LEEU, MOT OF SPREEU – SO JAG JY HOM

As jy ooit ‘n leeu wil jag, in die dag of in die nag, gooi sout op sy sy stertjie en wag. Die wysheid (?) is by my ingeprent in een van die eerste liedjies wat ek in my prille jeug geleer het doer in die 1940’s.
En as jy ‘n mot wil jag?
Dit, deel C. Louis Leipoldt mee, is ‘n operasie wat tot die nagtelike ure beperk is. Die beste manier om nagmotte beet te kry, is om boomstamme met ‘n mengsel van moskonfyt en ‘n bietjie brandwyn te smeer. Die motte, aangelok deur die reuk, kom die soetigheid suip. Hulle word so hoenderkop dat hulle maklik gevang word, aldus Leipoldt.
So lees ek in die skrywer se Jeugherinneringe, soos opgeteken in JC Kannemeyer se UIt die skatkis van die slampamperman (Tafelberg, 1999). Pas ‘n genotvolle herbesoek gebring.
Om motte met brandwyn uit te oorlê, klink vir hierdie ou nogal na ‘n plan wat deur oud-kollega Piet Theron van Westerbloem in Bloemfontein gesmee kon gewees het. Piet had die probleem van spreeus wat die vye betakel net as hulle mooi ryp raak. Toe kry hy die raad (raat?) om die vrugte met Tabasco te dokter, Dit werk soos ‘n bom.
Toe die eerste spreeu gulsig hap, kom saam met die soet vlesige vrug ‘n skerp brandsmaak in sy mond wat hom kwetterend laat protesteer. “Kom,” gebied hy gesteurd sy manskappe. Hulle gee fladderend pad en kom nie terug na die verradderlike “brandboom” nie.
Naskrif: Die onthou van die liedjie oor die leeujag bring ook ander eerste liedjies in herinnering. Hier’s twee:
Daar’s ‘n apie op ‘n stokkie voor my ma se agterdeur; daar’s ‘n gaatjie in sy broekie en sy stertjie loer daar deur.
En
Tortelduifie koer in die eikeboom, sing die lied van sy lewensdroom, koer tortelduifie koer, koer tortelduifie koer, tortelduifie by die waterstroom.
En skielik is hierdie 81-jarige terug by die Laerskool Diamantveld in Kimberley in die 40’s – op mej. Muller se skoot met my gebreekte arm in standerd een.

HIËNAS OM ‘N GEKWESTE BOK

In  ‘n onthutsende hoofstuk in sy e-boek, Kannie is (lankal) dood, lig  kollega Piet Theron, veteraan-joernalis van die Vrystaat, die sluier oor hoe sy seun, Pieta, ná  breinskade weens ‘n onverskillige operasie deur gewetenloses uitgebuit is. Watter skok vir sy ouers toe hulle uit die mond van ‘n prostituut moet verneem dat ‘n “belegging in ‘n meubelfabriek” weens ‘n gekonkel in ‘n bordeel gestort is.

In ‘n skrynende hoofstuk met die veelseggende titel Hiënas om ‘n gekweste bok ontmasker Piet ‘n hele reeks mooiweersvriende en opportuniste se verbysterende wandade jeens die goed vertrouende Pieta.  Erge professionele argeloosheid en agtelosigheid kom aan die lig.

Kannie is (lankal) dood is Piet  se memoires van ‘n veelbewoë lewe. Veral drie hoofelemente kom sterk na vore: die beproewende tog met Pieta, ‘n harde plaaslewe in die Wes-Vrystaat wat die Theron-familie gestaal het – onder meer in ‘n nare potjie met builespes –  en sy kleurryke loopbaan as Volksblad-joernalis met top-stories op sy kerfstok.

