TOT SIENS, VRIEND KOOS

Koos is in die middel. Links is genl. Basie Smit. Regs is wyle Frits Smit. Die foto is geneem by n braaidag op Melkbos. Koos was ook ‘n groot teenwoordigheid by elke vuurtjie. Dit spreek eintlik vanself.

Een van die opgeruimdste mense wat ek in my lewe leer ken het, was wynboer Koos Myburgh (80) van die Agter-Paarl. Sy voorraad grappies was eenvoudig onuitputlik.

Die goeie ou vriend is vanmiddag rustig in sy huis in Tweede Laan, Melkbos, oorlede.
Koos het op Melkbos kom aftree. Hy het president geword van ons sosiale klub vir afgetredenes, Probus. ‘n Meer informele president -en gewilder president – het Probus dalk nooit gehad nie.
Koos het ons bekend gestel aan Perdeberg se wyne. Perdeberg se Smooh Dry Red het soort van ‘n huiswyn in ons gemeenskap geword. Moenie die Chenin Blanc versmaai nie.
In 2016 het ek 75 geword het, Tokkie 70 en ons huwelik 50. Ons het ‘n markiestent op ons grasperk opgeslaan vir ‘n fees. Die wyne was Perdeberg se staatmakers.
Ons het saam “geswem” by Lisa Serfonein. “Swem” beteken ‘n bietjie rondspring in die water. Van Koos is verwag om elke keer ‘n grappie te vertel. Hy het ons nooit teleurgestel nie.
Sy liefde vir boerdery was aansteeklik, soos sy liefde vir die lewe was. Ons sal Koos mis. Liefde vir Ralda en die kinders wat hom so gelukkig gemaak het in sy lewe, en ook in die laaste swaarkry-maande.

AS JY BY DIE ELLISSE IN TEL IS ….

Frans klink ‘n glasie (?) met Tokkie van Deventer op ‘n Probuskuier by Penguin Place 11. Pieter Jacobs skud net sy kop.

In 1995 het ‘n wildvreemde Frans en Lourette Ellis hulle uit Oos-Kaapland op Melkbosstrand kom vestig. In dertig jaar het hulle gewaardeerde Melkbos-juwele geword wat die gemeenskap in vele opsigte gedien en verryk het. Nou skuif hulle aan Mosselbaai toe.

By die Probusklub. ‘n vriendskapsklub vir afgetredenes waar die joviale paar diep spore getrap het, is gister van hulle afskeid geneem.  Die oudste lewende pionier, Henri van Biljon, het hulle gehuldig as “Probusvriende so uit die boek”, altyd gewillig, om te help en planne te maak vir uitstappies; “ware diep vriende van wie die herinneringe altyd by ons sal bly”.
Hulle was ook tuisonthalers en gashere soos min, het Henri tereg gemeld – “vriende met wie lekker gesels is oor wat verby is, oor mense wat ons geken het en oor al die plesier en plekke wat ons gesien en beleef het.”
Almal al saamstem: hulle is werklik mense wat hulle hart en siel in die klub gestort het. Waar interessante of avontuurlike dinge gedoen is, was die twee meesal op die voorpunt.

Frans verlaat die klub as chronologies die naasoudste aktiewe lid en na vele skofte as ‘n ankerlid in die komitee. Lourette wat een van die eerste vrouelede was, is die entoesiastiese ondernemer wat veral die laaste twee jaar – maar ook al tevore – die voortou geneem het om dosyne uitstappies te organiseer: toere, konserte en diverse ander feestelikhede.

Lourette klink ‘n glasie met Barbara Nel op ‘n Probus-uitstappie op Blaauwberg. Die twee verjaar saam.

Waar was ons nie oral toe die huppel in die stap nog daar was nie? Namibië, Kgalagadi, Krugerwildtuin, Oos-Kaapland – om net ‘n paar te noem. Ons het gevlieg, gevaar, trein gery of in konvooie met bussies en ons motors die pad aangedurf. En die Ellisse was sonder uitsondering ‘n dinamo.

