkry.

Beeld 50.

My eie rol by Beeld begin op 11 Februarie 1974 met ‘n klein aankondiging in die bestaande dagblaaie. Drie maande later was die eerste nuusredakteur, tot barstens ingenome,  sak en pak in Johannesburg.  Huis was verkoop en gade, Tokkie, swanger met ons tweede kind, was swerwend tussen vriende.

In Junie reeds begin ‘n tweemanspan in die Old Arcadegebou in Markstraat (nou Albertina Sisulustraat) in die middestad om, soos Pienaar dit in sy rubriek in die eerste uitgawe elegant gestel het, “sake voltyds te organiseer”. Die aanvoerder was Johannes Grosskopf (redakteur) met my as adjudant.

Ons moes aan die werk spring om ‘n redaksie bymekaar te kry, ‘n aksieprogram op te stel, strategie uit te werk en ‘n duisternis ander voorbereidsels te tref. Die opwindende taak is naweke by die Grosskopf-huis in Linden oor ‘n glasie rooiwyn of twee voortgesit.  Ons het Beeld geëet, geslaap … en gedrink.

 Watter dinamiese werkplek saam met skitterende kollegas het Beeld nie geword nie.  Die joernalistieke omgewing was energiek en opwindend.

 Beeld en nuus was van die eerste dag af sinoniem. Of dit nou die Soweto-onluste was of die Inligtingskandaal, die raaiselagtige moord op die NP-kandidaat in Springs, dr. Robert Smit, en sy vrou, Cora-Jeanne, of ’n ongekunstelde Tukkie-meisie, Anneline Kriel, wat Mej. Wêreld word, die eerste Beeld-span sou berge versit om die storie te kry. As hulle hom het, sou hulle in eie idioom die “skouers oopmaak”.

Die herinneringe aan daardie skof is van die beste van my lang loopbaan by die Nasionale Pers – die maatskappy wat my in 1957 – amper sewe dekades gelede – ‘n beurs gegee het om my as joernalis te bekwaam.

My leermeesters by Beeld was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Niks maar niks sou my beter kon toerus nie as daardie uitdagende vestigingsjare vir die uitdagings wat die redakteurskap van Die Volksblad my in die politiek onstuimige 80s sou bied. Dit glo ek vas.

Soos sy voorganger Die Beeld, is Rapport jare lank in Johannesburg, Bloemfontein en Kaapstad gedruk.  By die twee “buiteposte” moes voordat die rolpers kon draai eers omvangryke redaksionele en tegniese afronding gedoen word. Groterige spanne huursoldate van Die Burger en Die Volksblad moes volgens (soms bra ingewikkelde) voorskrifte uit Johannesburg die koerant saamstel.

Ek was van die Die Beeld-dae af in 60’s ‘n gereelde medewerker in die Bloemfonteinse satellietkantoor, meesal in die hoofsubredakteur se stoel. Dit beteken dat alle foto’s, berigte en opdragte vir die Bloemfonteinse uitgawe deur my hande moes gaan. So is ek in die Sondagkoerante se werkinge ingesleur en het ‘n hegte band ontstaan wat tot vandag duur.

Vir Rapport het hierdie 83-jarige steeds ‘n buitengewoon sagte plekkie in die hart. Om periodiek ‘n artikel tot die vlagskip-bylae Weekliks by te dra, ag ek as ‘n baie spesiale voorreg. Sondae sonder hom saam met my oggendkoffie is byna ondenkbaar.

Die verbintenis met Beeld en Rapport bied uit eie reg ‘n goeie rede waarom hul lot my gemoed so beroer, meen ek. Dit is egter nie die enigste rede nie. Trouens, daardie tien jaar verdwerg teenoor die somtotaal van plus-minus 75 jaar van my pad met koerante (leeftyd met koerante) – dalk die een of ander rekord?

Reeds in die 40’s het ek in Kimberley Die Volksblad leer ken. Aan oupa Herklaas Visser se voete by sy wiegstoel in die hoek van die eetkamer by Diagonalstraat 10 het ek as sesjarige elke uitgawe, plat op my maag uitgestrek, van hoek tot kant deurgeblaai en hier en daar stukkies “gelees”.

In 1952 is die band geformaliseer. My ouers het hulle op Klerksdorp gevestig, en ek is koshuis toe op Potchefstroom om aan die Hoër Volkskool Latyn te  neem ten einde advokaat te word. Maar in 1957 word ek die eerste leerlingredakteur van Volkies se jaarblad. Die koeël was deur die kerk. Ná die voorsmakie is alle advokaatdrome terstond begrawe.

Ma lees in Die Volksblad – wat pas ’n kantoor op Klerksdorp oopgemaak het – ’n brokkie raak oor beurse vir voornemende joernaliste.  Ek doen aansoek, kry een en is daarmee na die Universiteit van Pretoria vir ’n algemene BA (later ‘n paar regsvakke by).  Dit was voor die tyd van kommunikasiekunde en departemente van joernalistiek.

In  Desember 1958 – ’n hele 62 jaar gelede – het ek as 17-jarige beurshouer met my koffertjie van Klerksdorp na Bloemfontein geryloop vir my eerste proesel vakansiewerk in Voortrekkerstraat 79 (vandag Nelson Mandelarylaan).   Een van my herinneringe is die kennismaking op wyle Wiets Beukes, assistent-redakteur, se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis met die Largo-gedeelte van Antonín Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie.