‘n Hoofstuk Ongeluksvoëls, vertel van ‘n rits ongelukke, teenspoede en terugslae wat oorkom moes word. Die ergste dal waardeur hulle is, was ongetwyfeld die ontsettende lyding van Pieta nadat n doodgewone blindedermoperasie weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop het. Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom platgetrek.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta, die vader van twee, was skielik weer Piet en Petro se “groot baba” totdat hy op 38 oorlede is.

Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van  hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie. Om die verhaal met al sy kronkelweë te volg, kan nie anders as om die leser ‘n beklemming om die hart te gee maar ook met groot deernis en bewondering te vervul nie.

Piet se loopbaan by Die Volksblad het half terloops begin. Hy – die amper onwaarskynlike joernalis – het tot topposte gevorder en as assistent-redakteur afgetree.  Hy sonder as hoogtepunte uit: die Duiwelspiekramp tydens die Republiekfees in Mei 1971,  die ineenstorting van die woonstelgebou Tempest  in  Welkom in 1976, die terreuraanval op Sasol in 1980 en die sogenaamde Brugberaad op die Zambezi in 1975.

Piet was daar, op die toneel of intens betrokke in die hitte van die stryd.  Sy boeiende vertellings sal die drukkersink in die are van elke joernalis of oud-joernalis opnuut laat tintel.

HvD en Piet Theron, studentemaats, woonstelmaats en kollegas, op Melkbos se stoep.

In Kannie is (lankal) dood is ook verskeie juweeltjies en kamees, soos oor die ongewone blitsromanse met die spogatleet Petro du Plessis wat sy vrou geword het. Plek-plek in die boek lyk Piet soos ‘n bakleier; hy was klaarblyklik ook ‘n bobaas-vryer!

Bestel die e-boek by De Novo Boeke by die volgende skakel:

http://www.denovowebs.co.za/product/kannie-is-lankal-dood/  Dit kos R80.

KAN NIE IS DOOD

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Ek en Piet op Melkbos se stoep.

Piet Theron, Volksblad-kollega wat op 27 Julie 80 word, se motto is “kan nie is dood” – ‘n rigtingwyser wat by sy ouers gekry het.  Van daardie 80 jaar ken ek hom amper 60; het hom in 1960 as 21-jarige in Kollegetehuis by Tukkies leer ken.

Op die lang pad wat ons amper ses dekades saamgestap het,  van ons Kollegedae tot ons Volksblad-dae, van jong woonstelmaats tot lewenslange vriende wat tot vandag toe in Bloemfontein, op Melkbos en in Sabiepark graag saamkuier, het hy dit oor en oor bewys:  Kan nie is inderdaad dood.

In ‘n geleentheidstuk het ek na Piet verwys as ‘n S-man: ‘n staatmaker oor ‘n breë terrein. Op Tukkies was sy bynaam nie verniet Piet Sportie nie.  Hy was  nie net self ‘n bruikbare losskakel nie, maar Kollege se toegewyde rugbybaas.

Hy was ook ‘n Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Baie ouens wat later bekend geword het, het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

By Die Volksblad het hy o.m. as Piet Sportredakteur diep spore getrap. Tuis is hy al 50 jaar Piet Saaier. Daar is altyd groente. Sy pampoene is legendaries.  Sy amarillas blom feestelik in ‘n reuse-beeskrip wat as blombak.  Sy tuin is, in sy woorde, sy gimnasium waar hy kan spit, skoffel, plant, bewerk en oes.  Dit is “salf vir sy siel”.

Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk. Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. Sy sappige steaks bewys sy stoffasie as baasbraaier.

Ná sy aftrede het hy hom as ‘n bedrywige Piet Skrywer ontpop. Hy was redakteur van ‘n insiggewende boek oor die omstrede Belhar-belydenis, en het allerlei hoogs interessante private publikasies op sy kerfstok. As iets hom pla (wat nogal nie ongereeld gebeur nie!) skryf hy aan die koerant. Hy steek bepaald nie sy sentimente onder ‘n maatemmer weg nie! Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer

 

By nadenke is hy egter dalk eerder ‘n D-man as ‘n S-man.