Buite Probus het hulle bekendheid verwerf as jarelang eienaars van die Melkbosch-gastehuis in Mostertstraat. Frans het lank ’n suksevolle eiendomsagentskap bedryf. Na aftrede het hulle gewig ingegooi by die Woonwaklub en met ‘n gerieflike ryhuis die wêreld platgery.
Die Probusklub is ‘n borg van die woord “kuier” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Dis nie om dowe neute nie, soos hierbo blyk. In die egpaar Ellis is daardie gesellige kuier-element vergestalt.
So 15 jaar gelede het ek oor mede-Probuslede versies geskryf. So het Frans (en Lourette) se versie gelui:
Dis louter plesier as Frans Ellis jou pêl is;
En jy nog boonop by Lourette ook in tel is,
Dan kan jy reken op goeie wyntjies en kos
Só lekker kuier die Ellisse se pêlle mos!
Dis werklik hoe ons Frans en Lourette sal onthou – as van die lekkerste pêlle om saam mee te kuier. Hoe vreemd sal dit nie wees nie om dit vorentoe sonder hulle te doen.
.

WYS, WAARDIG, WARM

Johan en sy kleinseuns - betyds gewees om oupa te groet.

Johan en sy kleinseuns – betyds gewees om oupa te groet.

‘n Wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het ek Johan Russouw gistermiddag in ‘n huldeblyk by sy gedenkdiens in die NG kerk Bloubergstrand genoem.  Hier volg die volledige huldeblyk:

Die einde van Johan Russouw het ontnugterend snel aangebreek. Sy naam was op die gastelys vir ‘n spitbraai van sy geliefde Probusklub – ‘n sosiale klub vir afgetredenes – gister op Melkbos. Pleks van ons vriend in lewende lywe te verwelkom, word ons toe gekonfronteer met besonderhede van sy roudiens.

Johan het net ses weke gelede verneem dat hy ‘n baie aggressiewe kanker het. Die laaste vier weke het hy by sy oudste suster, Denise, ingetrek waar hy deur haar en sy seun, Leon, versorg is.  Hier is hy rustig in sy slaap oorlede, gelukkig in die wete dat sy dogter, Ronel, haar man, Martyn, en al drie sy geliefde kleinseuns betyds uit Engeland kon opdaag om hom te groet. Ook sy jongste suster, Alida, uit Pretoria.

Ons eer vandag ‘n wyse, weloorwoë, waardige, wellewende en warme mens. Só het sy familie en vriende hom ervaar.

By Probus het Johan nie baie gepraat nie.  Wanneer hy praat, kon jy luister. Hy het sy saak oorwoë, met rustige wysheid, gestel – nooit impulsief of voortvarend nie.

Die eienskappe van waardigheid, oorwoëndheid en wysheid is gou by hierdie seun van Darling raakgesien.  Ná matriek op Jan van Riebeeck en graadstudie op Stellenbosch is hy Polisie toe. Via die Veiligheidspolsie is hy na die Nasionale Intelligensiediens.

Ek, Johan en Hennie Jonker. My huldeblyk aan Johan was my elfde. Die tiende was vyf maande gelede vir Hennie Jonker. Aardige gedagte.

Ek, Johan en Hennie Jonker. My huldeblyk aan Johan was my elfde. Die tiende was vyf maande gelede vir Hennie Jonker. Aardige gedagte.

Drie gesogte buitelandse plasings het gevolg. In 1974 is Johan vir drie jaar na die Londonse ambassade,  in 1982 is hy vir twee jaar na Tel Aviv in Israel en in 1989 is hy na Parys. In die Franse hoofstad het hy die hoë eer te beurt geval om om die land se Binnelandse diens toe te spreek – een van die weinige buitelandse veiligheidsmense wat genooi is.

Tusssenin was hy in Suid-Afrika afdelingshoof met Europa en die Amerikas as sy verantwoordelikheidsveld.  Hy was duidelik in die veiligheidshiërargie hoog aangeslaan.  Die ervaring in die diplomatieke korps het hom verder geslyp en bygedra tot die aura van waardigheid, standvastigheid en gesag wat hom in later jare omgewe het.

Tot die einde was hy só. Hy is deur sy vele operasies vir sy skouer, ens. Sy kinders het hom later die “bioniese man” genoem weens. Deur dit alles het hy blymoedig gebly. Toe hy ses weke gelede die nuus kry dat hy terminaal siek is, het hy dit met onmiddellike berusting aanvaar. Hy het vir sy geliiefdes gesê dat hy ‘n goeie 74 jaar agter die rug het, en dat hy goeie kinders gehad het.  Wat ‘n seën. Hy het nooit gevra nie:  “Hoekom ek?”