Die simboliek het my eers ná jare getref. Met daardie eerste wankelende tree in die werklike joernalistiek is inderdaad vir my ’n gans nuwe wêreld ontsluit.

In 1961 word ek redakteur van Die Perdeby, Tukkies se studenteweekblad (sowat enigste koerant op my pad wat – nou as PDBY  –  in gedrukte vorm voortbestaan!)   Ek word toe al as so gesout geag dat ek die somervakansie op my eentjie in Welkom aflos toe die Goudveldse verteenwoordiger met langverlof gaan.

My formele toetrede tot die “nuwe wêreld” is in 1963 as verslaggewer. Ek word parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur en nuusredakteur voor die verplasing na Johannesburg in 1974.  (As parlementêre verslaggewer  het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef en as jong hoofsubredakteur moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie. )

In die ses jaar by Beeld vorder ek tot ajunk-redakteur en word ‘n droom bewaarheid toe ek in 1976 ‘n Niemangenoot word. Dit loop uit op ‘n verrykende sabbatsjaar saam met veral Amerikaanse maar ook ’n paar ander buitelandse joernaliste aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts.

Van 1980 tot 1992 sit ek by Die Volksblad in die redakteurstoel  – by dieselfde lessenaar van Birmaanse kiaat waarby dr. A.J. R van Rhijn gesit het toe ek en oupa Herklaas in die 40’s in Kimberley al lief vir Die Volksblad  was.  Dr. Van Rhijn was redakteur van 1925 tot 1948.  Sy 23 jaar was die langste skof in die pos, met my 12 jaar die naasmeeste.

In 1992 skuif ek Kaap toe as uitvoerende hoof: koerante. Dit is weg van redaksionele vuur; dit verskaf tog wel ‘n verruimde koeranterol met eers net die dagblaaie, maar later ook Rapport en die nuwe aanwins, City Press, in my portefeulje.  Selfs koerantekwessies oor maatskappygrense (en landsgrense!) kom op my tafel weens betrokkenheid by bedryfsorganisasies soos Printmedia SA (eers NPU) en die World Association of Newspaper Publishers (FIEJ).

e hoof: koerante. Dit is weg van redaksionele vuur; dit verskaf tog wel ‘n verruimde koeranterol met eers net die dagblaaie, maar later ook Rapport en die nuwe aanwins, City Press, in my portefeulje.  Selfs koerantekwessies oor maatskappygrense (en landsgrense!) kom op my tafel weens betrokkenheid by bedryfsorganisasies soos Printmedia SA (eers NPU) en die World Association of Newspaper Publishers (FIEJ).

Amper 40 jaar nadat ek in 1958 as 17-jarige beurshouer by Die Volksblad in Bloemfontein ingestap het,  trek ek einde 1997 op ouderdom 56 in die Perssentrum in die Heerengracht, Kaapstad, my kantoordeur vir oulaas agter my toe. Saam met my gaan die Phil Weberprys, Naspers se hoogste bekroning. My geesdrif (vir koerante) en elke fase van my loopbaan word in die commenatio beklemtoon.

Ja werklik, nooit in daardie amper 40 jaar het daardie “nuwe wereld” my verveel of het ek ooit aan my loopbaankeuse getwyfel nie.

 

Trouens, so verweef is koerante met die vesel van my DNA dat ek afgesit het na die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) op Stellenbosch toe om die woord “koerant” te koop.  Dit is my eksklusiewe woord in die WAT en is veelseggend van my holistiese passie vir die koerant as entiteit.

Elke element het tot my loopbaangenot bygedra: mense, kollegas, spertye, en veral daardie eerste tintelende aanraking elke dag met die kraakvars produk, hetsy oor jou “scoop” op die voorblad, jou rol as sub, jou hoofartikel … of sommer net as leser in jou katel met die eerste koppie koffie langs jou. (Ek borg darem ook die woord “joernalis” nie-eksklusief. Dit is my klein hulde aan daardie spesiale spesie van “salaried eccentrics” (lord Thomson van Fleet se raak beskrywing) wat hul brood in my tyd by koerante – dubbel en dwars – verdien het.)

Dis dan my storie. Oordryf ek dalk die persoonlike rou, soos selfs uit welmenende kollegiale king al gesuggereer is? Die slotwoorde van Uys Krige se gedig Ken jy die see kom by my op: “Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur?” Dit onlok ‘n bittersoet glimlag.

AG NEE, KOOS (BEKKER)

Teenoor Rapport is ek dankbaar vir die geleentheid om vandag in sy vlagskip-bylae Weekliks met Koos Bekker in gesprek te tree oor die huidige koerantemoles en sy eiesinnige bydrae daaroor verlede week in dieselfde koerant. Die stuk, soos gepubliseer, noem ek die Topolino-weergawe omdat dit Woensdagoggend in ‘n koue hoekie op die stoep van ‘n toe pizzaplek op Hazyview gepleeg is met ‘n kolonie katte as geselskap. Die plek se naam is Portolino. Ook aan hom en sy bestuurder, Dawid, is ek dank verskudig vir akkommodasie terwyl my boskar by Chris Car & Truck versien is.