Piet Donnerwetter sal ek hom liefs nie noem nie, al het die tweemanskap Van Deventer en Theron soms bra sakke growwerige sout saam opgeeet. Ja, ons twee oues het in vuriger dae ons kwota konflik gehad. By twee sulke hardekoppe is dit seker onvermydelik!

Hy is by uitstek Piet Doener. Na ‘n uitnemende loopbaan van 35 jaar het hy afgetree as assistent-redakteur. Hy was ook nuuredakteur en hoofsub.  Een van sy kragvertonings as verslaggewer was toe drie Mercuriusvliegtuie van die Lugmag  in Mei 1972 met die Republiekfees in Kaapstad tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en bemanningslede het omgekom. Piet het die stories uitgeryg.

In 1988 was hy die eerste wenner van die Hennie van Deventertrofee – ‘n stuk stinkhout in die vorm van ‘n opgerolde Volksblad. Die Laura Rautenbach-skepping word toegeken vir ondernemingsgees, dryfkrag, skeppingsvermoë, leierskap, volharding, kundigheid, geesdrif, goeie oordeel en algemene bekwaamheid.

Piet Dienaar noem ek hom vrymoediglik.  Hy is ‘n dienaar wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy was op 48 leier-ouderling en was (of is dalk steeds) redakteur van ‘n lewendige kerkblad. Hy was (of is dalk steeds) en voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra

In sy matriekjaar aan Oos-Moot in Pretoria het die Nederlandse voorgeskrewe boek Duikelaartje deur G. van Nes-Uylkens hom diep getref. ‘n Duikelaartjie is ‘n poppie met lood in die voete, wat telkens regop spring as dit omgestamp word.  Einste die vegter Piet. Noem hom gerus ook Piet Duikelaar.  

In uitdagende en beproewende omstandighede soos hul onderskeie ernstige operasies en kinder-teenspoede was Piet Petro se anker en omgekeerd. Toe hul oudste seun, Dawie, in ‘n veldbrand sleg verbrand het, was hulle vir hom daar. Toe nekbeserings die tweede, Jannie, se belowende rugbyloopbaan verongeluk, was hulle vir hom daar. Toe die jongste, Pieta, na ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, in ‘n lang lyding gedompel is, was hulle vir hom daar.

Hulle is ook vir vir hul kleinkinders daar – ‘n wonderlike, opofferende oupa en ouma..

Piet is vir Petro ‘n eggenoot duisend. Vir sy kinders is hy ‘n pa duisend.  Vir sy kleinkinders  is hy ‘n oupa duisend. Vir sy kollegas is hy ‘n kollega duisend. Vir sy vriende is hy ‘n vriend duisend.

Piet is waarlik ‘n man duisend.

 

 

OP OU VOETSPORE

Middag uit Melkbos

Om op ou voetspoore terug te loop, is vir my ‘n hartsaak.

Ek is ‘n reünie-man en gaan loer graag op Volkies en Tukkies by my ou klas- en koshuiskamers in. Ek gaan soek my geboortewêreld in Kwazulu-Natal op en trotseer dongas om op die werf van ons plaashuis naby Babanango te kom. Ek gaan kyk hoe lyk die Diagonalstraat 10, Kimberley, Botanic Grove 9, Berea, Durban, en Neeltjiestraat 20, Meiringspark, Klerksdorp van my kinderdae.

As ek in Bloemfontein kom, sal ek nie die geleentheid laat verbygaan om weer by Kmdt. Senekalstraat 33 en Van Schoorstraat 1 in Dan Pienaar ‘n draai te maak nie. As ek op die N1 verby Johannesburg ry, draai ek af Maroelastraat 3 (eers 936), Randparkrif 3 toe.