Sy wellewendheid en warmte is wyd ervaar, ook hier aan die weskus waar hy In 1992 met vervroegde pensioen langs die Atlantiese oseaan kom aftree het. Eers in Bloubergstrand en later in Yzerfontein was hy en Eleanore met wie hy 44 jaar getroud was, sjarmante gashere met ‘n reputasie as uithaler-kokkedore.

Ná Eleanore se afsterwe in 2011 het Johan besluit om nader te trek aan sy seun, Leon, en sy suster, Denise. Hy het ‘n huis in Sunningdale gekoop. Vriendskappe in Probusgeledere het gedy. Weens sy belesenheid, skat van stories uit sy diplomatieke dae en prikkende insigte in sake van die dag was hy ‘n gewilde gas by almal se tafels. Waar gebraai is, was sy ywer, entoesiasme en betrokkenheid kenmerkend.

Met sy liefde vir goeie kos, was dit vir hom lekker om nuwe eetplekkies uit te snuffel vir uitstappies met vriende.  By een só ‘n ete net ‘n jaar gelede het vier Probusvriende saam aangesit: Johan, Danie Grundlingh, Hennie Jonker en Sakkie Bruwer.  Van die vier is net Sakkie, hier teenwoordig, vandag nog in die lewe.  Ja, soos gras is ons dae ….

Die vreugde wat hy aan sy jaarlikse besoeke aan sy buitelandse kinders en kleinkinders gehad het, was aansteeklik.  Hy was intens familievas.

Johan was ‘n groot man met ‘n klein hart. As kind was hy ‘n propperliese terggees wat sy susters al hul dae gegee het.  As jongman was hy glo ‘n regte Casanova.  Hy was ‘n sportman duisend: ‘n WP-atleet en ‘n sterke derduiwel van ‘n senter vir die Polisiespan.

Sy liefde vir atletiek en rugby het nooit verflou nie.  Die WP verloor ‘n lojale ondersteuner. Hy was ook baie lief vir tuinwerk en vir lees, en het in ‘n stadium ‘n indrukwekkende boekery besit.

Dit is die wyse man wat sterk is, die een wat kennis het, wat werklik mag het, sê die wyse Salomo in Spreuke 24.5. Johan se boeke en liefde vir lees het van hom ‘n lewende bewys gemaak dat kennis mag is en dat ware kennis krag gee.

Rus sag, ons stoere, wyse, waardige, weloorwoë, wellewende en warme  jintelman-vriend.

 

 

 

‘N BOEKIE VIR BARBI

Barbi Maree in vrolike luim by ‘n Probuskuier op 20 September 2011

More uit Melkbos

Nou kap hulle in ons bos, sê ons 70-plussers gereeld vir mekaar. Nou kap hulle in ons ry, hoor ek deesdae meermale by porture.

Oor dié kappery het ek in 2009 ‘n boek geskryf, “Byl in my bos”. ‘n Mens ontdek skielik amper met ‘n skok hoe oop dit om jou raak, skryf ek daarin.

Die gevoel van verlies wat jou beetpak, word in my boek genoem; spyt oor verhoudings wat afgekap is; belowende vriendskappe wat onvoldoende ontwikkel is, gesprekke wat in die lug bly hang het. “Verwyte knaag oor versuim, onnadenkendheid, ‘n versoenende woord wat nie betyds gespreek is nie, of ‘n verskoning wat agterweë gebly het.”

Tot so ver “Byl in my bos”.

Hierdie week is hier op Melkbos inderdaad in ons ry gekap. ‘n Dierbare vriendin, Barbi Maree, eggenote van Jacko, bekende oud-LV, is binne ‘n maand van ‘n aktiewe, lewenslustige vrou tot ‘n sterwende gereduseer. Haar longe was onstuitbaar aangetas.

Ook in die geval van die liewe Barbi bestaan die addisionele hartseer van ‘n onafgehandelde taak.

‘n “Boekie vir Barbi” is die laaste dae in liefde saamgestel met goeie wense uit die hart van vriende in Probusverband op Melkbos. Probus is ‘n klub vir afgetredenes. Ons, die lede, vorm ‘n hegte vriendekring.

Tokkie was aan die spits van die operasie met die boekie. Elke Probusgesin het entoesiasties meegewerk. In boodskappies op vrolike, veelkleurige papier is getuig van haar vriende se diepe waardering en liefde, hul bewondering vir haar dapperheid en hul diepe hartsbegeerte vir nog goeie tye saam.

