VAT DIT KORT!

Iemand, veel jonger, vra my gister op my 83ste na ‘n lewensles.  Sonder nadenke kom my antwoord: waak teen te lank.

Waarskynlik kan die antwoord, en die snelheid waarmee dit afgevuur is,  verbind word met ‘n geleentheid wat onlangs bygewoon is.  Daardie een is werklik ver by sy natuurlik einde verby.

Ek begin toe ‘n lysie maak:  feeste, konserte, kerkdienste, preke, toesprake, prysuitdelings, dinees, partytjies, kuiers, telefoongesprekke  … In my lewe was daar hope waar ek wanhopig op my horlosie begin loer het.

Laat my gerus ook maar introspeksie doen.  Natuurlik was ekself in my lewe nie onskuldig nie.  Meermale het ek voortgedreun as ek lankal moes gaan sit het.  Of aanhou skryf as my sê al lankal gesê was.

‘n Kollektiewe verskoning is aangewese aan almal wat onder my hand onder die ongelukkige verskynsel van sogenaamde “woord-skittery” gely het. Al was my beweegrede dalk ook rein en onbesproke, was dit onvergeeflik.  Vergewe my, asseblief.

Maar hoekom word grense so maklik oorgesteek? In ‘n sekere sin het dit met voorbereiding te make. Ek onthou ‘n storie van iemand wat iets sou gesê het soos:  ‘n uur se toespraak kan ek in 10 minute voorberei; vir een van tien minute verg dit ‘n uur.

Dis nie al rede nie.  Party mense is eenvoudig verlief op hul eie stemme of oorskat die waarde van hul eie insigte en spitsvondigheid. Al was Hamlet hul voorgeskrewe Shakespeare in  matriek  het hulle skoon vergeet van Polonius se wyse woorde: “Brevity is the soul of wit” (”and wisdom”, wil ‘n mens byvoeg).

Sommige het die skewe opvatting dat van hulle verwag word om eindeloos voort te borduur ten einde reg aan ‘n geleentheid te laat geskied.  Ek ken mense wat die kuns ken om selfs ‘n dankwoord so woordryk uit te rek dat dit later dreig om die hoofrede na die kroon te steek.

Die etiket “te lank” geld natuurlik nie net interaksies met mense soos hierbo genoem nie.   Mense klou soms te lank aan ‘n posisie vas en sportmanne hou verby hul rakleeftyd speel uit die dwase opvatting dat hulle onvervangbaar is.

Die waarheid oor die waan van onvervangbaarheid is immers opgesluit in ‘n ander storie wat ek ken. Druk jou hand in ‘n emmer water.  Die gat wat oorbly as jy dit uithaal, so onvervangbaar is jy.

In party gevalle het jy natuurlik kwalik ‘n keuse.  Jou base hou jou amper lewenslank in jou pos en gee jou nooit die kans om iets anders te doen nie. As jy te lank bly leef, is die reg, die mediese wetenskap en die waardes van die gemeenskap weer struikelblokke wat jou eie ingryping verhinder.

Meesal is die keuse egter jou eie.  Kies dan reg, beveel die 83-jarige oom jou ernstig aan.   Moenie afskeep nie, maar pas tog maar op vir die versoeking om net aan te hou, en aan te hou en aan te hou.  Laat “brevitas” jou leuse wees.

Om ‘n langasem te wees, wek gewoonlik meer weersin as bewondering en rig aan jou beeld oneindig groter skade aan as wat dit vir jou statuur gee.  Glo my maar. Ek praat uit ondervinding.

VAN LAG KOM HUIL

More uit Melkbos

Dr. Francois Hanekom laat sy Melkbosse gemeente soms nogal regop sit met sy onortodokse formulering van preektemas. ‘n Week gelede het ons nog regopper as gewoonlik gesit toe ons die tema verneem: “Geniet jy ‘n ‘strip-tease’?”

Natuurlik laat so ‘n buitengewone tema lidmate wonder: wat voer onse leraar dié keer in die skild?

Aan die orde was die storie van Noag, die wynboer, wat te diep in die bottel gekyk het. In Genesis lees ons hoe hy kaal in sy tent sy roes gaan afslaap het, en van sy seuns Sem, Gam en Jafet, se verskillende reaksies op hul pa se verleentheid. Gaan lees gerus maar in Genesis 9: 20 -29 hoe Gam se onverskilligheid hom duur te staan gekom het. ‘n Klassieke voorbeeld van my Ouma Visser se geliefkoosde vermaning: “Van lag kom huil!”

In ieder geval, dr. Francois had nog ‘n “verrassinkie” vir sy gemeente. Terwyl almal nog ongemaklik rondskuif oor wat die “strip-tease“-preek kan oplewer, toor hy ‘n rooi bra en ‘n wit mansonderbroek onder die kansel uit. Njannies. Jy kon as’t ware hoor hoe na asems gesnak word.

Maar dit was sommer net oëverblindery. Klaar geterg, neem die preek ‘n geheel ander wending. Die gemeente luister aandagtig na ‘n oproep om nie mense verbaal kaal te stroop deur hul oomblikke van swakhede vir openbare sensasie te ontbloot nie. Hy haak aan by 1 Korintiers 13 oor die liefde wat alles bedek, en moedig ons aan om in liefde ook so ‘n bedekkende “dak” op te sit oor ander se skades en skandes.

Als in als ‘n mooi, positiewe en verrykende preek.

Oor die amperse misverstand wat die aankondiging van die preektema in die Nuusbrief en elders gewek het, het ek ‘n speelse versie geskryf wat ek, tot sy plesier, vir Francois gestuur het:

Doomnie stel vir ons ‘n wip,
Vra vir ons: Hou jy van ‘strip’?
Ek dink: O wee, hoe sê mens nee?
Toe lei hy ons op ander weë.

Lyk of ‘n nuwe versieskryf-seisoen by HvD aangebreek het. Gisteraand net voordat ek die ligte afsit, kry ek ‘n nuwe “inspirasie” – oor die Noag-stukkie self. Hier’s my Noag-versie vir wat dit werd is:

Gam dag nog hy kan maar lag;
Toe ontwaak No-ag met nuwe krag.
Verdoem, in ‘n felle donderslag,
Meteens Gam’s ganse nageslag.

Hoop ek tas met die kortpad wat dié versie vat, nie eksegeties te ver mis nie!