Sou wat wou gee om verlede week saam met tydgenote Sarel Venter en Piet Theron by Volksblad ‘n vleisie te gaan braai ter ere van ons kollega Nols Nieman wat jonk-jonk op 60 oorlede is. Die twee het nie net lekker saam met die jongklomp gekuier nie; hulle is ook op ‘n begeleide toer deur die gebou geneem. Dit was klaarblyklik ‘n openbaring.

Sarel skryf: “‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek by die motorhek van die parkeerterrein oos van die gebou inry. ‘n Veiligheidswag, duiwelsvurkheinings, parkering waarvan die meeste onderdak is, netjiese plaveisel en beheerde toegang na die gebou. Ek was meer as twaalf jaar laas daar waar ek 36 jaar gewerk het.

“Dadelik het my gedagtes teruggegaan na my eie parkeeromstandighede van lank gelede: eers oorkant die straat (waar ons gewedywer het vir die skaduwee van die Monte Carlo-teater), toe iewers langs strate sonder parkeermeters, toe op Ramblers se terrein onder ‘n afdakkie (waar my motor eendag oopgebreek is), later aan die oostekant van Ramblers onder nette, ‘n paar maande tussen die redakteur en die bestuurder se motors onder die afdak by die Volksblad-gebou, en toe tot my aftrede weer onder die Ramblers se nette, aan die einde van ‘n donker paadjie langs Wes-Burgerstraat.

“”Dit lyk vir my of die meeste van die mense wat vandag by Volksblad werk, op hierdie betreklik nuwe, veilige en gerieflike terrein parkeer wat van straat tot straat strek. Die ingang van die parkeergebied na die gebou is aan die oostekant van die ou binnehof met sy groot boom (karee?) en ‘n grasdaklapa.

“Die rede vir my (en Piet) se besoek na so baie jare was ‘n uitnodiging deur Gert Coetzee om wyle Nols se lewe te kom gedenk met ‘n braai. Dankie aan Gert, Dirk Kok en Pieter Steyn.

“‘n Klompie jong Volksblad-werkers van die vroulike geslag was ook dadelik by om te hoor wie is ons. Die ‘aangename kennis, Sarel!’ en ‘bly te kenne, Piet!’ uit vrolike kele wat al ‘n bier of wat geniet het, het later darem ‘oom Sarel’ en ‘oom Piet’ geword. Meen, hulle is mos maar eintlik kinders teen ons! Een het vertel dat sy by die ontvangstoonbank werk, ‘n ander een kom van sirkulasie af en nog een van advertensies.

“Bekendes daar was ook die tegniese manne Kobus (of Torie) en Jackie – al sterk middeljarig.

“Toe ons later die aand groet was genoemde dametjies en ‘n paar ander nog gesellig aan die kuier in die opleidingslokaal langs die binnehof. En toe een sê sy wil ‘n drukkie hê, het die ander ook ewe vrypostig daarvoor nader gestaan. ‘n Vreemde wêreld, inderdaad!

“Nog voordat ons tjops en wors, broodrolletjies en aartappelslaai – wyn en bier was op die huis, lyk dit vir my – gereed was, het Gert vir my en Piet op ‘n toertjie deur die gebou geneem. Werklik nóg ‘n vreemde wêreld. As ons destyds gedink het die vernuwings en herindeling van ruimtes onder leiding van argitek Fanie van Jaarsveld jare der jare gelede was iets groot, het ons nie kon droom oor wat later en herhaaldelik weer in die gebou gedoen is nie.

“Ek kon min dinge sien wat bekend lyk, en sou heeltemal verdwaal het as Gert nie saam met ons was nie. Die brandkamer se deur is nuut geverf, maar is nog dieselfde. Die traprelings is nog goed versorgde hout; weet nie of dit al vervang is nie. Die ou ‘stuurkas’ wat later die konferensiekamer geword het, met die lang tafel wat destyds in administrasie vir sortering van pos gebruik is, staan nog daar, maar die mure is vol moderne skilderye en selfs ‘n reuse-platskerm waarop foto’s vir keuring tydens nuuskonferensies vertoon word.