Jy kan lees van Barbi, die wonderlike gasvrou, haar sprankeling en sonnige glimlag, haar bekoorlike Duitse aksent, haar welsprekendheid en wat nog. Daar sou ook getuig kon word oor haar belesenheid, intense belangstelling en sterk insigte oor sake van die dag, warm hart vir mense wat swaarkry, ens.

Nietemin, Tokkie wat die boodskappies versamel en in ‘n vertoonlêer laat bind het, bel gisteroggend vir Jacko om te reël vir die oorhandiging. Sy bel omstreeks 10:15. Jacko tel op en deel die sombere nuus mee: Barbi is om 10:00 oorlede.

Die liefdesblyk van Barbi se vriende was, helaas, te laat. Die boekie gaan nou maar na Jacko: hopelik sal dit in sy sware verlies ook vir hom iets beteken.

Selfverwyt oor die tydsberekening kan nie juis bestaan nie. Met die uitvoering is nie gesloer nadat die idée Tokkie te binne geskiet het nie. Almal het onmiddellik gereageer. Feit is net: almal het geweet Barbi is uiters siek, maar niemand het naastenby verwag die dood is só voor die deur dat dit selfs dié projekkie gaan voorspring nie. Soos só dikwels gebeur.

Die dood kom soos ‘n dief in die nag, lees ons in die Bybel.

Natuurlik sien ek vir myself ‘n les in hierdie stukkie geskiedenis van Barbi se boekie opgesluit. Ek meen daar is vir almal lesse. Dis seker maar vir elkeen om te bepeins wat presies daardie les in sy of haar eie omstandighede is. (HvD)

EREGAS EN PROSTITUUT

Middag uit Melkbos

Maar ‘n ongemaklikheid as ‘n mens na ‘n formele dinee moet gaan en op die nippertjie trek jou metgesel kop uit omdat hy/sy siek geword het. Nog erger as dit met jou gebeur wanneer jy die eregas is.

Met Koos Myburgh, joviale wynboer van Melkbos (dink Perdeberg se wyne), het dit Donderdagaand gebeur toe hy ingehuldig is as ons Probusklub van Blouberg se nuwe president.
Sy vrou, Ralda, was afwesig – plat in die bed met ‘n ontydige rugbesering.

Natuurlik kan geen mens hom daaroor verlekker nie. Nee, o aarde. Maar ek sit al lank op ‘n goeie storie, en hier ontstaan toe skielik ‘n situasie wat daardie storie kraakvarse relevansie gee. Ek het my nie twee keer laat nooi om my storie te vertel nie.

Julle ken die Engelse word “spoonerisms”. Dis as jy Engelse woorde verfomfaai soos Oom Oubaas (Septimus van Zyl) Van 7de Laan Afrikaanse woorde verfomfaai. Oom Oubaas sou byvoorbeeld maklik praat van “‘n staande ovulasie” as hy ‘n staande ovasie bedoel.

Wel die vader van die begrip “spoonerisms”, eerwaarde W.A. Spooner, wat by uitstek ‘n gewoonte daarvan gemaak het om oor woorde te struikel, beland een aand in ‘n soortgelyke penarie as my vriend Koos. Hy moet ook sonder sy vrou na ‘n formele geleentheid in Engeland gaan nadat sy skielik siek geraak het. Hy val vinnig rond en kry ‘n vriendin om hom te vergesel.

Vir sy gasvrou wou hy iets soos die volgende sê: “Oh good evening, Mrs. Wellsley. I’m so pleased to be here. And you will be pleased to know that I have, due to the illness of my wife, produced a substitute”.

Wat oor sy lippe kom, is toe: “You will be so pleased to learn that because of my wife’s illness, I have managed to seduce a prostitute.”

Dit is nie opgeteken wat die metgesel se kommentaar was nie!

Naskrif: In die tyd toe spanne in kitskrieket plaasvervangers kon inspan, het die skeidsregter sy arms nogal energiek moes swaai om die teken vir substitusie te gee. ‘n Keer toe dit gebeur vra ‘n pa wat nie veel van krieket weet nie, sy seun wat daardie arm-swaaiery beduie.

“Daddy, he is calling a prostitute.” (HvD)