“Die redakteursfoto’s wat in ‘n stadium uit die redakteur se kantoor verwyder is omdat dit kwansuis ‘spoke uit die verlede is’ , het teen die straatkantmuur van die konferensiekamer gehang. In Ainsley Moos se tyd is daardie hele muur met glas vervang en is die foto’s na die gang verskuif. Daar, regoor die deur na die redakteur se sekretaresse, is dit myns insiens meer prominent en ‘n waardige galery van foto’s.

“Ook goed om te sien: die talle uitstalkaste met memorabilia. ‘n Blye weersiens vir my was die klein ossewaentjie wat in 1988 deur die FAK aan Die Volksblad toegeken is vir die beste beriggewing oor die 150-jarige herdenking van die Groot Trek. Nog in sy glaskas met ‘n geraamde hoofartikel, ‘Ons hartklop’ , daarop aangebring. Die waentjie was glo lank iewers weggebêre nadat dit dalk om politiek korrek te wees, van ‘n prominente staanplek by die trappe verwyder is.

“Oral is groot oopplanruimtes. In die nagkantoor waar Nelia Grobbelaar steeds hoofsub is, is net ‘n paar vroue saam met haar. Ek verneem die dagsubs onder leiding van Adele Dempers is ook hoofsaaklik vroue.

“Daar is ‘n hele paar klein kombuise. Lank, baie lank nie meer iemand soos ou Grace (tee-vrou) wat swaar skinkborde ronddra nie. (Ek wonder of sy nog leef).

“In die stuurkas sit toe die aand net Annelize Doubell en Mauritz van Wyk. Dit klink vir my of Mauritz elke aand daar werk. Ander stuurmanne is Constant Steyn en soms Christo van Staden.

“Die kantoor wat ek van Herman le Roux ‘geërf’ het (langs die trappies na waar die skakelbord eers was en Charl Marais ‘n tyd lank gewerk het) is nou Van Staden se kantoor. Die kantoor waar Paul Marais gewerk het en toe Jonathan Crowther en daarna ek tot my aftrede (langs die sekretaresse se kantoor), is nou Mauritz se kantoor.

“Dit is byna hartverskeurend om al die moderne geriewe en die gerieflike kantooromgewing, meesal oopplan, maar tog afgeskort, te sien en te hoor daar is net ‘n Gideonsbendetjie oor wat die koerant moet uitgee. Hierdie spannetjie moet te midde van al die gerief en tegnologiese wonderwerke onder groot druk werk om elke dag se koerant die lig te laat sien. Ook ‘n wonderwerk.

“Ons het die nuwe redakteur, Johanna van Eeden, ontmoet en sy het my botteltjie Chateau Libertas met my gedeel. Ons het lekker gesels. Die feit dat sy haar huistoegaantyd uitgestel het om ons ou veterane (‘has beens’) te ontmoet en ‘n rukkie saam te kuier, tel vir punte.

“Vir haar en haar redaksie kan ‘n mens maar net die beste toewens. Mag die magshebbers ons Volksblad – steeds fokuspunt van ons lojaliteit – steeds die son gun wat op hom skyn. Mag ons koerant lank lewe!”

Sarel, dankie vir die herinneringsreis. Die nostalgie het dik geloop by die lees hiervan. Ek sekondeer graag uit Melkbos: Mag ons koerant lank lewe!
(hvd)

‘N SAMARITAAN EN SO

More uit Sabiepark

Onder die enjinkap (en ander plekke) van my Honda-in-die bos het die stof, blare en sulke dinge van ver paaie vergaar, en nou laas in Bloemfontein, twee weke gelede, laat ek die spulletjie toe skoonspuit. Die resultaat was blinkskoon binnegoed, maar ‘n kar wat op drie silinders loop.

Piet Theron, oud-kollega, het my op ‘n Sondagmiddag na ‘n medelidmaat, Willem Booysen, gebring. Vir ‘n donasie vir die gemeente het hy ‘n nat vonkprop vervang en die Honda slaggereed gekry vir die lang pad verder. (Op die foto is die uwe links en Piet regs. Hy lyk net jonger. In werklikheid is hy die oudste van ons twee.)

Piet en Willem is albei samaritane. Ek ken Piet só. Hy is ‘n staatmaker. Samaritaan …. staatmaker. Opvallend is dat albei die beskrywings met esse begin. Dit tref skielik dat verskeie ander s-woorde ook op Piet van toepassing is. Ek begin toe ‘n s-lysie maak rakende my oud-kollega, woonstelmaat in ons jong dae en vriend van Tukkiedae af. Dit word ‘n lang lys.

Op Tukkies was hy bekend as Piet Sportie – nie net self ‘n knap senter/losskakel nie, maar ‘n toegewyde sekretaris van Kollege se rugbyklub. Hy was ook Piet Skêr – ‘n haarkapper van formaat. Bae ouens wat later bekend geword het op vele terreine het op Tukkies met Piet Theron-haarkapsels gespog.

In sy loopbaan was Piet o.a. Piet Sub en Piet Sportskrywer. Laasgenoemde het later Piet Sportredakteur geword. Hy was ook hoofsub, nuuredakteur en assistent-redakteur.

Piet is ‘n veel-Sydige mens. Hy is Piet Snoeier wat ‘n ongetemde boord vinnig kan kafdraf. Hy is Piet Slagter wat weet hoe om ‘n bees te bewerk. Hy is Piet Sjef wat lekker kan kosmaak. As baasbraaier troon hy uit.

Toe sy jonste seun, Pieta, reeds oorlede, ná ‘n operasie wat sleg skeefgeloop het, nie met sy werk kon voortgaan nie, het Piet Piet Sweiser geword. Hy het vreesloos hoë lere bestyg om raamwerke vir allerlei kontsruksies te sweis – en ‘n paar keer geval dat hy hik. Hy het ook Piet Smous geword (in ‘n mooi sin) wat namens Pieta in swart gebiede met meel handel gedryf het. In daardie hoedanigheid is hy op ‘n keer sleg aangerand, maar dis ‘n ander storie.

In uitdagende en beproewende omstandighede het hy ook vir die moeder van Pieta se kinders ‘n wonderlike Piet Skoonpa geword. Ek glo sy sl saamstem.

Piet is nou Piet Samelewing, wat hom veral op die geestelike heil van sy (NG) gemeente en die politieke heil van die groter Bloemfonteinse gemeenskap toespits. Hy is o.a. redakteur van ‘n lewendige kerkblad en ‘n voorsitter van die D.A. se kandidatekomitee wat nie onsin van kabouters verdra nie.

Piet is ook Piet Skrywer. As iets hom pla, skryf hy aan die koerant. Sy weldeurdagte briewe word wyd gewaardeer. Hy skryf op die oomblik aan twee boeke; een is plus-minus in finale manuskripvorm. Albei lyk vir my die moeite werd.

Op een s-beskrywing sal Piet bepaald nie kan aanspraak nie. Hy is geen Piet Swyger nie. Soms spreek hy dalk wanneer dit beter sou gewees het om te sjuut. Maar dis Piet Theron. Hy steek nie sy sentiente of sienswyses onder die sand weg nie.

Naskrif: Die luiperd loop vanoggend breed in Gwarrieboslaan rond. ‘n Jong pa en sy kinders was oopmond. Ek het ‘n paar manne met kortbroeke gesien. Skielik tuimel die kwik egter. Lyk of reën in die lug is …. en nog een van die koue fronte wat deesdae op mekaar se hakke volg (HvD).